Die A tot Z van Klassieke Musiek. Koos Human. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Koos Human
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Музыка, балет
Год издания: 0
isbn: 9780798173056
Скачать книгу
belangrikste operas van daardie jare: werke van Gluck, Mozart, Cimarosa, Pergolesi e.a. Hy besluit egter in November 1791 om weer na Wenen te gaan. Die volgende maand sterf sy pa. Graaf Waldstein het hom bekendstellingsbriewe aan vername families in Wenen gegee en so het hy vroeg reeds in aanraking gekom met huise soos Lobkowitz, Van Swieten en Kinsky. In dié mense se salons het hy gereeld klavier gespeel en prins Karl Lichnowsky het hom twee jaar lank onderdak gegee.

      Beethoven het na Wenen teruggekeer met die doel om verder te studeer. Aanvanklik het hy les by Haydn geneem, maar dit het nie gedeug nie. Vir sy ongeduldige temperament was Haydn te stadig en agtelosig. Hy is dus na Albrechtsberger, ’n kenner van kontrapunt, en die teoretikus Schenk. By Salieri het Beethoven jare lank les geneem.

      Beethoven was die eerste komponis wat feitlik van die begin af onafhanklik probeer wees het. Mozart het die laaste deel van sy lewe geen direkte patronaat gehad nie, maar Beethoven was van die begin af sonder enige posisie, hoewel hy gul steun uit hoë kringe ontvang het. Hy was verbitterd oor sy vermoënde vriende wat deur afkoms en stand ’n kommervrye bestaan kon voer terwyl hy, met sy genialiteit, moes sukkel om aan die lewe te bly, en van gunste en gawes afhanklik moes wees.

      Hy het egter verdienste gehad uit sy klavieruitvoerings, weliswaar hoofsaaklik in die salons van die hoëlui. Hy het sy debuut as pianis in Wenen reeds in 1795 gemaak en is volgens eietydse getuienis beskou as een van die grootste uitvoerende kunstenaars van sy tyd. Verder het hy ’n inkomste gehad as leermeester, veral van kinders van vooraanstaande mense, en ook uit sy komposisies, waarvoor hy altyd hoë pryse beding het. Later in sy lewe het hy ’n jaargeld ontvang wat geborg is deur o.a. aartshertog Rudolf, Lichnowsky, Lobkowitz en Kinsky.

      In 1796, toe hy 26 was, ontdek Beethoven die eerste tekens van doofheid, seker die ergste ramp wat ’n musikus kan tref. Hy het die tekens probeer wegsteek, geselskap vermy en nog meer swaarmoedig en misantropies geword. Intussen is allerlei rate beproef. In 1802, toe dit duidelik word dat niks gaan help nie, vertrek hy vir ’n kort besoek aan Heiligenstadt, ’n dorpie buite Wenen. Daar skryf hy ’n brief aan sy twee broers, Caspar en Johann. Dit is ’n aangrypende dokument van persoonlike smart en verwildering en wanhoop; dit klink na die somber woorde van iemand wat afskeid neem van die lewe, vandaar dat die brief bekend staan as die Heiligenstadt-testament.

      Hierdie tragiese situasie, wat seker sonder weerga in die geskiedenis is, het gelei tot ’n ewe weergalose “sublimiteit van reaksie”, soos William McNaught dit gestel het. Van nou af kom (sonder om die vroeër komposisies gering te skat) die groot werke wat die verbeelding van die mensdom sou aangryp, waarvan een van die eerstes die *Simfonie no 3 (Eroica) was.

      Beethoven het die res van sy lewe in Wenen deurgebring, maar baie dikwels na die platteland uitgewyk, soos na Heiligenstadt, waar hy o.m. sy *Simfonie no 5 en 6 (die “Pastorale”) gekomponeer het.

      Beethoven se gehoor het nie dadelik heeltemal verdwyn nie, maar was hopeloos ontoereikend. Dit het hom aanvanklik menssku gemaak, maar later moes hy hom by die onvermydelike neerlê en het hy gespreksboekies gebruik waarin hy sy antwoorde op vrae van gespreksgenote geskryf het. Hierdie boekies is uiters belangrike dokumente al is dit nie altyd duidelik wat die vraag was waarop hy antwoord, of wie dit gestel het nie. Hy was ook gedurig in struwelinge met uitgewers betrokke. Hy het by almal voorskotte gekry en aan almal beloftes gemaak. Ook sy liefdeslewe is in geheimsinnigheid gehul. Hy was verlief op talle vroue – altyd uit ’n hoë of bemiddelde stand – maar nooit het iets daarvan tereggekom nie.

      In 1815 het hy die voog geword van sy bedorwe neef Karl wat talle pynlike, selfs banale situasies laat ontstaan het en op ’n keer selfs probeer het om selfmoord te pleeg. Tog het Beethoven hom sy pligte as voog besonder sterk aangetrek. Sy private probleme het erger geword en sy gesondheid al swakker. Met baie van sy ou vriende kon hy nie meer oor die weg kom nie, hoewel talle hom tot die einde getrou gebly het.

      Op 26 Maart 1827 is Beethoven na ’n siekbed oorlede. Schubert was ’n lid van die begrafnisstoet en Mozart se Requiem is uitgevoer terwyl ’n huldigingsrede van die dramaturg Grillparzer by sy graf voorgelees is.

      Beethoven het ’n groot aantal meesterwerke in verskillende vorms en vir verskillende instrumente (ook die menslike stem) gelewer. Vorms soos die simfonie, strykkwartet, trio, sonate, e.d.m., wat deur Haydn en Mozart tot formele volmaaktheid ontwikkel is, is deur Beethoven omgeskep tot feitlik nuwe vorms. Nie alleen het hy hier die laaste woord van die klassieke tyd gespreek nie, maar ook die eerste woord van die romantiese en moderne tyd. Beethoven oorspan die verdeling tussen klassieke en romantiese musiek. Soos ’n kolos staan hy met sy voete in albei tydperke en domineer hy die toneel.

      Beethoven se musiek het die publiek altyd diep ontroer en die verbeelding aangegryp, nie net omdat dit op sigself aangrypend en emosioneel is nie, maar ook omdat dit ’n wonderwerk bly dat ’n dowe man die meeste daarvan gekomponeer het. Sy komposisies kan in drie periodes ingedeel word. Die eerste periode duur tot die leeftyd van sowat dertig en bevat relatiewe jeugwerk. Die tweede periode begin omtrent in die tyd toe hy besef het dat sy doofheid nie genees sal word nie; die *Simfonie no 3 is ’n vroeë voorbeeld. Die derde periode, waarin hy sy subliemste musiek geskryf het, strek van omtrent 1820 en sluit in die *Simfonie no 9, die laaste vyf strykkwartette en vyf klaviersonates, en die *Missa solemnis.

      ORKES

      Ouvertures Beethoven het nie konsertouvertures geskryf soos sommige romantici nie; afgesien van vier ouvertures vir sy opera *Fidelio is die ander almal bykomstige musiek van groter of kleiner omvang vir toneelwerke. (Die Fidelio-ouverture word by die opera behandel.)

      Coriolanus op 62 (8 min) is geskryf vir ’n drama van die Duitse skrywer Collin. Die onderwerp (’n eerlike man wat die stryd teen ’n korrupte wêreld verloor) pas Beethoven presies. Na drie harde akkoorde volg die eerste sterk, onrustige tema wat Coriolanus se vasberadenheid uitbeeld om Rome aan te val. ’n Liriese, sangerige tweede tema stel sy sagsinnige vrou voor en die twee temas word pragtig verwerk. Die ouverture gee ’n voorstelling van Coriolanus se stryd en eindelike toegewing aan die smeekbede van sy vrou.

      Egmont op 84 (8 min) Beethoven het ’n volledige stel bykomstige musiek tot Goethe se tragedie Egmont geskryf, waarvan die ouverture die bekendste deel is. Die drama handel oor die Nederlandse graaf Egmont wat in 1568 deur die Spaanse goewerneur Alba tereggestel is weens sy verset teen die Spaanse bewind. Dit is die tipiese tema wat Beethoven se verbeelding sou aangryp. Die ouverture beeld die gang van die toneelstuk uit in dramatiese musiek wat met sterk akkoorde begin. Die jubelende slot skilder die triomf van die vryheidsgedagte.

      Leonore no 3 op 72b (14 min) Beethoven het vier pogings aangewend om ’n ouverture vir sy opera Fidelio te skryf, maar was telkens ontevrede en het eindelik met ’n ouverture veel korter as die drie Leonore’s volstaan. Leonore no 3 was ’n verwerking van no 2, wat by die eerste opvoering gebruik is, maar dit is beskou as te lank en simfonies van aard om by ’n opera te pas. Dit het egter die gewildste van die drie geword. Die inleidende gedeelte van die werk is gebaseer op die aria In des Lebens Frühlingstagen. Daarop volg ’n opstandige allegro deel en hierdie temas word in sonatevorm ontwikkel. Aan die einde van die ontwikkeling klink ’n trompetgeskal twee maal op (maar van agter die verhoog): in die opera kondig dit die aankoms van die minister aan. Ná ’n fluitmelodie volg die rekapitulasie.

      Simfonieë Die nege simfonieë weerspieël Beethoven se ontwikkelingsgang as komponis. Hulle beklemtoon egter ook sy streng vormtug, want hoewel hy hom telkens al hoe meer vryhede veroorloof, tot by die gebruikmaking van die menslike stem in No 9, bly hy sterk vormgebonde: daar is bv. geen noemenswaardige afwyking van die orkespatroon wat deur Mozart gebruik is nie. No 1 buite rekening gelaat, is dit ook interessant dat die gelyke nommers (2, 4, 6, 8) oor die algemeen van ’n opgewekte, rustige, en bykans kommerlose aard is vergeleke met die ongelykes (3, 5, 7, 9) wat intens-dramaties is en in groot mate die vernuwende elemente bevat.

      Simfonie no 1 in C op 21 (26 min) Hoewel sekere tipiese kenmerke reeds teenwoordig is, gee hierdie werk (gekomponeer op 29) weinig aanduiding van wat sou kom. I. Adagio molto – Allegro con brio Die beweging begin met wat vir sy tyd ’n dissonant was. Daarna volg dit in breë trekke die klassieke vorm, met ’n verwantskap aan Mozart. Reeds hier kry ons dramatiese effekte in die tweede tema. II. Andante cantabile con moto ’n Lieflike liriese tema word in fugatiese styl aangebied.