“Hy’t my knieë uitmekaar gedruk en gesê ek moet relax, hy gaan net ’n plastiekpypie opsteek en alles sal OK wees. Eers het ek niks gevoel nie, maar dit was net vir ’n oomblik.”
Die groen Dettolswaard steek en draai en skeur alles oop.
“Maar jissis, dit was seer. Hy kon die ding nie opgedruk kry nie. Hy’t dit uitgetrek en weer begin. Hy’t gesukkel en gebuk en gekyk en die hele tyd niks gesê nie. Ek dink ek het die tafel natgemaak.
“Al die ligte in die buurt was seker al af, want hierdie een was ongoddelik skerp, al was dit so ’n klein lampie. En toe my pa se stem. Hy stap in. Swart porieë,” sy raak afgetrokke aan haar neus, “en die pyp hang uit soos ’n wurm.
“En hy was ’n dokter.
“Ek het later met ’n geleende Ford Escort teruggery Stellenbosch toe. Miek het tennis gespeel.
“Vir dae het ek gebloei en pyn gehad. Handevol Disprins gesluk. Toe eers is ek ginekoloog toe en hy het gesê ek is nog altyd swanger. Hy’t Londen toe gebel en vir my tissues gegee, om sy lessenaar gestap en sy hande op my skouers gesit en gesê hy wens hy kan my help, dis verskriklik.
“Ek het die vliegtuigkaartjie gekoop met geld van my onderwysbeurs.
“Toe alles verby is, was ek nie meer bang vir my pa nie. Nooit weer nie. Ek en Miek was hierna nog vyf jaar bymekaar – so-so. Om ’n orgasme te lieg is mos maklik.”
Sy sprei die vingers van een hand met die vyf fyn silwerringe oop.
“Ek tel nie die jare bewustelik nie. Dit gebeur net. Vandag sou hy vyf gewees het: ’n koek met vyf blou kersies, of pienk miskien. Nee, dis nie sentiment nie – dis die ander nageboorte. Vandag dertien: sou ons gaan fliek het?”
Haar stem is nou so sag dat ek amper nie kan hoor nie. Sy kyk oor die grasperk wat haar pa dertig jaar lank gereeld en klaend op Saterdagoggende gesny het, en pluk een gladde haar na die ander stadig met ’n draaibeweging uit en skud dit van haar vinger op die stoep.
“Die kombuisdokter glo skynbaar voorsorg verhoed nasorg. Hy’t seker gemaak dat ek nie ’n tweede kans kry nie. G’n kleinkind vir Pa nie. Ons het sy laaste hoop nek omgedraai – dis die enigste ding wat ons twee ooit saamgedoen het.
“Toe,” sy kom vinnig orent en steek haar hand na my uit, “kom ons gaan kry vir ons ook begrafniskoek.”
Die manne in die pakke
Haar man is weg. Anderkant die loergaatjie is ook niemand nie, maar tog. Dis twaalfuur en onder die straatlig dam die asgrys mis al dikker. Sluit die konsertinahek, die Yale, die loper en skuif dan die kort dik ketting dwars.
Die hond en die kind lê kalbasmaag van die melk en kreun al op die uur saam met die tak-tak in die portaal. Die Siamees, wat op sy dag kon brom soos ’n hond, nou ineen van artritis en krimpgetrek agter ’n katarak.
Dis so stil jy hoor hoe die buisligte sing.
Sy is alleen en wakker. Dis hoekom sy seker maak die oregondeur is gesluit, weer en weer.
Al weet jy voor jy omdraai, die gevaar is eintlik agter jou rug. Binne-in jou huis.
Maar jy kan niks doen nie, want dis die uur van kan nie meer keer nie. Die uur van geen verweer teen die manne met die hoekige pakke, die stoflose skoene. Hulle het hulle weer in die aandkoerant, wat saam met die donker doef teen die deur, ingewurm.
Kreun tak sug tak. Die kind wieg slapend voort, onbewus nog van sy onrus wat vir eers in haar hurk.
Hulle is dikwels hier deesdae. Selfs op ’n Saterdagoggend as die huis nog ruik na badseep en slaap. Kom, Boemelsakkie, roep sy die kind, kom ons luister na die radiovoëltjie wat fluit fluit voor die tannie vertel.
Die kleintjie se gesig blink.
Al die maatjies moet nou nader skuif, want tannie B. begin: Buks het masels.
Buks, so praat hy uit sy siekbed met sy sus, wil eendag ná skool oorlog toe. Gesond word en groot om ’n gesonde, groot soldaat te word. Te ra-ta-ta, te salueer en vlag te hys.
Sus, die soet klein slaaf, luister in gepofte lint na Boet se dapper drome en sy siek parate praat. Ja, Boetie, ja, en eendag as ek groot is, dis opgewonde Sus, gaan ek ’n verpleegster word wat jou wonde verpleeg, of wat dink jy?
Daar was klank en roering daardie oggend: stippels in ’n sonstreep, die kat wat purr op die duvet en die afvee, aangee, uit- en optel van Soenegevreet. Maar voor tannie B. se stem stil geword het, het sy hulle klaar in haar huis hoor sluip.
Nou spin net die stilte om haar en om hulle.
Skakel die buiteligte aan. Een op elke hoek, maar met die mis kan jy nie meer die vlerke van die pronk-ertjies sien daar agter teen die draad nie. Vroeër al trek sy elke gordyn voor elke venster dig. Die huis is versier met diefwering en iewers ’n ogie wat rooi flik.
Ek sluit my weg en belig my skuilplek. Ek is ’n weerlose, hoë-risiko-teiken.
Die dakteëls kan nie af nie, het hy gesê toe hy nog hier was. Jou hoekhuis is so onaanraakbaar soos Tuynhuys. En beter, het hy gesê, want daar loer die uniform wat in die agapante hurk jou af.
Sluit jou buite bereik van die skroewedraaier, die dodelike sigsag van glas. Pasop vir jou eie nylonkous. Sit die spreiligte aan, want hiervoor is die Buttonoog bang.
(As hulle die dagga en die Mandrax saam vat, raak hulle mal, mevrou, sê Annie, concerned oor haar mevrou so alleen. Sy ken die waansin van die Witpyp.)
Keer die dronk drif wat na jou korrel, stuit dit met vierdubbele slotte van staal. Neem ’n Baretta .22 bed toe.
Alleen in ’n parkeergarage. Die lugreëlaar dreun en die dak druk laag op die verlate beton. En dan, agter jou, die knars van ’n manskoen. Steek hom met die sleutel in die oog, skop hom in die knaters. Maar as hy op jou is, is jy tog verlam, en die J-vlakdak begin te val.
Die vlies skeur weer, en wreed, hierdie tweede onwillige keer. Sy weet, want dis op die vroueleerplan, van voor skool af, saam met badgewoontes en gebede.
(Dis ’n mite, lag die sportmal soldaat. Julle soek dit, sê die kaalbolyf kaptein, en as hy haar bykom, het hy ’n stophorlosie in die hand.)
Maar hoe veiliger die vesting, hoe groter groei die vrees. Lood omhels die teer organe in haar buik. Sy sit regop in die dubbelbed.
Nou’s dit net angs oor die ander wat ook na haar hyg: hulle teen wie mens nie gewaarsku word nie, hulle wat altyd toegang het tot binnekamer en bed, hulle geklee in die kleur van teer. Die koerantgesigte. Die brigade wat om kwart voor sewe soggens, by die nuus, broek en das toegulp en knoop oor die wit onderbroek en gaatjiesfrok. Driehoekie in die baadjiebosak. Soms, vir openbare okkasies, ’n angelier aan die bors. Kyk, die vierkantige bril boesem vertroue in en die vlees tussen die grys blink so eie en bekend. Soos ’n oom. Of ’n op en wakker oupa met ’n dubbelken. Dubbeld besorg. En deur die geskeduleerde dag kreukel die stywe wit boordjie onder die welgevoede wange nooit.
Gaan kombuis toe, gaan soek styselsoene. Die laaste oorskiet skep sy uit die poedingbak, skeur die vla-karton oop en dra die soet homp terug na haar bed. Vreet die vrees uit jou huis: dis ’n amperse orgasme, en die gevolg ’n blywende fort van vlees. Jou boude en borste swel tot sandsakke, vir jou kind om agter weg te kruip. Veilig teen hofskoene, snyerspakke in uitsaai-ateljees, die mans in donker Duitse motors, met die swart hoede wat so maklik afgly na die bors vir wyding en gebed.
Hulle glimlag op foto’s en maan so minsaam, die manne met die krae stram en bleek. Maar dis vir julle, sê hulle met tonge wat tril, dis in belang van julle almal. Vir veiligheid en vrede in hierdie mooi erfenis van ons, dreun dit nes stootskrapers. Hul woorde reën soos rubberkoeëls, dans soos donshael.
Wat word van al die angeliere?
Kanselleer, as oplossing dalk, die koerant en lees vrouetydskrifte. Mielies sonder moeite. Breigoed vir babas.