Moenie aan my vat nie! bulder Vader.
Ek staan terug.
Stop jou twak, sê Moeder.
Vader swyg.
Hulle slag ’n bok en drapeer die derms oor die lyf. My suster bring water. Moeder gaan staan op die werf. Ek en my broers was die bloed van die misvloer af, moor hoenders en stook die vuur in die herd. Vader se stuiptrekkings dryf ons spulletjie voort soos ’n trop slaapwandelaars tot en met ’n skielike regopsit en laaste rukking asof die ledemate hulself wil losskeur van sy binnegoed voordat hy sug en sterf. Ek hurk by die vuur en kyk vir my vader: Jan de Buys, Jean du Buis die Derde, kleinseun van ’n Hugenoot, seun van ’n ryk Bolandse boer. Sy dood, soos sy lewe, klein en gedwee.
Kom, laat ons my ouers se reste opgrou uit die argiewe: Op twee-en-twintig trou Vader met Christina Scheepers, ’n dubbele weduwee agt jaar ouer as hy. Grootvader De Buys, die swernoot, steek Vader in die pad met ’n wa en ’n paar verjaarde osse. Die paartjie – en Moeder se vyf kinders by haar vorige mans – kry hulle ry. Hulle dryf hul spulletjie vee aan tot hulle tent opslaan op ’n verlate stuk grond langs ’n willekeurige stroom. Man en vrou en kinders en Hottentotte bou ’n huis van riete en gras en klei en woon daar onderwyl Christina twee dogters baar wat skaars hul nat koppies tussen haar bene uitsteek voor hulle doodgaan en sonder name begrawe word in gate wat toegegooi word en nie gemerk word nie en geheel en al geen letsel op die aarde laat nie. Vader en Moeder ken nie die land nie en die vee vrek van die giftige gras en bolle en ’n droogte eis die res van die stoet. Hulle dwaal deur De Lange Cloof en Moeder vertel dat ek in die jaar 1761 gebore word op Wagenboomsrivier, ene Scheepers se plaas. Ons dool verder. Doringbome en varings groei in die klowe en tiers hou in die hange en ons plak by familie en kennisse. ’n Jaar later teken Vader vir die leenplaas Ezeljacht in De Bo- Lange Cloof waar die weiding geiler is. Vader en die ouer seuns en die Hottentotte bou ’n huis. ’n Rietafskorting verdeel die binnekant in twee vertrekke. Die biesiedak sleep op die grond. Christina baar nog kinders waarvan twee seuns en twee dogters oorleef.
Wanneer die res van die huis van die skok aan die slaap raak, bly ek sit en kyk na my vader terwyl die vuur in die herd stadig doof. Daardie môre is ek agt en oorstelp; elke nou en dan staan ek op en voel hoe hy kouer word. Vandag, in my alsiendheid, kyk ek terug. Ek sien my lieve vader daar lê in sy huis soos dié van ander trekboere. Wonings waaroor tuitbek- Engelse reisigers later sal skryf dat dit meer lyk soos die gate van diere as die tuistes van mense. Met sy sterfte is hy lank reeds volledig verslaan deur die vrou en haar tien kinders. ’n Arm man, sy boedel skaars sewehonderd riksdaalders. ’n Lewenslange, seer langsame en onstuitbare oorgawe. ’n Noodlottige beleefdheid en inskiklikheid tot waar selfs enige verset teen die gif uit die veld vir hom te selfgeldend was.
Teen laatoggend deel Moeder pligte uit soos elke lieve dag. Die geskarrel neem sy gang rondom die lyf, uitgestal op die katel. Op die vloer lê ’n bossie heide wat iemand op die lyk gesit het en wat afgeval het en wat niemand weer opgetel het nie.
Ek probeer met my broers en susters speel. My broer met die lang arms dra my rond op sy skouers. My susters wil my vashou en huil. Die jonger broers en susters soek troos by my. Ek weet nie hoe om te troos nie. Ek slaan my jongste boetie toe dié begin huil en dan tjank hy harder. Ek loop kruip weg teen die huis, onder die venster. Moeder staan voor die lyk met haar arms gevou. Sy sien my, loop na die venster en kyk reg deur my en druk die houtskerm terug in die venstergat. Ek loop om die huis en kom in by die deur. Moeder staan weer by die lyk. Ek druk my kop in die donker en sagte voue van haar rok. Sy sit ’n hand op my skouer. Die hand beweeg oor my rug en vryf op en af en druk my een keer vas en sak dan na haar sy. Ek kyk op na haar en sy sê iets wat ek dadelik vergeet en ek loop rivier toe en gaan trek stukke bas van bome af en kyk hoe hulle op die water wegdryf en gooi klippe agter hulle aan. Teen die middag kom soek twee van my susters my en druk my vas en begin weer sanik. Die son skuif; ek dwaal op die werf. My broers is almal besig en moerig en niemand het vir my werk nie en niemand wil speel nie. Ek span my dolosse in op die misvloer.
Kom onder my voete uit, sê sy.
Ek sal soet wees, Moeder.
Gaan speel buite. Jy kan nie die veld omkrap nie.
Ek sal stilsit, Moeder.
Buitentoe! Dáár is niks wat jy kan breek nie.
Die son sak. Die maan kom op. Ek lê tussen my broers en susters in die voorste vertrek en luister hoe ons moeder snork in die kamer. Ek hou die suster naaste aan my vas so styf ek kan. Tot sy wakker word en my met ’n knie wegwerk en omdraai.
By die begrafnis kyk ek hoe hulle huil. Iets blaf my wakker in die nag. Ek staan op uit die hoop bekende lywe wat soos ’n werpsel werfkatte opmekaar lê. Ek loop weg. Ek gaan staan. Die huis is ’n dowwe smeersel teen die sterre. Ek draai weg, stap aan, stop, draai om en kyk weer na die huis om te sien of iemand my kom soek. As iemand nou uit die huis storm, sal ek weghardloop, maar nie so vinnig as wat ek kan nie. Een van my ouer broers sal my inhardloop en platduik en huis toe sleep en afransel.
Ek loop na die huis van my halfsuster Geertruy, my peetmoeder Geertruy en haar nuwe man, David Senekal, aan die ander kant van die plaas, en kyk nie weer om nie. Die maan hang te swaar; die boomtoppe kan dit skaars bo hou. Die plaas is groot, meer as drieduisend morg, en op hierdie nag veel groter. Dit is koud.
Ek gaan staan, kyk rondom my. Geertruy is nie ver nie. As ek in die nag daar klop, gaan sy ’n gedoente daarvan maak. Moeder is nie ver nie. As ek teruggaan soontoe, gaan my susters wakker word en my troos.
Ek gaan sit teen ’n rooi klip wat tussen die fynbos uitrys soos ’n dragtige seekoei. Ek grawe langs die klip. Die grond word vinnig los; ek grawe verder. Ek krul op in my gat teen die klip wat hard agter my lê en waarvan ek my nie die onderkant kan verbeel nie. Ek krap myself toe met grond. Ek slaan dit styf teen my vas soos die rug van my suster. Oral roep troppe en swerms mekaar; hulle waarsku en dreig en verlei. Eenkeer sien ek stoom trek uit ’n paar neusgate teen die bleek maan en dan die oë skitterend in die bos en dan niks meer nie behalwe vlerke wat takke breek. Die maan skuif verby en weerkaats teen die klip bo my en val voor my oor die grond. Vir die entjie wat ek kan sien in die yl afskynsel van veraf lig is ek veilig, en daaragter, sê ek vir myself, is alles wat ek hoor net die wind in die kreupelhout.
Ek wag op die rand van die werf tot die mense begin roer. Ek klop aan die deur. Geertruy maak oop en vat my binnetoe en gooi ’n strooimatjie by die vuur in die voorhuis.
’n Paar maande later trou Moeder met Jacob Senekal, die jong galgenaas-boetie van Geertruy se David. Moeder is agt-en-veertig en Jacob agt-en-twintig, maar Moeder is ’n mooi vrou met heelwat tande vir haar ouderdom. By kerslig lyk sy jonger as Geertruy. Twee jaar later begrawe ons treurende moeder ook vir Jacoppie. Die kluite het die kis skaars toegeval of dit is ’n volgende Jacob, ene Helbeck, wat op Ezeljacht haar bed en boerdery kom deel.
Ek is nog nie lank weg van die huis nie. Ek sukkel om te slaap in die vreemde huis. Ek klou aan die karos, dink aan die lywe van my broers en susters wat my warm gehou het op sulke nagte. Ek sluip na die ander kamer waar die gesin lê en kruip in langs Geertruy en David en hul kind. De domme David jaag my uit die huis uit. Ná ons die volgende oggend ons daaglikse eiers en askoek in stilte verorber het, roep Geertruy my eenkant en verduidelik hoe daar geslaap word. Sy druk my vas en hou my so en ek laat los nie en dan trek sy my arms van haar af. Sy loop die huis in en gaan gee die baba bors en toe daardie doorverrotte derm David my vang afloer, slaan hy my en die volgende dag foeter die hondsvot my weer.