Die man met die geel oë. Ena Murray. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Ena Murray
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624070504
Скачать книгу
laat jou nie toe om naby genoeg te kom nie. Maar een ding is seker: van al die mans wat sy ken, staan hy uit, intrigeer hy haar meer as wat goed is vir haar.

      Brand Böhm is die soort man wat ’n meisie liewer moet vergeet . . . as sy kan. Die probleem is net dat sy nie kan nie. Inteendeel. Hoe harder sy probeer, hoe meer dink sy aan hom. Sy het haarself al betrap dat sy planne beraam om die mens en die man van agter daardie geslote dop waarin hy skuil, uit te trek. Maar hoe kan sy begin probeer as sy hom omtrent nooit sien nie! Maar hy is vandag hier en haar hart klop vinniger. Sy gee nie om hoeveel klasse sy vandag “bunk” nie. Sy gaan hom beslis nie sê sy het oor ’n halfuur ’n klas nie, al sit hy die res van die dag so voor hom en uitstaar, en al is hy nie eens van haar teenwoordigheid bewus nie.

      “Jou koffie.”

      Die geel oë kyk eindelik op. “Jy het iets aan vandag?”

      “Nee. Niks nie,” lieg sy skaamteloos.

      “Ek kom kry jou so halfsewe vanaand.”

      Dis ’n bevel, nie ’n asseblief nie, maar sy gee nie om nie.

      “Gaan ons uiteet? Ek moet weet wat om aan te trek,” stem sy in sonder om ja te sê.

      “Dit ook, onder meer.”

      “Onder meer?” Al is sy ’n dametjie wat oor ’n paar weke haar LL.B.-graad gaan skryf, bly sy ’n vrou, en nuuskierig. “Wat beteken dit?”

      Skielik is sy klein glimlaggie daar, meer in die oë as om die mondhoeke.

      “Weet self nog nie. Ons sal maar die aand vat soos dit kom.”

      “Dit klink interessant.”

      “Bly jy dink so.”

      Hy sluk die vuurwarm koffie af en kom op sy voete. “Dankie. Tot siens.”

      Hy is uit by die deur voordat sy dit nog mooi besef, en deur haar sitkamervenster sien sy hom na die bushalte aanstap. Dan vlieg sy weg, nie om haar boeke te gryp om betyds vir haar klas te wees nie, maar om vinnig deur die aanddrag in haar kas te gaan blaai. Niks stel haar tevrede nie. Dit gaan ’n besonderse aand wees. Sy weet dit net. En ’n besonderse aand vra ’n besonderse rok.

      Sonder enige gewetenswroeging verlaat sy oomblikke later haar woonstel. Die konsensieuse regstudent is op pad stad toe om inkopies te gaan doen.

      Weza se verwagting van die aand word ook nie teleurgestel nie. Die eerste teken dat dit ’n spesiale aand gaan wees, is toe hy in volle majoor-mondering voor haar woonstel stilhou in ’n deftige motor.

      Haar verbasing is eg. Brand Böhm het nog nooit ’n motor besit nie. Hy sê altyd hy is so baie weg dat ’n motor net sal staan en vergaan. Die vorige kere het hy met die bus tot by haar gekom en dan het hulle met haar motor verder gegaan. Hy het egter elke keer, ondanks haar protes, petrolgeld agtergelaat. Maar vanaand is hy hier met ’n statusmotor.

      “Liewe land, het jy skielik ’n fortuin geërf?” vra sy half ernstig.

      “Nie geërf nie, sommer net gekry. En ons twee gaan dit alles vanaand in een aand uitjol.”

      Sy kyk hom geïnteresseerd en tog ook verward aan. “Jol” is nie juis ’n woord wat ’n mens met Brand Böhm assosieer nie. Dan sit sy behaaglik terug teen die sitplek. Dit maak nie saak van wie hy die fortuin sommer net gekry het nie en hoe groot die fortuin is wat in een aand uitgejol moet word nie. Die belangrikste is dat hy háár gekies het om mee saam te jol.

      En jol is dit. Soos die aand vorder, neem haar verbasing en verrassing in Brand Böhm toe. By die mees eksklusiewe restaurant is dit sjampanje op ys en kaviaar en kreef en net wat voorkom . . . dit moet seker ’n klein fortuintjie kos. Daar is selfs ’n orgidee by haar plek aan tafel. Tot haar verrassing is Brand Böhm ’n redelike danser. Die jollery word al lekkerder, later so lekker dat haar verrassing in ongemak begin verander. Brand Böhm begin luidrugtig raak, begin skoorsoek met die gaste aan die tafels langsaan. Hy moet te veel gedrink het, dink sy later ontsteld. En hy is nog in uniform!

      Dinge ruk handuit. Sy is verslae toe sy sien hoe sy vuis deur die lug swaai en ’n man dwarsoor die volgelaaide tafel langs hulle trek en glase en kos in alle rigtings spat. Haar skok is net so erg as dié van die vername dames en here om haar. Sulke gedrag in só ’n plek! En nou soek hy skoor met die bestuurder!

      Sy spring op, sien hoe ’n rol note in die siedende man se gesig gegooi word, en toe sy die motordeur oopmaak, is hy by haar.

      Sonder om ’n woord te praat, ry hulle tot by haar woonstel. Hy vergesel haar tot by die deur.

      “Nag, Brand.”

      Maar hy druk saam met haar by die woonsteldeur in. “Ons het gesê ons vat die aand soos dit kom.”

      “Ek wil nie . . .”

      “Jy wil.”

      Ondanks haar skok weet sy sy het verloor toe sy lippe oor hare vou. Sy probeer nie teëstribbel toe hy haar deur die donker sitkamer na die slaapkamer trek nie. Sy voel sy vingers op haar kaal skouers.

      “Brand . . .”

      “Sjuut.”

      2

      “Dis ongelooflik! Dis net ongelooflik!”

      Die kolonel se verstand weier om te aanvaar wat hy hoor. Maar al die bewyse is daar, word in ’n ellelange lys uiteengesit – van die grofste oortredings denkbaar. En almal is deur één man op één aand gepleeg, en van alle manne is Brand Böhm die skuldige! Brand Böhm, sy beste man! Dis ongelooflik!

      Sy gesig verraai nog steeds sy ongeloof toe hy ’n ruk later staan en toekyk hoe sy beste man sy verskyning voor hom maak.

      Die amptenaar lyk erg nuuskierig. Die kolonel het self hierdie man wat hulle in die vroeë oggendure opgesluit het, kom haal. Hy moet iemand belangrik wees, hoewel hy nie op hierdie oomblik belangrik lyk nie. Allesbehalwe. Sy uniform is, waar dit nie geskeur is nie, vuil en verkreukel. Sy hare hang in sy bloedbelope oë. Daar is plekke op sy gesig wat ’n geswolle pers kleur begin aanneem. Hy is selfs nou nog effens onvas op sy voete. Hy moet ’n bul van ’n hoofpyn hê, dis vir seker.

      “Majoor Böhm!”

      Dis meer ’n uitroep van verstomming as ’n bevel vir die slingerende man om op aandag te kom.

      Dan is hy regtig ’n majoor? dink die ander man verbaas. Gedink hy lieg sommer net.

      “Majoor Böhm!”

      Die kolonel is besig om van sy skok te herstel, en die toeskouer is bly hý is nie majoor Böhm nie. Tot sy verdere verrassing en die kolonel se hernieude ongeloof, kom daar eindelik reaksie van die man wat lyk asof hy nog in ’n waas verkeer.

      “Hou op sanik, man! My kop wil bars!”

      Nóg ’n growwe oortreding agter majoor Böhm se naam. ’n Mens praat net nie so met jou meerdere nie! Maar majoor Böhm doen dit, soos die baie ander dinge wat net nie gedoen word nie, maar wat hy reeds gedoen het!

      Terug by die basis kry kaptein Len de Groote die opdrag om majoor Böhm respektabel te kry en, sodra sy verstand nugter is, na die kolonel se kantoor te bring.

      Ook Len de Groote kan sy oë en ore nie glo nie. Hy het sy hande vol om die man met die barstende kop in ’n bad te kry en dan in die bed met minstens ses koppies swart, bitter koffie agter sy blad. Dít nadat hy die kolonel en die hele weermag in tale wat hy nie eens geweet het majoor Böhm ken nie, vertel het wat hulle kan gaan doen en waarheen hulle kan vlieg. Genugtig!

      Terwyl majoor Böhm buite aksie sy roes lê en afslaap, word die kaptein vir ’n telefoonoproep ontbied. Dis Weza . . . en die prentjie begin vir hom effens helderder word terwyl hy na haar ontstelde relaas luister. Brand Böhm het sy suster gisteraand met ’n blink, slap motor kom oplaai en die stad op horings geneem. In die vroeë oggendure is hy weer by haar woonstel uit, ten spyte daarvan dat sy haar bes probeer het om hom daar te hou.

      “Maar hoekom het jy hom dan laat