VLERKE VIR ALMAL
Marion Erskine
Human & Rousseau
Vir Amanda Todd
1
Pa se 1990-Ford-stasiewa kom uiteindelik langs ’n sypaadjie tot stilstand met ’n geskreeu van remme wat enige kat in ’n 200m-radius ’n merkbare senuweeprobleem sal gee. Oudergewoonte gee Pa vir Ma een van daardie is-jy-nou-gelukkig-kyke bo-oor sy bril.
“Danie, al wat ek sê, is dat Dewald nou in graad elf is en ek dink nie dis ’n goeie idee dat ons met hom voor die nuwe skool stop nie,” verduidelik my ma so diplomaties moontlik.
My liewe moeder is haar lewe lank al ’n kleuterskool-onderwyseres en soms sukkel sy om te onderskei tussen wanneer sy met haar leerlinge praat en wanneer sy met my en Pa praat. Veral wanneer Ma ons op ons voorname noem, moet jy weet dinge is nou ernstig.
“Julle is skaam vir die kar,” brom Pa en staar vies voor hom uit.
“Is nie, Pa,” verdedig ek amper té vinnig van die agtersitplek af.
“Vir wat sal die kind hom vir sy pa se kar skaam?” ondersteun my ma heelhartig en vermy aspris oogkontak met my pa, want hy weet sy jok.
Dié Ford-stasiewa het al baie rusie in ons huis veroorsaak en tot my spyt is my pa nie ver verkeerd nie. Ek skaam my vir die skedonk. Daar! Ek het dit gesê.
Nie omdat dit lyk of dit van die ark afgestoot is nie, maar omdat die beesmisbruin blik gedurig sulke rookbolle die lug in blaas.
My pa is nou nog nie oor die ding wat verlede Augustus gebeur het nie. Hy was vasgekeer in ’n optog waar mense vir Os – dis nou die naam van ons blikwa – met eiers bestook en geskree het my pa is persoonlik verantwoordelik vir die reusegate in die osoonlaag bo Suid-Afrika.
My ma hou al vir jare aan ons moet ’n nuwe kar kry, maar Pa wil niks weet nie. Waarom geld mors op een van hierdie nuwe plastiekkarre as jy eerder met ’n veilige, “betroubare” kar kan ry? As Daniël Myburgh sy kop op ’n ding sit, gaan niemand dit verander nie.
“Ek was nooit skaam vir my ouers nie,” neurie my pa steeds voort.
“Ek is nie … skaam vir julle nie,” antwoord ek. “Ek wil net hierdie d-ding op my eie doen. Ek is volwasse g-genoeg, Pa.”
“Is jy seker jy’s reg vir so ’n groot stap?” vra my ma en sit haar hand op my knie.
“Ma,” verdedig ek. “Dit was julle idee dat ek n-na ’n nuwe skool toe moet kom, en … nou wonder julle of ek dit s-sal oorleef?”
Ek moes natuurlik geweet het die Magdel-sluise sal enige tyd oopdraai, want nou huil my ma kliphard. Sy verwyt haarself omdat dit in die eerste plek haar idee was.
“Ma, asseblief,” smeek ek. “Ma het b-belowe daar sal nie trane wees v-vanoggend nie.”
“Jy hét belowe,” herinner Pa verwytend langs haar.
My ma snuit haar neus oordrewe en vang die maskara, wat na haar wit rok toe afdrup, net betyds. “Ek weet. Ek weet. Dis net, ek vergeet soms hoe vinnig jy grootword, Patat. Jy’s ons enigste kind!”
Ek probeer die deur tevergeefs oopmaak. “Pa, die b-baby lock is al weer aan!”
My pa maak keel skoon, klim uit en maak vir my die deur oop. “Ek weet nie wat dit met hierdie deur is nie,” mompel hy en bestudeer die ding terwyl ek uitklim.
“Baai, julle,” groet ek en gooi my rugsak oor my skouer.
“Het jy jou selfoon?” roep Ma deur haar venster.
“Ja, Ma.”
“As daar enige iets is …”
“Ek sal bel, Ma. Ek moet nou gaan, w-want ek gaan laat wees.”
“Sterkte, Seun,” sê my pa en steek sy hand uit.
Ek groet hom en stap aan na die nuwe skool.
Natuurlik sal my pa die stasiewa se toeter, wat eerder na ’n skeepsalarm klink, drie maal druk terwyl hulle wegry. Selfs die uitlaatpyp groet my met ’n oorverdowende gwah! en ’n rookbol.
Die kantoor ruik na goedkoop No Name Brand-sproei toe ek binnestap. By ’n houttoonbank kyk ’n tannie robotagtig na my van agter haar glasvenster.
“Môre. Kan ek help?” vra sy omdat sy moet en nie omdat sy wil nie.
“G-goeie dag, Mevrou,” groet ek vriendelik en oorhandig my papierwerk deur die gleufie. “Dis my eerste dag en ek w-wil net hoor presies hoe en waar ek m-moet aanmeld.”
Sy trek die papiere halftraag nader, maar toe sy my naam sien, is dit asof sy ’n hele gedaanteverwisseling ondergaan. Sy kyk op na my met simpatieke oë asof ek ’n honger kind van Somalië is wat so pas sy eerste ete in dae gaan ontvang.
“Haai, hartjie,” sê sy gou. “Ons verwag jou. Hoe voel jy vandag? Is jy oukei?”
Ek haal diep asem en wag vir die regte woorde om te kom. “Piekfyn, dankie, Tannie,” sê ek en besluit ek’t genoeg ge-mevrou vir die oggend.
“Alles is gereël,” sê sy en kyk my steeds bejammerend aan. “Meneer Visser het reeds na jou verneem. Ek kontak hom gou. Gaan sit asseblief.”
Ek knik en stap na die naaste stoel. Onderwysers stap vinnig heen en weer en hier en daar hoor ’n mens die opgewondenheid van twee vriende wat mekaar in Desember laas gesien het.
Ek’s nie mal oor die platgetrapte paddagroen skoolklere wat ons moet dra nie. Die navyblou van my vorige skool het veel beter gelyk. Ná sowat vyf minute kom staan ’n man voor my. Hy’s seker so in sy middel veertigs, met vaal hare en ’n ligte snor, maar sy oë is donkergroen en beslis sy beste eienskap. Hulle kyk behoorlik dwarsdeur jou siel. Sy das hang losserig om sy nek en hy dra mosterdkleurige chinos en velskoene.
“Dewald?” vra hy.
Ek staan op en steek my hand uit. “D-dis reg, Meneer.”
“Bert Visser,” stel hy homself voor en kraak amper die bene in my hand.
Ek kyk hom stip in die oë. “Aangenaam, Meneer.”
“Kom stap asseblief saam met my,” nooi hy en wys die pad met sy hand.
Ons stap in die kantoorgang af en draai uiteindelik na regs. Die tweede deur links lees: BERT VISSER – SKOOLSIELKUNDIGE.
Hy leun vooroor en maak die deur vir my oop. “Stap gerus binne.”
Die kantoor het omtrent net plek vir ’n lessenaar, ’n boekrak en twee stoele, maar snaaks genoeg laat die blou mure dit minder beknop voel. My oë gly oor die boeke op die rak en ek sien die meeste is sielkundige studies. Skielik voel ek soos ’n witrot in ’n laboratorium.
“Dis maar klein, maar ’n ou moet vat wat jy kry, nè?”
“Dit is glad nie s-sleg nie, Meneer,” antwoord ek en merk die portret teen die verste muur. “Die Eiffel.”
“Dis reg,” sê hy en glimlag. “Kom sit.”
Ek gaan sit in die stoel en hy maak homself gemaklik in syne. “W-was Meneer al in P-Parys?”
Wat gaan aan met my? Die hakkelry irriteer die beenmurg uit my uit. Dit raak net erger in plaas van beter.
“Ongelukkig nog net die een in die Vrystaat,” sê hy en dit lyk of my gehakkel hom geensins pla nie. “Maar ek spaar vir die regte een. Dalk as ek eendag afgetree het.”
“Ek wil ook g-graag die wêreld sien,” erken ek.
“So waarheen wil jy gaan?”
“V-Venesië,” antwoord ek dadelik. “Daar’s iets aan Italië w-wat my nog altyd aangetrek het.”
“Ek hoor jou,” sê hy en haal twee boksies sap uit ’n mini-yskas by sy voete. “Hierso.”
“Dankie,