Uiteindelik! Sy gryp na die foon en tik die wagwoord met bewende vingers in. Dit ken sy darem, sy het die foon soms gebruik om te bel of ’n foto te neem wanneer haar foon se battery pap was.
Daar is ’n magdom sms’e maar niks wat lyk asof dit na Karen Loock toe gestuur is nie. Miskien het hy eerder gebel. Of dalk glad nie kontak met die vrou gehad nie. Sy wil-wil verlig voel. Miskien beteken Karen Loock se e-posse absoluut niks nie en was sy maar net ’n teisteraar wat die baas in die bed probeer kry het.
“Jammer, Jan.” Genade, maar haar emosies ry wipplank vandag.
Tog maak sy die e-posse oop wat na sy selfoon toe deurgekom het. Laat haar vinger oor die skerm gly tot sy by die datum van Karen Loock se laaste e-pos kom. Daar is niks. Sy druk op die vullisblikkie se ikoon. As hier niks is nie, gee sy Jannie die voordeel van die twyfel. Dan is dit duidelik hy het die vrou nooit geantwoord nie.
Daar is heelwat e-posse. Toe sien sy Jannie se antwoord en sy raak koud. Die swart lettertjies spring voor haar en sy staar lank voor dit werklik sin maak. In die bed. Dink aan jou. Ek lees. Jy? Wat doen jy? Dis mos wat die vrou gevra het. Hy dink aan haar? Aan Karen Loock? Maggie se brein sukkel om die inligting te verwerk. Hoekom? Dis asof sy met stomheid en domheid gelyk geslaan word. Hulle het gereeld ná ’n lang dag vroeg in die bed geklim om te lees. Sy sou ’n laaste koppie tee vir hulle maak en dan sou hulle hul leesstof kry. Dink aan jou? Haar lyf begin bewe, letterlik van kop tot toon.
Sy soek verder. Daar is nog ’n antwoord van hom. By jou. Sewe-uur. Bliksem! Die woord slaan in haar lyf vas sonder dat sy dit hardop hoef te sê. Wat het hy sewe-uur in die aand by Karen Loock gaan soek? Sy is groot genoeg om te weet wat. Maar nie háár Jannie nie. Hulle was dan gelukkig. So tevrede. Hulle lewe was in die meeste opsigte perfek. Sonder rimpelings op die water. Sy en Jannie het daarvoor gesorg. Hy het sy deel gedoen, sy hare. Miskien was hulle te versigtig, te gemaklik. Dalk was dit juis rimpelings wat hy gesoek het. Nie ontrimpelings by die salon sodat sy altyd op haar beste vir hom kon lyk nie. Nie iemand wat elke persoonlike opskuddinkie gou uitstryk sodat sy lewe seepglad kan verloop nie. Hulle was ’n span. “Bliksem!” Genoeg van ordentlik wees. Kyk wat het ordentlikheid haar in die sak gebring.
Haar selfoon gee ’n piep. Dis Wynand. Sy lees die boodskap sonder om aan die foon te raak. Is jy ok? Waarmee is jy besig? Moet ek oorkom?
Hoekom wil hy nou skielik na haar toe kom? Sy het net gevra wie Karen Loock is. Hy sit en broei seker met ’n skuldige gewete.
Sy ignoreer die boodskap. Soek eerder met ’n koorsigheid verder deur die gestuurde e-posse. Is Karen Loock die vrou op die foto of is dit bloot toevallig?
Daar is nog ’n e-pos van Jannie aan Karen Loock. Nou? My vrou in die tuin besig. Gaan probeer uitglip. Sien jou oor vyftig.
Dis asof die binnekant van haar lyf ’n bodemlose put word, want dit voel asof sy niks oorhet daarbinne nie. Letterlik niks nie. Sy is lus om elke kru woord wat sy ken uit te skree.
Met haar hand oor haar mond bly sit sy soos ’n koudbloedige in die son.
Nee! Dis nie wie sy is nie. Sy sal nie haar waardigheid agter Jannie aangooi omdat sy kwaad en ontredder is en hom die woorde toevoeg wat hom toekom nie. Maar dis te veel gevra. Toe sy die volgende boodskap lees, gooi sy die selfoon dat dit die muur in die gang met ’n slag tref. Hy gaan dit in elk geval nie weer nodig kry nie. Vasgekeer draai sy in die rondte. Sy kan nie helder dink nie. Om die waarheid te sê, sy kan nou aan niks dink nie. Sy moet vars lug kry.
Blindelings soek sy die stoep op. Maar sy voel so verskriklik alleen. In ’n dwaal loop sy terug kombuis toe en haal haar motorsleutels van die sleutelhakie af. Sy het nêrens om te gaan nie, maar sy wil hier wegkom, dalk net ’n draai ry. Al is dit net om die blok.
Haar hande bewe toe sy agter die stuurwiel inskuif. Die elektriese motorhuisdeure gly sag oop. Sy sit haar motor in trurat en trap die versneller. Die motor skiet vinniger agtertoe as wat sy bedoel het.
Daar is ’n dringende getoet regs van haar, gevolg deur skreeuende remme. Vervaard trap sy die rem en haar motor ruk dood. ’n Turkoois kombi kom net etlike meters van haar af tot stilstand. Sy knip haar oë om te fokus. Pleks die ding haar gestamp en klaargekry het. Sy doen nie moeite om die onredelike gedagtes te keer nie, sy is lankal verby redelikheid. Die afgelope drie maande was hel. Hoe moet sy nou met ’n verneukery en hoereerdery agter haar rug ook maak? Was ’n begrafnis nie genoeg nie? Wat haar die seerste maak, is dat sy hom nie eens daaroor kan konfronteer nie. Sy sal nooit weet wat hy gedink en gevoel het nie. Nooit weet of dit net ’n flirtasie was en of hy haar afgeskryf het nie. Was hy van plan om haar te los? Was hy nog lief vir haar? Hy het belowe. Negentien jaar gelede het hy voor God en hulle familie en vriende belowe dat hy haar as sy vrou vat. Net vir haar. Nie vir Karen Loock ook nie. Sy staar na die bussie, maar sien dit nie werklik raak nie.
Twee vroue kyk na haar asof sy van êrens ontsnap het en hulle nie seker is of dit uit ’n rioolpyp of ’n psigiatriese eenheid is nie. Nie een van die twee roer nie. Sy het nie krag in haar lyf nie en bly sit ook net. Lamheid lê tot in haar been, maar sy moet die mense verskoning vra. Met moeite stoot sy die deur oop. Die bestuurder draai haar ruit af toe Maggie stadig naderloop.
“Jammer, jammer, ek is verskriklik jammer.” Maggie se lippe is droog en haar stem krakerig. “Ek wou net wegkom.”
“O, donner, hier kom moeilikheid.” Dis die rooikop in die passasiersitplek wat hard genoeg praat dat sy kan hoor. “Trap die petrol dat ons kan ry. Lyk of die vroumens ’n spook gesien het. Ek het nie nou lus vir sulke drama nie.”
“Het jy moeilikheid?” Die blonde vrou lyk vriendeliker. Sy rek haar nek om verby haar te kyk. “Het jy ’n panic button?”
“Nee.” Maggie skud haar kop stadig. As iemand op haar hakke maar die oorsaak van die paniek in haar was. Dit sou sy kon hanteer. “Hier is niemand nie.”
“Jy is wit geskrik. Kan ons jou help? Wil jy inklim? Ek kan jou iewers gaan aflaai. Jy lyk nie in ’n toestand om te kan bestuur nie.”
Maggie sien hoe die blonde vrou aan die rooikop se been tik. Amper asof sy haar aanmoedig om ook iets te sê. Dalk vriendeliker te wees.
Die rooikop haal net haar skouers op. “Dis jou kar. Lyk my die hele Paarl is mal vandag.”
Albei die vroue staar vraend na haar.
Wil sy inklim? Sy kyk dom na die rooikop. Beslis nie! Veral nie saam met iemand wat praat asof sy nie hier staan nie. Tog wil haar bene nie wegdraai nie. Sy kan nie hier bly nie, nie vandag nie. In hierdie huis is sy gekul. Omdat haar man haar nie waardig genoeg geag het om haar die waarheid te vertel nie.
Sy steek haar hand na die deurhandvatsel toe uit, maar trek dit terug toe die blondekop weer praat.
“Jou motor. Jy kan dit nie sommer net in die pad los nie.”
Maggie kyk stom na haar motor. Sy kan nie glo sy het gedink sy is in ’n toestand om te bestuur nie. Waarskynlik sou sy net ’n gevaar op die pad wees.
Die blondekop se mondhoeke trek simpatiek. “Ek trek dit vir jou terug in die motorhuis. My ma het ook ’n Merc. Ek weet hoe dit werk.”
Maggie hou die sleutel uit en kyk willoos hoe die vreemdeling in haar motor klim en weer tot in die oprit ry. Sy sluit die deur en hou die sleutel weer na Maggie uit toe sy by die kombi kom.
Met die sleutel in haar hand geklem, beur en trek Maggie aan die stram deur van die kombi.
“Jammer, dis oud.” Die blondine lyk verskonend.
“Dis oukei.” Ja, sy is luukser voertuie gewoond. Was eintlik nog altyd in watte toegedraai, sy weet dit, maar tot dusver het sy dit gerieflikheidshalwe ontken. Sy kry die deur oop en skuif in op die ou kunsleersitplek.
“Ek is Simoné, dis Andrea.” Simoné,