Rachelle Greeff
Die rugkant van die bruid
Tafelberg
Vir Jo Duby, wat my leer lees het
Borste en die bandiet
Die een met die nekvel wat klaar gaap onder die kaak, het haar borste laat kleiner maak.
Maar nou kerm sy want dis onegalig opgehewe onder die dressing en kyk hoe plat is dit en dokter Bailey het gesê die kneusing moet nog sak en Michael het gesê hy bliksem hulle almal as hulle dit te klein maak.
Gister het sy nie so in die tissues getjank nie.
Sy is nil per mond en vertel ons van haar cute kleintjie (dié se parfuumnaam het ek nou al vergeet) wat so al die popliedjies ken, en sy dra ’n foto van die een bed na die ander soos ’n dankofferkoevertjie. Ons kloek ons bydraes. Oorringetjies wat blink langs lipstiflippies en die lyfie kaal, klaar met ’n kinkel vir die kamera. Drie prikkelende jaartjies oud.
Ná die foto begin Borste met ’n uitgerekte ritueel om die lak van haar vinger- en toonnaels te haal, want dit is, nes ringe en vals tande, taboe in die teater. Eers toe die hospitaalkamer nie meer benoud na die binnekant van ’n blomwinkel ruik nie, maar na asetoon met ’n vernislagie suurlemoen, hou sy op.
Dit was gister.
Nou is sy huilerig oor die borste en ag shame (sy lê op haar sy, met Huisgenoot omgevou in een hand) die skroewedraaier-maniak het darem bad kinderjare gehad.
Eers toe sy die verkragter-moordenaar toemaak, hoor ons van die bandiet wat nogal in ’n kolonel se huis bly, nè.
Daar waar sy en Michael woon.
Haai, sê die een met die Biggie Best-huis en die niere, terwyl sy Oros drink, ek het gedink hy is nog op Robbeneiland. Op haar naghemp verfrommel twee fraai beertjies mekaar en sê Love you mostest.
Nee, hy’s al ’n hele tydjie daar by ons, sê Borste. Sy weet, want Michael is mos ’n bewaarder. Daar.
En what’s more, sê sy, hy’t sy eie kok, sy eie dokter, sy eie tuinboy en ’n helse swembad. Sy laat haar vingers een vir een regop soos viennas staan. Twee, twéé, lorrievragte meubels is by die huis afgelaai, haaifaai de lot. Soos Michael sê, om wat mee te maak?
En honderde bewaarders net vir hom. Hy’t dit nicer as ons, nè.
Die bleddie luis, sê die een van Riviersonderend wat haar baarmoeder vaginaal laat verwyder het, en sy laat sak haar kop met mening oor haar hekelwerk. (Sy’s besig met die Onse Vader vir die sideboard.) Vir wat is hy nie lankal gehang nie?
Gister (met Huisgenoot oop teen haar opgetrekte knieë op die hospitaal-duvet) vertel sy ons van die staatspresident se dogter wat eende aanhou daar waar sy bly by haar pa se huis: Julle weet, sy’s nou half soos prinses Di en tog so gewoon.
Dis pragtig hier. Dis oop, daar is bome, grasperke, ruimte. Soggens wanneer jy wakker word, sing die voëls in die bome. My hond is hier, ek kan my eende aanhou. Waar kry ek beter as hier?
Riviersonderend se r’e is volkoring en dit gars-gars tussen die tande.
Wie hier vertoef, hoef skaars te weet daar is ’n wêreld daar buite.
Toe sy klaar is met die tydskrif, leen sy dit vir Biggie Best, en so het dit vandag by Borste uitgekom.
Maar Biggie Best is vandag stillerig, want een nierpyp wil nie dreineer nie en sy moet weer teater toe vir ’n sistoskopie. En Riviersonderend het nog nie uitgegaan nie en ag, nie die Pink Lady of die Codis Cocktail help nie en haar ginekoloog sê nee vir ’n setpil. Die saalsuster sê dis haar derde dag en sy’t die blues.
Omdat hulle twee vandag nie praatlustig is nie, is Borste dus aan my oorgelewer. Nie dat sy omgee nie, want ek is al so lank hier dat ek so veilig is soos ’n portier, en die uitnodiging tot familiariteit hang saam met die dokter se orders aan die voet van my bed. Nuwe pasiënte gesels graag met my.
En hulle wil hom skiet, sê sy.
Wie wil wie skiet?
Vir hom. Dinges daar by ons.
Wie wil hom skiet?
Die ouens wat hom oppas en mense buite.
Iewers onder die uitgegroeide perm maak elke klank ’n lang, lui gouestroopdraai en haar praat is stadig en soet.
Hoeveel pas hom dan op?
Nee, hulle mag glad nie sê nie. Ek weet net dis baie, maar Michael praat glad nie uit nie.
Orange juice apple juice milk tea or coffee? Drie maal op ’n dag kom lê die meisie met haar elmboë op die bedtafel naaste aan die deur, ballpoint in die een hand, boekie in die ander. Sy kyk verby ons almal deur die venster. Net haar ore leen sy aan ons uit om ons bestellings aan te hoor, en haar teësinnige hand om dit neer te skryf. Haar gesig drie maal op ’n dag bot soos ’n bedpan.
Jy moet tog nie hieroor praat nie, hoor, ons kan in die moeilikheid kom, sê Borste, en sy begin grawe in geblomde sakkies om die ná-narkose-bleekheid te verbloem vir die sewe-uur-besoek.
Dis toe dat ek my twee kateters vat en loop. Uit na die aand. Geheel en al buitentoe oor die volvloertapyt, nukkerig verbyneuk by die fontein wat dieselfde eentonige straal dag en nag spuit. Uit tot by die kliniek op die bult se visdam sonder vis. Verlos van die ingelegde lug sprei my longe buite lieflik oop vir die ver en ligte stad. Tot in die voorstede rits die diamanté om ’n blas en sagte hals.
Dis tyd om te ry. Rozanne vertel nog gou van haar eende en hoe jy moet maak om ’n dammetjie vir hulle te bou. Jy grawe net ’n gat en neem ’n stuk stewige plastiek en dan moet jy natuurlik ’n stroompie in jou erf hê . . .
Net ’n oomblik verlei die uitsig my – want ek wil steeds my lyf en dit wat nog syne is, wegvat. Vinnig verwyder of verplaas en fokof uit hierdie tronk met sy wye oop deur.
Wie hier vertoef, hoef skaars te weet daar is ’n wêreld daar buite.
Maar aan die een kant is die swembad waarna ’n ou man staar, blind vir Kreepy Krauly’s en chloor, aan die ander kant die eendedammetjie, en tussenin die vroue van die skandale, skete en maskara.
So bly ek staan by die visdam sonder vis, all dressed up, met my urine in my hand soos ’n aandhandsak.
Snaaks watter simpel goed mens onthou
Haar pa se begrafnis is verby. Ons twee sit op haar ma se rooi gepoleerde stoep terwyl die mense binne koek-en-tee.
Die eerste keer dat ek haar gesien het, het ek my verkyk aan die los bos halfkrulle en hoe sy een haar na die ander stadig met ’n draaibeweging uitpluk en afskud op die vloer. Daardie dag, vyftien, sestien jaar gelede, was die begin van ons vriendskap. En tog was daar ’n ding wat sy my nooit in al die jare vertel het nie. Ek hoor dit nou:
“Ja, vir my pa het die dice ook verkeerd geval, en dit kon hy nie vat nie.
“Hy wou dokter word, maar toe boer my oupa, sy pa, so agteruit dat hy nie beter kon as klerk in die staatsdiens nie. Hierna, met die oorlog, is sy rug in Egipte flenters geskiet en het hulle hom huis toe gestuur.
“Ek het eenkeer per ongeluk ingestap terwyl hy uittrek. Hy’t woedend omgeswaai en ek het vinnig padgegee, verleë. Maar ek het dit gesien – die lang vleislip. ’n Ander keer tussen die kosyn en badkamerdeur, ook nie aspris nie. Dit was pienk van die warm water.
“Ouma Baai wat by ons gewoon het, was mos sy ma. Sy’t altyd vertel hoe sy sportbekers van groot tot klein in ’n ry op die gordynkap in sy kamer gestaan het, en later op die sideboard, van kleins af – tot met die rug-ding. Hierna het hy altyd las gehad van die een been en kon nie eens ordentlik drafstap nie, wat nog te sê hardloop en hoogspring.
“Hy het nooit soos ander pa’s geswem nie. Ook nooit kortbroek gedra nie.
“En toe die derde teleurstelling, toe daar nooit vir hom ’n seun kom nie, iemand deur wie hy van voor af kon droom nie. Eers ná ’n lang gesukkel net die