RIAN
16
DINGE
WAT EK NIÉ MOES
SÊ NIE
RIAN VAN HEERDEN
TAFELBERG
Vir Esli en Rona van Heerden Julle het my gemaak in meer as net die biologiese sin
INLEIDING
Ek begin hierdie boek skryf in die kafeteria van ’n hospitaal.
Dis skuins voor halftien in die oggend en ek het nou-nou ’n afspraak met die chirurg wat vir my breukoperasie en kolonoskopie verantwoordelik was. Dis nog blerrie seer, om die minste te sê, en ’n sakkie (J-Vac) is besig om die oortollige bloed en vloeistof uit die wond te suig. G’n wonder ek het nie ’n eetlus nie, alhoewel die Customary Breakfast met sy spek, boerewors en baked beans nogals lekker lyk.
Baked beans … Hoeveel kere was dit nie aandete nie? Gewoonlik op roosterbrood met ’n side order van Randfontein-melodrama.
Dinge werk uit soos dit moet, sien? En ek het die afgelope paar dae tot nuwe insigte gekom. My bekommernis was nie daardie naeltjiebreuk-operasie nie, dit was die kolonoskopie wat my die Sondagaand voor die operasie benoud laat word het. Die dokter het my verseker dis net roetine en dat hy my sommer ná die breukprosedure op my sy sou draai en gou loer wat in my kolon aangaan.
My pa is dood aan kolonkanker. Op 57. En ek was in die gevaarsone.
Nou moet ek ook erken dat ek nie eens geweet het van die kolon voor die jaar 2000 nie. Miskien het een of ander onderwyser vir my destyds in die biologieklas daarvan geleer, maar dit was nooit iets waaraan ek eintlik aandag geskenk het tot daardie eerste jaar van die nuwe millennium nie. Sedertdien was dit maar altyd in my agterkop …
My pa het my vertel van sy terminale kolonkanker toe ek een Saterdagoggend in die CNA in Hatfield, Pretoria, was. Dit was reg in die middel van 2000 en ek was besig om ’n Men’s Health deur te blaai toe die foon lui.
Maar kom ons los hierdie storie eers vir later. Jy ken my mos nie so nie, of hoe? Hoe kan ’n mens ’n boek op so ’n hartseernoot begin? Ek is mos die grapmaker …
Kom ons praat dan eerder oor MY kolon.
Daar word vertel ons het geen idee hoe ons sal optree in ’n situasie voordat ons ons in daardie situasie bevind nie. So was dit ook nog altyd met my. Ek was vas oortuig dat die nuus sleg sal wees en dat ek net soos my pa sal moet vrede maak met beperkte tyd op hierdie aarde. Ek het agtergekom dat ek eintlik ’n filantroop is, dat ek soveel mense wou help as wat ek kan met my spaargeld en wat ek ook al vir die huis sou kon kry. En, nee, die doel sou nie wees om vir myself ’n plekkie in die hemel te probeer koop nie …
Intussen sou ek kontak maak met Dignitas in Switserland om te hoor wat dit kos om met waardigheid en op my eie terme hierdie aarde te verlaat. Dis nou jammer hulle is in Switserland … een van die verveligste plekke waar ek nog ooit was. Maar nou ja, dit was darem nie heeltemal vreemd nie, want ek het elke episode van Heidi gekyk.
Ek het gewonder oor wat ek alles aan myself gedoen het die afgelope paar jaar. Dinge wat ek beskou het as stresverligters.
Ek was egter verbaas dat ek nie regtig spyt was oor my lewe tot dusver nie, op 43, dat ek ’n rustigheid oor my begin kry het soos ek meer en meer episodes uit my persoonlike geskiedenis onthou het. Ek het gedoen wat ek kon.
Ek het altyd daardie middag onthou toe ek my swak wiskundeuitslae vir my pa moes gaan wys. Hy het my D-simbool een kyk gegee en gevra: “Het jy jou beste gedoen?” Ek het geknik. Hy het geglimlag en gesê: “Dan is dit fine.”
En ek hét sedertdien. Soms tot nadeel van myself en die mense rondom my, maar ek het altyd gestreef na die beste in myself.
No regrets.
Maar was ek reg om hierdie lewe op te gee? Die ongelooflike lekkerte om mense te laat lag en te laat anders dink? Die see en koeksisters?
Ek wou nog lewe. ’n Ghoeroe het mos eenkeer gesê: “Die belangrikste ding wat tans met jou gebeur, is nie jou bevordering of egskeiding nie, dis die feit dat jy lewe!”
Skielik het dit alles begin sin maak. Hierdie teenwoordigheid op die baan, die een lap. Wat het ek en jy vandag gedoen met elke kosbare sekonde? Was ons hoegenaamd bewus daarvan dat hulle wegtik, een ná die ander?
Ek het skynbaar meer sekondes, minute en ure gekry. Die chirurg het kort ná die operasie en kolonoskopie aan die voetenent van my hospitaalbed verskyn en verklaar: “Your colon is clean!”
Nog tyd. Tyd om te help waar ek kan. Tyd om te besin oor die reis tot op hierdie dag 13 April 2017 en tyd om hierdie boek te skryf. Om te besin oor die dinge wat ek eerder nié moes gesê het nie. Of eintlik juis moes gesê het, omdat dit belangrike debat ontlok het.
Noudat ek weer daaroor dink, dink ek ek gaan daardie Customary Breakfast bestel. Met ’n Romany Cream milkshake.
En ek hoop hulle het koeksisters!
1
HOE GAAN U DIE IDENTITEIT
VAN DIE AFRIKANER BESKERM?
Ek was ’n onmerkwaardige kind.
Dis nou as jy enigiemand behalwe my ma en my ouma Tinka sou vra. Ek was stil en teruggetrokke en my ma sou gereeld vertel hoe hulle net ’n hoop ou Huisgenote nodig gehad het om my te vermaak. Blykbaar sou ek net in die hoek sit en die tydskrifte opskeur. Niks merkwaardigs nie, sien? Geen invul van blokkiesraaisels op ouderdom twee of so nie.
Wat dalk wel merkwaardig was, was die feit dat my ma my geboorte oorleef het. Sy het op die (vir die sewentigs) gevorderde ouderdom van 37 besluit om ’n tweede kind hierdie wêreld in te bring en is deur bykans elke dokter gewaarsku dat dit uiters gevaarlik sou wees. Rona van Heerden, vasbeslote soos altyd, het haar egter aan niemand se advies gesteur nie en in die vroeë oggendure van 2 November 1973 is ek gebore.
Hierna was dit, soos die gesegde lui, touch and go met Rona wat eers heelwat later, en steeds kritiek, haar jongste vir die eerste keer gesien het. Sy vertel dat die son op my yl hare geval het met ’n silwer skynsel. Sy het onmiddellik gewonder of dit dalk te wyte was aan ’n tipe haarsproei wat sy in daardie stadium gebruik het. Dekades later sou sy weer oor daardie haarsproei wonder.
’n Bietjie meer daaroor later!
O ja, hierdie gedeelte van boeke soos dié is gewoonlik die gedeelte wat ek persoonlik oorslaan. Ek is daarvan oortuig skrywers gebruik dit net om te voldoen aan die kwota van 60 000 woorde, want wie is dan nou werklik geïnteresseerd in die grootwordjare van enigiemand?
So, ek sal dit alles kort hou, met miskien net hier en daar ’n staaltjie wat my steeds bybly …
My pa se naam was Esli. Vreemd, ek weet. Dis ook my tweede naam en kom uit die Bybel. Soos enigiemand weet, is daar duisende name in die Bybel, maar om die een of ander rede het my oupa Van en ouma Tinka daardie naam raakgelees. Die naam Esli (in die nuwe vertaling “Hesli”) kom voor in die geslagsregister van Jesus (Luk 3:25). Dit het ek eers later agtergekom. Vir lank het ek vas geglo Esli was een van die draers van die ark.
Waar kom “Rian” vandaan? Wel, die naam van my ouma aan moederskant was Rina en dit was in die jare toe hulle nie seker was of jy die babakamer pienk of blou moes verf nie. Ek neem aan almal wou vreeslik graag ’n dogtertjie gehad het en sy sou die naam Rina gekry het.
’n Dogtertjie het hulle toe nie gehad nie, maar hulle was halfpad reg!
Klein Rian was verslaaf aan boeke. Die gogga het dalk met daardie Huisgenote gebyt. Hy het in sy verbeelding saam met die Uile en die Hardy Boys rondgehang, en wie het dan nou werklike vriende nodig gehad as jy ’n verbeelding gehad het? Hy was vir ’n ruk baie mal oor rugby en het albums vol foto’s en uitknipsels versamel, grotendeels omdat hy ’n crush gehad het op Naas Botha en Danie Gerber.
Dit was egter iets wat hy vir homself gehou het, alhoewel sy pa baie tevrede was met sy lewendige belangstelling in enigiets anders as boeke.