BWV Bach Werke-Verzeichnis, die katalogus van die werke van J.S. Bach, opgestel deur Wolfgang Schmieder met die tweehonderdste herdenking van Bach se dood in 1950.
BYRD, WILLIAM (1543–4 Jul 1623) Engelse komponis. Van Byrd se lewe is byna niks bekend nie. Hy was ’n leerling van *Tallis, saam met wie hy ’n aantal motette gepubliseer het. Hy was ’n oortuigde Rooms-Katoliek in ’n sterk anti-Roomse samelewing en moet hoë beskerming geniet het. Hy het naas ’n groot hoeveelheid dikwels vernuwende kerkmusiek ook sekulêre werke vir sowel stem as instrumente gekomponeer.
C
Cabaletta Vinnige slotdeel van ’n aria of ensemble uit ’n opera.
Cadenza ’n Virtuose passasie, wat die skyn van improvisering het, ingevoeg naby die slot van ’n opera-aria of ’n concerto-beweging. Mozart het cadenzas vir sestien van sy klavierconcerto’s geskryf, maar dikwels ignoreer pianiste hulle. Sedert Beethoven skryf komponiste eie cadenzas, of laat dit weg.
CAGE, JOHN (15 Sept 1912–12 Aug 1992) Amerikaanse komponis. Cage het o.a. by Schoenberg gestudeer. Hy is een van die belangrikste Amerikaanse avant-garde-komponiste. Hy het geskryf vir orkes, kamerensemble, klavier, stem en elektroniese apparaat.
Calando Sagter en stadiger wordend.
Can-can Baldadige Paryse hoogskopdans, bekend uit *Offenbach.
Cantabile Sangerig.
CANTELOUBE, MARIE-JOSEPH (21 Okt 1879–4 Nov 1957) Franse komponis. Hy was ’n leerling van D’Indy en het ’n grondige studie van volksmusiek gemaak, wat gelei het tot sy bekendste werk, die Chants d’ Auvergne (Liedere van die Auvergne) vir stem en orkes of klavier.
Cantus firmus “Vaste sang”, die grondtema (dikwels Gregoriaans) waaromheen kontrapuntale stemme geskryf is.
Canzona Lied, ook instrumentaal.
Canzonetta Liedjie, verkleinwoord van canzona.
Capriccio Lewendige musiek in taamlik vrye vorm.
Carillon Klokkespel.
CARISSIMI, GIACOMO (18 Apr 1605–12 Jan 1674) Italiaanse komponis. Hy was die grootste deel van sy lewe kapelmeester aan die Duitse Jesuïete-kollege in Rome. Hy het veral ’n groot rol gespeel in die ontwikkeling van die oratorium.
CARTER, ELLIOTT (11 Des 1908) Amerikaanse komponis. Hy het in Amerika by Ives, Piston en Holst gestudeer en in Parys by Boulanger. Daarna was hy dosent aan verskeie Amerikaanse universiteite. Hy het orkeswerk, kamermusiek, ballette en vokale musiek gekomponeer.
CASTELNUOVO-TEDESCO, MARIO (3 Apr 1895–17 Mei 1968) Italiaanse komponis. Hy was Joods en moes in 1939 weens politieke druk na die VSA verhuis. Hy was ’n bewonderaar van Shakespeare en het ouvertures tot talle dramas geskryf en al die liedere wat in Shakespeare se dramas voorkom, getoonset. Hy is veral bekend om die Klavierconcerto no 2 en die Kitaarconcerto.
Castrato Sanger wat na ’n operasie aan sy geslagsorgaan ’n besonder sterk sopraan- of altstem kon ontwikkel.
Cavatina Sangerige opera-aria, ook ’n kort instrumentale werk of beweging.
Cecilia, St Die beskermheilige van musiek, naamdag 22 November. Talle groepe en organisasies is na haar genoem en komposisies aan haar gewy.
Celesta Klein klawerinstrument met ’n klank soos klokkies.
Celesta
CHABRIER, EMMANUEL (18 Jan 1841–13 Sept 1894) Franse komponis. Hoewel Chabrier vroeg buitengewone talent geopenbaar het, wou sy pa nie toelaat dat hy van musiek ’n loopbaan maak nie, en het hy in die regte gestudeer en ’n staatsamptenaar geword. Hy was egter bevriend met musici, digters en skilders. In 1879, nadat hy reeds twee operettes gekomponeer het, is hy na Duitsland, waar hy kennis maak met die musiek van Wagner. Dit gryp hom so aan dat hy besluit om voltydse musikus te word en hy bedank uit sy werk. Verskeie van sy komposisies is vandag nog gewild, soos die klavierwerke Habanera en Bourrée fantasque, die komiese opera Le roi malgré lui (Koning ondanks homself) en veral die orkesrapsodie España.
Chabrier se musiek is opwindend, lewendig, selfs uitbundig en die sterk Spaanse sfeer van baie daarvan laat mense dink hy was ’n Spanjaard.
ORKES
España (7 min) In 1883 het Chabrier etlike maande lank in Spanje deurgebring en is betower deur die Spaanse musiek. Dit het aanleiding gegee tot hierdie werk, wat nie op Spaanse volkswysies gebaseer is nie, maar op ritmes en vorms. Twee Spaanse danse word gebruik, die *jota en die *malagueña. Die sketse was eers vir klavier geskryf, maar die komponis het dit met ’n besonder ryk besetting self georkestreer.
Chaconne Oorspronklik ’n stadige dans in drieslagmaat, hoogstens van agt mate, wat telkens herhaal word met variasies daaromheen gevleg.
Chanson Lied in die Franse styl; in die Middeleeue meerstemmig, vandag meestal ’n goeie kabaretlied. Ook gebruik vir instrumentale werk.
Charleston Amerikaanse (Neger)dans in 2/4- of 4/4-maat.
CHARPENTIER, GUSTAVE (25 Jun 1860–18 Feb 1956) Franse komponis. Hy moes reeds op vyftien begin werk, maar sy werkgewer het hom twee jaar later na die konservatorium in Lille gestuur, waar hy baie pryse gewen het. Vervolgens is hy na die Paryse Konservatorium waar hy komposisieles by Massenet geneem het. In 1887 verower hy die *Prix de Rome. Hy het twee operas geskryf, waarvan die bekendste *Louise is.
OPERA
Louise (175 min) Opera in vier bedrywe. Bedryf I. Louise (sop) se minnaar Julien (ten) woon oorkant die straat. Louise se ouers wil nie hê hulle moet trou nie, en Louise belowe om Julien te probeer vergeet. Bedryf II. Toneel 1. ’n Straat. Louise en haar moeder (alt) kom Julien teen. Die moeder vertrek. Julien probeer Louise oorreed om met hom weg te gaan, maar sy aarsel. II. 2. Die winkel waar Louise werk. Haar kollegas terg haar oor haar verliefdheid. Julien sing ’n serenade en Louise besluit om na hom te gaan. Bedryf III. In hul huis sing Louise van haar geluk (Depuis le jour – Vanaf die dag). Die moeder verskyn: Louise se pa is siek en sy gaan saam terug. Bedryf IV. Dit was ’n set. Louise se ouers verbied haar om na Julien terug te keer. Na ’n hewige rusie word sy uitgejaag. Haar vader (bar) vervloek Parys wat sy dogter verwoes het.
CHARPENTIER, MARC-ANTOINE (?1645–24 Feb 1704) Franse komponis. Hy het met die dramaturg Molière saamgewerk. Charpentier het sewentien operas gekomponeer, waarvan Médée die bekendste is. As hofkomponis vir die Franse kroonprins het hy baie gewyde musiek geskryf. In sy tyd is hy beskou as meer geleerd en verfynd as *Lully, wat toe die septer geswaai het.
CHAUSSON, ERNEST (21 Jan 1855–10 Jun 1899) Franse komponis. Hy was ’n welgestelde aristokraat. Na ’n studie in die regte is hy in 1880 na die Paryse Konservatorium, wat hy ’n jaar later verlaat om private lesse by César Franck te neem. Franck het ’n groot invloed op Chausson gehad. Hy was ’n teruggetrokke maar gul persoon wat kunstenaars ook geldelik gehelp het, o.a. Debussy. Hy is vandag veral bekend om sy Simfonie in B-mol, die Poème en verskeie liedere. Hy is dood in ’n fietsongeluk.
SOLO EN ORKES
Poème op 25 (16 min) Hierdie werk vir viool en orkes, in 1896 gekomponeer, toon sterk invloed van Franck. Na ’n geheimsinnige openingsdeel is daar aangrypende hoë vlugte van die viool, gevolg deur ’n onrustige passasie wat afwisseling bied. Die stemming is egter byna deurgaans droefgeestig.
CHÁVEZ, CARLOS (13 Jun 1899–2 Aug 1978) Meksikaanse komponis. Aanvanklik het hy les by sy broer gekry. Op twintig het hy ’n simfonie gekomponeer. Later het hy direkteur van die Nasionale Konservatorium en dirigent van die Simfonie-orkes van Meksiko geword. Hoewel hy nie volksmusiek as sodanig gebruik het nie, het sy werk ’n sterk Meksikaanse inslag. Sy bekendste werk is waarskynlik Sinfonia India, waarin hy gebruik maak van Meksikaanse instrumente. Naas ballette het hy koor-, orkes-, kamer- en klaviermusiek asook liedere gekomponeer.
CHERUBINI, LUIGI (14 Sep 1760–15 Mrt 1842) Italiaans Franse komponis. Cherubini is in Florence gebore, maar het in