Nadia. Nadia Beukes. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Nadia Beukes
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796320124
Скачать книгу
1999 onverwags oorlede is. Hulle was sowaar ’n match made in heaven.

      Soos my grootouers kan jy die roete van jou lewenspad verander. As jy sien iets werk nie en jy besef jy het die verkeerde besluite gemaak, kan jy omdraai of van koers verander. Dit is natuurlik ook waar trots of hardkoppigheid inkom. Party mense is te trots om te erken dat hulle ’n fout gemaak het.

      Dit laat my dink aan die aanhaling van Joseph Chilton Pearce: “To live a creative life you need to lose the fear of being wrong.” Dit is ’n aanhaling wat my vriendin Tina Kruger vir my gegee het toe ek eens in my lewe ’n groot besluit oor die pad vorentoe moes maak. Dis okay om verkeerd te wees. Waar ek altyd ’n swart-en-wit-mens was, is ek nou meer grys, meer aanpasbaar, hoewel ek steeds nie baie van verandering hou nie.

      Elkeen se kombinasie van menswees is uniek. Jy moet dit net eers ontdek en dan respekteer. Ek het dit met die lees van die boek The Purpose Driven Life van Rick Warren besef.

      Elkeen van ons het ’n baie spesifieke rol om te vervul en dit vervul weer op sy beurt jou as mens. Jy is nie ’n onderwyser omdat jou ma en ouma ’n onderwyser was nie. Jy is ’n onderwyser omdat dit jou passie is. Dit is ’n vaardigheid wat jy het om ander te leer. Confucius het nie verniet gesê nie: “If you do what you love you never will have to work a day in your life.”

      Ek weet my ouma het nog altyd my droom om in die vermaaklikheidsbedryf te werk ondersteun. Om op die verhoog te wees, was nog nooit vir my iets waaroor ek gewonder het nie. Dit is iets wat ek nog altyd wou doen.

      Vanaf die eerste keer wat ek agter die verhoog saam met my pa gewag het vir die gordyn om op ’n produksie te sak of te lig, tot my eerste keer voor die televisiekameras, het die betowering van hierdie wêreld my ingesluk en het ek in die warm ligte voor die kameras tuis gevoel, gereed vir aksie.

      Aan die begin was ek bloot net dankbaar vir ’n kans om deel te wees van daardie wêreld. Die vet weet ek sou die spreekwoordelike boom in die agtergrond gewees het as ek maar net op die verhoog kon wees! Ek sou selfs agter die skerms werk net om deel van daardie wêreld te kon wees.

      My ouers het hierdie neiging van kleins af raakgesien en ek het die geleentheid gehad om as jong danser heelwat tyd op die verhoog deur te bring, veral in klopdansskoene. Ek het in graad sewe vir die eerste keer alleen op die verhoog gesing, bloot omdat een van die ander soliste siek geword het. Dit was tydens ’n skoolsangspeletjie met die titel Ashoop, waarin ek eintlik ’n lappop in die agtergrond was.

      Toe die onderwyseres iemand soek om op kort kennisgewing in te staan, het my entoesiasme my beslis nie in die steek gelaat nie. Met daardie optrede het ek baie vals gesing, hoe dan anders sonder enige opleiding of ervaring? Dit het my egter nie gekeer om te dink ek kan dit tog doen nie.

      Op skool het ek saam met vriende en in kore aan die skool se kunswedstryde deelgeneem en nooit regtig uitgestaan nie.

      Inteendeel, ek was eintlik my hele laerskoolloopbaan effens op die kantlyn: reserwe vir die D-span by netbal, heelagter in sagtebal en geensins deel van die atletiekspan nie. Ek was darem ’n prefek en dirigent in die laer- en hoërskool.

      Sport het my nooit werklik aangestaan nie. Tot vandag toe is ek nie sportief nie, maar ek is goed in ander goed. Toe ek jonger was, het ek nie juis geweet waarin ek goed sou wees nie, maar ek het geweet waarin ek goed wou wees. Ek wou goed wees daarin om in die vermaaklikheidsbedryf te skitter en bekend genoeg te word dat ek ’n daadwerklike impak op mense se lewe sou kon maak. Die akademie het op hoërskool ’n groot rol begin speel en miskien sou ek daarvan gehou het om ’n slim dokter of suksesvolle prokureur te word, maar ek het meer daarvan gehou om te perform.

      Daar was een geleentheid op hoërskool waar juffrou Sanet Bulwan my oortuig het om deel te word van hul tienertoneelgeselskap. Dit was die einste juffrou Bulwan wat my laat glo het dat ek ’n onderskeiding vir Afrikaans in matriek kon kry. Wat ek toe ook reggekry het. Sy het my passies raakgesien, en dit in die klas en op die verhoog ontgin. Ons het ’n produksie Jack Spook opgevoer waarin ek ’n spook met ’n gesplete persoonlikheid gespeel het. Ek het verskeie toekennings vir die rol ontvang.

      Dit was natuurlik tussendeur al die drama van hoërskool self, want kom ons wees nou eerlik: om ’n hormonale tiener te wees, is nie eenvoudig nie. Jaco, ’n talentvolle, goedgemanierde jongman, was in die einste produksie. Onnodig om te sê dat ek mal oor hom was en my aandag verdeeld was.

      Talle male op hoërskool het ek gedink ek het my sielsgenoot en lewensmaat gevind. Elke keer was ek halsoorkop, onskuldig verlief … Het ek toe geweet wat ek nou weet, sou ek harder geleer het om ’n beurs te kry en nie met ’n studielening later in my lewe te sit nie, maar ek is die ewige romantikus en elke onskuldige verhouding het my laat voel soos die hoofkarakter in ’n romantiese novelle.

      Daar was nie veel van hierdie vlietende verhoudings nie, maar dié wat wel daar was, was vir my baie ernstig. Ek is nog altyd bietjie konserwatief as dit kom by verhoudings en dinge van die hart.

      My eerste soen was byvoorbeeld eers in graad nege. Teen daardie tyd was ek een van die min meisies wat nog nooit ’n outjie gesoen het nie en as ek reg onthou, is dit amper dieselfde gevoel as om op 30 nog nie getroud te wees nie. Dit is nie ’n lekker gevoel nie. Nietemin, die soen was perfek en hier waar ek vandag in my lewe is, kan ek met oortuiging (en uit ervaring) sê dat dit die moeite werd is om te wag vir dit wat jy in jou hart koester en nie met enige iets minder tevrede te wees nie. “All good things come to those who wait,” en ek voeg graag by: “Great things come to those who wait patiently.” Ek sou dit gou genoeg besef toe ek universiteit toe gaan en begin om my drome na te jaag.

      ’n Ouerhart se reis

      My ouers het vir my en De Villiers streng grootgemaak. Hulle het grense gestel en sover moontlik vir ons as rigtingaanwysers opgetree. Gelukkig het hulle my die vryheid gegun om myself te kan wees. Hulle het nooit druk op my geplaas om iemand te wees wat ek nie is nie.

      Kinders moet dissipline en reëls hê. Dit het vir my sekuriteit gebied, maar die pad van die lewe is nie altyd reguit nie. Tog kan die draaie op jou pad jou leer om steeds die beste van ’n slegte saak te maak.

      My ouers is twee unieke mense, eintlik verskil hulle soos noord en suid. My pa is die kreatiewe kunstenaar met ongelooflike talent en sal nooit in die boksie van ’n agt tot vyf werksdag inpas nie. Hy kon van altyd af sing en in sy eerste jaar op universiteit het hy die sangkompetisie van die ATKV Crescendo gewen. Van toe af was die wêreld sy verhoog. Hy het in Europa, Skandinawië en tot in Asië gesing. Sy belangstellings is wyd en interessant. My pa het ’n breë kennis van aalwyne en geniet die bosveld en diere. Hy speel graag gholf en het ’n passie vir sy gesin. Hy is egter streng en kan ongenaakbaar word as iemand hom te na kom of leuens vertel. My pa loop ’n reguit pad.

      My ouers het ontmoet toe hulle albei onderwys studeer het. Pa het toe al gesing, maar darem so twee jaar skoolgehou voordat hy sang voltyds sy beroep gemaak het.

      My ma is ’n harde werker. Sy het immers haar lewe lank sonder ophou skoolgehou. Ek dink nie haar lewe was altyd maklik nie, maar sy is ’n vasbyter en het ons huis ’n tuiste gemaak waar ons veilig en geliefd gevoel het. My ma het altyd gesê sy en my pa is twee pilare wat een huis ophou – elkeen is daar om sy of haar lewensdoel te vervul om saam iets te bereik.

      My ma het my geleer dat my geluk nie van iemand anders afhang nie, jy moet geluk in jouself vind en dinge doen wat vir jou plesier gee. Veral in alleentye. Hul lewe het my ook die waarde van onafhanklikheid geleer. As iets gebeur by die huis en my pa is nie daar nie sal my ma ’n plan maak en ’n oplossing vind. Ek dink sy het ook sterker in haarself geword, maar tog ook swaar tye beleef.

      Hulle is albei vir my mense om na op te kyk, maar ek sal verkies om my man meer tuis te hê of om saam met hom rond te beweeg.

      Ma Eureke vertel …

      Ek en Rouel het werklik gesukkel om swanger te raak – die kanse is ses persent het die dokters gemaan. Maar God is groot. Nadia en De Villiers is spesiaal vir ons gegee omdat die Here ons gebede verhoor het. Hoewel ons as ouers albei graag saam