Hulle het gepraat oor die beeste wat gekoop moet word, ’n melkkoei of twee, ’n paar hoenders (“… en ’n hond, Tobela, asseblief, ’n groot ou hond”). ’n Groentetuin by die agterdeur. ’n Lappie lusern teen die rivierwal af. Hulle het daardie aand hul drome gedroom tot Pakamile teen sy skouer aan die slaap geraak het en hy die kind sag op die beddegoed op die vloer neergelê het. Hy het hom teen die voorkop gesoen en gesê: “Nag, my seun.”
Pakamile was nie van sy bloed nie. Die seun van die vrou wat hy liefgehad het, en só het die kind sy bloed geword. Hy het van vroeg af die kind liefgekry soos sy eie en in die maande nadat hulle hier ingetrek het, moes hy die lang proses begin om dit amptelik te maak: briewe skryf, vorms invul en onderhoude voer. Burokrate wat langsaam en met eienaardige agendas moes besluit of hy bevoeg is om ’n ouer te wees terwyl die wêreld kon sien dat die band tussen hulle onbreekbaar sterk geword het. Maar eindelik, ná veertien maande, het die geregistreerde dokumente gekom waarmee die staat, in die omslagtige, lomp taal van die amptenary, sy seël op die aanneming geplaas het.
En nou is die velle geelwit papier in sy hande al wat hy oorhet. Dit en ’n hopie nuwe grond onder die peperbome by die rivier en die predikant se woorde, troostend bedoel: “God het ’n doel met alles.”
Here, hy mis die kind.
Daar is ’n onvermoë om te aanvaar dat hy nie weer die kwetterlag gaan hoor nie. Of die voetstappe in die gang af. Nooit stadig nie, altyd haastig, asof die lewe te kort is vir looppas. Of die uitroep van sy naam van die voordeur af, die seun se stem gelaai met opgewondenheid oor ’n nuwe ontdekking. Dat hy nie weer Pakamile se arms om hom gaan voel nie. Bowenal dít – die aanraking, die absolute aanvaarding, die onvoorwaardelike liefde.
Dit is sý skuld.
Daar was nie ’n uur van die dag of nag wat hy nie weer met die fynkam van selfverwyt deur die gebeure by die vulstasie gegaan het nie. Hy moes besef het, toe hy die leë Polo daar sien luier het. Hy moes vinniger gereageer het toe hy die skoot hoor, hy moes homself oor die kind gewerp het, hy moes ’n skans gewees het, hy moes die koeël gevat het. Hy moes. Dis sý skuld.
Die verlies is ’n swaar klip in hom, ’n ondraaglike gewig. Hoe sal hy nou maak? Hoe sal hy leef? Hy kan nie eens môre sien nie, nie die sin of die moontlikheid nie. Die telefoon in die voorkamer lui, maar hy wil nie opstaan nie – hy wil hier by Pakamile se goed bly sit.
Hy beweeg traag, voel die emosie wat teen hom druk. Waarom kan hy nie huil nie? Die telefoon lui. Waarom kan die rou nie uit hom breek nie?
Dan staan hy, onverklaarbaar, met die instrument in sy hand en die stem sê: “Meneer Mpayipheli?” en hy sê: “Ja.”
“Ons het hulle, meneer Mpayipheli. Ons het hulle gevang. Ons wil hê jy moet hulle kom uitken.”
Later sluit hy die kluis oop en plaas die dokument sorgvuldig in die heel boonste gleuf. Dan reik hy na die vuurwapens, drie van hulle. Pakamile se windbuks, die .22 en die jaggeweer. Hy haal die langste een uit en stap kombuis toe.
Terwyl hy dit met sorg, met metodiese konsentrasie, skoonmaak, is daar die stadige besef dat die skuld en verlies nie meer ál is wat in hom lê nie.
* * *
“Ek wonder of hy geglo het,” sê sy, die predikant se volle aandag nou by haar. Sy oë dwaal nie meer na die boks nie.
“Anders as ek.” Die verwysing na haarself is onbepland en sy wonder vir ’n oomblik waarom sy dit gesê het. “Miskien het hy nie kerk toe gegaan of so nie, maar hy hét dalk geglo. En dalk kon hy nie verstaan waarom die Here vir hom gee en dan weer vat nie. Eers met sy vrou, en toe weer met die kind op die plaas. Hy het gedink hy word gestraf. Ek wonder hoekom dit is? Dat ons almal só dink as iets slegs gebeur? Ek ook. Dis weird. Ek kon nog net nooit uitwerk waarvoor ek gestraf word nie.”
“As ongelowige?” vra die dominee.
Sy haal haar kaal skouers op. “Ja. Dit is net so. Dit is asof die skuld hier binne-in is. Ek wonder partykeer of ons gestraf word vir die dinge wat ons nog gaan doen, in die toekoms. Want my sonde het eers later gekom, nadat ek die straf gekry het.”
Die predikant skud sy kop en trek sy asem in om te antwoord, maar sy wil nie nou te ver afdwaal nie. Sy wil nie die ritme van haar vertelling verbreek nie.
* * *
Hulle is buite sy bereik. Daar is agt mans agter die eenrigtingglas, maar hy sien net die twee vir wie sy haat brand. Hulle is jonk en argeloos, die monde in identiese traak-my-nie-grynslagte, die oë wat uitdagend na die venster staar. Vir ’n oomblik meet hy die moontlikheid om te sê hy herken niemand nie en dan buite die polisiestasie met die jaggeweer te wag. Maar hy het nie voorberei nie, hy het nie uitgange en strate bestudeer nie. Hy lig sy vinger soos ’n loop en sê vir die superintendent: “Daar is hulle, nommer drie en vyf.” Hy herken sy eie stem nie, dit is die woorde van ’n vreemdeling.
“Is jy seker?”
“Doodseker,” sê hy.
“Drie en vyf?”
“Drie en vyf.”
“Dit is hoe ons dit ook het.”
Hulle vra hom om ’n verklaring te teken. En dan is daar niks meer vir hom om te doen nie. Hy loop na die bakkie, sluit dit oop en klim in, bewus van die geweer agter die sitplek en die twee daar binne iewers. Hy sit en hy wonder wat die superintendent sal doen as hy vra vir net ’n paar oomblikke alleen met hulle, want hy voel die verlange van sy hande om ’n lang lem tot in hul harte te stamp. Sy oë talm lank op die voordeur van die polisiestasie en dan draai hy die sleutel en ry traag in die straat af.
3
Die staatsaanklaer is ’n Xhosa-vrou en haar kantoor is gevul met die geelwit dossiere van haar dagtaak. Dit staan oral. Die lessenaar is oorvol en die stapels het oorgevloei na die twee tafels en die vloer, sodat hulle hul pad versigtig moet kies om by die twee stoele uit te kom. Sy het ’n erns aan haar en ’n gemete afwesigheid, asof haar gedagtes tussen die tallose dokumente versprei is. Asof die verantwoordelikheid van haar werk soms te veel is om te dra.
Sy verduidelik. Sy is die een wat die Staat se saak moet lei. Sy moet hom voorberei as getuie. Saam moet hulle aan die regter bewys dat die verdagtes skuldig is.
Dit sal maklik wees, sê hy.
Dit is nooit maklik nie, antwoord sy en skuif die groot goueraambril met die punte van duim en voorvinger weer reg, asof dit nooit heeltemal gemaklik sit nie.
Sy vra hom uit oor die dag van Pakamile se dood. Oor en oor, tot sy die gebeure deur sy oë kan sien. Wanneer hulle klaar is, vra hy vir haar hoe die regter hulle gaan straf.
“As hulle skuldig bevind word?”
“Wanneer hulle skuldig bevind word,” antwoord hy met sekerheid.
Sy skuif aan haar bril en sê ’n mens kan nooit voorspel nie. Die een, Khoza, het ’n vorige veroordeling. Dit is die ander een, Ramphele, se eerste oortreding. En hy moet onthou, dit was nie hulle opset om die kind dood te maak nie.
“Nie hul opset nie?”
“Hulle sal getuig dat hulle nie eens die kind gesien het nie. Net vir jou.”
“Watter straf gaan hulle kry?”
“Tien jaar. Vyftien? Ek kan nie met sekerheid sê nie.”
Vir ’n lang ruk staar hy net na haar.
“Dit is die stelsel,” sê sy met ’n verontskuldigende ophaal van haar skouers.
* * *
’n Dag voor die hofsaak begin, ry hy met die bakkie Mthatha toe, want hy moet ’n paar dasse, ’n baadjie, wit hemde en swart skoene gaan koop.
Hy staan met nuwe klere aan voor die lang spieël. Die winkelassistent sê: “Dit lyk smart,” maar hy ken nie die een