“Oukei, ons gaan al twee na die spookhuis toe …” begin Galpil.
“Maar nie saam nie,” val Apie hom in die rede.
“Natuurlik nie!” snou Galpil hom toe. “Saartjie kan eerste gaan. Sy glo mos nie aan spoke nie. En as sy daar was, sal ek ook gaan – net om te wys ek’s nie ’n bang perd nie!”
“Mooi so, Galpil,” sê Apie trots, en te oordeel aan die ander seuns se glimlaggende gesigte stem hulle duidelik saam.
“Daar’s niks wat ’n meisie kan doen wat ’n seun nie ook kan doen nie – net so goed en selfs nog beter,” mompel Gert, maar hy maak seker hy staan agter Galpil toe hy dit sê. Hy wil tog nie hê hulle moet hom uitdaag om by die spookhuis in te gaan nie.
“Wat sê jy?” vra Anna vir Saartjie wat skielik besonder stil is.
Saartjie sluk swaar. Sy voel effens skrikkerig. Wie weet … ten spyte van die feit dat party van die getuies volgens haar nie betroubaar is nie, is daar miskien wél ’n spook of selfs ’n páár spoke. En dis nie goed om mee te speel nie!
Galpil sien Saartjie huiwer en dit gee hom moed.
“Is jy bang?” vra hy en hou hom dapper. “Erken net jy’s bang, dan vergeet ons van die hele affêre!” Galpil hoop innig sy sal tog maar net so sê en klaarkry.
Saartjie byt op haar onderlip. Dan gooi sy haar kop agteroor en sê uitdagend: “Ek is nie bang nie! Ek sal soontoe gaan, maar ná ek daar was, gaan jy ook!”
“Mooi so, Saartjie,” sê Anna en Lina opgewonde.
“Dis reg, Saartjie. Wys die papbroeke!” kom Muggie se skril stemmetjie.
Die klomp begin dadelik reëlings tref vir wat hulle agter Anna aan “die groot kompetisie” noem.
Hulle gaan môre-aand agtuur almal hier by Lina-hulle se huis bymekaarkom. Dan sal Saartjie eers na die spookhuis toe stap en as sy, soos Apie sê “lewendig terugkom”, sal Galpil gaan. Saartjie moet iets soos ’n sakdoek in die spookhuis gaan neersit om te bewys sy was daar en dan moet Galpil dit gaan haal.
Die klomp is hoog in hul skik met die reëlings. Dis môre boonop Vrydag, so hulle sal die aand tot laat kan opbly.
Almal sien uit na hierdie kragmeting, behalwe Saartjie en Galpil. Hulle twee is maar taamlik stil …
2
Oom Tom en tannie Lottie
Die volgende dag versprei die nuus soos ’n veldbrand onder Lynnekom se kinders. Saartjie en Galpil het mekaar uitgedaag. Hulle gaan afsonderlik by die spookhuis in om die spook – of spoke! – te sien!
Saartjie voel glad nie gelukkig oor die affêre nie. Sê nou maar net daar is regtig ’n spook? Sy dink weer daaraan dat die mense wat almal die kastige gedaante gesien het, nie betroubare getuies is nie. Maar selfs hierdie gedagte troos haar nie nou veel nie.
Die middag ná skool is Saartjie stil in die bus. Lynnekom se kinders is almal besonder uitgelate en vol pret. Môre is mos Saterdag en daar is nie skool nie en vanaand gaan hulle almal kyk – natuurlik van ’n veilige afstand af – hoe Saartjie en Galpil by die spookhuis ingaan, eers sy en dan hy.
“Hoekom is jy so stil?” vra Lina toe die bus al naby Lynnekom is.
“Ek dink sommer,” antwoord Saartjie.
Anna en Lina kyk glimlaggend na mekaar. Hulle kan sien Saartjie is bekommerd. Anna begin weer saggies sing van die een spook wat vet is en die ander een wat maer is.
“Probeer jy snaaks wees?” vra Saartjie kil.
“Nee, hoekom?” Anna kyk verbaas na haar.
“Kan jy nie liewer iets anders sing nie?” vra Saartjie en voeg vies by: “Dis te sê as jy móét sing!”
Ja-nee, Saartjie is nie haarself nie. Sy is baie bekommerd. Sy byt effens op haar onderlip en vee met die agterkant van haar hand die weerbarstige krul van haar voorkop af weg. Sy wonder wat ’n spook met ’n mens maak as hy jou vang.
Dié middag is Saartjie alleen by die huis. Sy sit mismoedig by haar kamervenster en kyk uit na die spookhuis. Sy was nie eens lus om saam met Anna en Lina te gaan tennis speel nie. Sy het sommer net gesê sy voel nie “lekker” nie.
In Lynnekom gesels die kinders vanmiddag aanhoudend oor Saartjie en Galpil. Almal behalwe Saartjie en Galpil wens dit moet donker word. Hulle wil sien hoe eers Saartjie en dan Galpil na die spookhuis toe loop en wat gaan gebeur as die spook of hopelik ’n hele horde spoke hulle jaag!
“Maar,” soos Apie vir sy maats sê, “ons sal net vir Saartjie sien skree en hardloop, want as die spoke haar verwilder, sal Galpil mos nie ’n voet daar sit nie.”
“Daai spoke is gevaarlik, ouens,” sê Bennie en klink sommer bang. “Ek en ou Apie weet. Ons het hulle gesien!”
Apie knik sedig kop terwyl die punt van sy tongetjie deur die opening voor in sy mond speel. Hy stem duidelik volkome saam met Bennie: Daardie spoke is alles behalwe ’n grap.
Galpil sit mismoedig by die huis aan allerhande spookstories en dink. Hy wonder hoe gevaarlik is ’n spook. Hy is nie eers vanmiddag lus om by sy vriende te kuier nie.
“Ja-nee, ou perd, jou broek bewe,” sê hy hardop vir homself. Hy wonder of Saartjie ook skrikkerig voel.
In haar kamer sit Saartjie nog steeds droewig voor haar en uitstaar. Sy sug swaar en wonder of Galpil ook skrikkerig voel.
Saartjie kyk vir die soveelste keer peinsend deur haar venster na die ou plaaswoning. Die huis lyk rustig en stil daar tussen die hoë bloekombome.
Snaaks dat spoke net in die aand verskyn en nie in die dag nie nie, dink sy. En toe kry Saartjie skielik ’n blink gedagte. Ja, dis wat sy gaan doen! Dan hoef sy nie vanaand daar in die donker huis te loop en voel-voel nie. Sy sal weet hoe en waar om te loop, want sy sal die plek darem al ’n bietjie ken. Sy gaan vanmiddag – of sommer nou – na die spookhuis toe om die plek deur te kyk. So helder oordag is daar mos nog nie sprake van spoke nie!
Saartjie trek gou haar skoolklere uit. Sy trek ’n slenterbroek en ’n ligte toppie aan. Sy sit ’n bofbalpet skeef op haar kop en draf haastig by die huis uit.
Saartjie stap al met die agterstrate langs sodat niemand haar moet sien nie. Sy wil nie hê hulle moet weet sy gaan na die ou plaaswoning toe nie en sy is al moeg vir almal wat vandag oor en oor vir haar gevra het: “Is jy bang?”
Nou hardloop Saartjie deur die veld na die huis. Sy gaan staan in die skaduwee van die ou bloekombome en tuur aandagtig na die ou plek wat so rustig lyk. Dis of hier geen lewe is of nog nooit was nie.
Dit is stil. Saartjie hoor net die geskree van die sonbesies, en af en toe kraak een van die bome se takke. Verder is dit doodstil …
Die ou huis lyk vervalle en verwaarloos. Daar is nie meer ’n enkele heel venster oor nie en party van die deure swaai net aan een skarnier. Onkruid en allerhande soorte gras en rankplante groei teen die mure op. Die huis lyk verwaarloos in die middagson, maar nie gevaarlik nie, dink Saartjie. Iewers in die verte hoor sy ’n paar duiwe koer.
“Hier is glad nie ’n spook nie, wat nog te sê van ’n hele klomp?” sê Saartjie sag by haarself. “Apie en Bennie en daai ander spul en oom Izak wat ook kastig ’n gedaante hier gesien het, is nie betroubare getuies nie!”
Saartjie voel sommer baie beter. Die vreedsame toneel, die ou huis wat so rustig in die namiddagson lê en droom, die sonbesies wat sing en die duiwe wat so lustig koer, laat haar ontspan. ’n Spook sal tog nie in só ’n plek tuis voel nie!
Sy