Daar is nie plek vir sissies in die akademie nie. Party van hulle sal bo-oor jou loop as dit hulle enigsins kan baat. Veral as elke vrou op die personeel skynbaar dink jy is hot stuff, kan iemand soos die Arnoldus Christoffel-vent heel moontlik met moord wegkom. En hy sal. Sy weet mos. Daar is baie desperate vroumense op die personeel wat sal saamstem met enige manlike skepsel wat darem nog al sy tande het. Sy sal die man op sy plek moet sit as sy op kampus wil oorleef. As hy die storie dat sy nie meer haar eendjies in ’n ry het wat ontwerp betref nie, eers onder hulle almal versprei, is dit nag vir haar.
Haar vingers jaag met wrewel oor die toetsbord.
Mnr. Swart,
Sulke stappe sal geheel en al onnodig wees. Die studente is almal bewus van die gehalte van my werk. Waar u aan die idee kom dat ek dink dat ek altyd reg is, is vir my ietwat van ’n raaisel. En waarom u dink dat dit u plig is om my te laat “beter voel” oor u onoordeelkundige optrede is ook vir my ’n raaisel. Ek sal ook graag wil weet wie my e-posadres aan u verskaf het? As u asseblief in die vervolg my privaatheid sal respekteer, sal ek dit waardeer.
Die uwe,
L.L. le Roux
Letitia sit effens agteroor en gooi sommer die res van die wyn in haar keel af. Sy ril effens en gaan haal die bottel. Sy sal vannag weer niks slaap nie. Nie terwyl hierdie arrogante mansmens se e-posse in haar kop ronddraai nie. Sy kan dit nie eintlik waag om hom te laat verstaan hoe sy werklik voel nie, want sy hou van haar werk en as sy eers begin, gaan sy hom Dawid se wortels laat opgrawe en insluk. Die idioot. Wat haar betref, is hy van die radar af. Persona non grata. Hy feature nie eens in haar verwysingsraamwerk nie.
Maar waarom wil haar brein dan nie wegkom van die onderwerp nie? Waarom doen sy die moeite om die een verpletterend intelligente antwoord na die ander uit te dink wat sy eintlik vir hom moes getik het? Soos byvoorbeeld dat hy as akademikus self behoort te weet dat daar in die postmoderne dialoog geen finale uitsluitsel oor reg of verkeerd kan wees nie. En dat alle redenasies tog immers oop moet bly vir interpretasie en selfs dekonstruksie. Ja, dis wat sy vir hom moes getik het. Dalk moet sy dit tog …
Sy skrik effens toe haar foon lui.
“Luister, my kind,” skree ma Klarabelle in Letitia se oor, en sy hou die foon oudergewoonte effens verder weg. Haar ma het blykbaar besluit dat ’n instrumentjie so groot soos ’n sel hulp nodig het wanneer ’n mens ordentlik van Darling tot in Harfield gehoor wil word.
Letitia glimlag. “Hallo, Ma, ek luister.”
“Jy sal bly wees om te hoor ek trek g’n stuk meer na daardie aaklige kamertjie toe nie.”
Letitia voel hoedat sy afblaas en slap word soos ’n oorskietballon. Nie dit ook nie. Nie weer nie. Hulle het mos al hierdie gesprek gevoer, nie waar nie? Maar om vir Klarabelle de Beer ’n ding te laat doen wat sy nie wil doen nie, is nie ’n opsie nie, weet sy. Klarabelle maak haar eie reëls.
Die enigste een wat haar soms kon omgekoop het, was haar pa. Koort de Beer met sy donkerbruin oë was die enigste een wat Klarabelle op ’n manier kon beheer. Maar Koort is al die afgelope vyf jaar nie meer daar nie, en sedertdien skryf niemand vir Klarabelle voor nie.
So skop sy al harder teen die gedagte om haar en Koort se huis op Darling te verkoop. Letitia kan aanvoel hoe sit haar ma daar in een van haar kleurvolle gewade en drapeersels op die bankie by die telefoon, met haar bos spierwit hare, haar bloedrooi lipstiffie en haar sigaartjie in die een hand en uitkyk oor die tuin met daardie verbete trekkie om haar mond. Klarabelle de Beer maak skilderye, geld en moeilikheid. In dié volgorde. Soveel moontlik. She is not going down quietly.
“Hoe dan nou, Ma?”
Letitia hoor hoe haar ma neurie. Klarabelle luister duidelik na niks wat Letitia te sê het nie.
Letitia herken die wysie. “By the rivers of Babylon”. Sy sug. “Toe ons laas gepraat het, was Ma aan die inpak. En opgewonde oor die nuwe plekkie? En ek dog dan ons het besluit die huis het te groot vir Ma alleen geword?”
Klarabelle sing nou hardop, krakerig en van die noot af, maar die woorde is duidelik: “… how the wicked carried us away in captivity … hmmmhmhmhmm … into a straaahahaange la-a-and …”
Tipies, dink Letitia.
“Onthou jy nog die song, Letitia? Een van jou pa se favourites?”
Haar ma is besig met ’n fyn spel. Emosionele afpersing. Nou bring sy sowaar die sentiment van Koort se liedjie in gedrang. Asof hy haar vanuit die graf nog steeds in haar hardkoppigheid sal steun.
“Ja, Ma. Boney M.” sê sy. “Ek onthou maar te goed. Maar dit gaan nie werk nie. Hou op sing. Ons het ’n ooreenkoms gehad. Ma het ingestem en daar is met die plek gereël dat Ma kom. Ma kan mos nie nou weer …”
“Nee, my kind. Jammer, maar ek het besluit ek bly waar ek is.”
Letitia haal diep asem. As sy dink hoeveel maande se moeite en toutjies trek dit van haar en Roelof geverg het om daardie dubbelkamer met en suite-badkamer in die aftree-oord in Fonteinstraat vir haar ma gereël te kry. En nou?
“Maar, Ma …”
“Nee wat, jong, daar is geen maars nie, ek het my mind opgemaak. Ek bly lekker. Ek hou van die ruimte en het my studio nodig.”
“Dis net dat …”
“Ag, nee wat, Letitia, help nie jy praat nie. Ek het reeds vir die vroutjie van Rawson laat weet die huis is nie meer in die mark nie. Hier is te veel herinneringe, my kind. En dan die diere. Ek bedoel wat word nou van Peanut? En my hoenders? Wie sal vir Rosa en Lady Di vat?
“Mevrou Williams het mos gesê sy kan …”
Haar ma luister nie. “En ek het juis gisteraand ’n nuwe painting begin en net daar besef ek hoort hier en trek nêrens.”
“Wel, wat kan ek dan sê, Ma? Dit is Ma se besluit.”
“Is so, my kind. Dankie dat jy verstaan. Maar ek moet nou gaan. My nuwe skildery roep. Tata. Lekker slaap.”
“Is …? Oukei, Ma. Nag, Ma.”
Letitia se kop draai. Gaan die dag nooit end kry nie? Sy sal die beheerliggaam van die aftree-oord moet laat weet dat haar ma weer van plan verander het. Anders gaan sy dalk haar deposito verloor. Sy trek die muis nader en soek die adres. Hmmmm … ja, hier is dit: [email protected].
Toe gewaar sy daar is nog ’n e-pos van hóm. Sy sit haar bril weer op en lees:
Beste me. Le Roux,
Voordat u dalk allerlei duistere dinge vermoed, wil ek net graag die volgende opklaar: u e-posadres is aan my verskaf deur die personeeladministrateur van ons departement. Almal op die personeel het die lys ontvang. Wees dus gerus hieroor.
Vriendelike groete,
Chris Swart
Letitia gryp haar wynglas en skink dit weer vol. Die man dryf haar na drank. Die aantyging dat sy nie al haar e-posse en dokumentasie van die kampus af lees nie, straal uit hierdie e-pos.
Sy neem groot slukke terwyl sy met die een hand tik:
Mnr. Swart,
Ek sal dit regtig waardeer as u my nou uitlos. Beskou die saak dus asseblief as afgehandel. Ek het ’n monster van ’n dag gehad en sien nie verder kans vir hierdie belaglike e-posse nie.
Die uwe,