“Julle het seker al gehoor,” sê Joubert en ’n reaksie wel op uit die gehoor. “Sê vir hulle, Bushy.” Daar is ’n sekere behaaglikheid in sy stem en Griessel snap die stemming, weet iets gaan aan.
Bezuidenhout staan op teen die oorkantste muur en Griessel probeer op hom fokus, sy oë wat flikker, knip-knip-knip-knip. Hy hoor Bushy se rasperstem: “Enver Davids is laas nag in Kraaifontein doodgesteek.”
Daar spoel ’n blymoedige oproer deur die paradekamer. Griessel verstaan dit nie. Wie is Davids?
Bezuidenhout sê: “… met ’n mes,” en hulle lag en dit dreun deur Griessel, die mislikheid wat in hom groei. Here, hy is siek, hondsiek.
“Sy pêlle sê hulle het gisteraand by ’n sjebien in Khayelitsha gaan suip en omtrent eenuur aangekom by die huis in Kraaifontein waar hulle gaan slaap het. Vanoggend, net ná vyf, het iemand aan die deur kom klop en gesê daar lê ’n man dood in die pad.”
* * *
Griessel weet hy gaan die geluid hoor.
“Niemand het iets gehoor of gesien gebeur nie,” sê inspekteur Bushy Bezuidenhout. “Dit lyk of daar ’n mesgeveg was. Davids het snywonde aan sy hande en een teen die nek, maar die noodlottige wond, lyk dit in dié stadium, is ’n steekwond deur die hart.”
Griessel sien Davids agteroor val, die mond oopgesper, die stopsels in die tande roesbruin, die gil, eers dik soos molasse, ’n tong wat stadig uitskiet, en die gil wat dun word, dunner as bloed. En dit kom na hóm toe.
“Hulle moes sy ballas afgesny het,” sê Vaughn Cupido.
Die poliesmanne lag en dit laat die geluid versnel, die lang, rooi sliert, skroeiend deur die eter. Griessel ruk sy kop weg, maar die klank vind hom, ’n doelgerigte demoon wat teen sy gehoorkanaal af vlam tot dit in sy kop ontbrand.
Dan kots hy, droog en rukkend en hy hoor die gelag en hy hoor iemand wat sy naam sê. Joubert? “Bennie, is jy orraait? Bennie?” Maar hy is nié fokken orraait nie, die geluid is in sy kop, dit sal nie weer uit nie.
* * *
Hy ry eers na die hotelkamertjie in Parow, Davids se bloed op sy arms en klere. Boss Man Madikiza se woorde is in sy kop: Hy’t Aids in die tronk gekry by ’n wyfie.
Hy was sy lyf met groot konsentrasie, skrop dit met seep en water, was sy klere daarna in die bad, trek skoon aan en loop uit na die bakkie toe.
Dit is ná vyf toe hy weer buite kom – die ooste begin verkleur. Hy vat die N1 en dan die N7 en die Table View-afrit, langs die rokende, brandende raffinadery verby waar ’n duisend ligte nog skyn. Minibus-taxi’s is reeds bedrywig. Hy ry tot by Blouberg, en dink aan niks. By die see klim hy uit. Die oggend is wolkloos. ’n Onrustige wind soek nog rigting, sag teen sy vel. Hy kyk op na die berg waar die son se eerste strale diep skaduwees teen die hange maak, soos die plooie van ’n ou man. Dan haal hy asem, stadig in en uit.
Eers wanneer sy hartklop heeltemal bedaar het, haal hy die Argus-beriggie uit die paneelkissie waar hy dit gistermiddag, netjies uitgeskeur, gebêre het.
* * *
“Is daar iemand wat jou wil leed aandoen?” vra die dominee.
Sy blaas haar neus luid en kyk verskonend na hom, rol die snesie op in haar hand. Sy neem nog een, blaas weer.
“Ja.”
“Wie?” Hy steek sy arm onder die lessenaar in, bring ’n wit plastieksnippermandjie te voorskyn. Sy gooi die snesies daarin, neem nog een, vee oor haar oë en haar wange.
“Daar’s meer as een,” sê sy en die emosie wil weer opstaan. Sy wag ’n oomblik tot dit bedaar. “Meer as een.”
12
“Is jy seker hy is skuldig?” het hy vir Boss Man Madikiza gevra, want die moontlikhede het van nêrens in sy kop gekom en sy bloed laat bruis.
Die vet man het gesnork en gesê Davids was by hom in sy kantoor, voor die drinkery begin het. Breëbors, selfvoldaan. Die polieste het sy skoot gehad, in hulle hanne, die-en-ei evidence, hulle kon hom net daar met ’n life sentence genail het met hulle test tubes en hulle microscopes en toe moer hulle die botteltjie weg, thick as bricks, en toe kom die prosecutor so sleepvoet-sleepvoet voor die judge en sê djou honner, we fucked up a little, no more die-en-ei, no more rape charge, het daai judge hulle uitgekak, my broe’, like you won’t believe.
“Watter soort?” het die Boss Man gevra en na Tobela gekyk met absolute walging. “Watter soort mens rape ’n baby, vra ek jou.”
Hy het niks gesê nie.
“And they’ve gone and abolished the death penalty,” het die Boss Man gesê en opgestaan.
Hy het gegroet en uitgeloop en in sy bakkie gaan sit. Hy het sy hand agter die sitplek ingesteek en die gladde steel van die assegaai gevoel. Hy het die kussing van sy duim oor die hout gestreel, heen en weer, heen en weer.
Iemand moet sê “tot hier toe”.
Heen en weer.
En toe wag hy vir hulle om uit te kom.
* * *
Wanneer die predikant van haar wegbeweeg en op die rand van die lessenaar gaan sit, weet sy iets het verander tussen hulle, ’n afstand is oorbrug. Miskien is dit net binne haar waar ’n angstigheid gaan lê het, ’n vrees besweer is, maar sy sien ook in sy lyftaal ’n wending, ’n ontspannendheid.
Hy moet geduldig wees, sê sy, want sy moet die hele ding vertel, alles. Sodat hy kan verstaan. Miskien sodat sý ook kan verstaan, want sy sukkel nog. Sy het vir so lank geglo sy het gedoen wat sy móés, die enigste uitweg gevolg. En nou … sy weet nie meer nie.
Neem jou tyd, sê hy, en sy glimlag is anders. Vaderlik.
* * *
Die laaste ding wat Griessel kan onthou, voor hulle hom in die ongevallesaal van die Tygerberg-hospitaal met die een of ander kak inspuit wat sy kop sag en lekker maak, is Mat Joubert wat sy hand vashou. Die senior superintendent wat vir hom al die pad in die ambulans sê, oor en oor: “Dis net die DT’s, Bennie, moenie worry nie. Dis net die DT’s.” Met ’n stem wat meer kommer as streling dra.
* * *
Sy is universiteit toe om ’n fisioterapeut te word. Die hele gesin het haar op ’n sweetwarm Vrystaatse Januariedag gevat en haar pa het hulle almal in die koshuiskamer laat kniel en vir haar gebid, ’n lang, dramatiese gebed wat die sweet op sy fronsende voorkop laat uitslaan het en die onheil van Bloemfontein in breedvoerigheid blootgelê het.
Sy het buite op die sypaadjie bly staan toe die wit Toyota Cressida eindelik sy ry kry. Daar was ’n wonderlike gevoel in haar, ’n intense vrywording, ’n swewende euforie. “Ek het gevoel of ek gaan vlieg,” is die woorde wat sy gebruik. Tot sy haar ma sien terugkyk het. Miskien was dit omdat dit die eerste keer was dat sy dié gesin regtig van buite kon sien, maar haar ma se uitdrukking het haar ontstel. In daardie kortstondige blik, net ’n sekonde of twee voor sy die masker teruggesit het, was daar iets in haar ma se oë – ’n verlange, ’n afguns, ’n begeerte, asof sy ook sou wou agterbly, asof sy ook wou ontsnap. Vir Christine was dit die eerste insig, die eerste kennis dat sy nie die enigste slagoffer is nie.
Sy het beplan om ná die ontgroening vir haar ma te skryf, ’n brief van solidariteit en liefde en waardering. Sy wou iets sê toe haar ma in daardie eerste weke koshuis toe gebel het om te hoor hoe dit gaan. Maar sy kon nooit die regte woorde vind nie. Miskien was dit die skuldgevoel wat haar verhinder het: Sy is uit, haar ma nie. Miskien was dit dié nuwe wêreld wat nooit tyd of ruimte gelaat het om oor die donkerder dinge na te dink nie, want sy het opgegaan in die studentelewe. Sy het ’n intense behae daarin gevind, in die totale ervaring. Serenades, Jool, koshuisvergaderings, koffiekuiers, die mooi ou geboue, sokkies, Intervarsity, mans, die uitgestrektheid van die kampus se grasperke en waterstrome en boomlanings. Dit was ’n soet beker en sy het diep gesluk daarvan, asof sy nie