Ek sê jou:
daar’s iemand wat my koffie dokter
en die corn flakes het ’n snaakse kleur.
Die stort het ’n breakdown gehad –
hy drup net
en ek weet lankal daai hi-fi is ’n skelm.
Die TV wil vir my iets wegsteek en
die koelkas konkel met my bier.
Ons asblik is onseker en
ek’s bekommerd oor die buurvrou.
Ek sê jou mos:
daar’s ’n snaakse rattle in Maandag se enjin,
my broer.
Self-timer
Kersfees
– ek ge-ponytail en sonder oorbelle –
my storie
en al sy hoofkarakters
effens ongemaklik
sweterig
saamgepak
op oom-en-tannie-hulle se rusbank
soos tande in ’n te klein onderkaak
om plek te maak vir
die vêres en die dooies
wat vandag
nie met ons kan wees nie.
Ouma se artritis-handjies probeer
frommel-frommel
aan my broekspyp
vashou.
My pa moet vinnig maak
om ook op die foto te wees,
maar hy’s nie oorhaastig nie –
hy gaan nie
soos my ma
loop senuagtig raak
oor so ’n self-timertjie nie.
Die kamera bzzz,
die rooi liggie flits
en ons glimlag te mooi
vir die oog wat afgetrokke
deur die lens loer
as die sluiter
klik.
In my ma’le se tuin
in die bang buurt
tussen drome en krieke,
nagmerries en hoë heinings,
dreun ’n vol-vol maan
se staalkitaar so rou
deur die lou laat en blou
kringetjies rook bly
in die dooie wind
hang
Groot
Gister het Emma vir my die swart arend,
die kamma-tattoo op haar voorarm, kom wys
en vandag aan die begin van langpouse
haar nuwe skoene met reuse- blink blommetjie-gespes.
Terwyl sy effens verleë weggekyk het,
probeer dink het aan nog ’n verskoning
om ’n bietjie langer by my rond te hang
voor sy buite gaan speel
en ek in die personeelkamer gaan koffie drink,
net toe, het ek gewonder hoekom –
hoekom ek en my neefs ooit
ingegaan het vir ete
hoekom ons van ons boomhuis in Milnerton
weer grond toe geklouter het?
Gebed in ’n Boeing
Op pad terug Duitsland toe
het ek die Sahara
soos God se pinkie-afdruk tjoepstil
onder my
sien lê.
Ek het gedink aan die vakansie,
aan alles wat verby is
en per ongeluk gebid
in Afrikaans: O Here van my ouma
laat staan ons tog nie soos daai oompie
wat vrek en trek aan ’n bewerige sigaret
in die wagkamer met vuil plastiekstoele nie;
alleen soos skytbang
in ons ou ekkies nie.
Laat ons tog een keer nog
soos op ’n kleuterpartytjie
klim en inbondel
in my oorlede oupa se ’74 bruin Audi
en gaan ry met die oop pad – die Groot-Karoo
agter Jean se vuil voete op die dashboard
as ons sing en lawaai
soos die son sing en swaai
aan die truspieëltjie.
Laat ons die vensters wyd oopdraai
dat ons ons harte mag hoor rumoer
soos ’n somernag vol krieke
dat ons ons verste verlang kan beluister
soos ’n ou gunsteling
soos vir Valiant en vir Koos
tot ek en Ciel en Jean
so saam onder deur die maan
oorloop soos die Gariepdam donder
oor die rand
van die nag se wydste kant.
Ná die vakansie
Die vakansie is verby.
Ek en Jy
weer afwesig saam
om ons oggendkoffie.
Ons eet ontbyt
want die wekker sê dis oggend,
maar dis nog winternag buite.
Jy kyk stip nêrens
iewers op die kombuisvloer
en ek staar rigting koffiemasjien.
Tot die soutpotjie
dit nie meer kan hou nie,
sy arms in die lug gooi,
skreeu en hardloop
gil en stort
oor die rand van die tafel.
Morsdood, maar ons, ons drink koffie –
jy joune,
ek myne.
Ek MOET gaan skoolhou.
Ek MOET oor 15 minute
by die bushalte wees.
Ek wonder waar ek die moed vandaan moet kry
om in die bus te klim
wat my skool toe sal vat.
Ek hou van kinders,
maar as daar nie hoop vir Suid-Afrika is nie
dan