BUYS. Willem Anker. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Willem Anker
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Историческая литература
Год издания: 0
isbn: 9780795706943
Скачать книгу

      

      Willem Anker

      BUYS

      ’n Grensroman

      KWELA BOEKE

      Die uitleg van hierdie digitale uitgawe van Buys mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word.

      Vir Christine

squigle

      Wat sou hulle makeer het, daardie brakke?

      om weg te dros uit gawe buurte

      – Peter Blum

      1761 – 1798

squigle

      1

      Kom en zie! Die koggelman op die rots, rysmier in die bek. Sy kake begin maal. Hy bespied die gewes, al langs die kloof af. Sy byt val stil, sy oogballe rol. Die kleur van sy kop en voorpote wys hy is gereed vir paar. Hy toon sy rooibruin rug en kraag. Hy kyk op, draai sy kop na regs. Sy blou nekvel span.

      Kyk, agter die klipsalmander verrys ek uit die rots. Ek stof my hoed af, steek my pyp op. Aanskou my: Ek is die legende Coenraad de Buys. Kom, laat ek jou besmet, my erflik belaste leser. As jy hier lees, sien jy wat ek sien. En ek sien alles. Ek is van alle dae, ek is onsterflik. Moet my nie siel noem nie. Ek het hoeveel name. Noem my eerder Coenraad, of Coen as jy my moeder of suster is. Pen my neer as De Buijs, De Buys, Buys of Buis, nes jy goeddink. Noem my Koning van die Basters, Khula, Kadisha, Moro, Diphafa of Kgowe. Ek is hulle almal. Ek is alomteenwoordig. Ek is Alom-Buys. Jy sal my aantref in vele gestaltes. Jy sal my teëkom as trekboer en antropoloog, rebel en geskiedkundige. Ek is ’n vagebond en ’n boekengek, ’n smokkelaar, minnaar en natuurkundige. Ek verskyn as jagter, veelwywer, redenaar, plunderaar, patriot, klipneuker. Ek is ’n kryger en leuenaar; ek is ’n fielt en verteller van my eie verhaal. Ek gaan jou verblind en verbyster met my gestaltes, met my alvermoënde blik. Ek is ’n trekvogel, ek neem jou op vlerke. Streel oor my kruis en jy sal weet ek is geen engel nie. Ek ken jou goed. Ek weet jy kan nie wegkyk nie.

      Mag ek jou verder influister? Jou oorhaartjies tril wanneer my asem naby kom. Trek saam met my deur die menseheugenis, oor die ongemerkte stofvlaktes tot by die prille voetspoor, die eerste staanvuur, die trop aapagtiges wat regop beur in die grasveld. Hoor die voete in die grotte stamp. Kyk hoe krap en verf mensdiere teen rotswande, hoe trek hulle die kogelbane na van halfmense op weg, reise tussen hand en poot, snoet en neus, togte na die ander kant.

      Hoe ver is jy bereid om in my spoor te trap? Is jy reeds te bang? Aanskou die letsels van my beweging, die merke van my vel op die moederaarde. Opgelet: My huid is hierdie stof en sand. Hoor my in elke voet en hoef wat val. Sien my weerkaats in iedere oog wat ’n vuur betrag; ek is beide spoor en spiegel. Ek is van hierdie land, getoë soos klip.

      Kyk, die bloukopkoggelmander sluk die rysmier in, versit versigtig sy poot, tas skaars die grond. Luister, die geskiedenis begin beef, die stof van vergete veldslae en onopgetekende sterftes kom los, ritselend onder die siedende bodem.

      Storm met my voort deur die ylingse vlug van tyd tot waar die jagters en uintjiegrouers verplaas word deur herders en akkerbouers. Vorentoe, deur tydsgewrigte van swerwing en nedersetting. Snel verby seevaarders wat kruise plant so ver hulle dryf. Skeer verby skeepswrakke met die name van heiliges, te pletter geloop op De Goede Hoop se ruwe rots. Kom waad saam met my deur die strome van bloed: polsend uit neuse tydens danse, stortend uit lywe, af langs hewwe en lemme van hout en yster, later uit kogelwonde, van altyd af uit moederskote, uit maagde en naelstringe; al die bloed altyd teruggeslurp die grond in.

      Soos deur die spiraal in die loop van ’n roer, met elke draai al hoe blitsiger: Skiet oor die berge en dale en Kompanje-tuine, oor die land, hierdie storthoop vir noordelike rowers en lasteraars. Skeer heen oor die roepe en sugte van diere en mense. Vlieg oor die invoer van slawe en dan die invoer van perde, oor die beendere van die Strandloper en die reste van Van Riebeeck se middagete, oor forte wat hier kastele genoem word, oor die eerste Nederduitse preke, die eerste suiker, die eerste brandewyn, oor die bloed, oor oproer en revolusies, oor gevierendeelde opstandiges en donker gate van gevangenskap. Flits oor oorloë en Kristene en Hottentotte en Kaffers en Hugenote en Hollandse jenewermoed en boereverneukery en pokke en Groot Constantia en die Groot Vis, oor riviere wat uitkalwer en grense wat vasgroei. Wat soek jy hier? Weet jy hoekom jy my soek? Wat gaan jy doen as jy my vind? Toe, gaan kniel by enige karkas en kyk hoe die vlieë saamkoek soos ’n kosmos wat oopblom; sien! Dese grond wis uit en verteer. Dit slurp die geskiedenis op en kook dit weg tot niks.

      Luister, die liedere van die land galm oor alles heen. Hoor die mensegesange, die veldgesange, die krysings en krete. Hoor net die maathou op metale en stokke en velle en klippe, op pense en pote, op erde uit die aarde. Oor hierdie stomme wêreld heen die bulderings en gebulk, die getjank en gehyg. Die klappe en knalle. So luid, so stil. Só versigtig sit die salmander sy poot neer, ek sweer hy ruik die bloed in die grond.

      Dalk voel jy veiliger in die agterkamers van museums? Ek is die vismot se voeler in elke argief. Ek het toegang tot elke bladsy. Ek vreet soos ek lees. Laat ons dan ritsel deur die name op kaarte van nuwe riviere en nuwe berge en lengtelyne en breedtelyne en sendelinge en ou gode en ’n nuwe vasgespykerde god en kerke en grotte en die wieg van die mensdom. Vluglees deur moord en doodslag en verkenners en trekkers en rebelle en swerwers en botsings en strafkommando’s en slaweopstande en veediewe en koloniseerders en lyke, al die lyke. Voorwaar, selfs op hierdie afstand die weergalmende slae en skote, ja, selfs uit die blaaie van blosende geskiedskrywers. Ek het dit alles gesien, elke woord gelees. Ek vergeet niks en vergeef bitter min.

      Kom en zie! roep my stem in hierdie halfwoestyn. Kom kyk hoe die land sy seëls oopbreek vir jou. Hier waar daar geen toevlug sal wees vir die herders en geen ontkoming vir die maghebbers oor die kudde nie. Hier waar die Melkweg span soos die ruggraat van ’n halfgevrekte vaal perd wat duiselend die gewelf oor De Lange Cloof bo hou. Vlaktes met rotsskilfers en sand soms rooibruin soos ou bloed en soms beenwit. In die noorde en die suide lê rye berge soos versteende olifante wat hulself uit die aarde opbeur en dan halfpad opgee en deur eeue heen weer deur bos en klip bedolwe word. Jy sien steeds die voue van hul skouers, die ou nekke en slap slurpe wat uitgeput myle ver oor die landskap uitstrek, maar wanneer jy dink jy hoor hulle sug, is dit net die wind. Die berghange is ruig, die klowe nat en begroei met varings. Die rotsriwwe gaap uit die groen vel van die ruggens. Die mense bou hul huise naby die riviere en vernoem hul plase na die strome. Die plase lê op ’n ry, ’n beeswêreld aan die bokant van die kloof, ’n wêreld van sit en kyk. As jy opstaan en rondom jou kyk, sien jy jou ganske plaas en sien jy jou verdomde buurman van ver af aankom.

      As jy mooi kyk, sien jy die huisie van gepakte klip en harde biesies. As jy fyn luister, hoor jy die mense in die huis werskaf om die sterwende lyf van ’n vader. Die koggelman sal jy nie meer sien nie. Die valk het hom voor sononder gevang.

squigle

      Kyk, ek staan in die deur. Ek is agt jaar oud. Ek lyk soos my moeder. My vader lê op die smal katel. Sy rug span soos ’n Bossiesmansboog, dan sak hy weer neer. Miskien het ’n ding in die veld hom gebyt. Dalk het hy aan die verkeerde blaar gekou. ’n Paar dae gelede kom hy by die huis en kla en niemand luister nie. My moeder skel hom uit vir ’n lammeling en luiaard. Hy gaan lê en praat nie weer reguit sinne nie en staan nie weer op nie. In die klowe roep jakkalse en honger honde. Stukke kerslig dobber in die waskom. My suster kom sit by my, haar vingers maak skaduprente teen die muur. My vader se hande klou aan sy maag. ’n Gebulk, dan die optrek van die bene.

      O God! Mijn Here God.

      My moeder Christina berispe haar man; hy word stil, prewel iets onhoorbaars. Moeder gee opdrag dat ons hom katel en al uit die kamer dra en voor die herd kom neersit. Sy kyk dat ons dit doen, loop uit. Ek gaan staan by haar; sy weet nie van my nie. My oudste broer kom die huis in met ’n kopaf hoender, sny die pens oop en druk die oopgespalkte