Trapsuutjies op ’n spieël
Sy oë skandeer panoramas
van hemel & aarde,
sy stert is die springveer
van ’n wekker. Hy is fyn geskub,
livrei van groenspaan
op sonnewyster & weerhaan.
Die tong van só ’n digter
is ’n boekrol, ’n taai spier
wat in die verste uit-
hoeke van ’n vers
die soetste sinne kan haal.
Sal hy van streek verander,
of suutjies, voetjie
vir voetjie op sy ewe-
beeld balanseer
– op die onsienbare lyn –
& in ’n kwiksilwer
vergetelheid verdwyn?
Weer
1. Breuk
Buite reën dit sag, die lug ruik vars & koel.
Ek lê op die bed & lees, my skrywersblok
oplaas verdryf. Ek het nagdeur geskryf, swoel
met woorde wat donder & weerlig aanlok.
2. Vergesigte
Velerlei dor voetpaadjies kronkel hard-
nekkig oor bulte, & oor die riffelrif
na waar die koue werwelberg se rant
witblou & bogtig & haperig verskrif.
Vers op natrekpapier
Henry James by Assisi
Daar is ’n gemeensaamheid in die gebruik
van seep: elke belaste, kruiperige bedelaar,
leeglopers, leuenaars, sakkerollers, & pederaste
floreer Franciskaans ongeërg oor sindelikheid
in die skadu van Giotto
se sint Franciskus, die groot ongewaste.
Tóg, hiér, van aangesig tot aan-
gesig met die heilige, gebaai
in die donker gloed van sy aansyn,
word elkeen bewus van daardie menslike,
daardie sublieme omhelsing,
wat álles omvat, behalwe seep.
Op ’n eiland
And the ports have names for the sea
W.H. Auden
optelgedig uit Op ’n eiland van Karel Schoeman
Dit is ’n lang reis van Piréus
na die eiland. Die skip is oud
& lendelam, sukkel traag
van hawe na hawe, vertoef
soms terwyl die son neerbrand,
totdat die fluit weer blaas
& die reis voortgesit word.
Hawens, stadjies, eilande dryf verby,
blou bergkamme teen die lug,
vensters flits boodskappe terug.
Daar is eilande
deur geen mens bereik,
wit strande deur geen voet betree,
helder fonteine waarvan niemand
ooit gedrink het nie.
Daar is streke
op geen kaart vasgelê, kuste
waaraan nooit ’n naam gegee is nie,
waar geen oor die roep van voëls
of die slag van branders hoor nie,
afstande ongemeet
& dieptes ongepeil –
o ja, daar is eilande,
& dit is ’n lang reis
van die eiland na jou.
Digter, duif & kat
vir Daniel Hugo
Digter, duif & kat
deel ’n habitat
& één obsessie:
van vroeg tot laat, klok-
slag soos depressie
& sonder gesels
stryk die kat sy pels,
die ander twee hul
vere, verse plat.
Bekentenis van die vrugtedief
Meester van die beleë Woord,
ek steel soms honger uit u boord:
elke vrug droom stil in sy stroop,
gedeë soos ’n sterfbedwoord.
II. Spore
Een dichter slaat zijn wonden
met een denkbeeld van de poëzie.
Rein Bloem
Catullus praat met die digter op Diemersdal
variasie op Carmina 46
Nou smee die dae met winterweer ’n grys komplot.
Deur skuur & houtbeskot, deur elke kier, fluit ’n ysige wind.
Sit weg die tuinvurk, die grond is kluithard, die jaar se oorskot-
vrugte is ingelê in gouestroop. Lees, of skryf gedigte. Kat se kind
lê knus voor die kaggel terwyl dit buite geurig reën.
Vir die hart ongedurig na ’n lang seereis
wag die warmer keerkring van die palmblaar.
Digters volg die soet spoor van die rietmuis
wat ritsel oor papier. Woorde slyt teen mekaar
& paar, rond & glad soos kieselsteen.
Nou sak die kwik
Nou sak die kwik –
die lug vergrou
& oor Kommetjie
bring die wind
vir ieder distrik
die snerpende blik
van eerste sneeu
onder die keerkring
van die Steenbok.
Reën gieter neer,
elke vywer & voëlbak
kry ’n blinde pêreloog.
Die druppelkraan
se geelkoperhartklop
stol, & in die boord
staan die bome rib-boog
strak & wit,
die koorgalerye
leeg