Ena Murray Keur 1. Ena Murray. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Ena Murray
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624068105
Скачать книгу

      

Ena%20Murry%20logo.tif

      KEUR 1

      Satan van Zimbabwe

      Die man met die geel oë

      Onrus op Oshakati

      Jasmyn

Satan van Zimbabwe

      1

      Attie Brijns, die afgelope agt jaar kampopsigter by die kampeerterrein naby die Zimbabwe-ruïnes, is deur een van sy assistente in sy woonwa dood aangetref. Aanvanklik is vermoed dat hy in sy slaap aan hartversaking oorlede is. Die plaaslike distriksgeneesheer, dokter Dennis Johnson, was egter diep geskok toe hy tydens die lyk­skouing inwendig niks abnormaals kon opspoor nie. Daar het niks met die organe geskort nie. Die lyk het ook geen uitwendige letsels gehad wat tot die oorledene se onverwagse dood kon lei nie.

      Wat die distriksgeneesheer nog verder dronkgeslaan het, is dat die liggaam heeltemal bloedloos was. Die assistent wat die oorledene die afgelope jaar op die kampeerterrein gehelp het, sê hy het nooit van siekte of moegheid gekla nie. Hy het egter tog opgemerk dat die oorledene die afgelope paar dae onverklaarbaar swak geword het, hoewel hy nooit van pyn of ’n siektetoestand gekla het nie.

      Die distriksgeneesheer sê hy is heeltemal dronkgeslaan deur die bloedlose toestand van die lyk en het geen verklaring daarvoor nie.

      Vir die minder oplettende koerantleser gaan hierdie kort koerantberiggie op ’n middelblad onopgemerk verby. Indien dit wel raakgesien word, wek dit net vlugtige verbasing en word dan weer byna dadelik vergeet. Daar sal wel die een of ander logiese verklaring daarvoor wees, dink so iemand vaag voordat hy omblaai. Om te vergroot en te dramatiseer is maar ’n siekte waaraan joernaliste ly. Sensasie is hul brood en botter. ’n Mens kan hulle dus ook nie te veel kwalik neem nie.

      Maar daar is tog ’n blik wat by hierdie beriggie vassteek . . . en daar bly kleef.

      In ’n kantoor in Harare staar ’n paar oë stip na die swart letters en kyk dan vinnig op toe die deur ná ’n kort kloppie oopgaan. Vandag kry die besoeker egter geen vriendelike, verwelkomende glimlag nie. Die man wat binnekom, som dadelik die situasie korrek op: die oubaas is bekommerd. Wonder wat dit kan wees?

      “Sit!” kom die kortaf bevel sonder groet, en terselfdertyd word die koerant oor die lessenaarblad in die besoeker se rigting geskuif terwyl die wysvinger op ’n spesifieke plek druk. “Lees daar!”

      Die jonger man se wenkbroue wip liggies op. Wanneer die oubaas, soos hy onder sy ondergeskiktes bekend staan, sulke kortaf bevele sonder ’n onnodige gebruik van woorde uitblaf, moet jy weet daar is perde, soos hulle dit stel. Die hoeveelste keer die afgelope tien jaar voel Gustaf Lenard daardie vreemde tinteling deur hom gaan asof elke senupunt in sy liggaam ’n sekonde lank saamtrek. Gehoorsaam tel hy die koerant op en laat sy blik oor die koerantberiggie gly. Dan laat hy die koerant sak en kyk op, sonder omhaal van woorde. Dis nie nodig nie. Hy en die man agter die lessenaar verstaan mekaar sonder veel woorde.

      “Wel?” Sy gesig is ook onpeilbaar, maar die skerp blik wat op hom bly rus het terwyl hy die koerantberiggie gelees het, sien raak wat hy graag wil sien – die baie ligte, skaars merkbare bewing van die sensitiewe neusvleuels. Die bloedhond het die spoor geruik.

      Hy sit terug in sy stoel, sy blik steeds stip.

      “Die afgelope maande al gebeur daar eienaardige, onverklaarbare dinge by die Zimbabwe-ruïnes. Tot dusver het dit nie aandag getrek nie, maar met die dood van oubaas Brijns het dit die bal aan die rol gesit. Toeriste wat reeds die Zimbabwe-ruïnes besoek het, veral gedurende die voorafgaande maande, gaan ná hierdie beriggie dingetjies onthou, en praatjies kan groot skade aanrig aan die toeristebedryf daar. Die Zimbabwe-ruïnes is ’n groot toeriste-aantreklikheid.”

      Die jonger man frons liggies.

      “Wat het die toeriste met die bloedlose lyk van ’n ou man te doen?”

      “Op die oog af niks nie, maar dit wil voorkom asof daar tog ’n verband moet wees tussen wat met oubaas Brijns gebeur het en wat sommige toeriste oorgekom het, as jy die besonderhede langs mekaar sit. So wil dit voorkom wanneer jy die verslae van twee dokters uit Masvingo en die distriksgeneesheer van hierdie deel van Zimbabwe bestudeer. Ek het die verslag van dokter Dennis Johnson, die distriksgeneesheer wat die lykskouing op die ou man gedoen het, gister reeds ontvang. Hy is in Masvingo gevestig. In ’n brief wat hy by sy verslag ingesluit het, het hy my aangeraai om met twee van sy kollegas, met wie hy blykbaar goed bevriend is, in aanraking te kom. Ek het met hulle kontak gemaak en hulle het eienaardige verslae te lewer gehad. Gedurende die afgelope maande is hulle na die ruïnes uitgeroep vir die een of ander toeris wat skielik sonder rede net swak en duiselig begin voel het – mense wat andersins sterk en gesond is, sonder klagtes oor hul gesondheid. Hierdie vreemde toestand van swakheid wou op geen behandeling reageer nie, maar sodra hulle van die ruïnes weggeneem word, verbeter die toestand onverklaarbaar. Volgens die koerantberig het oubaas Brijns ook skielik sonder enige fisieke rede verswak. Dis asof daar ’n verband is.”

      “Ja. Kan dit miskien ’n onbekende virus wees wat –?”

      “Onmoontlik, want dan moet daar tog ’n spoor daarvan in die liggaam wees, nie waar nie? Ek het lank met dokter Johnson gesels en ek ken hom as ’n man wat nugter en saaklik is, ’n man wat nie op loop sit met iets nie. Maar hy is dronkgeslaan, en so ook sy ander twee kollegas in Masvingo wat van die toeriste behandel het. Hulle kan geen rede vind vir die verswakking van die toeriste nie, asook geen oorsaak vir die bloedlose toestand van Attie Brijns se lyk nie. Die organe was wel weens ouderdom ietwat verswak, maar nie beskadig nie. Daar is byvoorbeeld geen spoor van kanker of ander siekte aangetref nie, net nie ’n enkele druppel bloed nie. Wat het van sy bloed geword?”

      Die oë kyk nou skerp in die ander man s’n. “En as die toeriste wat skielik so swak begin word het langer by die Zimbabwe-ruïnes gebly het, sou hulle ook gesterf het . . . en sou hul liggame ook bloedloos gewees het?”

      Die jonger man se oë vernou.

      “Ek begryp. Op die oog af is dit ’n kwessie vir die mediese wetenskap om op te los, maar miskien is dit nodig dat ons ook ’n handjie moet bysit.”

      “Presies. Iets is hier nie pluis nie. Iets laat gevaarligte flikker. Tog is daar geen letsel hoegenaamd aan die liggaam van oubaas Brijns gevind waardeur hy hom moontlik kon doodbloei nie.”

      “Wat van inwendige bloeding?”

      “Geen teken nie. Dan moes dit met die lykskouing aan die lig gekom het. Wat meer sê, daar is geen teken van bloeding in die buitetoilet gevind nie en nêrens ’n teken dat hy sy liggaamsbloed deur sy neus of selfs ore verloor het nie. As hy so geweldig gebloei het, moet daar tog tekens daarvan gewees het, nie waar nie? Jy probeer tog die bloed met lappe of iets dergeliks keer, maar nêrens in sy woonwa is ’n spatseltjie bloed teen ’n muur of op ’n slaapbank of waar ook al gevind nie. Ook geen bloedbevlekte lap of handdoek nie. Dis ’n totaal bloedlose affêre. Volgens die twee private praktisyns van Masvingo het die toeriste wat gekla het van ’n skielike swakheid in geen geval bloed deur die natuurlike kanale verloor nie, hoewel die onderskeie hemoglobientoetse duidelik getoon het dat die liggaam beslis bloed verloor het. Verder was daar ook alle tekens aanwesig wat gewoonlik gepaardgaan met bloedverlies: bloeddrukprobleme, toestand van skok en so meer. Dokter Johnson en sy twee kollegas sal jou te woord staan en meer besonderhede verskaf. Ek laat hierdie saak aan jou oor. Kyk wat jy kan uitkrap. Kry jou sake reg en vertrek so gou moontlik na die Zimbabwe-ruïnes.”

      Weer word iets na Gustaf uitgehou. “Dit is die drie verslae van die drie dokters dié. Bestudeer dit, maar dit sal beter wees om hulle weer persoonlik te gaan ondervra. Daar kan net ’n kleinigheidjie wees wat hulle oor die hoof gesien het.”

      Die jonger man staan op.

      “Goed.”

      Die ouer man reik hom die hand en die eerste keer is daar ’n teken van ’n glimlag om sy mond.

      “Tot siens. Ek hoop ek sal gou van jou hoor. Miskien wil ek nou ’n haas opjaag waar daar nie