“Kry die pistool, Nico. Skiet.” Dit is nie ’n bevel nie, maar ’n angstige pleidooi, asof my pa in daardie oomblik die dood sien, en die implikasies daarvan: sy seun wat alleen hier oorleef, gestrand, gedoem.
Sy gesig vertrek van pyn, ’n hond wat hom van agter bespring, sy tande diep in my pa se skouer slaan. Dit ruk my uit my angsbeswyming, my hande vat na die Beretta in die vakkie op die wye instrumentpaneel, my duim druk die veiligheidsknip met groot moeite af, soos Pa my oor en oor geleer het. Nog ’n hond byt in my pa se kerende voorarm, en hang daar. Al twee my hande op die wapen. Twee vingers om die sneller se eerste, moeilike dubbelaksie te trek, die skoot by die venster uit die lug in, wild, die knal oorverdowend in die binneruim, sodat my ore suis, alle klank verdoof. Kordiet skerp in my neus. Die diere verstar ’n oomblik lank. My pa slaan met die skuifsleutel, die hond aan sy arm syg neer, hy tree nader aan die deur. Die trop roer, en spring. Ek mik na een se flank. Skiet. Die hond val skuins. Ek skiet weer, en weer. Die diere maak hoë, skaars hoorbare pyngeluide, die ander begin terugval, vir die eerste keer.
My pa is by die deur, ruk dit oop, spring in, ’n hond aan sy been, hy slaan daarna. Dit val. Bloed aan sy arms, bloed oor sy rug, hy stamp my van die sitplek af, slaan die deur toe.
Ek sien my pa se gesig, die weersin, die verbetenheid, vrees, afsku, woede. Ek voel hoe hy die pistool uit my hande gryp. Ek sien hoe hy die magasyn laat uitval, ’n nuwe een indruk. Hy hou die pistool by die venster uit. Hy skiet en skiet en skiet en skiet. Die skote is dof in my ruisende ore, die doppies spat geluidloos teen die voorruit, die instrumentpaneel, die stuurwiel, en val op die vloer langs my, oral. Ek kyk op na my pa se geskeurde hemp, en die diep rugwond, dieselfde donkerrooi as die wolke.
Die pistool is leeg, maar steeds trek Pa die sneller. Rook in die kajuit.
20 Maart in die Jaar van die Hond. Elf maande ná Die Koors.
* * *
My pa sit geboë, met die pistool op sy skoot. Hy sit doodstil. Ek kan nie sien of sy oë toe is nie.
Die klank van buite kom mettertyd terug in sagte golwe wat oor ons spoel.
Die paddas, die vroegaand se krieke. Ver in die weste verdoof die bloedhorison tot swart, en steeds sit hy.
Iemand snik sag. Dit neem ’n rukkie voor ek besef dit is ek. Ek wil nie nou nie, dit voel onvanpas. Ondankbaar, op ’n manier. Maar ek het nie beheer daaroor nie, die snikke harder, dringender. My pa draai na my toe, lê die pistool neer, sit sy arms om my. My hele lyf begin ruk, my hart hamer oorverdowend in my ore. Ek ruik die bloed en die sweet aan my pa, ek klou aan hom.
My oor teen sy bors, ek hoor sy hart wat so verskriklik vinnig klop.
“Toemaar,” sê hy. Ek hoor nie die woorde nie, voel net die vibrasies daarvan. Toemaar. Toemaar, toemaar, toemaar.
Hy hou my stywer vas. Ek bedaar langsaam.
“Jy is my held, Nico,” sê hy. “Jy het goed gedoen, hoor jy?”
Ek kry eindelik die woord uit wat hier binne vassit, al so lank. “Mamma.”
En wanneer dit my ore bereik, brand die vernedering deur my.
“Ai, Here,” sê my pa en druk my stywer. Dan skakel hy die ligte aan die kant van die vragmotor af.
* * *
My pa se naam is Willem Storm.
In die lig van ’n sissende gaslamp maak ek die wonde op sy rug skoon. My hande bewe. Die ontsmetmiddel moet brand soos vuur in die lang rooi skeure oor sy vel, maar hy maak geen geluid nie. Dit is ongewoon. Dit maak my bang, versterk die vrees dat ek hom in die steek gelaat het.
Later maak hy twee blikkies Enterprise Spaghetti & Meatballs oop. Ons eet in stilte. Ek staar na die blou-en-rooi blikkie en wonder wat verkeerd is met “pork”. Want daar is ’n geel ster op die blikkie met vet rooi letters wat sê: NO PORK.
“Ek het nie gedink dit sal so gou gebeur nie,” sê my pa eindelik.
“Wat, Pappa?”
“Die honde,” sê hy en maak ’n vae gebaar met die vurk in sy hand.
En dan bly hy weer stil.
3
21 Maart
In die oggend sleep Pa die honde se karkasse tot agter die vulstasie, en steek hulle aan die brand.
Ons hervul die vragmotor. Pa is stil. Niks voel reg nie. Die bang is soos ’n skaduwee wat al agter my aansluip.
Ons ry, sonder koffie, sonder ontbyt. “Ons gaan by ’n spesiale plek eet,” sê Pa. Hy probeer om dit na ’n okkasie te laat klink, maar ek is oud genoeg om te hoor hy forseer die blymoedigheid. Ek dink dit is omdat sy bytwonde seer is. “Okay, Pa,” antwoord ek gretig, asof ek sy opgewondenheid deel.
Hy drink water uit ’n vol eenliter-plastiekbottel. Hy drink dit in ’n kort rukkie leeg.
’n Uur later hou ons op die spesiale plek stil. Ek vergeet van die gevoel van onheil wat die hele oggend by ons is. Ek roep uit soos ’n veel jonger kind, in algehele verwondering, want dit is verskriklik mooi, en ongewoon en luid – ’n brug, ’n damwal, ’n dreuning. Links lê die dam, perfek stil, ’n tamaai uitgestrekte, blink uitspansel van water. Na regs is die diep kloof van ’n rivier, versluier agter die waterdamp-mis waar die water teen die sluise afdonder.
Pa stop die vragmotor op die middel van die massiewe beton-damwal. Hy laat al twee die vensters sak. Die klank van die vallende watermassa vul die kajuit. Dit laat die hele vragmotor vibreer.
Pa moet sy stem verhef, hy wys na die spieël van water: “Dis die Vanderkloofdam.” Dan kyk hy na die diep kloof. “En dit is die Oranjerivier.”
“Jissie.” Gister vergete, heeltemal bekoor.
“Ek dink hulle het die sluise oopgelos. Ná Die Koors. Ook maar goed.”
Ek vergaap my. Tot ek besef Pa het die woorde “Die Koors” op ’n snaakse manier gesê. Nie soos altyd nie. Sag en gou en onwillig, asof hy nie die aandag daarop wil vestig nie. Ek kyk na hom, maar hy vermy my oë. “Kom ons maak koffie,” sê hy vinnig.
Ons hou ’n gasstofie en ’n groot moka-pot onder die bed, agter die sitplekke. Saam met die beskuit en ’n pak biltong, en lekkergoed. Ek klouter agtertoe, en kry die proses van koffiemaak aan die gang.
Gewoonlik klim ons uit om te eet, as ons op die pad is. Maar nou bly Pa sit. Hy is seker versigtig, ná die honde.
Ek gee vir hom beskuit aan. Hy neem net een stukkie. Ek eet drie stukke, skielik honger.
Die moka-pot prut. Die reuk van die koffie vul die kajuit.
Ek skink eerste Pa s’n, wat hy swart en bitter drink. Ek hou van myne met twee suikers en Cremora.
“Hier, Pa.”
Hy draai na my toe om. Ek wag dat hy moet sê “terwyl ons kan”. Hy sê dit elke oggend as ons koffie drink. Hy hou die beker hoog, soos wanneer mens “tjeers” sê, en hy glimlag so skeef. Want koffie gaan iewers in die toekoms opraak, en voor dit opraak, gaan dit oud word en nie meer lekker wees nie, en daardie dag kom nader. Só het Pa verduidelik ná hy die eerste keer “terwyl ons kan” gesê het.
Vanoggend sê hy dit nie.
Eers sien ek hoe sy hand bewe. Dan sien ek die sweet op Pa se voorkop, hoe rooi sy gesig is. En sy oë, dof en ongefokus.
Skielik maak sy stiltes en alles sin. Ek huil, só onverwags, van die skrik.
“Dis nie Die Koors nie,” sê hy. “Hoor jy?”
Die vrees is nie meer ’n skaduwee nie, dit is ek.
“Nico, luister,”