Pruimtwak en skaduboksers. Danie Marais. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Danie Marais
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Языкознание
Год издания: 0
isbn: 9780624073284
Скачать книгу
uit die Eerste Wêreld eerder geïnteresseerd is in die stories van voorheen benadeelde Suid-Afrikaners; aanvaar dat daar nie ’n Oscarwenner-fliek of selfhelpboek van my lewe te maak is nie en ek eenvoudig myself sal moet jammer kry op maniere wat so min moontlik aanstoot gee.

      Ek aanvaar die Edgars-rekening, die Thank U-kaartbonuspunte, die egskeidings, berading, antidepressante, buitensporige regskoste, gemoedelike bring-en-braais, paaiemente, petrolprysverhogings en oproepe van gemagtigde finansiëlediensverskaffers. Ek aanvaar die onverwagste oomblikke van verblindende skoonheid en vreugde saam met al die klein bekommernisse wat my laat wakker lê in my sagte, warm bed. Ek aanvaar graag die plastiekglasie wyn wat die lugwaardin my met ’n vals glimlag bedien hier in die ekonomiese klas van die geskiedenis-Boeing.

      Ek aanvaar ek aanvaar ek aanvaar – ook dat ek nie op my louere kan rus nie. Daar’s nie ’n Middelklas Anoniem waar aanvaarders kan gaan aansluit nie. Dis nie ’n uitgemaakte saak soos alkoholisme nie maar ’n taai promosie / relegasie-wedstryd. Die driester-kaartehuishotel van middelklas is nie verniet nie en daar’s ’n wilde ekonomiese rukwind wat waai.

      Ek sal bleddie hard moet werk vir die voorreg om in hierdie prekêre posisie te loseer.

      SMILEY VIRUS EN ROEM IN DIE 21STE EEU

      Miley Cyrus pla my. Nie omdat ek haar sexy vind nie. Dis deels wat my verontrus. Is ek dan nou al so oud en koud dat die wilgerlatlyf van ’n twintigjarige pop wat haar absoluut perverse bes doen om my kop te laat draai, my effe naar laat voel? Nee, die grootste probleem is dat ek sukkel om Smiley Virus as popfenomeen te verstaan nes ek sukkel om die hede te begryp wat verblindend om ons dwarrel soos ’n digitale sneeustorm van virtuele projeksies.

      Hoekom Elvis, Mick Jagger, Michael Jackson, Madonna, Whitney Houston en Britney Spears heersers van die popwêreld was, is vir my duidelik. Hulle het almal ’n onmiskenbare mengsel van talent, subversiewe skoonheid en seksuele magnetisme uitgestraal. Selfs by Britney met haar (sekerlik geveinsde) onskuld was daar iets van die misterie van erotika. Sy kon darem ook regtig dans. En sy’t regtig haar varkies verloor op maniere wat die waansin van roem en ons celebrity-kultuur tragies verpersoonlik het.

      Soos Tony Hoagland dit in sy gedig “Poor Britney Spears” gestel het:

      First we made her into an object of desire,

      then into an object of contempt,

      now we want to nominate her into an object of compassion?

      Are you sure you know what the hell we’re doing?

      Maar by Miley, voorheen Disney se Hanna Yawntana, kry ’n mens die indruk dat dit nie regtig om popkuns of die liggaamlike gaan nie. Haar pogings om aandag te trek – of dit nou die twerking-gedoente by die 2013 MTV-toekennings is, haar naaktheid in haar “Wrecking Ball”-video of die kinderagtige aansteek van ’n zol by die European Music Awards in Amsterdam – is so deursigtig en leeg dat dit ’n enigmatiese spieëlbeeld van ons onverklaarbaar oppervlakkige werklikheidstelevisie-gedrewe 21ste-eeuse popkultuur is.

      Die Ierse sangeres Sinead O’Connor het Miley moederlik in ’n ope brief gewaarsku om haar nie deur die musiekbedryf te laat prostitueer nie. Maar ek wonder of Miley op slagofferstatus kan aanspraak maak. Haar kaal geswaai op daai slopingsbal en haar kastig wellustige lek van ’n tienpondhamer in die “Wrecking Ball”-video lyk eerder na iemand wat die inherente prostitusie van die musiekbedryf uitbuit so al wat sy kan. Miley wys hoe dun en dikwels vloeibaar die grense geword het tussen die werklike en die virtueel kunsmatige, die oorsake en die gevolge van roem, asook die lyne tussen bekendheid, anonimiteit en berugtheid.

      ’n Rolprent wat dit skrikwekkend illustreer, is Sofia Coppola se The Bling Ring. Coppola het haar draaiboek gegrond op Nancy Jo Sales se Vanity Fair-artikel oor ’n klomp hopeloos welgestelde adolessente in Los Angeles wat tussen 2008 en 2009 in rooftogte op die huise van Hollywood-beroemdhede soos Paris Hilton, Orlando Bloom en Lindsay Lohan meer as $3 miljoen se juwele, klere, Rolex-horlosies en ander bykomstighede gesteel het voor hulle vasgetrek is. En dít om geen ander rede nie as om in roem se vere te pronk en te poseer vir selfies wat dadelik op Facebook afgewys kan word. Die “karakters” is dan ook kwalik meer as kapstokke en klerehangers. Dit gaan nie oor gierigheid, wellus of rebellie teen ’n stelsel nie. Hulle is so volslae narcisties dat hulle in niemand of niks behalwe hulself of hul eie selfportrette of projeksies geïnteresseerd is nie.

      David Denby het dit in The New Yorker mooi opgesom: “The Bling Ring may be the most exquisitely crafted movie ever made about a bunch of nitwits.”

      Maar dis nie net die verdorwe, bedorwe jong brokkies wat ’n mens in dié fliek verstom nie. Dis ook die hoeveelheid duur twak wat beroemdes skynbaar nie anders kan as om op te gaar nie. Dit gaan oor verveelde ryk niemande wat niks nodig het nie, wat peperduur bling steel by stinkryk sterre wat te veel van alles het.

      Paris Hilton kom nie eers agter dat iets weg is nadat die kieskeurige stropers ’n paar keer by haar kom inpak het nie. Die Paris Hilton-tonele is boonop werklik in haar huis verfilm. Die berugte Hilton-erfgenaam het dus nie omgegee om haar obseen weelderige huis te vertoon in ’n fliek wat ’n aanklag is teen alles waarvoor sy staan nie. Solank dit net vertoon word in soveel as moontlik bioskope.

      The Bling Ring kyk na jou met die dooie diamant-oë van die vulgêrste kapitalisme en die naakste narcisme. Dis ver anderkant nihilisme verby en tog staar jy na die skerm soos iemand wat ’n nare ongeluk voor hom sien gebeur.

      Om te dink jy kan aanlyn saamleef in die 21ste eeu en ’n objektiewe kommentator bly, is dalk om soos ’n mal professor te glo jy kan jou met DNS-skommelende middels inspuit en nugter die gevolge op jou eie bewussyn analiseer. Dís hoekom Miley my pla. Al haar toertjies is nie veronderstel om my regtig te skok of te prikkel nie, maar om my aandag te trek. En daarin het sy helaas geslaag.

      Ek is een van die meer as 700 miljoen agies wat na die “Wrecking Ball”-video op YouTube gaan kyk het. Ek het boonop pas ’n rubriek op haar gemors en die begaafde Sofia Coppola het dit selfs nodig gevind om ’n skitterende fliek te wy aan verveelde, ryk en mediadronk telgies nes sy. Ons behoort ons te skaam.

      HOOR MY BRUL

      As jy verstom saam met Shakespeare se Hamlet wil uitroep: “What a piece of work is man!” hoef jy nie verder as ons popkultuur te soek nie. Dis alles dáár in die lirieke van ons grootste poptreffers.

      “Wat sê hulle nou, Pappa?” is waarskynlik die vraag wat ek vanjaar die meeste moes beantwoord, want Lea, my dogtertjie van vyf, het ernstig begin belangstel in sekere liedjies. “The Eye of the Tiger” van Survivor was een van die lirieke wat ek moes uitlê nadat dit in Turbo – die animasieprent oor ’n onwaarskynlike ren-slakkie – gebruik is en sy dit gereeld in die motor begin versoek het.

      “As jy wil wen, moet jy ’n oog soos ’n tier hê,” het ek probeer verduidelik.

      Lea het daaroor gedink en met ’n ernstige frons gesê: “Maar ’n mens kan nie ’n oog soos ’n tier hê nie.” Toe haar maatjie Sam egter ’n volgende keer saamry en Survivor weer Rocky se temalied deur die luidsprekers jaag, het sy vir hom skoolmeesterlik my verduideliking van die refrein herhaal.

      En toe tref Katy Perry se “Roar” haar. Op YouTube kyk sy oor en oor die video van Katy wat in haar Sheena-koningin-van-die-oerwoud-pakkie al wat ’n man en wilde dier is wegbrul. Die lirieke sing sy woord vir woord uit volle bors saam en natuurlik veral die refrein:

      I got the eye of the tiger, a fighter, dancing through the fire

      ’Cause I am a champion and you’re gonna hear me roar

      “Ek is ’n tier, Pappa” verklaar sy wanneer ek geamuseerd met haar in die truspieëltjie oogkontak maak. En dan dink ek aan ons wilde wêreld en die dapper muis op die agtersitplek in haar Hello Kitty-hemp en ek reken Anton Tsjechof was, soos gewoonlik, reg: “Selfs in Siberië is daar geluk.” Hy was ook reg toe hy in “Across Siberia” opgemerk het: “In Siberië brul nie net die bere nie, maar mossies en muise ook. ‘Die kat het hom gevang en hy brul,’ sê hulle van ’n muis.”

      “Roar”