Groen soos die hemel daarbo. Eben Venter. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Eben Venter
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624082620
Скачать книгу
wat nóg aangenaam nóg onaangenaam is, en so bietjie soos by die huis in Noord-Nieu-Suid-Wallis, hondehare en die pluime tiergras net buitekant my slaapkamervenster en konstante, subtropiese mufheid.

      Verder met die tronkmuur langs is nog ’n ingang, ’n kleiner een, waar ’n gewapende man met sy ligblou uniform en donkerblou beret waghou. Ek stel my nie hier aan gevaar bloot nie, niks wat ek doen of wat ek binnekort gaan doen skrik my meer af nie. Ek konsentreer slegs op Dewa, probeer hom visualiseer op sterkte van die foto’s van sy gesig en lyf wat hy gepos het. Binne minute gaan hy my oplaai. Hy sal my dadelik raaksien, min toeriste hang hier uit.

      Plotseling, van Kerobokan af, agter daardie hoë ringmuur met sy rolle lemmetjiesdraad, kom die klanke van groepgesang. Mans wat almal saam uit die keel dreunsing, so bietjie soos die Tibettaanse monnike, maar dié is vreeslik treurig. In skrille kontras met die beeld van Bali: die frangipani’s agter meisies se ore, ’n waatlemoenreier op die lip van ’n glas, die vlieërverkopers wat teerswart seerowervlieërs op Seminyak-strand verkwansel, die koperbruin, halfnaakte Aussies wat sonder helmet op skoeters verbyja. Oorkant my is Bali se plek van smaad, die Aussies dáár het ek ook gesien, diés wat altoos kla hulle is valslik aangekeer. En toe kom die dreunsang weer, golf na golf van geklaag, so sonder ophou.

      Hy trek reg langs my in, swart skoeter en blinkswart helmet. “Hallo.” Dis al. Aantreklik. Ek weet hoe: ek swaai been oor die sitplek agter hom, neem mik-teen-gat plaas, daar’s g’n niks van ’n spaar helmet nie. Toe hy wegtrek, omklem ek die raam weerskante van my bobene, maar toe hy deur die hek sy kampong binneja, gryp ek om sy heupe vas.

      Die oomblik toe ek van die skoeter afklim, is al my sintuie opgeskerp. Ek is gelade met antisipasie, gereed om aan hierdie ou se vel te vat, gereed vir sy soort seks, my asemhaling makeer en vat koers, los en vas, omdat ek g’n benul het hoe hy op my aanraking gaan reageer nie. Ek weet nie eens of die Balinese Hindoes hulle seuns besny nie. Daar is byna geen woorde om my toegang tot hom te verleen nie, tot die soort seksuele wese wat hy is met sy besondere snellers en afkere. Uit ervaring weet ek dat ’n oormaat opgewondenheid my terugrem.

      Drie trappe op na die stoep van sy kwartier, ’n klein, vierkantige gebou met ’n dak van kleiteëls. Hy stap voor sonder om iets kwyt te raak, volkome op sy gemak. Op die vel van my hande: die sensasie van vashou om sy heupe. Was noodsaaklik of ek het afgeval. Maar nou is die ekskursie op intieme voet, syne.

      Toe ons eers begin vat en soen, is die dinktyd verby, en terwyl ek die vertrek binnestap, probeer ek myself voorberei soos ek gewoond is om op hierdie vroeë deel van die spel te maak. Hier’s ek nou. Dis al wat tel. Die storting van saad, die afloop, mag dalk nie eers die hoogtepunt wees nie.

      Hoog teen die linkermuur, uit ’n smal, langwerpige venster, val lig op ’n tafel met ’n tweeplaatstofie en die plakkaat van ’n MMA-bokser. Die TV is aan, maar die klank laag gestel. Lyk na iets soos Indonesia’s Got Talent, uitgesaai vanaf Java of Sumatra, aangesien die aanbieder ’n kopdoek dra. Sig van die kroegyskas maak dat ek die twee lou Bintangs uit my rugsak haal. Dewa vat nie ’n bier nie.

      “Drink jy nie?”

      “Partykeer.”

      Hy maak die dubbelbed skoon, gooi goed af, trek sy hemp uit en skud ’n sigaret uit die pakkie. Ek merk hoe sy biseps krul en die gladde blas nét ligter word as hy aansteek.

      “Kulkas,” sê ek, en wys na sy yskassie.

      “Jy ken die woord?”

      “Ja. In die sewentiende eeu is baie slawe van Batavia af ingevoer na die Kaap de Goede Hoop, en baie van hulle woorde het versmelt met ons s’n. Asbak,” sê ek toe. Hy lag, gee die asbak aan. So ’n aantreklike knaap.

      Ek haal die res van die goed uit my rugsak, trek my hemp en jeans uit en staan daar, met net ’n Bonds-onderbroek aan. Toe draai ek my rug op hom om my cock ring met die rats, enkelaksie aan te glip waarmee jy ballas en voël deur die swart silikoonring trek en verstel waar dit dan vir die duur van die spel so bly hang.

      Dewa het vrede met wat ek aanvang, hy sit gehurk en torring met die laaier van sy selfoon. Maar toe hy opkom, kom ek van agter af en steek my hande weerskante onder sy armholtes in, ín daardie geheimenis van sy pikswart, grofdraad armholtehaar, met klamheid wat afgee aan my handpalms, en ek buk af om by die kurwe tussen nek en skouer uit te kom, hy is sentimeters korter as ek, en soen hom daar met my tong en die binnekante van my geopende lippe.

      Hy gee mee onder my, ek voel dit aan sy asemhaling en die wyse waarop sy rug teen my ruig bors vasdruk. Ek hou hom bietjie weg van my sodat ek sy vel kan inneem, blas tot koperblas, vlekkeloos gespan oor die rugspiere. Toe gly ek die rugkant van my hand al lang sy ruggraat af, gesonke om die tweelingblaaie van sy rug te beklemtoon, al die pad gly my hand tot by die welwing waar sy boude begin, al die pad tot by sy gleuf, die fynhaar daar, die verheimlikte swart dáár, glipnat met dit wat ek hom met my hand bied.

      Die skoonheid van hierdie ou se rug, sy manlike liggaam – ek hou op, asem op. Van buite sy kwartier kom die koeterwaalse van kinders en hoenders, karre; en toe hervat ek. Ek eis hom, ek vat hom vir my, die objek van my besonderlike soort begeerte.

      Nee, ek is nog nie gereed nie. Trae beginner, en dit het my jare gevat om ook daarmee vrede te maak. Dus vat ek my vir ’n wyle weg van hom, tel die buis syagtige Australiese smeermiddel wat ek vir die uittog ingepak het op en bewerk myself sonder om my onderbroek uit te trek. Dewa trek sy onderbroek uit, wit Calvin Klein-tipe, en steek nog ’n sigaret aan. Daardie pouse is ’n gif, en ek ontspan, in my hand raak ek paraat, gereed vir my Bali-naai, my lieflike, gladdevel Bali-knaap.

      Sy tande, kalkwit teen die donkerder vel van sy gesig, kom tussenin die soenery, maar dit sit my nie af nie, met hierdie klein byte meet hy sy asemhaling af. En heeltyd terwyl ek sy torso, sy hele lyf, so styf teen myne hou soos wat kragte dit toelaat, my wys- en middelvinger weggebêre in hom om daai nabyheid te behou, is ek vaagweg bewus van sy kamer, die watergroen lig wat van die mure af skyn, die vreemde taal op die TV, sy klere, opgevoudes op ’n oop rak en vuiles op die teëlvloer, en ander persoonlike goed, ’n goue Sjinese gelukbringerkiets met sy waaipoot, goedkoop tydskrifte, snoere van sy lewe in Bali, verlengings van sy liggaam hier teen myne waarvan ek iets kan weet sonder dat hy of ek enigiets daaroor sê.

      Hy sak op sy knieë op die rand van die bed om homself aan my oor te gee soos ’n dier en toe ek eers in hom is, domkrag hy my op uit eie wil, ’n aksie wat my omvou, my opvreet, terwyl hy sy ritme opbou tot ’n vinnige slag. Vanaf die greep binne sy gespierde boude tot die gly-gly van my hande langs sy flanke af, tot die lek van ’n vertikale paadjie met sy ruggraat langs, vol met sy reuk, probeer ek my dreigende kom terughou totdat ek vir seker weet ek moet tydelik uittrek of ekskietnou.

      So maak ek toe. En lig sy lyf met my arm onder sy bors op en soen hom voluit, harder as tevore, die soen van ’n man gesleur na suiwer satisfaksie, nou en binne die onmiddellike toekoms terwyl ek alreeds my volgende posisie met hom uitwerk.

      Ons rook en ek drink ’n Bintang en hy drink water uit ’n eenliter-plastiekbottel.

      Ek gaan na die badkamer agterin die vertrek.

      “Daar is net koue water,” sê hy.

      Dis knap vir ’n bad, so ’n vierkantige trog met koue water tot op die driekwart-merk, met ’n rooi, handgrootte skepbak wat bo-op drywe. Daar staan ’n bottel sjampoe vir donker hare en ’n bottel lyfwasmiddel. ’n Klein vierkantige venster, nes die hoë een in die linkermuur van sy kamer, gooi ’n tregter warm lig afwaarts in die badkamer. In die regterkantste hoek is ’n hurktoilet en ’n wegspoelemmer. Op die teëlvloer links van die toilet staan ’n enkele eenvel-toiletrol.

      Eers was ek my gesig, skep die rooi bak vol en spoel myself mooi af en gooi die water by die toiletgat af. Daar’s nie ’n handdoek nie. Ek swiep eenvoudig die oorblydruppels van my gesig, arms en bene af en loop terug na Dewa.

      Hy sit gehurk teen die muur. Op sy skoot is ’n blou plastiekbord met kos wat hy met sy regterhand opskep. Dit lyk na eiernoedels gevlek met borriewortel met iets bygekap, hoender of so. Hy bied my niks aan nie en dis in die haak. My lyf was bronstig, weinig anders het saak gemaak.

      Ek