Vader van genade, ek wil nie alleen wees nie. Sy smeek met alles in haar, kyk op in die lug, verwag amper om antwoord daar te kry, maar daar is niks nie. Nie eens ’n voëltjie wat verbyvlieg sodat sy dit in haar desperaatheid as ’n teken van Bo kan sien nie. Dis blerriewil doodstil, selfs daarbo.
Haar bene knak onder haar en sy gaan sit sommer net daar op die gras langs die yesterday-today-and-tomorrow. Twaalf jaar gelede toe hulle van Johannesburg af hierheen getrek het, het sy dit uit sentiment laat plant, maar nie gedink dit sal ooit tot sy volle potensiaal groei nie. Tog het dit ’n pragtige struik geword. Die trots van haar tuin wanneer dit blomtyd is en die soet geur tot in die voorhuis hang. Nou voel alles so sinneloos; haar obsessie met die tuin en huis se mooimaak, haar beeld as voorbeeldvrou, voorvatter by al wat ’n liefdadigheidsorganisasie is. Haar tyd het sy so versigtig verdeel tussen haar gesin en haar uitreik na ander. Sy het so seker gemaak Jannie en die kinders word nie ingedoen nie. Elke oomblik van haar dag was sy toegewyd. Elke dag perfek beplan. Altyd het sy vir Jannie en die kinders ondersteun, versorg, gekarwei, alles gegee. Nou is Jannie dood en bly sy soos ’n bedremmelde, verdwaalde brakkie in die middel van ’n besige straat staan. Sy weet nie watter kant toe nie en dit terwyl die lewe vir almal om haar voortspoed. Dié wete druk so swaar op haar dat dit voel sy wil gaan lê en nooit weer opstaan nie.
Sy bly sit so met haar kop op haar knieë tot die eerste motor voor in die straat verbyry. Met moeite kry sy haar ledemate in werking. Sy staan op. Haar rug is styf en sy strek dit effens.
Vandag is die dag dat sy Jannie se rekenaar sal aanskakel sodat sy die los drade kan begin saamvat. Die rekenaar lê al die afgelope maande onaangeraak op die lessenaar. Dis iets wat sy nie eens aan Wynand kon toevertrou nie, al was hy Jannie se vennoot en vriend. Sy waardeer Wynand se hulp met die finansiële administratiewe werk wat hy sover moontlik namens haar hanteer, maar al het hy by meer as een geleentheid gevra om Jannie se rekenaar te kry sodat hy sommer alles kan afsluit, is dit iets wat so deel was van Jannie dat sy net ’n rukkie langer daaraan wil vashou. Boonop is daar dalk persoonlike sake waarna sy self moet omsien, dinge wat sy nie net aan ’n vreemdeling kan oorlaat nie. Ja, Wynand het die afgelope sewe jaar gereeld by hulle aan huis gekom maar hy en hulle as gesin het selde gekuier.
In die kombuis skakel sy die ketel aan. Goed, nou weet sy ten minste wat sy vandag gaan doen. Om ’n plan te hê is ’n begin. Sy gaan Jannie se persoonlike sake takel. Dalk is daar e-posse wat sy moet beantwoord. En sy moet seker maak sy het al die inligting van beleggings in haar en die kinders se name. Wynand sal haar seker kan help waar sy vashaak.
Sy skink die tee. Om iets te hê om te doen is ’n vooruitsig wat sy nie die afgelope maande gehad het nie omdat sy haar aan alles en almal onttrek het. Gelukkig kan Annemarie al bestuur en het sy haar suster rondgery wanneer dit nodig was.
Haar selfoon piep waar dit op die kombuiseiland lê en sy leun outomaties nader om te lees wat op die skermpie staan.
Alles reg daar? Dis Wynand. Hy beskou dit blykbaar as sy verantwoordelikheid om elke dag of twee sedert die begrafnis seker te maak sy kom reg en hou kop bo water.
Dankie. Ek gaan vandag Jannie se rekenaar takel.
Asof hy gewag het vir haar antwoord kom die boodskap byna onmiddellik. Is jy seker ek kan jou nie daarmee help nie? Het tyd vandag.
Wat is dit met die man en Jannie se rekenaar? Sy het hom mos al by meer as een geleentheid verseker dis iets wat sy graag self wil doen. Dis ’n laaste oomblik in Jannie se wêreld voor sy finaal die werklikheid moet aanvaar.
Doodseker. Sy aarsel nie voor sy dit stuur nie.
Koppie in die hand stap sy studeerkamer toe. In die deur haal sy diep asem en gaan sit op die deurleefde leerstoel agter die lessenaar. Saggies streel sy al om die rand van die rekenaar. Dit is die laaste ding waaraan Jannie gevat het. Wat het hy gedink voor die hartaanval? Wat wou hy nog alles doen?
Haar vingers begin bewe en sy trek dit terug tot op haar skoot. Help nie sy werk haar nou op oor dinge wat sy nie weet nie. Wat maak dit nou saak? Niks kan meer verander nie. Sy is ’n weduwee. Die bekende steekpyn in haar hart bring haar net ’n oomblik lank van stryk. Dis nodig dat sy nou prakties raak. Dalk is daar onafgehandelde sake waarmee sy Jannie kan help.
Sy maak die rekenaarskerm oop. Huiwer eers, maar druk toe die knoppie om dit aan te skakel. ’n Gewigtigheid kom lê in haar en sy sukkel om die wagwoord korrek te tik. Sy het nie geweet wat dit is nie, maar Jannie se assistent kon dit vir haar gee.
Die blou Windows-skerm flikker oop en sy soek tussen die onbekende lêers. Die foto’s vang haar oog en sy maak dit oop, meer om die gesif deur die lêers uit te stel as nuuskierigheid. Die eerste groep wat sy oopmaak, is van hulle laaste vakansie op Bettysbaai. Annemarie en Bianca wat vrolik voor ’n brekende brander lag. ’n Foto waarna sy lank bly staar, is een van Jannie met die dogters. Hulle lyk gelukkig, laggend met hulle voete in die water. Ineens tref dit haar dat haar dogters dalk net so swaar soos sy kry. Hulle verlies is so groot soos hare. Hulle mis ook hul pa. Die afgelope drie maande het sy net op haarself gefokus. Selfsugtig, maar om te oorleef was al waartoe sy in staat was. Annemarie aard na haar pa; diepdenkend maar o, so presies. Tog is daar ’n vuur in Annemarie waarvan syself nog nie bewus is nie. En Bianca. Die verstrooide een wat nou eers haar tienerskap begin vier. So lief vir mooimaakgoed. So absoluut vrou, al is sy ’n skamele vyftien jaar oud.
Nostalgie kry haar in ’n stewige greep toe sy laas jaar se Kersfeesfoto’s oopmaak. Sy huil so dat sy nie meer die skerm kan sien nie en sy gee haar oor aan die emosie wat dreig om haar te oorweldig sedert sy wakker geword het. Hier is nou niemand wat kan hoor nie. Niemand wat kan sien hoe sy haar waardigheid verloor nie. Daarom sak sy sommer net daar op die mat neer. Bly lê in ’n hopie soos ’n moeë kleuter aan die einde van ’n vloermoer.
Vader, hoe kom ek hierdeur? Sy wou dit hard sê, maar haar keel is te stram en haar lippe te droog. Die mat smoor die hortende geluid wat oor haar lippe kom.
Sy bly so lê tot sy heeltemal bedaar het. Toe staan sy maar weer op en gaan sit agter die rekenaar. Die skerm het intussen doodgegaan en sy moet weer die wagwoord intik.
Die foto’s trek haar soos ’n magneet en sy kan nie help om dit weer oop te maak nie. Sy begin by van die ouer datums en werk terug na die mees onlangses. Dis meestal gesinsfoto’s. Hier en daar is foto’s van boupersele of eiendomme wat aan die maatskappy behoort. Seker foto’s wat Jannie met sy selfoon geneem het. Sy flits vinnig verby dit, maar kom tot stilstand by ’n foto van die drie vennote saam met ’n jongerige blondekopvrou wat sy nie ken nie. Die vrou se wynglas is triomfantlik gelig. Dit lyk soos ’n viering, dalk die beklinking van ’n groot transaksie. Die vrou het ’n Julia Roberts-mond. Wyd, die glimlag gul. Wat haar oog vang, is Jannie se arm wat losweg om die vrou se skouers rus asof hulle gemaklik met mekaar is. Dalk ’n kliënt wat al ’n pad saam met hulle gestap het. Sy bestudeer die foto nog ’n rukkie. Die blondekop is jonk vir ’n kliënt met geld, dalk uit ’n welgestelde familie. Wynand se aantreklike glimlag is geplooi in ’n amperse geamuseerdheid. Op hierdie foto is die jare wat hy jonger as sy twee vennote is baie duidelik. Vroeër vanjaar was dit haar taak om ’n veertigste verjaardaggeskenk vir hom namens die vennote uit te soek. Anders as die ander twee is sy hare nog donker met net ’n effense grysheid langs die slape.
Jannie