Egipte: Een tree vorentoe, twee treë agteruit
Egiptiese vroue word om soveel verskillende redes geteiken dat dit moeilik is om te glo dat daar ’n enkele vrou in die land is wat nie geraak word nie.
Volgens die nasionale Demografiese Huishoudelike Peiling wat die regering in 2008 onderneem het, word 30% van Egiptiese vroue by die huis mishandel. Daarbenewens het seksuele teistering, mensehandel en veral vroulike besnydenis, oftewel vroulike genitale verminking, toegeneem. Dit is alles gedrag wat teen die wet is, maar wat erg ondergerapporteer word. Ses jaar later het niks verander nie en het die 2014-verslag ook aangedui dat 30% van vroue slagoffers van huishoudelike geweld is.
In die eerste ses maande van 2007 is 247 vroue vermoor of tot selfdood gedryf. ’n Studie deur die land se Nasionale Sentrum vir Menseregte het diefstal, egbreuk, argumente, wraak en sielkundige probleme genoem as van die oorsake. Van die vroue het ook “verdag” opgetree of hul mans beledig of wou iets op hul manier doen en nie volgens die mans s’n nie. Sommige het geweier om te trou met die man wat die familie vir haar gekies het.
Tydens die Tahrir-plein-opstande van 25 Januarie tot 11 Februarie 2011 en die Arabiese Lente wat die bewind van president Hosni Mubarak tot ’n val gebring het, is na raming 80 vrouebetogers per dag verkrag. Van die aanvalle was opportunisties, maar baie was daarop gemik om vroue se deelname aan politiek te stuit.
Mohamed Morsi, wat Mubarak opgevolg het, is twee jaar later op sy beurt omver gewerp. Toe Egiptenare teen hom betoog het, het hulle weer op Tahrir-plein in Kaïro saamgekom en is vrouebetogers weer seksueel aangerand en verkrag, weer in die openbaar en dikwels deur meer as een man op ’n slag.
Onder Abdel Fatah al-Sisi, Egipte se huidige president, het vroueregte en menseregte in die algemeen baie agteruitgegaan en weerspreek die werklikheid die ideale van die nuwe Egiptiese grondwet wat in Junie 2014, voor al-Sisi se inhuldiging, aanvaar is. Dit bevat wetgewing wat vroue teen gendergebaseerde geweld en verwante misdade beskerm en is daarop gemik om geslagsgelykheid te bevorder. Ingevolge dié nuwe wetgewing is die vonnis vir mans wat skuldig bevind word aan seksuele aanranding minstens ses maande tronkstraf of ’n boete van 3 000 Egiptiese pond, ’n bepaling wat baie progressief is in vergelyking met die vorige wetgewing. Maar in dieselfde asem is die aanbevole vonnis vir mans wat hul vroue vermoor ná hulle haar op heterdaad met ’n ander man betrap het, ligter as vir ander moorde.
Geslagsongelykheid en vrouemishandeling in die huis en in die openbaar bly diepgewortel en alledaags. Trouens, daar is al meer bewyse dat die regering vasberade is om alle feministiese forums en organisasies wat geweld teen vroue beveg, te sluit. Azza Soliman en Mozn Hassan, twee Egiptiese aktiviste en kampvegters vir vroueregte wat skuiling en regshulp aan slagoffers bied, is twee van die persone in al-Sisi se visier. Hulle word geëtiketteer as spioene, persone wat “nasionale sekuriteit bedreig” en die “onverantwoordelike bevryding” van vroue aanhits. In Januarie 2017 is Soliman en Hassan, asook Soliman se regsfirma se bates gevries en is hulle vir alle praktiese doeleindes verhinder om hul werk voort te sit.
Dan is daar die kwessie van eremoord. ’n Ma en haar twee dogters is in Mei 2013 deur familielede in Luxor vermoor. Die tien mans het die huis bestorm, die vroue verwurg en met skerp voorwerpe aangerand voor hulle die liggame saam met klippe in komberse toegedraai en in die Nyl gegooi het. Die moord het net aan die lig gekom omdat een van die liggame na die oppervlak gedobber het. Die mans het die vroue van buite-egtelike verhoudings verdink en wou die familie se eer beskerm. Dit is net een van honderde soortgelyke stories.
Mohamed Sayyid Tantawi, Egipte se invloedryke Islamitiese godsdienstige leier, was heftig gekant teen eremoord en het dit met mening beveg. Selfs voor hy oorlede is, was die mense gekant teen hom omdat hy deur Mubarak aangestel is en het hulle hom dus oor dieselfde kam as die korrupte regering geskeer. Daarom het hulle liewer na die plaaslike sjeiks en stamleiers geluister en baie van hulle beskou eremoord as tradisie en sien niks verkeerd daarmee nie.
Dat die besonderhede van dié moord so skraps is en die vroue nie by name genoem word nie, is kenmerkend van byna alle berigte van eremoord wat in die Egiptiese media verskyn en moontlik ’n teken van die alledaagsheid daarvan, asook vroue se lae status.
In die woorde van Amnestie Internasionaal: “Moord op vroue in die naam van ‘eer’ is ’n genderspesifieke vorm van diskriminasie en geweld … ‘Eremoord’ moet gesien word as deel van ’n groter spektrum van geweld teen vroue.”
Jordanië: Anders maar eenders
Die koninkryk van Jordanië is ’n veerbootrit van Egipte af en verskil in talle opsigte baie van die land van die farao’s. Dit is eerstens baie kleiner en die bevolking is ’n tiende van Egipte s’n. Net minder as die helfte van die sowat sewe miljoen Jordaniërs is vroue. Hulle is polisiebeamptes, verkeersbeamptes, regters, loodse, prokureurs en ingenieurs. In 2016 het vroue 20 van die 130 setels in die nasionale verkiesing gewen in vergelyking met 18 uit 150 met die vorige verkiesing.
Koning Abdullah II is pro-Westers en progressief. Hy en sy vrou, koningin Rania, het lank gestry om die land se wetgewing te verander sodat strawwer vonnisse opgelê word vir verkragting en eremoord. Sommige ministers was gekant daarteen en het geredeneer dat strawwer vonnisse vroue sal aanmoedig om mans valslik aan te kla omdat hulle kwaad is vir hulle of hulle wil laat boet vir iets. Ná drie jaar het Abdullah gewen en is die wet verander, maar dit bepaal steeds dat manlike woede-uitbarstings versagtende omstandighede is.
Reeds in 2009 is ’n spesiale hof vir eremoorde gestig, maar ingevolge die Jordaniese strafreg het die klaer die reg om ’n saak terug te trek en die aangeklaagde te vergewe. Aangesien die vrou se familie ná haar dood die aanklaers word en die moordenaars uit haar familie se geledere kom, is dit dus nie verbasend dat baie aanklagte teruggetrek word nie.
Alles lyk dus goed op papier, maar ’n verslag van die Thomson Reuters-stigting oor vroueregte in Arabiese lande meen dat Jordanië se vroueregterekord die swakste is naas Egipte s’n. Van 1997 tot 2008 het gemiddeld 20 eremoorde per jaar plaasgevind en in 2015 was daar 17, maar in 2016 was daar 38.
Een van die 38 was ’n 20-jarige meisie wie se 18-jarige broer haar in haar slaap geskiet het ná hy uitgevind het dat sy ’n geheime selfoon het. Twee ander was die 27-jarige ma van ’n pasgebore baba en haar 34-jarige suster wat deur hul jonger broers doodgeskiet is. Die ouer suster het dikwels die huis verlaat sonder om eers haar familie se toestemming te kry en die ander het ’n buite-egtelike baba gehad, maar het later met die pa getrou.
Volgens Rana Husseini, ’n joernalis wat vir jare rekord hou van eremoorde in Jordanië, word die meeste gepleeg deur – in dié volgorde – die vrou se broers, pa, seuns, neefs (cousins en nephews), ooms, ma’s en susters.
As die slagoffer ongetroud is, is die motief vir die moord byna altyd omdat haar familie vermoed of gerugte gehoor het dat sy nie meer ’n maagd is nie. Dit maak dit des te meer hartseer dat dr. Israa Tawalbeh, ’n forensiese spesialis in die regeringsdiens, sê dat 99% van die slagoffers van eremoorde wat hy ondersoek het maagde was.
Hierdie praktyke word dikwels voor die deur van ouer geslagte gelê, maar ’n 2013-peiling deur die Universiteit van Cambridge waaraan 850 tieners met ’n gemiddelde ouderdom van 15 in Amman, die Jordaniese hoofstad, deelgeneem het, wys dat dit geensins so is nie.
Die helfte van die seuns en 20% van die meisies het gesê dat dit geoorloof is om ’n suster, dogter of vrou wat die familie “onteer” het, te vermoor. Nog meer steurend was die feit dat hul sienings nie met geloof verband hou nie, maar gebaseer is op patriargale en tradisionele sienings, die waarde wat aan ’n deugsame vrou geheg word en die algemene siening dat geweld moreel geregverdig is. By implikasie stem hulle dus saam met die idee dat eer gemeet word aan meisies se seksuele reinheid, dogters en susters se maagdelikheid en ’n vrou of ma se trou. Opvoeding was die een faktor wat gehelp het om hul siening te verander, en dié wat uit ’n gesin kom waar selfs net een persoon ’n universiteitsgraad het, was minder geneig om met eremoord saam te stem.
In