Hy gaan terug na waar Saul in die donker wag, en saam lê hulle en wag dat die dag breek.
15
Namate die donkerte kwyn, kan hulle al hoe verder sien. Die boonste deel van die brugstruktuur staan uit, ’n geometriese patroon teen die steil swart hoogtes daaragter. Dan begin Sean donker bosse teen ligter gras en klip uitmaak.
Die lig se koms verwring die afstand en laat die hoë terrein verder lyk, nie meer so dreigend nie. ’n Klompie reiers vlieg in ’n uitgestrekte formasie oor die rivierloop, hoog genoeg om die son te vang, en die voëls blink soos goud in ’n wêreld van skadu’s. ’n Briesie steek voordag op, en die geluid daarvan in die gras vervleg met die rivier se murmeling.
Dan tref die son die hoogtes, soos ’n seëning op die Boeremagte. Die mis in die klowe warrel onder die warm sonstrale, styg in die wind en raak dan weg.
Die sonlig se rand skuif laer af teen die hellings en die dag breek helder en skoon soos dou.
Deur sy verkyker bestudeer Sean die rantjies. Nie ver van hulle af nie is daar tekens van rook waar die Boeremagte oggendkoffie maak.
“Dink jy hulle sal ons sien?” vra Saul.
Sean skud sy kop sonder om sy verkyker te laat sak. Twee klein bossies en die dun skerm van gras wat hulle in die nag opgestel het, bied goeie skuiling.
“Is jy seker jy makeer niks?” vra Saul weer eens.
Die uitdrukking op Sean se gesig is een van pyn. “Maagkrampe,” grom hy, en dink: Laat dit gou begin, laat dit net asseblief begin. Die wag is die ergste.
Dan bewe die aarde onder sy bors, net ’n effense trilling, en Sean voel die verligting deur hom spoel. “Hier kom die kanonne,” sê hy en, met een van die bosse as skerm, staan hy op en kyk agtertoe.
In enkelgelid, met afgemete tussenposes, kom die kanonne aan. Hulle kom vinnig, nog klein in die verte, maar word al hoe groter terwyl die kanonniers op elke span se voorste perd hulle aanmoedig. Hulle kom so naby dat Sean die sweep-arms op en af sien beweeg. Hy hoor die waens se geroffel en gestamp, asook voorryers se veraf roep.
Sestien kanonne, honderd-en-vyftig perde om hulle te trek, en ’n honderd soldate om hulle te beman. Maar op die uitgestrekte vlakte voor Colenso lyk die kolonne klein en nietig. Sean kyk verby hulle en sien die voetsoldate aankom, ry op ry soos pale in ’n grensdraad, duisende van hulle wat oor die vlakte opruk. Sean voel die ou opwinding terugkeer. Hy weet die leër volg ’n lyn merkers wat hy en Saul vroeg gisternag gelê het, en dat hulle twee die brug eerste sal oorsteek – die eerste van al daardie derduisende.
Maar daar is tog iets nuuts omtrent die opwinding, iets anders as wat hy ooit tevore ervaar het. Dis skerper en skreiend, die rooi rissie van sy vrees gee dit byt. So kom Sean vir die eerste keer in sy lewe agter dat vrees ’n lekker gevoel kan wees.
Hy kyk hoe die patrone van mense en grofgeskut verander – soos speelstukke wat verwed word om gewen of verloor te word, afhangend van hoe die geluk hulle tref. Hy weet dat hy ook een van hierdie stukke is, en dit maak hom bang en vreemd opgewonde.
Die kanonne is nou naby. Hy kan die manne se geskreeude woorde uitmaak, hulle gelaatstrekke sien en selfs sy eie gevoelens in hulle gesigte herken.
Naby, miskien te naby. Ongemaklik kyk Sean terug na die dreigende hoogtes anderkant die rivier en skat die afstand. Omtrent tweeduisend jaarts, ’n langafstand-geweerskoot. En nog steeds kom die kanonne nader.
“Goeie hemel! Is hulle mal?” vra Sean hardop.
“Hulle moet nou begin skiet.” Saul sien ook die gevaar. “Hulle kan nie nog nader kom nie.”
En nog steeds kom die kanonne. Die geluid van hul opmars is soos donderweer; stof slaan traag van die dou-klam grond agter hulle op; perde se gesperde bekke skuim soos hulle teen die harnasse beur.
“Hulle is binne trefafstand. Hulle moet stop, hulle moet net!” kreun Sean.
Dan sprei die kolonne uiteindelik oop: een kanon links, die volgende regs, en so voort, alles nog op volle galop. Hulle draai dwars voor die Boeregewere wat wag.
“O, liewe donner!” vloek Sean ontsteld toe hy dit sien. “Hulle sal flenters geskiet word.”
Kanonniers staan op in die stiebeuels, leun terug om die waens deur te kyk. Die batterybevelvoerders spring van hulle perde af, laat die diere los galop terwyl hulle hardloop om die kanonne af te haak en op te stel.
Op hierdie kwesbare oomblik terwyl manne om die kanonne koek en met hulle spook om hulle op die hoogtes te rig; terwyl die perde nog histeries van opgewondenheid bokspring en runnik; voordat die groot koeëls nog afgelaai en langs hul kanonne gestapel kan word – op hierdie oomblik brand die Boeregewere almal gelyk los. Dis ’n geluid wat nie gewelddadig klink nie, nie soos oorlog nie; dis dof weens die afstand, kompleet soos ’n string klappers. Eers is daar geen effek nie. Die gras is dig genoeg om die koeëls se slae te verdoesel, die stof te swaar van dou om op te spat waar die skote tref.
Dan word ’n perd getref en val skoppend neer, trek dies langs hom ook plat op hulle knieë. Twee manne hardloop om die perd los te sny, maar een van hulle kom nooit daar uit nie. Hy gaan sit skielik plat op die gras met sy kop geboë. Nog twee perde val, ’n ander steier op sy agterpote en kap woes met een voorpoot terwyl die ander poot los rondswaai waar ’n koeël die been bokant die knie versplinter het.
“Gee pad!” bulder Sean. “Trek terug terwyl daar nog kans is.” Maar sy stem dra nie tot by die kanonniers nie, kan nie dra bo die geroep van manne en die gerunnik van gewonde perde nie.
Dan is daar ’n nuwe klank wat Sean eers nie kan eien nie, ’n geluid soos hael op ’n sinkdak, eers los en dan vinniger totdat dit soos ’n spul hamers klink wat saam in ’n ongelyke ritme timmer – en hy besef dis die geluid van koeëls wat die kanonne se metaal tref.
Hy sien: ’n Kanonnier wat vorentoe stort en die kanon se meganisme blokkeer, totdat hy weggesleep word; ’n laaier wat die koeël wat hy dra laat val en op wankelrige bene voortstrompel totdat hy val en stil lê; een van die perde wat losbreek en oor die vlakte weggalop met die verstrengelde oorblyfsels van ’n harnas wat agter hom aan sleep; en ’n groep wilde fisante wat saam uit die gras naby die kanonne opvlieg en met die rivier langs wegswenk om elders skuiling te vind.
En agter die kanonne kom die infanterie wat in netjiese rye opmars, houtgerus op pad na die klompie leë huisies wat Colenso is.
Dan, met ’n donderslag wat die aarde laat wip, gaan die kanonne oor tot aksie.
Sean fokus sy verkyker betyds op die rantjie om te sien hoedat die eerste bomme daar bars. Die bose bloeisels groengeel liddietdampe blom vlugtig in die sonlig, en dryf dan stadig weg op die wind.
Weer eens klap die kanonskote, en dan weer. Elke salvo is minder gelyk as die vorige, totdat dit ’n aanhoudende gestotter raak, ’n dawerende gedruis. Naderhand raak die rante se skerp buitelyne vaag van al die stof en liddietdampe.
Behendig stel Sean sy Leemetford se agterste visier op ’n duisend jaarts, kruip vorentoe op sy elmboë, kom in die skietposisie en begin blindelings in die rook teen die hellings in skiet. Langs hom skiet Saul ook.
Twee keer skiet Sean sy magasyn leeg voordat hy terugkyk na die kanonne toe. Die tempo waarteen hulle vuur, het afgeneem. Die meeste van die perde lê plat in die gras. Dooie mans hang oor die kanonwaens, langs hulle soek swaar gewondes skuiling. Waar ses man voorheen elke kanon beman het, is daar nou net drie of vier wat die koeëls aandra, laai en afvuur.
“Die drommels, die arme drommels,” prewel Sean en begin opnuut skiet, konsentreer heeltemal op die roetine van die grendel terugtrek, vorentoe stoot, mik in die rook, en skiet. Hy tel nie die skote nie en elke keer as die geweer leeg klik, voel hy na nog patrone in sy bandelier en herlaai. Hy begin sweet, voel die druppels onder sy arms loop. Sy ore suis van die geweerskote en pyn klop in sy skouer.
Mettertyd sak ’n gevoel van onwerklikheid oor hom neer, weens die oorverdowende