Infanta. Deon Meyer. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Deon Meyer
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Ужасы и Мистика
Год издания: 0
isbn: 9780798169509
Скачать книгу

      “Eliminasie en ontvlugting?”

      “Ja.”

      “En by die vulstasie sê jy, en ek haal aan: ‘Ek het agter die petrolpomp weggekoes,’ toe jy die skote hoor?”

      “Die oorlog is tien jaar gelede verby. Ek was nie daar om te veg nie, ek was daar om petrol …”

      “Die oorlog was nie vir jou tien jaar gelede verby nie, meneer Mpayipheli. Jy het die oorlog Kaapse Vlakte toe geneem met jou opleiding van doodmaak en seermaak. Kom ons praat oor jou rol as lyfwag …”

      Die staatsadvokaat se stem is hoog, kermend. “Edelagbare, ek maak ten sterkste beswaar …”

      Op daardie oomblik sien hy die gesigte van die beskuldigdes, met hul monde wat vir hom lag.

      “Beswaar toegestaan. Meneer Singh, dit is genoeg. Jy het jou punt gemaak. Het jy nog spesifieke vrae oor die gebeure by die vulstasie?”

      Singh se skouers sak, asof gewond. “Soos dit die hof behaag, edelagbare, ek het.”

      “Nou vra hulle, en kry klaar.”

      “Meneer Mpayipheli, het jy vergeet dat dit jy was wat op die beskuldigdes afgestorm het toe hulle die vulstasiegebou verlaat het?”

      “Ek het nie.”

      “Het nie vergeet nie?”

      “Edelagbare, die verdediging …”

      “Meneer Singh!”

      “Edelagbare, die beskul … verskoon my, die getuie ontwyk die vraag.”

      “Nee, meneer Singh, jy lei die getuie.”

      “Nou goed. Meneer Mpayipheli, sê jy … jy het nie die beskuldigdes op ’n dreigende manier bestorm nie?”

      “Dit is wat ek sê.”

      “Jy het nie ’n voorwerp in jou hande gehou wat hulle as ’n wapen kon beskou nie?”

      “Ek het nie.”

      “Nie ’n wielsleutel of ’n stuk gereedskap …”

      “Ek maak beswaar, edelagbare, die getuie het reeds die vraag beantwoord.”

      “Meneer Singh …”

      “Ek het geen verdere vrae aan hierdie leuenaar nie, edelagbare …”

      4

      “Ek dink hy het geglo hy kan dinge regmaak. Enigiets,” sê sy in die skemerte van die vertrek. Die son het agter die rante van die dorp weggetrek en die lig wat nou by die venster inkom, is sagter op hulle. Dit maak die vertel makliker, dink sy en wonder waarom.

      “Dit is die ding wat ek die meeste bewonder het. Dat iemand kan opstaan en iets doen waarvoor die meeste van ons ander te bang is, al wíl ons dit ook doen. Ek het nooit die guts gehad nie. Ek was te bang om terug te baklei. En toe lees ek van hom, in die koerante, en ek het begin wonder: Miskien kan ek ook …”

      Sy talm vir ’n oomblik en vra dan, met ingehoue asem: “Weet jy van Artemis, dominee?”

      Hy reageer nie dadelik nie, sit steeds net so, vooroor, vasgevang in die storie wat sy vertel. Dan knip hy sy oë, verskuif sy aandag.

      “Artemis? Ja …” sê hy onseker.

      “Die een waaroor die koerante geskryf het.”

      “Die koerante …” Asof hy verleë is. “Dit gaan soms by my verby. Elke week iets anders. Ek hou nie tred nie.”

      Sy is verlig daaroor. Dit is asof daar ’n klein verskuiwing in hul rolle is – hy die afgesonderde kleindorpie-predikant, sy die wêreldwyse een, die een met die inligting. Sy trek haar voet uit die sandaal en vou dit onder haar in, skuif haar gemakliker in die stoel. “Ek sal jou vertel,” sê sy met groter selfvertroue.

      Hy knik.

      “Ek was in die moeilikheid toe ek die eerste keer van hom gelees het. Ek was in die Kaap. Ek was …” Vir ’n oomblik huiwer sy en wonder of dit hom sal ontstel. “Ek was ’n call girl.”

      * * *

      Teen halftwaalf die nag lê hy nog wakker op die hotelbed wanneer iemand aan sy deur kom klop, apologeties sag.

      Dit is die staatsadvokaat, haar oë groot agter die bril.

      “Ek is jammer,” sê sy, maar sy lyk net moeg.

      “Kom in.”

      Sy huiwer ’n oomblik en hy sien waarom: Hy het net die kortbroek aan, sy lyf blink van die sweet. Hy draai om en trek ’n T-hemp nader, beduie vir haar om op die enkele leunstoel te sit. Hy neem op die punt van die bed plaas.

      Sy skuif kuis reg op die stoel, haar hande vou die materiaal van haar donker rok oor haar plomp bene. Sy het ’n amptelikheid aan haar, asof sy iets gewigtigs moet kom bespreek.

      “Wat het vandag in die hof gebeur?” vra hy.

      Sy haal haar skouers op.

      “Hy wou vir my die skuld gee. Die Indiër.”

      “Hy het sy werk gedoen. Dit is al.”

      “Sy werk?”

      “Hy moet hulle verdedig.”

      “Met leuens?”

      “In die reg is daar nie leuens nie, meneer Mpayipheli. Net verskillende weergawes van die waarheid.”

      Hy skud sy kop. “Daar is net één waarheid.”

      “Dink jy so? En watter één waarheid is daar oor jou? Dat jy ’n boer is? ’n Pa? Of dat jy ’n bomplanter was? Of ’n dwelmhandelaar? Of ’n voortvlugtige van die staat?”

      “Dit het niks te doen met Pakamile se dood nie,” sê hy, die kwaad wat in sy stem insluip.

      “Die oomblik toe Singh dit in die hof geopper het, het dit deel geword van sy dood, meneer Mpayipheli.”

      Die woede spoel oor hom, die herkou van die dag, die frustrasie: “Dis net meneer, meneer, die ene hoflikheid en beswaar aanteken en regspeletjies speel … En daardie twee sit daar en lag.”

      “Dit is waarom ek hier is,” sê sy. “Om vir jou te kom sê: Hulle het ontsnap.”

      Hy weet nie hoe lank hy net so sit nie, starend na haar.

      “Een van hulle het ’n polisieman oorweldig. In die selle, toe hy kos gebring het. Hy het ’n wapen gehad, ’n mes.”

      “Oorweldig,” sê hy asof hy aan die woord proe.

      “Die polisie … Daar is ’n tekort aan mense. Almal het nie opgedaag vir die skof nie.”

      “Hulle het al twee ontsnap.”

      “Daar’s padblokkades. Die bevelvoerder sê hulle sal nie ver kom nie.”

      Die woede in hom kry ’n ander gesig wat hy nie vir haar wil wys nie. “Waarheen kan hulle gaan?”

      Sy haal weer haar skouers op, asof sy nie omgee nie. “Wie sal weet?”

      Toe hy nie reageer nie, skuif sy vorentoe op die stoel. “Ek wou jou net kom sê. Jy het die reg om te weet.”

      Sy staan op. Hy wag dat sy verbykom, loop agter haar deur toe.

      * * *

      Daar is ongeloof op die predikant se gesig. Hy het sy groot lyf teruggeskuif en sy kop skeef gedraai, asof hy wag dat sy die stelling moet kwalifiseer, of die laaste sin van ’n grap moet voltooi.

      “Jy glo my nie.”

      “Ek vind dit … onwaarskynlik.”

      Sy voel ’n emosie iewers. Dankbaarheid? Verligting? Sy wil dit nie wys nie, maar haar stem verraai haar. “My werksnaam