Al was ek reeds twee keer tevore hier, is ek so oorweldig dat ek nie kan ophou foto’s neem nie. En dis net daar waar ek kort duik (amper soos die selfvoldane Robbie Fleck wat net voor die doellyn ingehardloop en gelak word deur Deon Kayser). Want toe ek opkyk, is my vriende weg. En hier staan ek tussen seker ’n honderdduisend Russe en ek kan nie Cirillies lees nie, ek kan nie Russies praat nie en ek het nie opgelet by watter metrostasie ons hotel is nie. Ek besef die enigste manier wat ek hier kan uit, is om die Suid-Afrikaanse Ambassade te kontak (deur Retha Fabricius) en ’n vliegtuig Nowosibirsk toe op my eie (deur Retha Fabricius) te reël … en vir Sergei (deur Retha Fabricius) te kontak om my by die lughawe te lig.
’n Ligte paniekerigheid oorval my. Selfs al soek my vriende na my, is daar geen manier dat hulle hierdie bebaarde Raspoetin tussen ander bemuste, bewolde en toegewikkelde Russe gaan uitken nie. Ek besef ek kan hulle nie met my selfoon bel nie, want hulle het alle oproepe na mense in die Republiek toe gekanaliseer. Menende dat sou ek vir Kalie bel, gaan ek uitkom by sy seun Freddie wat tans iewers in Stellenbosch vir sy pa boer.
Toe SMS ek maar: Ek kry julle by die hoofingang van St. Basil se versiersuiker-katedraal. En omdat dit ’n tweede besoek is en ons nie van katedrale hou nie, verenig ons toe nét daar.
En omdat dit so bitterlik koud is en omdat ons vreemd wild geklop is, sak ons daar in die middel van Twerskaja Oelitsa, Moskou se hoofstraat, in ’n Meksikaanse drinkplek in. Ons bestel ’n wodka en nachos, verkyk ons aan die mooie Russiese meisies, en sweer ons sal mekaar nooit weer alleen los nie. Min wetende …
Injera, koffie, khat en Anna Davel
Drugs may be the road to nowhere, but at least it’s the scenic route.
– Onbekend
Ek en Kalie reis deesdae nie meer maklik sonder mekaar nie. Die ding kom al van jare terug. Ou dae het ek alleen die avonture aangepak en vyftien jaar lank het Kalie nét geboer. Ek’t hom wel saam genooi maar sy antwoord was maar altyd: “Norrefok, ek moet boer.” Ek weet egter sy hart was altyd saam die wye woestheid in. Tot eendag – toe die plaas staan gemaak is, toe gaan hy saam en hy neuk by omdraai verby. Nou’t ék nie meer rus nie. As dit net lyk of ek op my stoep wil sit en na die berge tuur, dan reël hy ’n ekskursie. Dan beplan ons ’n jaar of wat lank, óf in sy kroeg óf in myne, met ’n botteltjie of wat vir geselskap, aan die mees bisarre reise wat ons kan uitdink.
Nou, die woorde “bisar”, “gevaarlik” en “onlekker” is moerse belangrik. Dit moet so sleg klink dat ons vrouens geen behoefte sal hê om te wil saam nie. So sou ons dan Indië toe moet gaan om die berg Stok Kangri (6 200 m) in die Ladakh-provinsie te gaan klim. Die feit dat die Taj Mahal en Varanasi toevallig op die pad soontoe lê, is ’n bysaak.
Dis dan ook op hierdie reis dieselfde. Die doel van die besoek aan Ethiopië is om Ras Dasjen, die vierde hoogste berg in Afrika, te gaan beklim – maar eintlik om na die warmste plek op aarde waar mense nog ’n leefwyse uitkerf, te gaan. Ons kan nie help dat Ethiopië en al sy besienswaardighede ook by die soontoe-en-terug-reisplan ingesluit is nie.
Degarege Fente ontmoet ons laggend op die Bahir Dar-lughawe. Ek sien onmiddellik die ondeundheid. In die gewone lewe is hierdie mannetjie ’n ou kakmakertjie, dink ek.
Soos die flenter-vervoermiddel ons deur flenter-strate van die dorp karwei, spring Degarege elke dan en wan op om iets te beduie. Nét daar, ook miskien omdat die uitspraak beter op ons tong val, herdoop ons hom na “Steyntjie”.
Bahir Dar lê teen die Tanameer, die grootste meer in Ethiopië, met ’n oppervlakte van 3 673 vierkante kilometer, en dit is ook die oorsprong van die Blou Nyl. Uit ’n toeriste-oogpunt is daar twee belangrike besoekpunte. Aan die een kant Tis Abai (die Rook van die Nyl), volgens oorlewering een van Afrika se asemrowendste watervalle. Dan die eiland-abdye (kloosters) wat dateer uit die sestiende en sewentiende eeu.
By die Tana-hotel teenaan die meer hergroepeer ons. Ons sluk haastig ’n Dasjen-bier af en Steyntjie sê maar hier is nie tyd vir rus nie – die bussie wag om ons valle toe te vat, en daar gaat ons.
Nou, voor ek die leser gatvol maak as gevolg van “en toe het ons dít gedoen en toe het ons dát gedoen”, net die volgende:
Die valle was ’n moerse teleurstelling. Miskien oor óf die nuwe hidroëlektriese aanleg wat die water weg kanaliseer óf die tyd van die jaar. Maar die waterval is ’n vulletjie teen die Victoria, Epupa, Augrabies en selfs die keerwal daar in die Bergrivier in die Paarl. Wat wel uitgestaan het, om die waarheid te sê, so ook in die hele Bahir Dar, is die “faranji”-histerie. “Faranji” beteken “wit man” in Amhara, die spreektaal van die meeste Ethiopiërs. En waar jy kom, sal die kinders jou bestorm en letterlik skreeu: “You, you, give, give, faranji, faranji, sweets, sweets, give, give, money, money, fuck off!”
Bahir Dar het vir my egter vier besonderse momente opgelewer.
Moment een:
Ons is honger. In die ou dae het ek op reis deur Afrika my eie kos gekarwei, erg bang vir maagaandoenings wat ’n reis kan befonkfaai. Maar ek’t lankal geleer as jy die mense regtig wil leer ken, dan eet jy hulle kos. Daar is niks wat ’n goeie dosis Valoids en ook ’n klap of wat Imodium nie kan regruk nie.
Steyntjie neem ons na die Inketatasj Restaurant en jou wrintie, die plek behoort aan Sofia (Roland se medepassasier) en Gigi-die-sangsensasie se pa, en wragtig, hulle weet van ons. Roland het seker “uitgepraat”. Onmiddellik word Gigi se CD opgesit.
“What do you want to eat?” vra die pa.
“Anything traditional, but please tell us about Gigi,” laat ons hoor.
“Gigi is one of the most successful contemporary Ethiopian singers worldwide. She lives in San Francisco.” En op die speler sweef mooie musiek na ons.
“The song is called ‘Guramayle’, meaning ‘God grew tired of us’.”
En ek weet nie hoekom nie, maar skielik dink ek aan Anna Davel, seker my gunsteling Afrikaanse sangeres daar in ons suiderland.
“Tell us about Sofia, who we met on the plane.”
“Sofia’s name is traditionally ‘Tigist Shibabaw’ – my name being Shibabaw. I’ve got ten children. Sofia followed her sister in also trying to be a world-famous singer. But it isn’t working for her. So my house will always be open if she wants to come back permanently. You’ve just missed her. She is visiting friends.”
“It’s time for injera, Ethiopian traditional dish!” val meneer Shibabaw homself in die rede en verdwyn na agter. En toe bring hulle die borde …
Injera is pannekoekagtige, suur, plat baksels wat lyk soos rubber. Dis die kleur van vuilgrys skottelgoedwater (Kalie se vergelyking) en is nie baie aptytwekkend nie. Dit word gemaak van tef en het min tot geen voedingswaarde. Die tef-deeg word gefermenteer tot drie dae voor dit gebak word, vandaar die rubberagtigheid en suur smaak. Injera is die basis van die ete, soos rys vir die Chinese en Japannese en pap vir ons mense is. Dit word óf plat in ’n groot bord óf in opgerolde toiletrolgroottes opgedien saam met verskeie bakkies smirrie – meestal ’n vleis- of hoenderbredie en sterk gegeurde souse. En met die regterhand (onthou, jy is veronderstel om volgens daardie kultuur jou linkerhand vir ander goete te gebruik) vou jy stukke injera om die bredies en souse en eet dat die sop so spat.
En terwyl ons wegval, speel Pappa Shibabaw ’n liedjie van Tigist (Sofia) Shibabaw en dis vir my baie mooier as “one of the most successful contemporary Ethiopian singers worldwide” s’n.
(Nota: Die liedjie se naam was “Home”. In 2008 kom Tigist terug na Bahir Dar op ’n