Onverwags myne. Susan Pienaar. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Susan Pienaar
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Эротическая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624085676
Скачать книгу
besit, verklap jou. En jou lengte ook. Buig vooroor. Loop met krom skouers.”

      “Ek gaan g’n hier voor almal begin krom en koddig loop nie!”

      Ryan gee Leonardo ’n klappie teen sy rug. “Ons praat in my kantoor oor wat ek beplan.”

      In Ryan se kantoor beduie hy na ’n stoel.

      “Thanks,” sê Leonardo en gaan sit. Sy rustige lewe soos hy dit geken het, het in bietjie meer as ’n week in ’n nagmerrie ontaard. Boonop het daar verlede week ’n uitgawe van ’n poniekoerant die lig gesien – die voorbladfoto een van ’n spul wat ’n paar maande gelede in die finansiële tydskrif Forbes verskyn het – met allerhande nuusbrokkies oor hom binne-in. Hy het verdomp gewéét dinge gaan nie gou na normaal terugkeer nie.

      Ryan loop deur toe en bestel koffie, kom sit dan agter sy lessenaar. “Vergeet my raad aan jou daardie eerste dag toe jy teenoor my gekla het. Dis ’n goeie idee dat jy ’n ruk verdwyn. Die huurders wat kantore in die gebou het, kla nou erg oor die media wat hulle gedurig lastig val.”

      Gmf, asof dit vir hom nuus is! Leonardo skuif orent. Dis op sý lessenaar en dié van sy twee vennote wat die klagtes beland. Dis húlle wat met die huurders onderhandel en gesels en hulle paai. In die begin was die ander ingenieurs lekker plesierig met grappe oor hom, maar nou brom hulle ook al. Sy vernedering raak net dieper.

      Leonardo knik: “Dit gaan nie help ek trek in my ouers se huis in nie, ook nie na my vakansiehuis toe nie. Dit sal nie lank wees nie, dan spoor die media my daar op. Hy blaas sy asem sugtend uit. “Ek kan ’n huis elders in die Kaap gaan huur, maar hoe steek ek my bakkies en lyf weg?”

      Ryan se sekretaresse bring ’n skinkbord met koffie en koekies, glimlag dan simpatiek vir Leonardo voor sy uitstap en die deur weer toetrek.

      Ryan roer suiker by sy koffie. “Dit sal beter wees as jy heeltemal kan wegkom uit die Kaap. Net vir ’n paar weke tot dinge afgekoel het.”

      Leonardo gee ’n blaaslaggie. “Mense gaan my herken. Daardie tydskrif en koerant is dwarsdeur die land op die rakke van elke kafee en in elke inkopiesentrum, en seker in mense se huise ook.”

      Ryan bestudeer hom aandagtig. “Daar is maniere om die aandag van ’n mens se gesig en lyf af weg te trek. Jy was mos al in Tahiti en Mauritius. Jy’t gesien watse soort hemde die inwoners en vakansiegangers daar dra.”

      Ryan kan nie ernstig wees nie! “Daai uitspattige los hemde met rooi en geel blomme op blou en groen agtergronde?”

      Ryan knik: “As jy nie opgemerk wil word nie, moet mense se oë elders wees, op jou hemde en nié op jou gesig nie.”

      Wat anders kan hy doen as toegee? “Oukei, maar waar koop mens dié soort hemde?”

      “Daar is sulke winkels. Ek sal saam met jou gaan.” Ryan kyk spekulerend na Leonardo se hare. “Ons sal jou hare donkerder moet kleur en korter sny.”

      Oor sy dooie liggaam! “Weet jy wat dié haarstyl my maandeliks uit die sak jaag?”

      Ryan lig sy wenkbroue, lag dan plesierig. “Geld was nog nooit vir jou ’n probleem nie. Dis jou ego wat praat.”

      Leonardo kam deur sy hare. Ego of te not, ’n haarstyl verraai baie omtrent ’n mens. Hy gaan dit haat dat daar aan sy hare verander word. “Ek kan dit nie in ’n haarsalon waag –”

      “Ek sal die haarkleur vir jou opsit. Toe ek nog in die huis was, het ek my ma soms daarmee gehelp.” Hy beduie na sy agterkop. “Hier waar sy nie kon bykom of sien nie. Boonop het ek en my broer mekaar se hare destyds self gesny. Moenie so bekommerd lyk nie, my ou. Jy kan haarkapper toe gaan wanneer dit rustiger word en jy terugkom, dan kan hulle dit weer na jou natuurlike kleur verander.”

      Ryan is duidelik dik van die lag: “Tensy jy natuurlik bereid is om ’n pruik te dra?”

      Leonardo gluur Ryan aan. “Jy kan lekker lag, dis mos nie jý wat in ’n karikatuur gaan verander nie.” Hy drink ’n groot sluk koffie en oordink sy posisie. Hy het nie ’n keuse nie. “Ek sal my seker maar deur jou onherkenbaar moet laat maak as ek in vrede aan my projek wil werk. En die huurders tevrede wil hou. Maar ek waarsku jou, jy sny niks meer as twee sentimeter van my hare af nie. My haarstyl moet net so bly, net korter wees, oukei? Dit moet ook nie té donker wees nie, nader aan my natuurlike kleur sal beter wees. Liewer ligbruin … Sal makliker wees as my haarkapper dit weer ligter moet kleur.”

      Ryan knik. “Moenie worry nie, man. Ek raak ook nie voorlangs aan jou hare nie. Dit moet oor jou voorkop hang. En jy sal rubberplakkies en Bermuda-broeke moet dra om by jou nuwe image te pas.”

      Leonardo skud sy kop: “Kniebroeke is oukei, maar rubberplakkies? Wat is verkeerd met ’n ordentlike paar leersandale?”

      Ryan lag. “Dink só daaraan: As jou bont hemde en rubberplakkies die vroue opval, gaan hulle nie die moeite doen om deeglik na jou gesig te kyk nie.”

      Leonardo voel hoe sy ego verder grond toe duik. Hel, hy voel klaar soos ’n armgat loser, en hy dra nog nie eens die luidrugtige klere nie! “Hierna gaan ek die ou met die swakste smaak in die land wees,” sê hy gevoelvol: “Ek vat my leersandale en ordentlike tekkies saam.”

      Ryan skud sy kop laggend: “Moenie worry oor wat vreemde mense van jou sal dink nie, my ou. Hulle gaan jou van g’n kant af ken nie. Dis mos wat jy wil hê, of hoe? Jy wil mos tussen mense verdwyn om aan jou projek te kan werk.” En toe Leonardo stilswyend na hom kyk: “Noudat ek daaraan dink: Ek het ’n bril met lense van gewone glas. Onthou jy, ek het dit nog in daai toneelopvoering op varsity gedra? Die dikkerige swart raam sal jou gesig en oë verder wegsteek.” Sy oë gly peinsend oor Leonardo se gesig. “En dan –”

      “Jammer, ek kweek nié ’n snor nie.” Leonardo sluk sy koffie weg en vee met die agterkant van ’n hand oor sy mond. “Dis aaklig om skoon te hou.”

      “Ek wou voorstel dat jy en Bertus met die korporatiewe vliegtuig Johannesburg toe vlieg. Passasiers op ’n SAL-vlug het niks anders om te doen as om in verveling na mekaar te staar nie, en die lugwaardinne sal jou herken. Bertus kan die vliegtuig terugbring.”

      Leonardo knik. “Ek het ook so gedink.” Sy identiteitsdokument, naam en gesig behoort nie onder die loep te kom as Bertus die vlieënier is nie.

      Ryan kruis sy arms op die lessenaar. “Kyk, ek het goed oor alles nagedink. Die media gaan jou nie sommer uitlos wanneer jy soek raak nie.” Hy frons. “O ja, by Oliver Tambo aangekom, vat jy ’n taxi na die naaste tweedehandse motorhandelaar. En koop daar om vadersnaam ’n kar wat ten minste tien jaar of ouer is. Koop dit kontant. Geen meisie moet eers na jou wíl kyk nie.”

      Dit voel asof die grond onder Leonardo se voete wegval. Hy is gewoond aan sy Jaguar en die viertrek. Om darem met ’n tweedehandse model te moet rondry!

      “Jy is verkeerd, Ryan. Mans wat ou karre ry, trek meer aandag.”

      Ryan skud sy kop. “Jy wil nie hê mense moet dink jy het geld nie. Dit gaan suspisieus lyk as jy ’n nuwerige model ry en nie beter klere aantrek nie.”

      Leonardo sug. Ag, wat maak dit tog saak? Niemand gaan hom ken nie en hy is nie regtig van plan om rond te ry nie. Hy gaan mos tuis werk. En boonop gaan hy nie permanent weg nie. Afhangend van hoe hy met sy projek vorder en of die media se belangstelling afneem, sal hy miskien oor ’n maand of twee kan terugkom.

      “Ek stel voor jy betaal jou blyplek, wat ons netnou sal soek, ten minste twee tot drie maande vooruit. Moenie vir elke klein dingetjie met ’n kredietkaart betaal nie. Trek genoeg kontant voor jy vertrek, vir die kar en kos om jou onkoste ten minste drie maande te dek. Ek glo nie jou bankkaarte sal getrace word as jy verdwyn nie – hulle gaan nie ’n moord ondersoek nie – maar veiligshalwe, of wat sê ek?”

      “Ek sal netnou op die internet na gemeubileerde woonstelle soek,” gee Leonardo toe.

      Ryan glimlag oorwinnend. “Aan watter voorstad het jy gedink?”

      “Sandton.”

      Ryan