“Hey! Watchit! My Goldie het ’n uiters sensitiewe sieletjie. Soms voel ek ’n diepe verbintenis met haar wanneer sy so teen die rand van die bak huiwer en vir my kyk. Om die waarheid te sê voer ek lang gesprekke met …”
“Roelof, ek is ernstig. Ons praat nie nou van jou goudvis nie.”
“Verskoon my, ek is nie die een wat die man met ’n vis vergelyk het nie.”
“Kan ons asseblief by die punt bly, Roelof?”
“Oukei. Maar wat is die punt nou weer?”
“Die punt is … wel, die punt is die vent het my vandag die hel in gemaak.”
“Hmmm. Jy is al sedert verlede Desember permanent die hel in, my liewe Letitia. Almal weet dit.”
“Hoe bedoel jy nou?”
“Ag, sus, dis net … jong, ek dink dis nou tyd.”
“Tyd?”
“Ja. Om stock te vat van jou lewe. Jy kan nie so aankarring nie. Jy teken nie eens meer nie. Daardie houtskooltekening op jou esel vorder niks. Vra my, ek gaan kyk elke keer wanneer ek by jou is. Who are you fooling? Gaan sit en praat hard met jouself, Letitia. Maak ’n lys.”
“Moenie karring nie, Roelof.”
Letitia kan feitlik hoor hoe haar broer sy skouers ophaal. Die stilte suis in haar oor.
“Watse lýs?”
“’n Lys, Letitia. Van jou prioriteite. Soos jou puntestate en al jou elektroniese admin-goeters by die werk. Dis mos lyste. En joune is eksie-perfeksie, dit weet almal. Jy beplan gedurig en maak lysies, nie waar nie? Maar jou privaat lewe? Crazy Store se moses. Skisofrenies, om die minste te sê. Dis waarom ek sê: Take a moment. Reflekteer. Beskou jou lewe soos die admin by die werk waarmee jy so goed is. Begin iewers en maak ’n lys. Skryf neer. Al die goed wat jy nog wil regkry of verander voor jy …”
“’n Bucket list? Excuse me. Lyk ek vir jou of ek aan die doodgaan is, hè?”
Roelof bly haar ’n antwoord skuldig, maar sy stilte spreek boekdele. “O, koek. Nog ’n oproep aan die deurkom vir my,” sê hy. “Sorrie, sus. Ons praat weer, oukei? Baai.”
Letitia kyk na die foon in haar hand. ’n Lys? Sy haat mense met goeie bedoelings. Wat vir haar wil kom sê wat om te doen. Sou dit ’n ding van mans wees? Control freaks, die hele lot van hulle. Soos daardie meneer Swart wat niks verstaan nie, maar vir haar wil wys hoe dinge gedoen moet word. En Roelof is net so erg. Asof sý lewe so ’n danige prentjieboek is.
Wat het haar tekening in haar ateljee met hom te make? Wil ook hy haar kuns of die gebrek daaraan kom staan en evalueer? Kan sy dit miskien help dat sy deur ’n dry spot gaan? Dat die muse haar lanklaas besoek het? En nou nog die verspotte idee van die lys. Verbeel jou. Sy het g’n donnerse lýs nodig nie. Dink Roelof nou regtig dat inspirasie vir haar kuns uit ’n lys kan kom? En wat de joos is fout met haar dat sy almal laat dink dat hulle vir haar kan kom voorsê?
Dis net … die verwaande meneer Swart en sy kritiek op haar student se werk het haar erg omgekrap. Onnodig. Eienaardig genoeg, meer as die tand of die wielklamp. Miskien trek sy haar dit so onnodig aan omdat sy besef dat sy nie aan die werk kan kom nie? Maar dit het absoluut niks met hom uit te waai nie. En per slot van sake gee sy nie een duit om wat hý dink nie.
A nee a!
Sy gaan vir haar van Woolies se lasagne ontvries, ’n lekker glas skink uit een van die spesiale bottels rooiwyn wat Gunther hier gelos het en dalk ’n bietjie op haar rekenaar rondsoek na nog ’n paar idees vir haar lesings môre voor sy gaan probeer slaap.
Dis tog belaglik dat sy sal toelaat dat ’n imbesiel van ’n nincompoop soos Christoffel Arnoldus Swart haar gedagtes oorheers of haar ekwilibrium versteur.
Wanneer sy reg is, sal sy weer uit die as verrys en hulle almal wys.
Na drie happe proe die lasagne ’n bietjie smaakloos, en die fênsie rooiwyn suur. Letitia trek haar mond op ’n plooi en gaan maak vir haar tee. As nagedagte skeur sy ’n boksie koekies oop en gaan sit daarmee voor haar rekenaar. Daar is niks minder nie as veertien e-posse. Sy wikkel haar reg op haar stoel, neem ’n sluk tee, doop ’n koekie, stop dit in haar mond en begin lees. Dis die vyfde e-pos wat haar laat verstik.
Moenie delete nie! Dit is nie spam nie! Lees sy in die blokkie gemerk subject.
Haar vinger huiwer oor die knoppie terwyl haar hoes bedaar, maar sy is te nuuskierig om dit uit te vee, want skynbaar kom die boodskap van ene Chris Swart. Sy sit haar Guess-leesbril op, maar die foto’tjie by die naam is generies en greinerig. Wie de joos? Sou dit die einste nare vent wees? Lyk soos hy. En sy eerste naam is mos … e … Christoffel … ja, hy noem homself seker liewer Chris. Ha! Sy sou ook. Bid jou aan. What was his mother thinking? Siestog. Met ’n naam soos Christoffel Arnoldus.
Letitia maak die e-pos oop.
Mevrou Le Roux,
Ek is regtig jammer oor die insident van vroeër vandag. Dit was nie my bedoeling om u of u student se poging te verkleineer nie.
O, rêrig? You could have fooled me! Letitia pers haar lippe saam en lees verder.
Ek het in die oomblik gereageer en die plakkaatjie teen die muur gebruik as voorbeeld sonder dat ek geweet het wie se werk of wie se student dit is.
Letitia se frons word al dieper. Ja, raait! As die man dan nou skielik vir homself wil lieg, moet hy nie dink sý val daarvoor nie. Hy het van dag een af sy mes in vir haar. Maar laat sy maar sien watse verdere stories hy het.
Daarom wil ek hiermee net sê dat ek jammer is. Ek besef dat ons nie altyd die gehalte werk uit die swakker studente kan toor wat ons graag sou wou nie, en verstaan nou ook dat u dit bloot gebruik het om u student aan te moedig.
Daarom hoop ek dat hierdie misverstand nie die professionele verhouding tussen ons sal belemmer nie.
Vriendelike groete,
Chris Swart
Letitia dog sy ontwikkel net daar ’n spataar. Watse professionele verhouding? Haar vingers jaag oor die toetse.
Meneer Swart,
U gebrek aan oordeel en professionele gedrag teenoor ’n kollega skeel my geen duit nie.
Vriendelike groete,
Me. Letitia L. le Roux
MAVK (cum laude) Unisa.
Die toetsbord wip toe haar vinger heftig en giftig op die send-knoppie neerkom. Sy sluk die laaste koue tee uit haar koppie af en bly toeoë sit en wag dat haar asemhaling net eers moet bedaar. Toe sy opkyk, is die antwoord in haar inbox.
Me. Le Roux,
Ek moet sê ek verstaan u ontevredenheid. Laat my toe om weer om verskoning te vra. As dit u beter sal laat voel, sal ek môre ook aan my tweedejaarstudente verduidelik.
Weereens jammer. Soos altyd is u heeltemal reg. Dit was onvergeeflik en onprofessioneel van my.
Baie groete,
Chris.
Sý tweedejaarstudente? Dis absolute vermetelheid. Hulle is, toe sy laas gekyk het, ook háár studente. Letitia gaan haal die halwe glas wyn op die wasbak se rand. Sy is lus om hierdie skielike familiêre Mister Chris weer te antwoord, maar wil eers mooi dink.
E-posse kan gevaarlik wees. ’n Mens kan nie agterna ontken wat jy gesê het nie. As jy dit gestuur het, kan jy dit ook nie terugroep nie. Dis waarom sy tog soms twyfel oor die vooruitgang van tegnologie. In sekere opsigte is sy van die ou skool. Maar antwoord gaan sy die bliksem antwoord.