Bianca en Tess klim uit.
Tess kyk benoud rond. Hier is gelukkig niemand wat sy ken nie.
Bianca en die verkoopsdame groet mekaar soos ou kennisse. Sy is waarskynlik hul beste kliënt.
Daarenteen is Tess skaars in die winkel of sy tree terug. Liewe aarde! Sy kan sommer voel hoe die blos oor haar wange uitslaan toe sy na al die intieme produkte om haar rondkyk. Sy is seker nou so rooi soos ’n tamatie.
Bianca vat haar aan die skouers en stuur haar terug die winkel in. “Kom,” sê sy soos ’n ma wat met ’n kind raas en lei Tess reguit na ’n vertoonkas.
“Bianca! Goeie bliksem … ag nee, man, waar is die onderklere?” vra Tess benoud en kyk rond. “Dít is nie onderklere nie!” Sy beduie na die kas en kyk haar vriendin kwaai aan.
Bianca glimlag net.
Tess voel hoe die lag in haar eie keel opborrel. “Hoe weet jy in elk geval presies waar alles is?” Sy probeer vies klink, maar haar stem is dik van die lag en haar skouers ruk. Aaaah! Sy druk haar hande oor haar oë en loer deur haar vingers. Sy wonder of hulle mondskerms saam met van hierdie speelgoed verkoop. Magtig! Mens sal jou tande kraak. Van die goed lyk of dit eerder in ’n hardewarewinkel hoort.
Toe ’n man die winkel binnestap, vlug Tess summier na waar sy dink die onderklereafdeling is. Die knop op haar maag gee effens skiet terwyl sy alleen daar ronddwaal. Hier is regtig pragtige onderklere. Tess streel oor die uitrustings van kant en satyn. Sy het laas sulke sexy goedjies op haar wittebroodvakansie gedra. Na die kinders was sy net nie meer lus om sexy te lyk nie. Dit is harde werk.
Uit die hoek van haar oog kan Tess sien Bianca wys vir die verkoopsdame wat sy uit die kas moet haal. Sy wil liewer nie weet wat haar vriendin koop nie.
Die man van netnou stap nader na Bianca. Haar vriendin flirt wragtig net daar met hom.
Tess kyk nog deur die tooisels rond op die rakke.
“En … sien jy iets wat jy wil hê?” vra Bianca skielik langs haar.
“Alles, maar die goed kos ’n fortuin,” sê Tess en hou ’n lang, swart sjiffonnagrok met swart fluweelpatrone en twee splete wat behoorlik tot onder haar sitvlak kom voor haar skraal lyf. Die lae hals is heeltemal oorbodig omdat mens in elk geval als reg deur die materiaal kan sien. Wanneer sal sy dit ooit dra? wonder sy en hang dit eerder terug op die rak.
“Wat van dié een?” vra Bianca en hou ’n rooi satynnagrok na haar toe uit.
Tess lig haar wenkbroue. “Ek het regtig nie sexy slaapklere nodig nie. Ek sê mos ek slaap alleen, Bianca.”
“Op die oomblik, ja.”
Bianca se woorde vang Tess onkant. Sy het nog nooit regtig daaraan gedink om met enigiemand anders as Tian seks te hê nie. Na vyftien jaar was hulle aan mekaar gewoond. Sal sy dit ooit kan doen? Sy wil eerder nie nou daaraan dink nie.
“Vir wat flirt jy met mans wat in sulke plekke rondloop?” vra Tess net om die onderwerp te verander.
“Het jy nie die man se duur horlosie gesien nie? Sy pak? Sy das?” Bianca waai met haar hand voor haar gesig asof die blote gedagte haar bloed laat borrel.
Tess skud haar kop. Sy kyk afkeurend na haar vriendin, maar dit lyk nie of dit Bianca juis skeel nie.
“Hy het my nommer gevra.”
“En toe gee jy dit vir hom?”
“Natuurlik het ek,” sê Bianca. Sy wys na ’n sexy swart korset wat met toutjies agter die rug toeryg. “Dié een?”
“Nee, man. In daai ding gaan mens nie kan asemhaal nie. Buitendien is my borste te klein.” Tess vat selfbewus aan haar bors. Hoe sal sy tog in een van dié kontrepsies lyk?
Sy kies eerder ’n paar stukkies onderklere wat sy weet sy elke dag sal kan dra. Kledingstukke wat darem nie te ongemaklik lyk nie en tog ook darem sexy genoeg is.
“Ek is trots op myself,” sê Tess toe sy en Bianca op die sypaadjie buite die winkel staan.
“Nè? Volgende keer kan jy jou oë dalk vir ’n paar minute oophou,” spot Bianca. “Kon jy darem iets tussen jou vingers deur sien? Jy het hulle so styf voor jou gesig gehou. Volgende keer kan ons vir jou ’n papiersak oor die kop trek.” Bianca lag.
Tess bloos weer van voor af. “Moenie vir jou laf hou nie. Ek het gekyk … ’n bietjie. Buitendien, as ek ’n sak oor my kop dra, sal hulle dink ek wil die plek beroof.”
Die twee vroue skaterlag.
“Mevrou Tessa Meyer, hallo.”
By die aanhoor van haar naam voel Tess hoe vlamme teen haar nek uitslaan. Terselfdertyd is dit asof haar brein vries.
Bianca stamp vir Tess in die ribbes.
Toe sy tot verhaal kom, kyk sy in dokter Dan se bruin oë vas. Tyd staan ’n oomblik stil.
Eers wil haar tong nie reageer nie. Toe onthou sy dat sy dalk die groot pienk papiersak moet wegsteek. Vergeefs probeer sy om die sak met die woord Hartstog daarop agter haar bene te kamoefleer.
Sy het die man twee weke laas gesien, maar hy het nog presies dieselfde uitwerking op haar. Die kurwe van sy mond verklap dat hy klaar gesien het wat Tess probeer wegsteek.
“Hoe voel die tand?” vra Jan-Daniel, sy oë op hare vasgenael.
Tess weet nie waar om te kyk nie. Die donkerblou denimbroek en ligblou toeknoophemp laat hom goed genoeg lyk om op te eet.
“Ons … ek … my tand voel fantasties, dankie,” sê sy met ’n stywe glimlag.
Kan moeder aarde haar nie nou maar insluk nie?
“Stel jy my nie voor nie?” vra Bianca en steek summier haar hand uit na Jan-Daniel.
Hy vat dit. “Dan.”
Bianca hou sy hand heeltemal te lank vas na Tess se sin.
Sy wil immers nie langer voor haar nuwe tandarts staan en skaamkry nie, maar sy het mos in elk geval besluit sy sal nooit weer na die dokter se praktyk gaan nie. Die stem in haar binneste herinner haar dat Bianca ’n verleidster van formaat is en dat sy wat Tess is dalk nie wil hê haar voorbarige vriendin moet juis vir dokter Dan verlei nie. Waarom dit hoegenaamd saakmaak, is Tess nie seker nie.
“Dit is die tandarts wat my uit my pyn verlos het,” verduidelik Tess in die hoop dat Bianca nou die man se hand sal los.
Maar Bianca wip net ’n lok van haar lang rooi hare oor haar skouer en glimlag breed met haar kersierooi lippe.
Sy is enige man se droom, dink Tess, en sommige mense se grootste nagmerrie.
“Tess het ons baie van jou vertel, dokter.”
Nou is dit Tess wat vir Bianca in die ribbes pomp. O so stadig trek Bianca haar hand uit Jan-Daniel se greep.
Tess voel asof sy ’n beroerte gaan kry. “Bianca!” sis sy deur haar tande en kyk verskonend na Jan-Daniel. “Ek het hulle net vertel van die simpel boodskap wat ek per ongeluk vir jou gelos het.”
Jan-Daniel knik en glimlag ondeund asof hy hierdie gesprek heeltemal te veel geniet. “Ek moet gaan. Julle moet ’n lekker Saterdag hê, dames,” sê hy en beduie met sy kop na die pakkie wat Tess steeds agter haar bene vasklem.
Hy loop ’n entjie weg, steek dan vas en draai om. “O, en Tess … ek hou van jou nuwe haarstyl. Dit pas jou.”
In die kar bars Bianca uit van die lag.
“Dit is nie snaaks nie, Bianca. Net toe ek uiteindelik ’n ordentlike tandarts kry! Nou sal ek nooit weer my gesig daar kan wys nie,” sê Tess.
“Het jy nie gesê jy gaan in elk geval nooit weer jou gesig daar wys nie? Relax. Hy is seker nou vrek nuuskierig oor wat in daardie pienk pakkie van jou is. Ek gee hom ’n dag, dan bel hy jou,” sê