Koors. Deon Meyer. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Deon Meyer
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Ужасы и Мистика
Год издания: 0
isbn: 9780798173865
Скачать книгу

      DEON MEYER

      KOORS

      Die memoires van Nicolaas Storm,

      oor die ondersoek na die moord op sy pa

      Human & Rousseau

      The initial mystery that attends any journey is: how did the traveller reach his starting point in the first place?

      – Louise Bogan

      Memories of mortification persist for decades …

      – Oliver Burkeman, Help!

      Every autobiography is concerned with two characters, a Don Quixote, the Ego, and a Sancho Panza, the Self.

      – W.H. Auden

      Autobiography is usually honest but it is never truthful.

       – Robert A. Heinlein, Friday

      Down these mean streets a man must go who is not himself mean, who is neither tarnished nor afraid. The detective must be a complete man and a common man and yet an unusual man. He must be, to use a rather weathered phrase, a man of honour.

      – Raymond Chandler

      1

      Ek wil vir jou vertel van die moord op my pa.

      Ek wil vir jou vertel wie hom vermoor het, en waarom. Want dit is die storie van my lewe. En die storie van jou lewe en jou wêreld ook, jy sal sien.

      Ek het lank gewag voor ek dit doen, want ek dink ’n mens het wysheid nodig, en insig. En afstand. Ek dink ’n mens moet die kwaad – eintlik seker al die emosies – eers onder die knie probeer kry.

      Ek is vandag sewe-en-veertig. Net so oud soos my pa was toe hy dood is, in die Jaar van die Leeu. Dalk genoeg afstand van die gebeure, maar ek weet nie of ek ooit die nodige wysheid en insig sal ontwikkel nie. My kommer is dat ek baie van die belangrike gebeure en mense en ervarings gaan begin vergeet. Daarom wou ek nie langer wag nie.

      Hier is dit dus. My memoires, my moordstorie. En my exposé, sodat almal kan weet.

Die Jaar van die Hond

      2

      20 Maart

      Ons onthou die oomblikke van vrees, verlies en vernedering die beste.

      Ek is dertien jaar oud, op 20 Maart in die Jaar van die Hond.

      Die dag verloop soos die vorige en die vorige. Daar is die dowwe dreun van die groot Volvo FH12 se dieselenjin, en die vae gedruis van sestien wiele onder die lang, toegeboude sleepwa agter. Buite skuif ’n voorspelbare, vergeetbare landskap verby. Ek onthou die kunsmatige koel van die lugversorging in die “perd” se kajuit. Die reuk van die vragmotor binne is nog nuut en vars. Daar is ’n skoolboek op my skoot, maar my gedagtes dwaal.

      My pa verminder snelheid. Ek kyk op, en uit. Ek sien die wit letters op die padbord se swart agtergrond: WELKOM IN KOFFIEFONTEIN!

      “Koffiefontein,” sê ek hardop, bekoor deur die naam, en die prentjie wat dit in my kinderverbeelding optower – ’n warm, aromatiese bron van pruttende, donker boeretroos.

      Ons ry die dorp stadig binne. In die amper-skemer van die laatmiddag is dit spookagtig, sonder lewe, soos al die ander. Onkruid op die sypaadjies, grasperke agter heinings lank en dig vergroei. Op die horison, ver agter die plat geboue van die breë hoofstraat, speel weerlig kruis en dwars en skouspelagtig oor fantastiese wolkformasies. Die hele westerkim is bebloed in ’n vreemde, ontstellende dieprooi.

      My pa wys daarna met sy vinger. “Cu-mu-lo-nim-bus,” sê hy elke lettergreep afgemete. “Dit is wat ’n mens daardie wolke noem. Ons kry dit uit die Latyn. ‘Cumulus’ beteken ‘stapel’. En ‘nimbus’ is ‘reënwolk’. Dit is wat vir ons donderstorms gee.”

      “Cu-mu-lo-nim-bus,” durf ek die woord aan.

      Hy knik, en draai die groot lorrie behendig by ’n vulstasie in, hou stil. Hy druk die skakelaar, wat hy self aangebring het, om die ligte teen die flank van die lang sleepwa aan te skakel. Die brandstofpompe werp meteens lang skaduwees wat na mensfigure lyk. Die enjin is af. Ons klim uit.

      Só gewoond dat dit veilig is.

      Die dag se laatsomerhitte slaan uit die teer op, die geruis van insekte dik. En ’n ander geluid, ’n dieper tapyt van klank.

      “Wat raas só, Pappa?”

      “Paddas. Die Rietrivier is net dáár.”

      Ons loop langs die sleepwa af. Dit is wit, met drie groot, groen letters daarop wat lyk of hulle deur ’n vinnige wind skeefgewaai is: RFA. Dit word op die agterste deur van die wa verduidelik – Road Freight Africa. Ons het dit by ’n vragmotor-staanplek net buite Potchefstroom gekry, met die Volvo-perd aan, amper splinternuut, die tenk vol. Nou stap ons, pa en seun, langs mekaar. Sy hare lank en slordig en blond, myne ewe wild, en bruin. Ek is dertien, in die niemandsland tussen seuntjie en tiener, en gemaklik daar.

      ’n Vlermuis vlieg laag oor my kop.

      “Hoe vang ’n vlermuis sy prooi?” vra my pa.

      “Met eggo’s.”

      “Watse dier is ’n vlermuis?”

      “’n Soogdier, nie ’n voël nie.”

      Hy vryf my hare nog meer deurmekaar. “Mooi.”

      Ek hou daarvan.

      Ons begin met die bekende ritueel, wat minstens een keer per dag gebeur, nou al weke lank: My pa dra die klein Honda-kragopwekker en elektriese pomp na die vulstasie se hervuldeksels, wat in ’n kleurgekodeerde ry langs mekaar sit. Dan kom haal hy die groot skuifsleutel om die swart dieseldeksel uit te lig. My verantwoordelikheid is om die lang tuinslang af te rol. Dit is aan die elektriese pomp gekoppel, en ek moet die ander punt in die bek van die Volvo se brandstoftenk druk, en dit daar hou.

      Hervulling in ’n wêreld sonder petroljoggies en elektrisiteit.

      Ek doen my deel, en staan verveeld, besig om die letters teen die wit muur van die verlengde vulstasie-gebou te lees. Myburgh Elektries. Myburgh Bande. Ek dink ek moet my pa daarna vra, want ek weet “burg” beteken fort – dit het hy vir my verduidelik toe ons deur plekke soos Trompsburg en Reddersburg gery het – maar hierdie is ’n vreemde spelling, en nie die naam van hierdie dorp nie.

      Meteens is die gons van die insekte stil.

      Iets trek my aandag, agter my pa, in die straat af. Ek roep na hom, verbaas oor die onverwagse teken van lewe, en ek skrik ’n bietjie vir die sluwe aard van die beweging. My pa sit gehurk, besig om die pomppyp in die gat te skuif. Hy kyk op na my, volg die rigting van my blik, en sien die skimme in die skemer.

      “Klim in!” roep hy. Hy kom orent, met die groot skuifsleutel in sy hande. Hy hardloop na die vragmotor se kajuit.

      Ek staan verstar. Die skande daarvan sal maande daarna nog aan my vreet, die onverklaarbaarheid, die onbesonnenheid. Ek is botstil, my oë op die skuiwende skadu’s. Hulle kry gestalte.

      Honde. Soepel, snel.

      “Nico,” skree my pa, met verskriklike dringendheid. Hy staan stil om die doelgerigte diere van sy kind weg te keer.

      Die desperaatheid in my pa se stem skok en ruk deur my, breek die vrees oop. Skiet die eerste vonk van selfverwyt. Ek snik, ek hardloop langs die lang sleepwa af. Ek sien deur die trane hoe die voorste hond in die ligkol insweef, na my pa se keel spring, bek wyd gesper, lang, skerp tande ontbloot. Die swaai van die groot sleutel, die vlietende skaduwee van dié beweging. Ek hoor die dowwe slag toe dit die kop tref, en die kort tjankgeluid. By die vragmotor se trappie, ek gryp die silwer reling, die bang dryf my aan tot bo in die kajuit. ’n Hond pyl op my af, ek ruk die deur toe. Dit spring op, hoog, tot amper by die oop venster, naels krappend op die metaal van die deur, geel tande glimmend in die ligte teen die lorrie. Ek gil. Die hond val terug. My pa staan daar onder. Vyf, ses honde wat hurkend, sluipend om hom sirkel. En nog wat die ligkol binnegalop, lenig, meedoënloos.

      Daarna, alles so vinnig, maar asof die tyd stilstaan. Ek onthou