CHISHOLM, ERIK (4 Jan 1904–8 Jun 1965) Skots-Suid-Afrikaanse komponis en pedagoog. Hy is in Glasgow gebore en was dirigent in Skotland tot hy in 1946 direkteur van die SA Musiekkollege aan die Universiteit van Kaapstad geword het. Hy het baie gedoen om eietydse musiek te bevorder en self verskeie werke gekomponeer, o.m. die opera-trilogie Murder in three keys wat in New York opgevoer is en waarvan een, die monodrama Dark Sonnet, in Kaapstad aangebied is.
CHOPIN, FRYDERYK FRANCISZEK (1 Mrt 1810–17 Okt 1849) Poolse komponis. Sy voorname is later verfrans tot Frédéric Francois. Sy pa was ’n Fransman wat na Pole geëmigreer en later onderwyser aan ’n hoërskool in Warskou geword het. Sy ma was Pools en het goed klavier gespeel. Hoewel Chopin op vroeë leeftyd blyke van besondere musiektalent gee, sorg sy ouers dat hy ’n normale skoolopleiding ontvang en hulle weerstaan die versoeking om hom soos ’n tweede Mozart te paradeer. Aanvanklik neem hy les by sy suster Louise, maar van sy sesde jaar kry hy onderrig by ’n onpretensieuse violis, Zywny. Zywny het dadelik besef dat hy die seun niks van klavierspel kan leer nie en lei hom in tot die werke van Bach, Haydn en Mozart. So maak Chopin ’n grondige studie van die klassieke meesters terwyl hy sy eie individualistiese klavierstyl selfstandig ontwikkel. Hy begin uitnodigings ontvang na adellike huise en leer daar die sfeer van elegansie en verfyning ken wat so goed by sy temperament sou pas. Sy opus 1, die Rondo in C min, verskyn in 1825, maar hy het reeds tevore klavierstukke gekomponeer.
Nadat hy op sestien die skooleindeksamen aflê, studeer hy drie jaar lank aan die Warskouse Konservatorium, waar hy ’n deeglike teoretiese onderrig kry. Hierna gaan hy in 1829 op eie stoom na Wenen en maak daar sy suksesvolle debuut as pianis met sy eie komposisies. ’n Tweede konsert word ewe gunstig ontvang. Die sukses van Krakowiak (’n vroeë Rondo vir klavier en orkes) en ’n improvisasie op Poolse volksliedjies laat hom besef watter moontlikhede skuil in die koppeling van Pools-nasionale musiek en sy besondere klavierstyl.
Terug in Warskou werk hy aan sy twee klavierconcerto’s. Die onbestendige politieke toestand verhoed hom om op reis na Duitsland en Italië te gaan; en hy is ook verlief op ’n jong sangeres, Konstancja Gladkowska. Op 17 Maart 1830 voer hy die *Concerto no 1 met enorme sukses in Warskou uit – die konsert moet herhaal word. Sewe maande later speel hy die *Concerto no 2: dit sou sy laaste konsert in Warskou wees. (Die concerto’s het in die omgekeerde volgorde verskyn.) Die Pole begin hom al as hul nasionale komponis beskou.
Hy vertrek na Wenen, maar sy vroeër sukses word nie herhaal nie, en via München en Stuttgart bereik hy Parys. Sy eerste uitvoering daar, vroeg in 1832, vestig onmiddellik sy naam en hy word ’n gesiene figuur in die Paryse musiekkringe, met vriende soos Berlioz, Liszt, Rossini, Meyerbeer en Bellini, asook skrywers soos Balzac en skilders soos Delacroix. Hy word ’n gesogte klavieronderwyser in die deftige kringe en dit is nie meer vir hom nodig om konserte te hou ter wille van die inkomste nie.
Sy vorige beminde, Konstancja Gladkowska, trou en Chopin het ’n kortstondige verhouding met ’n ander sangeres, gravin Delfina Potocka. Hy reis na Duitsland waar hy Mendelssohn ontmoet. In Dresden verkeer hy met ou Poolse vriende en raak halsoorkop verlief op die sestienjarige Maria Wodzinska, self ’n goeie pianis. In Leipzig stel Mendelssohn hom bekend aan Robert en Clara Schumann; Chopin sou verklaar dat Clara die enigste vrou in Duitsland is wat sy musiek kan speel.
Die verhouding met Maria kom in 1837 tot ’n einde nadat Chopin se gesondheid versleg het, al was daar nog geen diagnose van tuberkulose nie. Hy bring ’n kort besoek aan Engeland en gee een private uitvoering in die huis van die klavierbouer Henry Broadwood. Terug in Parys raak hy al hoe meer bevriend met die romanskryfster George Sand, aan wie Liszt hom voorgestel het. In 1838 word hulle minnaars. Hulle gaan na Majorca waar hy die 24 *Préludes voltooi, maar in die slegte weer verswak sy gesondheid so dat hulle na die vasteland terugkeer.
Hoewel sy gesondheid totaal ondermyn is, beleef hy, geïnspireer deur Sand se vriendskap, ’n tyd van groot skeppingsdrif en skryf o.m. die *Sonate no 2, die Impromptu in F-kruis en verskeie mazurkas en nokturnes. Sy vernaamste bron van inkomste bly ryk leerlinge.
Die verhouding met George Sand versleg, o.m. omdat hy in rusies die kant kies van haar dogter en skoonseun en sy karikaturiseer Chopin in ’n roman.
Op 16 Februarie 1848 hou Chopin sy laaste openbare konsert in Parys en speel naas eie komposisies ook die klavierparty in ’n trio van Mozart. Enkele dae daarna breek die Februarie-revolusie uit wat die monargie van Louis-Philippe omverwerp. As gevolg van die onveilige omstandighede kwyn sy getal leerlinge. Op uitnodiging van sy ryk Skotse leerling Jane Stirling gaan hy na Brittanje waar hy o.a. vir koningin Victoria speel en enkele ander private uitvoerings hou. Die laaste konsert van sy lewe vind plaas in Manchester – dit is ook die grootste ooit, met 1 200 toehoorders.
Hy keer terug na Parys, maar het feitlik geen inkomste nie. Die Stirlings maak ’n groot geldelike skenking aan hom wat sy laaste weke veraangenaam. Op 17 Oktober 1849 sterf hy in die teenwoordigheid van sy suster en eerste onderwyseres, Louise, en ’n paar Poolse vriende. Mozart se Requiem is uitgevoer by die begrafnis in die Madeleine-kerk en Sand se skoonseun, Clésinger, oor wie die rusies met Sand indertyd was, het ’n beeldhouwerk vir sy graf gemaak.
Mendelssohn het gesê Chopin was ’n volmaakte musikus. Hy is dikwels verkeerd beoordeel oor sy werk en oor die vertolking daarvan. Byna ’n eeu na sy dood, tot in die 1930’s, is Chopin se musiek oor die algemeen sleg uitgevoer deur grootdoenerige virtuose wat vir effekbejag tot uiterstes gegaan en hulself verregaande vryhede veroorloof het, selfs deur die musiek te verander. Dit het daartoe bygedra dat Chopin lank beskou is as ’n sentimentele salon-komponis. Niks is verder van die waarheid nie. Sy grootste werke (en daar is talle meesterstukke) verteenwoordig hoogtepunte van die romantiek. Hy het self in sy hele lewe net omtrent dertig openbare konserte gehou, sy leerlinge was geeneen virtuose nie, en daar was dus geen Chopin-tradisie nie. Eers in die afgelope dekades het van die wêreld se voorste pianiste met eerbied en bewondering versigtig ’n Chopin-tradisie begin skep.
Chopin het met enkele uitsonderinge nie die groot vorme beoefen nie, maar sy twee laaste sonates is dié meesterstukke sedert Beethoven. Sy krag het gelê in die korter werke soos Ballades, Scherzo’s, ens. waarvan die oënskynlik romantiese vryheid ’n uiters streng vormtug versluier. Feitlik al sy werke is vir die klavier. Die enigste musiek wat nie vir die klavier is nie, is ’n trio, drie stukke vir tjello en klavier, ’n stel variasies vir fluit en klavier en sewentien Poolse liedere. Chopin was nie self betrokke by die ballet Les Sylphides nie. Dit is deur verskeie persone oor ’n periode georkestreer vir die choreograaf Fokine, wat die ballet in 1907 die eerste keer aangebied het (met Pavlova). Dit is vandag nog een van die gewildste ballette in die repertoire. Dit bestaan uit preludes, walse, nokturnes en mazurkas. Die nokturne op 32 no 2 en die wals op 18 no 1 is deur Stravinsky georkestreer.
KLAVIER EN ORKES
Andante spianato et grande polonaise brillante in E-mol op 22 (15 min) Die twee dele het apart ontstaan. Die Polonaise met orkesbegeleiding is in 1830-31 gekomponeer, en die Andante net vir soloklavier in 1834 in Parys. Die twee werke is deur die komponis saamgevoeg vir een van sy laaste konserte in Parys in 1835. Spianato beteken rustig, sonder sterk kontraste, en so is hierdie byna idilliese werk wat rustig voortstroom, met as middeldeel ’n ewe ingetoë mazurka-agtige melodie. ’n Nogal dramatiese horingfanfare verander, die toonaard en die Polonaise begin met ’n briljante inset deur die klavier. Ook hier bly die orkes op die agtergrond. Hierdie werk word meermale as solostuk sonder die orkes uitgevoer.
Klavierconcerto’s Van Chopin se twee klavierconcerto’s is die een wat bekend staan as No 2 eintlik eerste gekomponeer en by Chopin se eerste optrede in Warskou uitgevoer. Om ’n verskeidenheid van redes is dit eers drie jaar later as die huidige Concerto no 1 gepubliseer. Die orkestrasie by die concerto’s is nie baie sterk nie.
Klavierconcerto no 1 in E min op 11 (40 min) Geskryf in die tyd van sy liefde vir Konstancja Gladkowska is dit ’n liriese, sangerige werk, vol teerheid en gevoel.