'n Liedjie vir Anine. Elsa Winckler. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Elsa Winckler
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796320032
Скачать книгу
wat jou sonder ’n draad klere aan in die kamer ingewag het?”

      Zander sug.

      Hy het die petalje al vergeet; dis regtig nie ’n prentjie wat hy graag wil onthou nie. “Wat van haar?”

      “Jy het mos gesê sy het jou gedreig? Wel, sy maak omtrent moeilikheid. Sy het ’n storie vir die tydskrif Die Ster vertel wat jy nie kan glo nie,” sê Charles.

      “Watter storie? Daar het tog niks gebeur nie.”

      “Ek weet dit en jy weet dit, maar wat sy vir die tydskrif vertel het, is iets heeltemal anders. Dié keer is dit sleg, baie sleg, hoor! Jy kan die twak nie glo wat sy as die waarheid verkoop nie. Sê sy was ’n nag saam met jou en vertel van die dwelms en drank wat julle gebruik het.”

      Zander vryf geïrriteerd oor sy gesig. “Die laaste wat ek van haar gesien het, is toe die sekuriteitsmanne haar weggesleep het en sy in die gang af geskree het sy gaan my kry.”

      “Wel, dit is haar wraak dié. Het die tydskrif jou ooit oor die beweringe genader? Niemand het mý voor die tyd om bevestiging genader nie.”

      “Ek weet nie. Ek herinner my iewers was ’n e-pos, maar ek het regtig nie tyd gehad om daarna te kyk nie.”

      “Wel, hulle is nou op my spoor. Wat wil jy hê moet ek sê?”

      “Niks. Soos altyd.”

      “Kyk, Zander, ek respekteer jou besluit, maar ek voel regtig dié keer kan jy nie stilbly nie. Die vroumens praat ’n klomp twak en stel jou in ’n baie slegte lig. ’n Joernalis van ’n ander tydskrif het my gebel en …”

      “Dit gaan nie saak maak wat ek sê of nie sê nie. Hulle kan ’n storie van enigiets maak. My woorde verdraai, of party weglaat – dis mos hulle selfopgelegde taak om my so sleg moontlik te laat lyk.”

      “So ek sê net ‘geen kommentaar’?”

      “Asseblief.”

      “Ek weet dis die soort ding wat jy nie wil doen nie, maar ek dink jy behoort ’n interdik teen haar te kry. Ons weet wat haar naam is – sy het seker daarvan gemaak: Marissa. Marissa Groenewald.”

      “Die beste is om dié soort ding te ignoreer. Ek is nie lus vir drama nie.”

      “Jy moet maar hieroor dink, dié een klink vir my onstabiel. Hoe … uhm … ek wou vanoggend nog vra, hoe gaan dit met die nuwe CD? Ons moet dit voor Desember probeer bemark, en dit is reeds Augustus.”

      “Ek twyfel of dit gaan gebeur, Charles …”

      “Jy weet dis tyd vir nuwe songs. Dis lankal tyd, om die waarheid te sê. Zander, kyk, ek werk lekker saam met jou, jy weet dit. Maar as daar nie nuwe songs en ’n nuwe program kom nie, is dit moeilik om besprekings vir jou te kry.”

      “Ek weet. En dankie vir wat jy doen, maar … Ek sal daar kom. Dis net nou moeilik.”

      “Wanneer sien jy jou broer weer? Dalk kan hy help. Julle het mos saamgewerk aan die vorige album wat jy onder sy label uitgegee het.”

      “Ek is nou op pad na hom toe, maar ons werk vandag aan die album van een van sy ander kunstenaars.”

      Charles sug hardop. “Die Ster kom vandag in die Kaap uit. Laat weet my wat jy dink en of jy nog steeds niks aan die saak wil doen nie.”

      “Ek maak so.” Zander lui af en kom tot stilstand reg voor ’n stalletjie wat tydskrifte en koerante verkoop.

      En daar is dit: ’n yslike groot foto van hom op die buiteblad van Die Ster. In dik swart letters is oor die voorblad geskryf: “My nag van passie saam met Zander Breedt”.

      Hy kners op sy tande en koop die tydskrif. Gelukkig is die verkoper besig en kyk hy nie eens op na hom nie. Hopelik sal sy sonbril en pet voorkom dat iemand anders hom herken. Nie dat dit altyd help nie, maar miskien kan hy tot by sy motor kom sonder dat iemand hom sien.

      “Dis hý, kyk!” roep iemand naby hom. “Zander Breedt. Hy was glo ’n hele nag saam met die vroumens. Jy sal nie glo wat alles gebeur het nie …”

      Hy stap so vinnig hy kan in die rigting van die parkeergarage waar die veiligheid van sy motor op hom wag. Die stemme agter hom raak dowwer. Hy is alleen in die hyser wat hom opneem na die vlak waar sy motor geparkeer staan. Magtelose frustrasie en woede sit in ’n harde knop in sy keel. Een wat hy maar net nie weggesluk kry nie.

      Dis eers toe hy naby sy motor is dat hy opkyk en die joernaliste raaksien wat op hom staan en wag. Die volgende oomblik storm hulle op hom af.

      Hy stoot die trollie met sy tas en kitaar tussen hulle deur terwyl almal vrae uitroep:

      “Waar het jy haar ontmoet?”

      “Sy sê julle het niks geslaap nie …”

      “… en die drugs?”

      “… en drank?”

      “Klink of julle ’n baie lekker tyd gehad het – enige kommentaar?”

      Uiteindelik is sy tas in die motor se bak en kan hy inklim. Sy hande bewe, merk hy op. Hy sit die motor in trurat en trap die pedaal.

      Liewe Here, help my.

      Sy foon lui toe hy by die parkeergarage uitry.

      Dis sy ma. “Zander, ons weet dis onsin,” sê sy dadelik. Haar woorde, haar stem, maak hom onmiddellik rustiger.

      “Dankie, Ma.”

      “Ek kan my so vererg vir die vroumense wat jou nie kan uitlos nie.”

      Sy sug. “Kom eet jy vanaand by ons?”

      “Ek gaan vir Stephen met die album van een van sy kunstenaars help. Ek weet nie hoe laat dit gaan raak nie.”

      “O ja. Hy het gesê. Maar hy en Lizet het vanaand ’n date-aand, dit sal nie laat raak nie. Tensy jy die kinders gaan oppas?”

      “Hulle het nie gevra nie …”

      “O, dan sal Anine seker help. Ons praat weer. Lief vir jou, my kind. Ons sal hierdeur ook kom.”

      “Dankie, Ma. Lief vir jou ook.” Sy hande is styf om die stuurwiel gespan.

      Hy is ontsteld, vies en gefrustreerd oor die tydskrifstorie, maar die oomblik toe sy ma Anine Vos se naam noem, het sy hart na ’n hoër rat oorgeskakel.

      Dit gebeur elke keer dat hy haar naam hoor – die mooi langbeenbrunet met die viooltjieblou oë wie se broer, Evan, met sy suster, Anya, getroud is. Ewe skielik was sy net in die prentjie – by die Sondagmiddagetes, die braaie Vrydagaande, die Kersetes. En toe, om dinge net nog meer bisar te maak, trou sy broer, Stephen, met haar suster, Lizet.

      Anine is mooi, vrek mooi, maar sy is ’n joernalis en dié spesie probeer hy gewoonlik so ver moontlik vermy. Én sy maak geen geheim daarvan dat sy min van hom dink nie.

      Na vandag se storie sal die afkeur op haar gesig seker nog meer prominent wees.

      Maar hy dink aan haar. Wonder oor haar. Baie. Vandat hy haar die eerste keer gesien het, fassineer sy hom. Hoekom weet hy nie regtig nie. Ja, sy is mooi en sexy, maar daar is baie ander girls wat veel minder draadwerk het. En hoekom sal hy nou bekommerd wees oor haar reaksie op die nuutste skinderstorie? Wat sy van hom dink, behoort nie saak te maak nie. Maar om die een of ander rede maak dit wel saak.

      Hy sou graag wou hê sy moet weet hy doen nie die soort dinge waarvan hy beskuldig word nie. Maar hy is bevrees sy het hom lankal in die kategorie geplaas van popsanger sonder ’n brein en met te veel testosteroon, een in wie sy nie die minste belangstel nie.

      Haar opinie oor hom … Hy skud sy kop. Of hy dit nou wil weet of nie, dit maak tog vir hom saak wat sy van hom dink. Vreemd, want sy is glad nie die tipe vrou in wie hy gewoonlik belangstel nie.

      Sy is byvoorbeeld pynlik netjies. Haar hare is gewoonlik styf agtertoe gekam en in een of ander bolla of poniestert vasgemaak. En sy het altyd ’n soort pakkie-affêre