Die liefde is nie ’n dokter nie,
maar dis diep narkose –
die natuur se eie date-rape drug –
en ek en jy het eers jare later
in ’n skakelhuisie in Woodstock bygekom
aan ’n geel kombuistafel met ’n kakkerlak
vasgekeer in die digitale horlosie
van die nuwe mikrogolfoond en ’n brommer wat
al teen die al teen die al
teen die kombuisvenster vas.
Jy was besig om girts-girts botter
op jou roosterbrood te smeer en ek kon nie
glo ek het nooit voorheen die gapende swart
mammagrootte-gat
in jou bors voel suig nie.
Ek het gestaar.
Dit was hipnoties, het gesing –
’n sirene.
Jy het opgekyk en geglimlag nes steke
wat ooptrek.
Jy het op ’n druppel soos my vrou gelyk.
In die kamer het ’n babadogter vir ons
begin huil.
Wat swak gedigte weet
Poetry makes nothing happen – W.H. Auden
Hoekom depress vrot poësie my dan so mateloos?
Vroeër het ek gehoop
dis oor slegte gedigte leuens is
wat soos goue sandale
verlange obseen maak.
Ek het gedink dis die voorspelbare vertwyfeling
die Highveld Stereo-hartstog
die emosionele pornografie
die infantiele woordspel
die kreupel rymdwang en die paraplegiese paarrym
die zombie-hallelujas
die grillerige intimiteite en nat klapsoene
die ongesofistikeerde teleurstelling
die hangtiet-ontboesemings in wolke van opdringerige parfuum
die onafgewerkte noodkrete
die selfmoordbriefies vol spelfoute
die onbelese arrogansie
die onbeholpe pretensie
die selfbewuste eerlikheid
die vervelige nagmerries
die macho selfbejammering
die loopmagiese realisme
die voorstedelike surrealisme
die alewige gatkruip by die doofstom Muse
die arseen-poeticas
die aansitterige besorgdheid oor die natuur
die kleingeestige politieke prekerigheid . . .
Maar dis alles bysaak –
dis die onmiskenbare waarheid in swak poësie
wat my moedeloos maak.
Die goeie gedig is die frats, die leuen,
want die wêreld ís van kak styl en hol retoriek gemaak –
die lewe is ’n heruitsending van ’n sepie
die dood bloot formaliteit.
Goeie gedigte is die kopligte
wat jou fataal verblind,
want dis ’n moorddadig geykte uitdrukking
agter die stuur van dié twaalfton-cliché.
Wat dié klip weet
Ek kan my kwalik ’n meer volmaakte
anti-vers as ’n klip voorstel;
geen beter sintese
tussen toevallige vorm en toevallige inhoud;
geen meer absolute
hoon vir die ydelheid van alles met asem nie.
Die klippe roep dit nog altyd uit:
“Watter deel van ‘nee’ verstaan jy nie, mens?”
’n Gedig op ’n klip
sou ’n lyk vol tatoeëer-ink wees.
En tog kan dié klip in my hand ’n groot gedig wees,
maar die vers nooit regtig klip nie.
Ja, ’n gedig kan van ’n klip
’n dooie mens maak,
dalk selfs ’n meer bruikbare, klipperiger klip
uit die swaksinnige engel van kuns en kultuur bliksem.
Maar soos die mens kan die vers nooit
waaragtig klip word nie.
Die mens skree en versug sy vers
sing en kry stuipe en huiwer dan weifel altyd weer
maar klip weet, kyk,
dié klip weet alles,
seker.
Die Madiba-kombers
By die ooievaarstee het ons ’n kombersie present gekry
met Madiba se glimlaggende gesig
as ’n pop art-patroon daarop gedruk.
Ons dogtertjie word saans styf
in die Madiba-kombers gewikkel
en wanneer sy só in die wiegie lê
vang die vreemdheid my:
Toe ek klein was, het ons nie lekker geweet
hoe Mandela lyk nie –
nes ’n mens nie mooi geweet het
hoe Antjie Somers of ’n terroris lyk nie.
Ek onthou die dag in 1990
toe Mandela vir die eerste keer
op Stellenbosch se oranje, baie blanjewit en blou kampus
kom praat het:
Daar was dreigemente van die AWB
en ’n bakleiery en ’n moerse gedoente
maar ek het te laat opgedaag
om enige iets behoorlik te sien.
Die vriendelike vryheidsvegter en staatsvyand nommer een
was toe net ’n mens
êrens in die massa.
Ek was ’n eerstejaar en ek wóú sien,
maar as ek gesien het, sou ek
net so min verstaan het
soos jy druppel mens toegewikkel
in blinde liefde
en die Madiba-kombers vannag
terwyl die Kaapse winter
onverstaanbare reënwoorde
teen ons rooi sinkdak mompel –
jy, klein heilige, met een kaboutervuis
soos “Amandla!” langs ’n fyn stralekrans
van