Vlerke vir almal. Marion Erskine. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Marion Erskine
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780798174527
Скачать книгу
die laaste ruk nie.

      “Daar gaan baie werk wees, maar wanneer jy voel dit raak te veel vir jou, moet jy praat en ons maak ’n plan.”

      “Dit behoort nie ’n p … p … dit behoort nie ’n probleem te wees nie,” probeer ek weer.

      Hy trek ’n laai oop en haal ’n lêer uit. “Hierdie is joune, Dewald. Jou rooster, ’n kaart van die skool en ander inligting oor aktiwiteite, reëls, ensovoorts.”

      “Dankie, Meneer.”

      “Jy gaan my drie keer ’n week moet sien. Ons het jou periodes so uitgewerk.”

      “Dis reg,” sê ek en sien op die rooster waar die sessies met VISSER aangedui is. Ek wens ek kan vir hom sê dis nie nodig nie. Dat ek die hele affêre op my eie manier hanteer. Dat ek dit haat as mense my jammer kry. Maar ek is seker hy weet dit al teen dié tyd, anders sou hy nie ’n sielkundige gewees het nie.

      “Jy gaan oukei wees,” sê hy met ’n rustige stem.

      “Meneer hoef nie oor my t-te bekommer nie,” antwoord ek doodeerlik.

      “Ek is seker ek hoef nie,” sê hy vriendelik en staan op. “Kom ek vat jou na jou registerklas. Ek is seker jy sal van juffrou Barkhuizen hou.”

      Soos ek van my ouers verstaan was dinge anders in hulle tyd. Op skool was jy óf cool óf drool. Slegs eerstespan-rugbyspelers kon meisies kry en die skaakspelers moes daarsonder. Dis seker nog die geval in skole, maar dinge het ook drasties verander. As jy nou cool wil wees, moet jy nie rook nie of jy moet ’n vegan wees. Ek kan vir al die bome in Potchefstroom nie onthou wat die verskil tussen ’n vegan en ’n vegetarian is nie, maar ek weet die geheim lê iewers in eiers.

      Meisies hou nou van maer emo-outjies met bleek, dun armpies en ’n Japannese anime-haarstyl. So sommige stewige boerseuns staan nie meer ’n kat se kans nie. Oorbelle en maskara is skielik oukei vir ouens, en party meisies weer, weier om ’n blertsie grimering te dra. Met al hierdie menseregte en bewegings wat aangaan, sal niemand weet wat volgende cool gaan wees nie.

      “Dis my plek! Move,” sê ’n stem skielik agter my nadat ek gaan sit het.

      Ek draai om en sien ’n stewige rots van ’n meisie daar staan. Sy blaas ’n groot pienk borrel voordat dit bars en sy die kougom terugkatrol by haar kies in.

      “Verskoon my?” vra ek en kyk haar uitdagend aan.

      “Jy sit op my plek!” grom die reus weer.

      Ek glimlag en draai my rug op haar. Die hele registerklas kyk grootoog na wat aan die gang is. Min weet hulle ek sal nie toelaat dat hierdie girl my intimideer nie.

      “Is jy doof of wat, huh?” vra sy en kom staan hierdie keer reg voor my.

      Ek vorm die sin eers mooi in my kop. Die laaste ding wat ek wil hê sy moet weet, is dat ek skielik ’n hakkelprobleem ontwikkel het. “Ek sien nie jou naam op die tafel nie,” antwoord ek rustig.

      Sy bal haar vuiste en druk amper haar neus teen myne. Haar asem ruik na Marmite.

      “Raak aan my,” waarsku ek haar, “en jy sal s-spyt wees soos nog n-nooit tevore nie.” Dêmmit!

      “O,” sê sy en kyk my uitdagend aan. “Gaan jy my s-s-s-slaan?”

      “Aldi!” kom ’n stem van die klaskamerdeur af. “Gaan sit.”

      “Maar hy sit op my plek, Juffrou,” brom die stewige meisie.

      “Is dit hoe jy nuwe leerders in die skool verwelkom?” vra juffrou Barkhuizen. “Skaam jou.”

      Die reus, genaamd Aldi, skuifel na ’n ander groep en plof in ’n bank neer.

      Juffrou Barkhuizen is ’n klein vroutjie met ’n grys bollatjie, maar dis duidelik sy laat haar deur geen leerling onderkry nie. Sy het ’n teenwoordigheid soos min onnies wat ek al teëgekom het. Sy stap na die middel van die klas en een vir een staan die leerders op. Almal behalwe Aldi.

      “Ek neem aan jy’s te belangrik om op te staan, Aldi?” sny juffrou Barkhuizen se stem deur die klas terwyl sy haar oë op skrefies trek agter haar ronderaambril.

      “Ek het nou net kom sit!” maak Aldi luidrugtig kapsie.

      “En jy gaan nou dadelik opstaan of ek stuur jou op die eerste dag van graad elf na die hoof toe,” dreig die ouer vrou.

      Aldi skiet ’n vieslike kyk na juffrou Barkhuizen en kreun terwyl sy opstaan. Toe sy uiteindelik op is, kruis sy haar arms uitdagend voor haar bors.

      “Môre, almal,” sê juffrou Barkhuizen asof Aldi se gedrag die laaste ding in die wêreld is wat haar pla. “Julle mag maar sit.”

      Ons groet en gaan sit. Ek voel hoe Aldi my soos ’n valk dophou. Ek kyk haar stip in die oë totdat sy wegkyk.

      Dinge op skool is definitief anders as in my ma-hulle se tyd. Iemand soos Aldi sou waarskynlik die een wees wat geboelie is, maar duidelik is sy die grootste – no pun intended – boelie in my nuwe skool.

      2 TERUGBLIK

      “Jou ma gaan jou vrekmaak,” waarsku ek vir die honderdste maal.

      Nicola trek my arm nader en soek ’n nuwe bytplek. “Man, my ma sal nie weet tensy ek haar wys nie, en ek’s nie van plan om dit te doen nie. Altans nie voor ek ag … agt-en-twintig is nie,” sê sy en fladder haar ooglede vir die enorme man langs haar.

      Natuurlik wou sy sê agtien, want sy mag nie hier wees nie. Haar agtiende verjaardag is nog twee Oktobers ver, maar sy is so swaar gegrimeer dat sy wel nader aan agt-en-twintig lyk. Dié plek het nie eens haar ID gevra nie.

      Soos die masjientjie nader kom, slaan sy haar slagtande weer in my arm.

      “Eina!”

      Sy mompel iets in die rigting van: “Ek’s so dankbaar jy’s hier om aan te byt.”

      Die tatoeëerder se frons trek slote oor sy voorkop. Ek soek ’n plek op die groot man se arms wat nie met ink ingekleur is nie, maar dis tevergeefs. Drake en unicorns. Swaarde en skilde. Die man lyk soos ’n lopende Grimm-sprokie.

      “Hoe lank nog?” vra ek versigtig. Ek is nie seker wie die meeste pyn verduur nie – ek of Nicola. Sy het nou al vier ronde tandhorlosies op my arm gebyt.

      “Amper klaar,” grom die man en lyk skoon vies omdat ek sy konsentrasie verbreek het. Die skedel op sy kopdoek hou my dop terwyl hy weer sy blik na Nicola se enkel laat sak.

      Ná wat soos ’n verdere eeu voel, skuif die ingekleurde Goliat uiteindelik weg en ek kan vir die eerste keer die tatoe sien.

      “En?” vra Nicola dadelik en kreukel haar wipneusie. “Hou jy daarvan?”

      “Dis baie mooi,” soek ek gou vir die woorde wat sy wil hoor en dink hoe my pa my gatvelle sal aftrek as ek op sestien met ’n tatoe by die huis aankom.

      “Mooi?” vra Nicola grootoog. “KykNET se logo is mooi, hierdie is awesome, Schmetterling!”

      Nicola noem my Schmetterling sedert ons in die laerskool was. My ma het Duitse bloed en het eendag genoem die Duitsers gebruik dié naam vir ’n skoenlapper. Ek persoonlik dink dit klink baie cooler as die Afrikaanse weergawe. ’n Skoenlapper is ook haar gunstelinggedierte, so ek neem aan dis haar soort kompliment om my so te noem.

      “Hier’s ’n lys van goed wat jy moet vermy,” sê die prentjieman in ’n monotone stem terwyl hy ’n pamflet oorhandig.

      Nicola gryp die papier en trek haar neus op. “Geen direkte sonlig nie? Nou hoe gaan ek die naweek kan afshow?”

      “Trust me,” antwoord die man, “jy gaan tien keer meer pyn hê as daardie ding ontsteek.”

      “Fine, fine,” sê Nicola en glimlag breed, vou die pamflet