Sean se voete raak die modderbodem en dan is hulle onder die lendelam brug soos kuikens onder ’n hen se vlerk. Hy laat die tak wegdryf en sleep vir Saul tussen die metaalpilare na die wal toe.
“Ons rus vyf minute,” sê hy en hurk langs Saul om die verband wat nou oor sy makker se ore sak weer styf te bind. Modderige water stroom uit hulle deurweekte uniforms, en Sean weet die rookgoed in sy hempsak is daarmee heen.
Hulle kies koers met ’n dreineringsloot langs wat langs die spoorlyn se hoë wal loop. Sean loop gebukkend daarin en por Saul voor hom aan, skree elke keer vir hom as hy sy krom rug wil verligting gee deur orent te kom. Eenkeer laat ’n skerpskutter op die koppies agter hulle ’n koeël in die gruis langs Sean se kop vasslaan, en Sean vloek en loop dat sy neus amper teen sy knieë stamp. Maar Saul kom dit nie agter nie. Met wankelende bene strompel hy voort, totdat hy uiteindelik val en in ’n patetiese bondel onder in die sloot lê.
Sean skop hom. “Staan op, magtig!”
“Nee, Ruth. Moenie my nou al wakker maak nie, dis Sondag. Ek hoef nie vandag te werk nie.” Hy praat duidelik, oortuigend. Saul kyk op na Sean, maar sy oë is vaal en die pupille is in stippels getrek.
“Staan op! Staan op!” Die gebruik van Ruth se naam maak Sean woedend. Hy gryp Saul se skouer en skud hom. Saul se kop ruk woes en vars bloed sypel deur die verband. Meteens is Sean jammer, en lê hom saggies neer.
“Saul, asseblief. Jy moet probeer. Nog net ’n klein entjie.”
“Glansloos,” fluister Saul. “Daar is g’n glans aan nie. Ek wil dit nie hê nie.” En hy maak sy oë toe, sy lippe pruil oop en sy asem blaas met klein borreltjies spoeg daardeur.
Smorende paniek daal oor Sean neer toe hy na Saul se gesig kyk. Sy oë het in donker pruimkleurige kaste teruggesak, en die vel span styf oor sy wange en benerige neus.
Nie omdat ek hom amper doodgemaak het nie, nie omdat ek hom dit skuld nie. Maar omdat … omdat … Hoe definieer jy jou gevoelens teenoor ’n ander man? Al wat jy kan sê is: omdat hy my vriend is. Omdat hy my vriend is, kan ek hom nie hier los nie.
Sean sak langs hom neer en kry die slap liggaam in ’n sittende posisie, haak Saul se een arm oor sy skouer en staan op. Saul hang langs hom, sy kop rol vorentoe op sy bors. Voor hulle kan Sean die oorlewendes van die geveg by die brug terug na die dorp toe sien sukkel terwyl hulle die gewondes saamsleep.
Oor die ganse wydte van die vlakte, alleen of in twees en dries, val Buller se magtige leër verslane, gebroke terug met skrapnel wat hulle jaag. En daar, skaars ’n honderd jaarts van waar Sean in die sloot langs die spoorlyn buk, netjies op die gras opgestel, staan die kanonne verlate en verlore.
Vinnig wend Sean sy oë af en ploeter voort, weg van die rivier af. Oor sy skouer hou hy Saul se gewrig, sy los arm is om Saul se middel gehaak.
Dan raak hy stadig daarvan bewus dat die Boere se vuur weer toeneem. Kanonskote wat rond en bont tussen die vlugtendes geval het, begin konsentreer op ’n area reg voor Sean. Agter hom begin die geweervuur wat met horte en stote vanaf die hoogtes kom het, aanswel tot ’n geweldige, aaneenlopende geknetter soos ’n veldbrand in ’n groen woud.
Terwyl hy teen die sloot se wal leun, kyk Sean vorentoe deur die mimosabome en die storm van stof en ontploffings. Hy sien perde, twee ingespanne spanne, en manne by hulle wat tussen die doringbome deur jaag, bleek stof opskop wat met die ontploffings se stofslae meng. Ver voor hulle, met sy kierie wat in die lug swaai, galop ’n figuur op ’n groot vosperd; hy lei hulle na die verlate kanonne toe.
“Hy lag.” Verwonderd kyk Sean hoe die voorste ruiter agter ’n kolom van stof en plofstof verdwyn, net om weer anderkant te verskyn, swenkend soos ’n polospeler. Sy mond is oop en Sean sien die glinstering van wit tande. “Die blikskottel lag so wragtig!”
En skielik juig Sean wild.
“Ry, kêrel, ry!” roep hy en sy stem raak weg te midde van die bombardement se fluite en knalle.
“Hulle het die kanonne kom haal,” juig Sean. “Saul, hulle het teruggekom vir die kanonne.” Sonder dat hy weet hoe hy dit regkry, buite homself van opwinding, bevind Sean hom uit die sloot uit, aan die hardloop met nuwe krag, ten spyte van Saul se bewustelose gewig wat aan sy skouer hang.
Teen die tyd dat hy by die battery kom, is die eerste span al daar. Die manne is op die grond, sukkel om die perde agtertoe te kry om kanon Nommer Een aan te haak. Sean laat gly die beweginglose lyf van sy skouer af en lê vir Saul op die gras neer. Twee van hulle probeer die kanon se haak optel, maar dis ’n taak vir vier man.
“Gee pad!” beveel Sean en gaan staan wydsbeen oor die lang, wigvormige staalpunt. Hy sluit sy hande om die handvatsels en beur boontoe, lig dit hoog van die grond af op.
“Kry die wiele.” Vinnig rol hulle die los as en wiele onder die haak in en sluit dit in posisie. Sean staan hygend agteruit.
“Welgedaan!” Die jong offisier leun vorentoe in die saal toe hy roep om Sean te bedank. “Klim op die wa.”
Maar Sean spring om en hardloop na Saul toe, tel hom op en strompel met hom na die wa toe.
“Vat hom!” bulder hy vir die twee soldate wat al bo-op sit. Tussen hulle sleep hulle vir Saul op die sitplek op.
“G’n plek vir jou nie, ou. Hoekom vat jy nie Taffy se plek daar op die regterkant nie?” roep een van hulle na hom toe, en Sean sien hy is reg. Die drywers klim op, maar een saal is leeg.
“Kyk na hom,” vermaan hy die man wat vir Saul vashou.
“Gaan maar, ek het hom,” verseker die kanonnier hom, en las dan dringend by: “Jy beter plek soek, ons vat nou die pad.”
“Kyk na hom,” herhaal Sean en begin loop.
Op daardie oomblik begeef die geluk hom nadat dit hom die hele oggend beskerm het. ’n Bom bars langs hom. Hy voel geen pyn nie, maar sy regterbeen gee pad onder hom en hy val op sy knieë.
Hy probeer opstaan, maar sy lyf wil nie saamwerk nie.
“Voorwaarts!” beveel die offisier, en die kanonwa rammel weg, tel spoed op, begin bokspring toe die drywers die perde piets. Sean sien hoe die kanonnier wat vir Saul vashou van die wa af terugkyk na hom toe, sy gesig vertrek van hulpeloosheid.
“Kyk na hom!” roep Sean. “Belowe my jy sal na hom kyk.”
Die kanonnier maak sy mond oop om te antwoord, maar nog ’n bom bars tussen hulle en skop ’n stofgordyn op wat die wa verberg. Hierdie keer voel Sean hoe die skrapnel in sy vlees in skeur. Dit brand soos ’n skeermeslem en hy syg kant toe. Soos hy val, sien hy die offisier is ook getref. Sean sien hoe hy sy arms wyd oopgooi en agtertoe oor sy perd se boude val, uit die saal uit rol, die grond met sy skouer tref, en een voet in die stiebeuel vashaak, sodat die perd hom oor die ruwe grond sleep totdat die stiebeuel se riem breek en hom daar laat lê. Sy perd galop weg agter die waggelende kanonwa aan.
Sean sleep sy lyf voort. “Kyk na hom,” roep hy. “Om vadersnaam, kyk na Saul.” Maar niemand hoor hom roep nie, want hulle is ver weg tussen die bome, weg in die stof met die kanonvuur wat hulle soos ’n spul bruin duiwels vergesel.
Steeds kruip Sean agter hulle aan, gebruik sy een hand om vorentoe te reik en in die grond te klou om sy lyf op sy maag langs deur die gras voort te sleep. Sy ander arm hang langs sy sy, en hy kan sy regterbeen agter hom voel aansleep totdat dit vashaak en hom terughou. Hy spook daarteen, maar sy toon het aan ’n pol growwe gras vasgehaak en hy kan dit nie losruk nie. Hy wikkel op sy sy en buig om, met sy gebreekte arm onder hom, om terug te kyk na die been toe.
Daar is baie bloed, ’n nat, glibberige sleepmerk oor die platgedrukte gras, en steeds wel dit uit sy lyf uit op. Maar daar is geen pyn nie, net ’n dronk gevoel en tamheid in sy kop.
Sy been knak teen ’n belaglike hoek