Indië en Pakistan: ’n Brandende kwessie
GEVALLESTUDIE
Ma verbrand 18-jarige dogter lewend in Lahore, Pakistan
Parveen Rafiq het haar dogter Zeenat, 18, aan die bed vasgebind, keroseen oor haar uitgegooi en haar aan die brand gesteek in die gesin se huis in Lahore in die ooste van Pakistan.
Mev. Rafiq het daarna buitentoe gegaan, op haar bors geslaan en uitgeroep dat sy die tiener doodgemaak het omdat sy skande oor die familie gebring het.
Zeenat se “misdaad” was om die vorige maand in ’n magistraatshof met haar kêrel, Hassan Khan, ’n motorfietswerktuigkundige, te trou, het polisiebeampte Sheikh Hammad gesê.
Hassan se herkoms – hy behoort aan die Pashtun etniese groep terwyl Zeenat Punjabies was – was die hoofrede waarom haar familie teen hom gekant was. Hy het aan verslaggewers gesê dat hulle weggeloop het en dat hy teen sy beterwete toegelaat het dat Zeenat terugkeer na haar ouerhuis ná hulle belowe het om ’n bruilofviering te hou en haar nie te straf nie.
Hy sê: “Zeenat wou nie gaan nie en het gesê dat hulle haar sal doodmaak, maar het later ingestem toe een van haar ooms haar veiligheid gewaarborg het.
“Die dag toe ons weggeloop het, het hulle haar geslaan. Haar neus en mond het gebloei,” het Hassan aan CNN vertel.
“Twee dae ná sy teruggekeer het, het sy my gebel en gesê dat haar familie nie hul woord gehou het nie en dat ek haar moet kom haal. Ek het gesê sy moet wag tot die agt dae verby is soos hulle beloof het. Toe word sy vermoor.”
Elf dae ná hul troudag het Hassan sy vrou begrawe. ’n Nadoodse ondersoek het getoon dat daar rook in haar longe was, ’n teken dat sy geleef het toe sy aan die brand gesteek is.
Die polisie het gesê dat Parveen en ander lede van die familie skuld erken het. By die tweeslaapkamerhuis in ’n arm woonbuurt het die res van die familie geen berou getoon nie.
Naseem Bibi, Parveen se jonger suster, het gesê: “Ná sy haar dogter vermoor het, het Parveen buitentoe gegaan, haar tjalie afgehaal en begin om op haar bors te slaan. Sy het uitgeroep: ‘Mense, ek het my dogter vermoor omdat haar slegte gedrag ons familie ’n slegte naam gegee het!’
“My suster sê al lank dat sy nie sal toelaat dat haar dogter met iemand van Pashtunse afkoms trou nie,” het sy verder gesê.
Zeenat se suster het haar blameer omdat sy haar ma se wense verontagsaam het. Die meisies se pa is ’n paar jaar vantevore oorlede en die ma se verhouding met haar dogters het agteruitgegaan.
“Sy het ontsteld geraak wanneer haar dogter ongehoorsaam was en daar nie ’n man in die huis was om haar te dissiplineer nie.”
Sowat 1 000 vroue word elke jaar in Pakistan vermoor in sogenaamde eremoorde.
– Dailymail.co.uk, 9 Junie 2016
Op 17 Januarie 2017 is Parveen Rafiq ter dood veroordeel en haar seun, Ahmer Rafique, lewenslank tronkstraf opgelê. Dié vonnis is moontlik gemaak deur veranderinge aan die Pakistanse wetboek wat in Oktober 2016 ingetree het. Ingevolge die nuwe bepalings sal die staat enigiemand wat eremoord pleeg vervolg, selfs wanneer die slagoffer se familie hom of haar vergewe het. Dié betreklik vinnige ommeswaai het gekom ná die moord van die 25-jarige sosialemedia-ster, sanger en model Qandeel Baloch. Sy was bekend vir haar uitgesprokenheid, skamel geklede selfies (gemeet aan die land se tradisionele standaarde) en onafhanklike leefstyl en is die “Kim Kardashian van Pakistan” genoem. Die omstredenheid rondom haar is verder gestook toe dit bekend geraak het dat sy as tiener in ’n gereëlde huwelik getree het. Een jaar en ’n baba later het sy die man verlaat en haar eie weg begin baan totdat haar broer Muhammad Waseem haar in Junie 2016 verwurg het. In sy skulderkenning het hy gesê dat hy nie berou het nie. Sy vriende het hom getart en gespot oor sy suster se gedrag en sy het die familie in oneer gebring. Fouzia Azeem, Baloch se regte naam, het haar brandarm familie onderhou.
GEVALLESTUDIE
Bruidskat
Sondagaand 23 November 2014 stap Sushila (geen vanne is bekend nie) na haar dogter se huis aan die buitewyke van Bangalore, Indië. Die straatligte is flou en sy moet mooi kyk waar sy loop om nie te val nie. Sy kan hoor hoe gesinne agter die hoë mure in die huise kos maak en hoe honde in die verte blaf.
Toe sy die straat bereik waar haar dogter woon, pak ’n beklemming haar beet. Sy kon vaagweg iets op die trap voor die huis uitmaak, iets wat in die lig gloei.
Daar is ’n brandreuk in die lug.
Hoe nader sy aan die huis kom, hoe sterker word die reuk en hoe harder die gekerm wat soos ’n mes deur haar sny. Sushila hou haar asem op en loop tot by die trap. Toe sy vorentoe buk, roer die hoop en maak roggelgeluide.
“Laxmi!”
Teen die voordeur lê die naakte liggaam van haar dogter.
Dit is Laxmi wat so na brand ruik. Sy kyk met smekende oë na haar geskokte ma.
Die reuk van verbrande vleis is ondraaglik.
Sushila het dadelik besef dat haar kind sterwend is. Sy het brandwonde aan meer as 80% van haar liggaam gehad.
“Ek het haar hoor huil, sy was in verskriklike pyn, maar ek het nie besef hoe erg sy beseer is nie,” het Sushila later vertel. “Daar was niemand om haar te help nie, niemand wou na haar toe gaan nie. Ek was die enigste een wat sy kon roep, en ek woon 12 kilometer ver.”
Laxmi is in die Victoria-hospitaal in Bangalore opgeneem, in die brandwondsaal met 50 beddens, een van die modernste eenhede in die land. Daar het sy die polisie vertel wat gebeur het. Drie dae later is sy dood. Sy was 28.
Tien jaar vantevore, toe Laxmi 18 was, het sy getrou met Majunath, ’n jong man van 25. Anders as talle paartjies wie se huwelike gereël is, het hulle getrou omdat hulle lief vir mekaar was.
Mettertyd het Majunath begin drink en in alkoholisme verval. Hy kon nie meer ’n werk hou nie en het die meeste van die geld wat Laxmi as huishulp verdien het op drank verkwis.
Laxmi was van ’n hoër kaste as hy en haar skoonfamilie het algaande meer druk op haar geplaas vir geld. Sushila het ingestem om geld te gee, maar dit was nie genoeg vir die skoonfamilie nie en hulle het Laxmi onophoudelik geteister en beledig. Majunath het sy vrou daarvan beskuldig dat sy ’n verhouding met ’n buurman aangeknoop het en het haar begin slaan.
Laxmi het ’n paar keer met haar twee kinders na haar ma gevlug, maar telkens het Majunath haar oorreed om terug te kom en hand en mond beloof om haar nie weer te teister nie. Die laaste keer het sy ses dae by Sushila gebly voor sy terug is.
’n Dag later is sy aan die brand gesteek.
In die outo-riksja op pad na die hospitaal het Laxmi vir Sushila vertel sy was om en by agtuur in die kombuis besig om aandete te berei toe haar skoonma instorm en keroseen oor haar uitgooi.
Volgens die hospitaal se maatskaplike werker het sy Laxmi beledig en beskuldig dat sy haar seun vernietig het en Majunath aangehits om die vuurhoutjie te trek.
Laxmi se klere was deurdrenk met keroseen en toe sy na Majunath gryp en hom omhels in ’n desperate poging om die vlamme te blus, het hy ook aan die brand geslaan.
Vroeg Maandag, 24 November 2014, is Majunath ook in die Victoria-hospitaal opgeneem met derdegraadse brandwonde aan 40% van sy liggaam. Hy is ’n dag ná Laxmi dood.
– SMH.com.au, 31 Januarie 2015
Terwyl die motief vir eremoord die man en familie se eer is, word bruidskatmoorde gedryf deur gierigheid. Donna Fernandes, die stigter van die vroueregteorganisasie Vimochana in Bangalore, verduidelik dit só: “Die man se gesin voel dat hulle nie met die bruilof genoeg geld vir hul seun gekry het nie, dalk omdat hulle van ’n hoër kaste as die vrou en haar familie is