Groen soos die hemel daarbo. Eben Venter. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Eben Venter
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624082620
Скачать книгу
vol sy’s mislei. Het niks van die draggie af geweet nie.

      “Veilig. Ek is ’n goeie Bali-man. Sien jou. Dankie vir die boodskap.”

      Buitekant roep die houseboy sy drie gaste nader. Hy is ’n Javaanse Moslem met die mooiste, moeitelose glimlag terwyl hy bedien. Eerste gang is ’n bord met koddig gesnyde waatlemoen, lietsjies en pynappel, soeter as enige Oos-Kaapse pynappel wat ek al ooit geproe het. Toe donker, modderige koffie soos dit hier gemaak word, en laastens die hoofgereg van nasi goreng. En heeltyd, kaalvoet, bedien die Javaanse man al kletsend en breed glimlaggend, ’n meester van die onthaalkuns.

      Ek vertel vir Miriam en Ralton van my planne, net genoeg en niks meer, want ek weet mos Ralton is die nuuskierige tipe en vry met daai tong van hom. My rugsak staan gepak met goed, insluitende my Australiese rybewys as ID.

      Miriam wink my oorkant toe, daardie pragtige granietring aan haar derde vinger, en by haar gekom, trek sy my af na haar toe: “Pas jouself nou mooi op, jy het ons nommers.” Sy soen my op al twee wange, maar net lank genoeg dat dit nou nie na ’n koebaai-vir-altyd soen voel nie.

      Intussen het Ralton die swembad binnegeloop met sy boardshorts. Hy was nogal aantreklik met sy breë, bruin skouers en gulle maag, en nooit nydig nie. Net saans, geolie op whiskey en Bintang-bier, moes Miriam soms haar hand oor sy mond sit dat hy bietjie sy bek kan hou.

      Langs die swembad lê ’n klipbeeld van Ganesh, uitgestrek op sy sy met ’n oopgevoude boek in die draai van sy olifantslurp. Teen daai tyd is ek so opgewen oor my uitgaanstorie, die hitte konstant vas teen my vel en net warm lug om in te asem, dat die aanblik van die vreedsame Ganesh my tog kalmer maak.

      Nes ek op die punt is om te loop, skree Ralton uit die swembad: “Jy weet daardie sosiale netwerk wat jy gebruik?”

      “Wat daarvan?”

      “Besef jy die Russe sit agter die ding? Weet jy dat die Russe oral hier in Bali operate? Hulle sit agter baie van daai besighede, trek die toutjies nes hulle wil.” Hy skuif oor totdat sy skouers onder die waterval is. “Ek sê jou.”

      “Watse goed praat jy nou weer, Ralton?” Die man het nog drank aan hom van gisteraand. Ek kyk na Miriam op die stoep, soek hulp.

      “As ek jy is, sal ek versigtig wees. Ek sê nie sommer hierdie goed nie,” sê Ralton toe.

      “Kyk, Ralton. Ek ken hierdie netwerk. Dit werk wêreldwyd. Dis net vir mans wat ander mans wil ontmoet. Einde van die storie.”

      “So eenvoudig is dit nie. Van daai geld gaan na grootbase toe en hulle is waarskynlik Russe.”

      “Moenie simpel wees nie. Ek het al hoeveel keer hierdie netwerk gebruik. Baie, baie maal. Dis maar net mans wat ’n lekker tyd wil hê. Niks meer nie. Daar skuil niks daaragter nie.”

      “Ek weet wat ek sê,” beaam Ralton. “Ek sê jou.”

      “Jy’t g’n benul waarvan jy praat nie. Sien julle oor ’n ruk.” Ek maak die houtpoort na ons tuin toe, vat agter aan my rugsak om seker te maak als is reg vir die ding. Ek druk tussen die klomp skoeters deur, almal reg voor ons villa geparkeer, en hou links uit ons steeg om op Jalan Petitenget te kom. My hart klop na die gesprek met Ralton. So de moer in. Dis als twak.

      Al wat my nou te doen staan, is om aan te gaan. Skoeters staan bankvas geparkeer langs die pad, net waar jy kyk, party met ’n gerf droë piesangblare aan die handvatsels vasgebind. Teen middernag breek die gewigtige Nyepi aan, die Dag van Stilte waarop alles in Bali sluit, selfs die lughawe en al die winkels en OTM’s. Al die straatligte word afgeskakel en almal, elke Balinees en alle toeriste, moet binnekant wees.

      Aan die bokant van Jalan Petitenget bevind ek myself in ’n drukte van mans en vroue, kinders en honde en toeriste wat eenstryk foto’s neem met hulle selfone. Afbeeldsels van monsters gemonteer op bamboesdraagbare word in gereedheid gebring vir die straatoptog wat Nyepi voorafgaan.

      Hier voor my is ’n monster driemaal lewensgrootte, net op een been met die lyf wat ver agtertoe hel, sy een arm hoog in die lug, terwyl ’n kleiner varkgesiggie met drie arms op sy ander been gebalanseer is. ’n Meesterlike skepping van papiermaché en hout, staangemaak op ’n manier wat swaartekrag tart. Sy aansigte, én die van varkgesiggie, was oordonderend en afskuwelik en mooi: boste kieliebakhaar, oopgesperde neusgate, willekat snorbaarde en massiewe wit slagtande. Straatop steek nog monsters uit: kloue, hareboste en vere net waar jy kyk. Dis die Ogoh-ogoh dié, skepsels vanuit die monsterryk wat iewers om elke dorpie hou, en nou, een maal per jaar, sak hulle af om tussen die mense te verkeer net om dan verbrand te word om weg te doen met alle kwaad en so word harmonie geskep tussen gode en mense, tussen mens en mens en tussen mense en die natuur.

      Op die draagbaar met die monster is ’n plaatjie wat lees: LPD Seminyak 04, en dis dan die borg. Seuns hier by die tien jaar of so met swart T-hemde en helderkleurige boardshorts is nou besig om posisie in te neem onder die draagbaar. Dis ’n geskree en ’n gelag soos hulle hulle grepe om die bamboespaal uitwerk en hulle smal seunskouers posisioneer onder die swaarste deel met die monster daar hoog bokant hulle. So laf, die swart oë glinsterend oor die enorme taak wat voorlê om hierdie monster deur die strate van Seminyak te dra.

      Te midde van daai mensdom begin ek skielik twyfel oor die wysheid om nou weg te loop van die optog van monsters en seuntjie-draers. Dit was alles so groots en geluksalig. En puur. En tog tik-tik daai ding iewers binne en rem my weg van die toneel. In my kop hou ek die laaste foto van Dewa onder die fonteinspuit, met sy biseps hard en die kurwe van sy deltoid mooi terwyl hy homself daar staan en was.

      Die skare raak yler en ek kan vinniger stap, alhoewel ek my pas meet soos ek opgemerk het die mense hier in die trope dit doen. By tye voel die sole van my Havaianas heeltemal te dun vir Seminyak se ongelyke sypaadjies. Verder dra ek kortbroek en vlootblou onderhemp. En kyk op: ’n diksel saamgebondelde elektriese kabels volg die roete van die sypaadjie met net hier en daar die vurk van ’n bamboespaal om hulle op te hou. Op my kaarte-app sê dit ek moet regs draai in die hoofstraat van Tangkuban Perahu.

      Ralton se klomp kak het ek lankal vergeet. Dis net nou rustig voort, net met eie pakkaas, my rugsak vol seksgoeters, ’n silikoon cock ring, smeermiddel, kondome en twee generiese Viagra-pille, plus twee bottels Bintang-bier. En daarby die nie-tasbare wat ek gewoonlik saamvat op hierdie seksrendezvous: ’n kolking diep in die maag, maar ook ’n welbehae dat ek die klas goed kán doen.

      By een van hulle minisupermarkte waar jy alles kry, insluitende generiese Viagra, koop ek ’n aloe vera-drankie versoet met palmsuiker en sluk ’n hele blou pil weg.

      In die skadu van frangipani’s, gesnoei om sambreel te maak, sit ’n kring Balinese manne en trek aan naeltjiesigarette. Swart sekuriteitsuniforms, almal, en almal aantreklik op een of ander manier, en speels: hulle merk my op. Soek ek dalk transport? Nee, dankie, sê ek. In stede daarvan vra ek die pad na die Kerobokan-gevangenis, net om honderd persent seker te maak.

      Een ou verduidelik die pad ordentlik, nie soos plaaslike mense wat soms aanneem die vreemdeling is vertroud met die of daardie baken nie. My konsentrasie swig. Nee, nou is dit net kaal van die man se arm hier teen myne, en ek besef hoe moeiteloos hy homself sou kon indink oor presies waarheen ek op pad is. En miskien het hy al klaar, want ek is die ene dringendheid, amper ongeduldig. Die Viagra het ingeskop, hoogrooi teen my wange.

      Ek stap aan. Die punt van my tong kom op ’n komynsaadjie van ontbyt af en ek byt hom tussen my voortande fyn om komynsmaak vry te stel. Toe merk ek die ringmuur om die Kerobokan-gevangenis. ’n Yslike kompleks met lemmetjiesdraad soos dié in Suid-Afrika wat al op die bokant van die dik mure uitgerol is. En tog kom dit nie so intimiderend voor soos Pollsmoor-gevangenis in Tokai waar ek so dikwels verbygery het toe ek nog in die Kaap gewoon het nie. Kerobokan is midde-in die stadsgedruis. Digby verkoop ’n jeans-winkel die Amerikaanse Dickies-handelsmerk, daar sien ek die koppe van mense wat al kouende bokant die halfmuur van ’n warung uitsteek. Reg oorkant die hoofingang van die tronk is die minisupermark waar Dewa gesê het hy sal my oplaai.

      Ek skaf nog ’n koeldrank aan, so ’n lemoenagtige ene, oorsoet soos al die koeldrank in Bali, en wag buitekant die minisupermark op ’n bank.