Die man met die geel oë. Ena Murray. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Ena Murray
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624070504
Скачать книгу

      Die man agter die lêer weet dis die waarheid. Brand Böhm is ’n alleenloper. Die naaste aan hom, en ook nie so naby dat hy as ’n boesemvriend beskou kan word nie, is kaptein Len de Groote. En sy suster Weza. Maar Brand Böhm ontken ’n verhouding. Die lêer bevestig: Uitstekend in alles wat hy doen. Meer as betroubaar, gedissiplineerd soos min ander, beheers tot die punt van onnatuurlikheid, in super liggaamlike kondisie en topfiks. Vlug van brein, begrip en optrede. ’n Man met daardie “iets” wat noodsaaklik is vir iemand wat ’n skaakspel met die dood as lewenstaak gekies het. Die ideale man. Die man wat hulle moet hê.

      “Ons het ’n spesiale taak vir jou, majoor Böhm, maar dis nie ’n opdrag nie. Ek gaan jou die keuse gee om ja of nee daarop te antwoord. Laat ek aan jou skets wat dit gaan behels. Jy gaan ’n opleidingstyd deurmaak – ’n jaar, selfs twee jaar indien nodig – wat die opleiding wat jy tot dusver ondergaan het, na kinderspeletjies sal laat lyk. Onder meer, byvoorbeeld, gaan jy die Oosterse kuns bemeester van gees wat beheer verkry oor die liggaam. Jy gaan leer om met ’n dolk en ’n mes te gooi, beter as die beste sirkusarties. Dit terloops. Jy gaan alles leer wat daar te leer is oor aanval en verdediging, en jy gaan leer om dit perfek te doen. Jy gaan leer kaartspeel en dobbel soos net die bestes in Chicago dit kan doen. Jy gaan baie dinge leer doen, dinge waaroor jy nooit van sou kon gedroom het nie. En alles wat jy geleer word, moet jy nie nege en negentig persent goed kan doen nie, maar honderd persent. Jy gaan vreemde tale leer. Wanneer jy gereed is, of wanneer óns oortuig is jy is gereed, sal jy jou eerste opdrag kry. Die vereiste is perfeksie, niks minder nie. Maar daar is ander faktore behalwe die opleiding wat jy in gedagte sal moet hou wanneer jy besluit.”

      ’n Kort oomblik aarsel die spreker. Dis ’n jong man van agt en twintig, in die fleur van sy manlikheid, wat hier voor hom sit. ’n Viriele man waarmee niks skort nie. Maar hy gaan ’n masjien word, ’n moordwapen wat dood en verwoesting moet saai wanneer die bevel kom. Vir so ’n man is ’n vrou en kinders taboe. Selfs net ’n natuurlike verhouding met die ander geslag is verbode. Daardie deel van hom moet sterf.

      Dit word ook kort en bondig en baie reguit aan die stille luisteraar gestel terwyl die ander manne hul oë laat sak. Hulle is mans – vaders van kinders. Hierdie man mag dit nooit wees nie. Daar mag geen vrou en geen kind wees wat die aandag kan aftrek van die groot taak op hande nie. Daar mag selfs nie ’n meisie wees na wie verlang word en wat miskien die waaksaamheid ’n oomblik lank sou kon laat verslap nie. Daar mag geen bande hoegenaamd wees wat hom aan ’n ander bind nie.

      “Jy gaan manalleen optree. Jy het geen kontak of verbintenis met enige bestaande groep of veiligheidsafdeling nie. Jou opdragte kry jy regstreeks van hierdie kantoor en hierdie kantoor alleen. Jy werk alleen. Niemand gaan jou help nie. Ook nie as jy in die moeilikheid beland nie. Nie eens ek nie. As jy ooit in die moeilikheid beland, moet jy self daaruit kom of die gevolge dra. Alleen. Ek wil hê daar moet algehele duidelikheid hieroor wees, majoor Böhm. Jy moet een ding baie mooi verstaan: Nooit, net nooit mag ’n vinger na ons gewys word nie. Ons het met jou sake niks te doen nie. Ons weet daar niks van af nie. Daarom, as jy gevang word, aanvaar jy alleen verantwoordelikheid. Niemand gaan jou help nie. Verstaan jy nou? Jy mág nie faal nie. Want as jy faal, gaan jy alleen betaal. Jy moet begryp: Jy gaan moordopdragte kry, en as jy gevang word, kan dit jou dood beteken. Jou saak sal soos elke ander saak gehanteer word, en as jy skuldig bevind word en die doodvonnis kry, sal jy hang. Verstaan jy, majoor?”

      “Ek begryp.” Hy sê dit asof hy begryp dat twee en twee vier maak.

      Die man agter die lessenaar kug. “Goed dan. Jy sal geen persoonlike lewe hê nie. Jy is nie meer Brand Böhm nie. Jy gaan ’n kodenaam kry. En dis al een wat ooit gebruik sal word. Die enigste plek waar Brand Böhm nog sal bestaan, is die bankrekening waarin jou salaris elke maand inbetaal sal word. Jou salaris, terloops, word aangepas. Verdubbel vir die tyd van opleiding; daarna vervierdubbel dit. Jy moet onderneem om tien jaar lank opdragte uit te voer. Daarna sal jy kan kies of jy wil aangaan en of jy wil ophou. As jy laasgenoemde verkies, sal jy ’n heel nuwe lewe op ’n plek van óns keuse moet begin. Jy sal uit die openbare oog moet verdwyn.”

      Die man strengel sy vingers inmekaar, kyk in die geel oë oorkant hom vas. “Net nog dit: As jy ja gesê het, is daar nie omdraaikans nie. Dis finaal. Ek gee jou tyd tot môreoggend. Dan wil ek jou antwoord hê.”

      “Dis nie nodig nie. My antwoord is ja.”

      Dit lyk asof van die ander manne die jong man wil keer. Hy besef nie waarvoor hy ja sê nie. Hy het nie goed gedink nie. Die man agter die lessenaar dink ook so. Maar dan . . . Die man wat hy soek, moet ’n man wees wat vinnig besluite kan neem en daarby hou.

      “Jy het in ieder geval tyd tot môreoggend.”

      “Die antwoord is ja.”

      Vlugtig vang sy oë dié van die ander manne. Dan knik hy, trek ’n laai oop en stoot ’n rol note oor die blink blad.

      “Goed. Vanaand is jou laaste aand as Brand Böhm. Gaan geniet dit, en rapporteer môreoggend om negeuur by die Sentrale Gevangenis. Dit sal jou opleidingsentrum wees en jou basis.”

      Die ligte kop skud. “Dankie. Dis nie nodig nie.”

      “Neem dit, Böhm. Alle koste word gedra. Ook vanaand s’n. Jy gaan vanaand uit en jy gaan amok maak, so erg dat jy môreoggend summier jou ontslag gaan kry. Sorg dat jy dit kry.”

      Die man wat hom hierheen gebring het, kyk ontsteld op. “Maar hoekom . . .?” waag hy.

      “Brand Böhm word môreoggend ontslaan. Hy kan nie doen wat hy moet doen terwyl hy in diens van die staat is nie. Alle verbintenisse met die regering van hierdie land moet verbreek word. Môre word Brand Böhm oneervol ontslaan en dan verdwyn hy.”

      Hy staan op, stap om die lessenaar en hou die rol note weer uit. “Gebruik dit reg. Tot siens, majoor Böhm, en dankie. Ons gesels môreoggend verder. Goeiedag, menere. Dankie vir jul tyd.”

      Onder by die trap salueer majoor Böhm die vier ander manne, stap dan kalm weg, wink later ’n huurmotor nader, klim in en gee ’n adres wat nie syne is nie.

      En terwyl Brand Böhm met sy nuwe rol begin, staan die man wat alleen in sy kantoor gelaat is hom en agternakyk, sug dan vermoeid en draai terug na die lessenaar. Daar is so baie dinge wat sy aandag verg, so baie dinge . . . Brand Böhm is maar een van hulle. Daar is die knellende droogte wat sy land byna so groot soos dit is op sy knieë het. En waar daar nie droogte is nie, is daar die geweldige skade van oorstroming weens die sikloon wat soos ’n woeste monster alles in haar pad verslind het . . .

      Peinsend trek sy oë saam. Droogte, vloed, siklone, oorstromings, onberekenbare skade – ook in menselewens. El Nino . . . ’n ontwrigting van die wêreld se weersisteem wat al soveel dood en ellende dwarsoor die aardbol gesaai het.

      Sy blik val weer op die lêer voor hom. Dan neem hy ’n pen op, krap die naam Brand Böhm dood en skryf daarnaas: El Nino.

      Weza de Groote kyk verbaas na die man voor haar toe sy haar woonsteldeur oopmaak. Om Brand Böhm op haar drumpel te sien, en dít in die helder dag, is ongelooflik. Maar dit is hy, en sy nooi hom gul in, baie bly om hom te sien. Sy sou graag meer van hierdie man wou sien, maar hy is baie skaars; het haar nou al drie keer vir ete gevra en haar dan hoog en droog by haar woonstel gelaat sonder enige aanduiding dat dit opgevolg sou word. Wou nie eens inkom vir koffie nie, hoewel hy teen hierdie tyd moet weet dat sy meer as net koffie vir hom aan te bied het as hy daarvoor te vinde sou wees. Maar elke keer het hy op sy hak omgedraai en weggeloop, hoewel sy met vroulike intuïsie geweet het hy wou liewer bly.

      Sy hou haar nou ongeërg, maak koffie, sterk en swart en bitter soos sy weet hy dit verkies en beskou hom onderlangs. Hy is nie ’n man van vele woorde nie, hierdie majoor Böhm. Hy probeer nie ’n geselskap aan die gang hou deur oor koeitjies en kalfies te gesels nie. Inteendeel. Dit wil amper lyk asof hy heeltemal vergeet het waar hy hom bevind. Hy kyk strak voor hom teen die kombuismuur vas waar hy sommer op een van die kaste in haar beknopte kombuisie plaasgeneem het.

      Sy kry kans om hom goed te bekyk. Nie ’n man wat sommer dadelik die aandag trek nie. Tot jy in daardie geel oë vaskyk . . . Behalwe vir die opvallende kleur van sy oë,