Winterman, somerhart. Alexa Slabbert. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Alexa Slabbert
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624069492
Скачать книгу
tion>

      

      Winterman, somerhart

      Alexa Slabbert

      Satyn

      1

      “Vergeet nou net vir ’n oomblik jy is ’n model en laat waai!” skree Chris Naudé tergerig.

      Donna Joubert gooi vinnig haar kastaiingbruin hare oor haar skouer en kyk waarderend terug oor die winkelhaakstrand van die Seychelle se Mahé-eiland. Op dié eertydse eiland van seerowers en seilskepe, net suid van die ewenaar, lyk Chris op sy appelgrys perd met sy kaal, blinkbruin bolyf na ’n romantiese figuur uit die verlede.

      Sy wys met haar perd se teuels na die kamera om sy nek. “Vergeet jy dan jy is ’n fotograaf, dié fotograaf van die belangrikste sporttydskrif in die land!”

      Hy probeer haar inhaal oor die spierwit koraalstrand. Hulle is binne sekondes deurdrenk met warm druppels reën – dalk ’n teken van ’n sikloon wat eersdaags oor die Tuin van Eden in die Seychelle-eilande sal woed wanneer die windseisoene verander? Die swaar, aromatiese reuk van kaneelbome hang in die lug – ’n somersoet reuk soos ’n tuin vol angeliere.

      Die reëndruppels lê soos blink juwele teen Donna se vel en laat haar dun katoenhemp soos ’n tweede vel aan haar kurwes kleef. Daarvan het sy genoeg; sy is nie verniet een van die modelle wat vanjaar gekies is vir die tydskrif Sport SA se swemdraguitgawe nie. Dalk nog die voorbladmeisie ook.

      Selfs vir ’n model troon Donna lengtegewys bo ander vroue uit. Dit op sigself maak haar dié meisie wat jy raaksien wanneer jy ’n vertrek binnestap. Voeg daarby haar skouerlengte kroon van krullerige ligbruin hare, fynbesnede gelaatstrekke en kaneelbruin oë, en dis duidelik hoekom sy al van haar sestiende verjaarsdag af ’n modelsensasie genoem word.

      As ’n voormalige lewensredder en waterskiër het sy sterk, gespierde bene. Haar skouers is effe breed – soos dié van ’n swemmer – en haar heupe is smal, die ideale afmetings vir ’n loopplankmodel.

      Dis juis haar lyf waarop Chris konsentreer toe die perde stadiger loop terwyl wit seeswaels rondom hulle duikel op die moesonwind.

      “Dís nou hoe ’n tweestuk moet sit! Jy gaan beslis die mooiste vrou wees wat ek nog op ’n perd se rug gekliek het. Dis nou as ek my sin kan kry.” Hy sug onwillekeurig. “Waarom is skoonheid tog vir my so ’n totale verleiding, selfs ’n obsessie? Hoekom is ek nie die soort ou wat vir persoonlikheid of status of geld val nie? Nou is dit een kyk na jou en jy het my in die palm van jou gemanikuurde hand . . .”

      Donna glimlag skalks. Sy het lankal geleer om fotograwe se mooiweerspraatjies te ignoreer. Enige model, loopplank of fotografies, is die teiken daarvan voor of tydens ’n fotosessie. Hulle noem dit om ’n rapport met die model te vestig, ’n tegniek om haar in die regte bui te plaas.

      Sy weet nie of dit dalk nog meer van toepassing is in die geval van swemdragmodelle nie. Sy kan haar indink dit verg nog veel meer selfvertroue as gewoonlik om so skamel geklee voor die kameras te verskyn. Komplimente tydens die fotosessie is dus ekstra welkom.

      “Toe maar, dis net jy wat voor my en die res van die meisies sal swig. Ek hoor as dit van Simon Conradie afhang, word al die modelle vir Sport SA se swemdraguitgawe uit een patroon gesny: die spreekwoordelike blondine, neutbruin gebrand, met hemelblou kykers en ’n figuur soos ’n Barbie-pop. So voorspelbaar. Kyk maar net hoe lyk die voorblad van Sport SA se swemdraguitgawe elke jaar. Ek hoor dit is en bly Simon se prerogatief om die voorbladmeisie te kies. Maar ek dink dis tyd dat iemand die patroon verbreek.”

      Sy glimlag asof sy ’n geheim bewaar en laat haar oë glip na waar koraalrooi flambojante teen die skitterblou lug uitstaan. Wat ’n paradys . . . net jammer daar is ’n slang in die smaraggroen gras, en sy naam is Simon Conradie.

      Chris kyk agterdogtig na haar. “Weet jy dalk iets wat ek nie weet nie? Dit wás nogal vir my vreemd om jou hier aan te tref . . . Want jy’s reg, Simon Conradie hou van sy voorbladmeisies blond. Ek ken hom darem nie van gister af nie. Sy meisies in die regte lewe is ook baie blond, ekstra mooi en altyd in die kollig. Hy onthaal hulle rojaal in sy dakwoonstel in Kampsbaai – net soos wat die res van die Kaap se elite-oujongkêrels dit doen. Of altans, so sê die bostelegraaf.”

      Donna sê liewer niks. Sy geniet die kaleidoskoop van kleur en geur om haar en trek aan die batikversierde sarong wat sy vroeër gekoop het om oor haar bikini te dra. Sy het haar hare uit haar gesig weggesteek met twee skilpaddopkamme – ook produkte van die handwerkkunstenaars op hierdie verlate eiland in die tropiese son.

      Chris kyk skerp na haar. “Ken jy vir Simon? Ek kan byna nie dink dat julle paadjies al sou gekruis het nie . . . sy hele lewe draai mos om sport. Toe, uit daarmee, ek kan sien jy bars om my te vertel.”

      Donna kyk uit die hoek van haar oog na hom en neem haar tyd om hom van kroontjie tot toontjie te beskou. Die laaste twee dae het sy oorbewus geword van hom as ’n man eerder as ’n fotograaf. Chris het die tipiese Latynse voorkoms, met hartstogtelike donkerblou oë en ’n voortvarende blik daarin.

      Maar sy ken hom té goed om opgewonde te raak oor die fladdering op haar maag toe hy haar blik onderskep en met ’n betekenisvolle glimlag vir haar knipoog. Hy is te doodseker van sy uitwerking op vroue wanneer hy sy T-hemp uittrek. Sy sal maar haar ysprinseshouding moet uithaal.

      Sjarmante rokjagters soos Chris moet ’n mens altyd op ’n afstand hou. Hulle is selfsugtig oor hul eie geluk. Vir hulle is daar net pret in ’n verhouding as hulle jagter-jagter kan speel. Met ’n bokkie in die wip raak hulle gou verveeld, Chris Naudé nog meer as ander. Hy is ’n wêreldwyse en lewenservare lensfilosoof. Ná sy jare as wildbewaarder en toe as vooraanstaande natuurlewefotograaf, het hy naam gemaak met modefotografie. Hy is al jare lank dié fotograaf vir Sport SA se swemdraguitgawe.

      Eiewys en altyd oop vir nuwe dinge: dis hoe ’n mens hom kan opsom.

      Half kaal hier langs haar, reik hy nou met sy arms in die lug, die teuels rus losweg op sy perd se rug. Sy gewoonlik ondersoekende blou oë is toe terwyl hy die sagte reën in warm strale oor hom laat syfer.

      Presies hoekom sy nou so oorbewus van Chris is, weet Donna nie, maar sy wonder skielik daaroor. Dit het begin toe hulle op die vliegtuig na die Seychelle geklim het; sy het hom dadelik raakgesien, opnuut besef hoe aantreklik hy is.

      Sy het uitgesien om weer Kreoolse geregte en yskoue vrugtedrankies te drink soos tydens haar vorige besoek. En om heerlik sportief te wees: te skermsweef en op die waterpedallo’s te ry. Maar sy weet nie of daar veel kans daarvoor gaan wees nie. Chris is ’n moordende werkgewer, het sy al tydens vorige fotosessies ervaar. En Simon Conradie is ’n redakteur met ’n missie: om sy sporttydskrif die manstydskrif met die hoogste sirkulasie in Suid-Afrika te maak.

      Sy het gou agtergekom dat Chris altyd so effe eenkant van die groep modelle, stiliste, haarkappers en grimeerkunstenaars is. Dit het haar nogal geboei, alhoewel sy nie by hom aangesluit het nie.

      Sy swem self nie saam met die in-klomp nie. Maar sy het haar eenkant gehou omdat sy meesal oorsee werk en nie eintlik op hoogte is van wat in die Suid-Afrikaanse model- en tydskrifwêreld aangaan nie. Hierdie opdrag vir Sport SA het heeltemal uit die bloute gekom.

      Daar is iets aan Chris wat jou dadelik as ’n vrou roer. Miskien is dit sy rusteloosheid, die manier waarop sy skerp blik eers op die horison en dan intens op jou rus. Daar is ook die kleur van sy oë: ’n ongewone, skerp blou teen sy swart krulhare, en daarby gevoelvoller as wat mans se oë gewoonlik is.

      Normaalweg kon sy Chris se ondersoekende blik met ’n professionele blik van haar eie beantwoord. Sy ken fotograwe – ’n engeltjie onder hulle moet sy nog teëkom. Selfs onder die getroudes is daar ’n paar wat maar liewers ringloos in die bedryf moes gewees het.

      Maar Chris is anders. Op ’n goeie manier.

      “As jy jou nou klaar aan my verkyk het,” spot hy, “sal ek graag jou geheim wil hoor.”

      Donna bloos effe omdat sy onkant betrap is. “Met hierdie geheim gaan ek graf toe, anders is my reputasie vir ewig daarmee heen,” glimlag sy. “En jy sal jou wat verbeel dat ek my aan jou verkyk. Ek kom nou net van Milaan af, en jy weet wat sê hulle van die Italiaanse mans. Kom help my liewer afklim!”

      Sy