Winterman, somerhart. Alexa Slabbert. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Alexa Slabbert
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624069492
Скачать книгу
maar ons is grootgemaak om te glo dat perde soms ’n bietjie belangriker as mense is!”

      Toe hy haar veel later help om by ’n krans af te gly sodat die vallei voor hulle kan oopvou, het sy handpalms met ’n doelbewuste streling oor haar kaal rug gegly. Dit het haar heeltemal ontsenu, sodat sy in die skemeraand oorbewus van hom was.

      Ten spyte van jare se blootstelling aan die mooies, bekendes en rykes van die wêreld, was haar hart nog altyd haar eie. Haar loopbaan en goeie naam was vir haar te belangrik om dit weg te gooi deur skandale in die skindertydskrifte.

      Natuurlik het sy soms met mans uitgegaan. Selfs hier en daar vir ’n maand of wat betrokke geraak in ’n dieper verbintenis, maar sy het nooit werklik verlief geraak nie. Sy weet te goed waarvandaan sy kom en wie se kind sy is. Dit maak ’n groot verskil in ’n wêreld waarin almal soek na identiteit in klere en voorkoms, maar sy het lankal geleer hoe vals die vlietende identiteit van skoonheid en roem is.

      Betower deur Chris se nabyheid het sy nogtans probeer om los te kom, maar sy het op die een of ander manier slegs daarin geslaag om in sy arms te beland. Skielik was alles vergete: die moegheid van die dag se lang fotosessie, die loom bergwêreld om hulle, haar loopbaan, sy kameras.

      Hy het haar mond gevind en dit honger oopgesoen, terwyl hy gesukkel het om haar nog nader teen hom aan te trek. Tussen die fynbos en die sterre het sy haar nek na hom gedraai sodat hy ’n soen in haar kuiltjie kon druk. Sy lippe was sag, warm en effe klam. Sy het sy mond tot op haar skouer laat glip, waar sy hand reeds haar toppie se skouerbandjie weggetrek het.

      Die aand het sag geword om hulle, met ’n karringmelkwit volmaan se glans oor die wingerd en bergkruine.

      “Ek dink jou foto is besig om te verdwyn . . .” het sy gefluister en haar uit sy omhelsing losgemaak. Sy het op ’n rots gaan sit en afgekyk na haar bewende hande. As sy nou enigsins sy oë sou ontmoet, hom selfs net sou hoor asemhaal . . .

      Dit was ’n oomblik of twee voordat hy sy kamera se lens kon oopdraai en met die ligmeter begin vroetel het.

      “Wat ek nie op die film kry nie, kan die rekenaar regdokter,” het hy gespot.

      Toe hulle later al geselsend deur die maanverligte wingerde huis toe ry, kon sy die warmte tussen hulle aanvoel. Veel later, toe hulle groet, was dit sy wat doelbewus ’n oomblik teen hom aangeleun het. Sy het behaaglik gevoel hoe sy vingers in klein sirkels oor haar kaal skouers streel. Sy was moeg en het bykans geen weerstand meer teen hom gehad nie.

      Die volgende dag is sy weg New York toe. Sy het eers weer van hom gehoor toe ’n pak foto’s van die Paarlse fotosessie by haar agentskap opgedaag het. Met ’n bos proteas daarby. Geen notas, geen SMS’e en beslis geen oproepe nie.

      Sy het gevoel asof sy maar net deel was van die eb en vloed van sy besige lewe. En besluit om dit so te hou. Sy het via haar agent, Leigh Gianelli, ’n dankiesê-boodskap gestuur.

      “Liefie, is jy seker jy wil nie self met hom praat nie? So ’n hunk, en jy hét darem die lieflikste blomme gekry . . . vars proteas al die pad van Suid-Afrika, nogal,” het Leigh met haar diep stem gesê, maar Donna het net haar kop beslis geskud.

      Nou is hulle saam hier op die romantiese Mahé. Miskien was die weddenskap net ’n gerieflike verskoning waarmee sy haarself wou bluf. Sy het immers goed geweet Chris sal die fotograaf wees vir hierdie opdrag.

      Chloe se skril dogtertjiestem ruk haar terug na die hede. “Donna! Ons is so bly om jou te sien!” sê sy met ’n glimlag soeter as stroop. Haar platinumblonde hare skuif vir ’n oomblik oor haar fynbesnede gesig toe sy vooroor buk om vir Donna ’n drukkie te gee.

      Donna staan effe agtertoe om weg te kom van die swaar speserygeur van Chloe se parfuum. Michelle het ook opgestaan en bied haar wang aan vir ’n lugsoen soos modelle uitruil om nie hul lipstiffie en grimering te bederf nie.

      Donna word voorgestel aan die res van die groep: Wynand, die spitsvondige en stylvolle stilis, Phoebe, ’n teruggetrokke grimeerkunstenaar, en Rochelle, Sport SA se tydelike moderedakteur, wat sekerlik hier is met tasse vol einaklein bikini’s en bykomstighede soos ontwerpersonbrille.

      Hulle groet oor en weer en Donna neem plaas by die kroegtoonbank. Die patio by die swembad is oorgroei met kleurvolle hibiskus en bougainvilleas, en die vloer is sommer van seesand. Sy skop sorgeloos haar sandale uit. Sy het haar voete goed laat versorg voordat sy gekom het en hulle voel sysag toe sy hulle teen mekaar skuur. Elke toonnael is ’n pêrelpienk halfmaantjie. Sy dra ’n fyn toonring met ’n diamantjie en ’n goue enkelbandjie. Sommer vir die eilandpret, en omdat sy dit nie in New York of Parys kan doen nie. Al is dit nou al uit die mode, gee dit haar so ’n sigeunergevoel. Dis in elk geval gepas vir enige eilandwegbreektydjie, meen sy.

      Donna is lief daarvoor om haar voete deel van haar uitrusting te maak. Sy is seker sy het meer pare skoene as enige ander model wat sy ken. Haar en haar ma se gedeelde liefde vir skoene koop, dra natuurlik baie daartoe by. Skoene koop is hulle terapie.

      Sy is veral mal oor oop sandale met fyn bandjies wat oor haar hoë voetbrug span, en wat sy so van haar voet kan laat bengel. Verkieslik in pastelkleure, sodat dit die sonbruin van haar voete nog meer kan wys. As sy dan as ’n model ydel is, is dit oor haar voete.

      Uit die hoek van haar oog sien sy hoe Simon Conradie nader stap uit die hotelsitkamer.

      “Wat kan ek vir jou bestel, Donna van New York via die Paarl?” vra hy met sy gruiserige stem.

      Haar blik rus vlugtig op hom. Hy is skielik die perfekte gasheer in ’n spierwit gholfhemp wat skerp teen sy bruingebrande vel afsteek. Hy is werklik een van die min mans wat ’n Bermuda-kniebroek mag dra – daaronder steek kuite uit wat lyk of hulle gereeld ’n bergfiets se pedale trap.

      “Professionele gewoonte?” vra hy toe hy langs haar inskuif.

      Sy kyk onderlangs na hom. “Wat bedoel jy?”

      “Om mense so ondersoekend te beskou en hulle met jou oë te meet. Dit kom seker maar saam met die ander beroepsrisiko’s van model wees. Toe, wat drink jy? ’n Glasie chardonnay?”

      “Nee, dankie, fonteinwater vir my. ’n Professionele gewoonte . . . ek drink net my pa se chardonnay,” terg sy. Chardonnay is haar gunstelingwyn, maar sy voel so ietwat aspris. ’n Man soos Simon maak haar dadelik astrant en op haar perdjie. Sy is seker hy weet meer van haar as wat sy graag sal wil hê hy moet weet. Sy bemarkingspan sou wel die portefeulje artikels wat al oor haar verskyn het vir hom gegee het.

      Hy is nie die soort redakteur wat nie sy huiswerk sal doen voordat hy soveel geld sal uithaal om haar vir ’n fotosessie te betaal nie. Sy reputasie is dié van ’n taamlik genadelose mediaman wat werklik meer op sport wil konsentreer, maar hy besef deeglik dat sy tydskrif een keer ’n jaar die inspuiting van die swemdraguitgawe nodig het, ter wille van die sirkulasie en advertensie-inkomste. Dis lastig, maar nodig.

      Hy kyk sydelings na haar, maar Donna is onversteurbaar. Sy het lankal geleer dat die Simon Conradies van die wêreld mans is wat vroue met ’n afstandkontrole wil beheer. Jy moet elke stukkie vroulike lis in jou gebruik om hulle uit hul gemaksone te kry. En vreemd genoeg, dis presies wat sy wil doen, vir welke rede ook al.

      Sy neem ’n lang teug water en kyk hom vas in die oë. “Dans met my, asseblief. Ek is in ’n dansbui,” nooi sy met ’n sjarmante glimlag.

      Kom ons kyk hoe hanteer jy dié uitdaging, meneer Komkommerkoel, dink sy met ’n bietjie leedvermaak.

      Sy skuif die spaghettibandjies van haar geblomde rok oor haar skouers op en trek haar hare vir ’n oomblik op haar kop saam sodat haar lang oorbelle haar hals ten beste laat vertoon. ’n Romantiese Franse ballade word sielvol deur ’n eksotiese donker sangeres gesing en sy neurie saggies saam.

      Hy hou sy hand uit na haar. “Net ’n waarskuwing: ek doen nie die losdansding nie, Donna van New York,” sê hy koel en lei haar na die dansvloer. En toe hy haar teen hom aantrek, merk hy op: “En los maar die modelfoefies soos om jou hare heen en weer te gooi. Dit werk nie op my nie.”

      Donna is dadelik