Toe dit klaar is, smeer sy haar lyf in met vet totdat haar vel nes koper lyk. Sy borsel haar hare met ’n kriebossie uit en sy smeer ’n mengsel van fyn geel houtbas en vet aan haar gesig. Om haar nek het sy haar kraletjies van volstruiseierdop. Sy ryg stringe kraletjies in haar hare en sy maak stringe uitgedroogde springbokoortjies met sade in aan haar bene vas.
Heel laaste steek sy die ystervarkpenne in haar velsakkie.
Toe die maan al hoog sit, vat sy die pad. Soos sy loop, kap sy af en toe ’n ystervarkpen in die grond sodat sy die pad terug kan kry.
Toe sy op die hoogtetjie kom en die groot vure van die dansparty sien brand, raak sy ’n bietjie skrikkerig. Wat sal haar ma en haar susters sê? Maar toe ruik sy die vleis op die kole en haar voete dans hierdie kant toe en daardie kant toe, en die springbokoortjies sjirr-sjirr aan haar enkels.
Toe sy op die werf kom, bly sy eers eenkant staan. Daar is haar ma en haar susters, sien sy. Maar húlle wonder saam met die ander vroue wie die meisie is wat so alleen en vreemd by die dansparty aangekom het.
Natiki gaan staan by die vroue wat sing en hande klap. Sy sing saam, sy klap haar hande, en haar voete is lig. ’n Jong jagter lag met haar toe hy verbydans. Sy oë bly op haar.
Toe dit baie laat word, begin gaap Natiki se susters sulke lang-lang gape. Dit laat hulle nog leliker lyk. Natiki se ma kyk die ding so en sê toe vir hulle: “Vat nog van die vleis vir julle, dan loop ons huis toe.” En hulle is daar weg.
Natiki het nog lank saam met die ander vroue gesing en hande geklap.
Toe almal uitgeval het, kom die jong jagter na haar toe. “Ek loop saam,” sê hy.
Soos hulle al met die ystervarkpenne langs terugloop huis toe, vertel Natiki hom alles van haar twee susters en haar ma wat so sleg met haar werk. En hoe kwaad haar ma sal wees as sy agterkom Natiki het na die dans toe weggeloop.
Toe sê die jagter: “Dan vat ek jou van hulle af weg. Ek sal self met jou ma oor die groot saak praat.”
Natiki se ma en haar susters hoor die stemme van ver af aankom.
“Dis seker sy wat saam met een van die jagters huis toe kom,” sê die jonger suster.
“Nee, wie sal saam met háár loop?” vra die oudste suster, wat baie jaloers is op Natiki.
Skielik staan Natiki en die jong jagter voor hulle in die rooi gloed van die vuur. Nou lyk sy eers mooi.
“Jou nare kind, wat het jy aangevang?” begin haar ma sommer te raas.
Toe die jong jagter sien hoe Natiki langs hom begin bewe, gaan staan hy voor haar ma. “Ek vat Natiki vanaand vir goed weg,” sê hy. “En ek sal sorg dat haar potte nooit leeg is nie.”
“Jy sal sien hoe sleg sy is!” raas haar ma nog vir oulaas en spring op om Natiki en die jong jagter van mekaar te skei. Maar Natiki is te rats vir haar. Sy spring vinnig weg en gaan staan agter die jagter. Nou kan haar ma niks meer doen nie.
So is Natiki toe weg saam met die jagter na die werf van sy eie mense, ver daarvandaan.
En elke agtermiddag as haar ma en haar susters met groot dragte hout op hul rûe huis toe beur, brom die twee susters: “Natiki, Natiki, eendag sal ons jou kry . . .”
Maar Natiki was vrolik en gelukkig. Sy het goed vir haar man en kinders gesorg. En dit was nes die jagter gesê het: daar was altyd vleis in haar potte.
(Uit: Die Madiba-boek. Tafelberg-Uitgewers. 2002)
Vertaler: Glaudien Kotzé
Gesels in julle groepe oor die volgende:
1.Aan watter Europese storie laat hierdie verhaal julle dink?
2.Bespreek die ooreenkomste en die verskille.
’n Volksverhaal of legende is ’n verhaal wat nie op die werklikheid berus nie, maar deur mense van geslag tot geslag oorvertel is.
•Die doel van ’n volksverhaal is om die gehoor te vermaak.
•Dit is gewoonlik baie kort en maak baie van dialoog en handeling gebruik.
•Dit word in die verledetydsvorm geskryf.
•Frases en liedjies word herhaal om belangrike dele in die verhaal uit te lig.
•So ’n legende gee dikwels ’n verduideliking van waarom dinge vandag is soos dit is.
•Dit dra dikwels ’n lewensles oor.
Antjie Somers
Andries Somers was ’n voorman onder die Strand se vissers.Wie kon ’n treknet soos hy vasvat? Wie kon ’n spaan soos hy laat sak? Nee, niemand nie. En dapper! Waar iemand ingevaar gekom het, was Andries Somers eerste by. Nes ’n see-eend kon hy swem, en talle drenkelinge het hy land toe gebring as die ander al lankal moedverlore was.
Maar afguns is daar altyd, en skoorsoek is g’n kuns nie. Eendag op die strand pak ’n klomp vissers hom. Andries laat nie met hom speel nie. Hulle kantel voor sy vuiste, maar een bly stil lê waar sy kop ’n klip gevang het. Andries moet vlug, anders hang die mense hom dalk op.
Hy kry ’n sisrok van sy suster. Hy bind ’n kopdoek om. Hy haak ’n mandjie oor sy arm. Toe kies hy koers, diep die binneland in.
Op ’n plaas agter die berge gaan verhuur hy homself.En hy werk weer soos net hy kan. Van die voordag staan hy bak tot dit laat word in die aand. Wingerd spit of pars of mis ry – maak nie saak wat hulle doen nie. Andries Somers word die voorman op die plaas.
Maar die afguns het fyn ore en ’n storie baie tonge, en voor lank skinder die mense kliphard onder mekaar.
“Vertel ons, Andries, van die sisrok wat jy in jou huis wegbêre,” por die ene.
“En die kopdoek, Andries Somers? Of is jou naam dalk eintlik Antjie?” pla ’n ander.
“Antjie Somers! Antjie Somers!” koggel hulle.
Andries Somers laat sy kop sak en maak of hy nie hoor nie, want naderhand kom daar weer nuwe rusie. Maar die derde dag toe kan hy hul geterg nie meer verduur nie. Daardie aand pak hy sy bondel en maak dat hy daar wegkom.
Nooit weer keer Andries terug nie. Nêrens slaan sy spoor weer uit nie. Hy het soos ’n gees verdwyn.
Maar al meer vertel die kinders wat saans teen die berg gaan hout soek van ’n ou vrou wat hulle verjaag.
“Sy’t ’n rooi kopdoek,” sê een kind.
“Sy’t ’n sisrok met groot strepe.”
“Sy’t ’n lang mes.”
“En ’n mandjie.”
“En ’n streepsak oor haar skouer.”
“Sy wil ons vang en in haar sak prop!” kerm hulle.
En die grootmense skud kop.
“Dit is daardie Antjie Somers,” sê hulle onder mekaar.
Andries Somers raak vergete: dapper Andries, flukse Andries, Andries wat altyd kon voorvat. Maar een storie word al luider, en word geslagte lank oorvertel: “Antjie Somers! Antjie Somers! Antjie Somers gaan jou vang!”
(Uit: Die mooiste Afrikaanse Sprokies. Human & Rousseau. 2003)
Beantwoord die volgende vrae in julle groepe:
1.Lees weer die kenmerke van volksverhale. Watter kenmerke is in hierdie verhaal van toepassing?
2.Andries Somers was baie goed in sy werk. Watter taak kon hy die beste doen waar ander mense al tou opgegooi het?
3.Andries