Sarah du Pisanie Omnibus 8. Sarah du Pisanie. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Sarah du Pisanie
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624065746
Скачать книгу
verdwyn en hy kan nie help om saggies te lag nie.

      Die juffroutjie hang natuurlik nou die goed aan die draad op as ’n afskorting. Sy het ’n wasbakkie in haar kamer en nou het sy vir haar ’n badkamer en een toilet afgeskort met die lakens en deken.

      Nie lank daarna nie kom sy by die deur uitgestap en toe sy hom sien, kom sy vinnig nader.

      “Oom Gawie, sal dit moontlik wees om daardie een bed en lessenaar wat ek nie gaan gebruik nie, uit my kamer te neem? Die lessenaar kan oom sommer in die hoofseun se nuwe kamer laat sit.”

      “Seker, juffrou Annie, ek doen dit graag.”

      Oom Gawie roep hard na iemand in die kombuis en ’n groot man kom vinnig nader gehardloop. Hy groet vriendelik, maar Annie kan die openlike verbasing en nuuskierigheid op sy gesig lees.

      “Filemon, help tog gou hier.”

      Oom Gawie en Filemon dra die bed en die lessenaar uit en nou kan Annie na hartelus haar meubels skuif.

      Hoofstuk 2

      “Wat de drommel! Meneer Brand!”

      Bertus Kruger se woedende stem weerklink deur die rustige stilte. Annie se hande verstil en nog met die rok in haar hande stap sy vinnig deur toe.

      “Ja, meneer Kruger?”

      “Wat gaan hier aan?”

      “Waar, meneer Kruger?”

      “Hier in die badkamer. Moenie nou vir jou dom hou nie!”

      Annie stap ongeërg tot skuins agter Bertus Kruger.

      “Wie se werk is dit?” Bertus beduie woedend na die wit lakens en die rooi-en-groen gestreepte deken wat netjies met kopspelde vasgesteek is.

      “E . . . e . . .” Oom Gawie maak ongemaklik keel skoon.

      “Dis myne, meneer Kruger.”

      Bertus swaai om en Annie begroet sy blitsende oë met ’n skynheilige glimlaggie.

      “Dit behoort te werk, meneer Kruger. ’n Boer kan altyd ’n plan maak!”

      “Haal dit dadelik af!” Rooi van woede sis hy die woorde afgemete uit.

      “Ek dink nie dit sal wenslik wees nie, meneer Kruger. Die badkamer se deur kan wel sluit, maar as ek nou uit die badkamer kom, kan dit net wees dat van die seuns nie geklee is nie. Jy ken tog seuns . . . Ek weet, ek het drie broers.”

      “Juffrou Delport . . .” Bertus stik van woede in sy woorde.

      “Ja, meneer Kruger?” Haar stem is stroopsoet.”

      “Jy gaan nie hier bly nie!”

      “Sê wie?”

      “Sê ek!” Vererg sluk hy die woorde in, vies vir homself dat hy haar staan en napraat. As sy nou ’n seun was, het hy haar behoorlik gestraf.

      “Dis nog altyd my skool! Verstaan jy my, juffrou Delport? Hierdie seuns is opgevoede, gedissiplineerde kinders en ek sal nie sulke . . . sulke onwelvoeglikheid hier toelaat nie.”

      “Meneer Brand sê hy kan dit met ’n paar planke afskort, meneer Kruger. Dis jy wat dit nie wil toelaat nie. Dit sal baie onwelvoegliker wees as ek die badkamer net so saam met die seuns moet gebruik.”

      Buite homself van woede storm Bertus Kruger by die deur uit.

      In sy kantoor sit hy ’n oomblik lank met sy kop in sy hande. Wat moet hy doen? Die departement sal waaragtig nie ’n ander onderwyser vir hom stuur nie. Meneer Lindtveld en sy trawante is jaloers op hierdie skool wat so selfonderhoudend is. Hulle soek net heeldag iets teen die skool.

      Hy en ou meneer Fourie het heel goed aangegaan. Ou Anton is al diep in die vyftig, maar hy is ’n toegewyde onderwyser, net so ’n bietjie aan die sukkelkant. Hy neem selde self ’n besluit. Hy wat Bertus is, het al dikwels gevoel dat dit sy taak as hoof oneindig sal vergemaklik as ou Anton tog net van die kleiner besluite op hom wil neem. Die skool het so uitgebrei dat hulle nou dringend nog ’n leerkrag nodig het. Hulle het met agt seuns begin, almal toe in standerd sewe. Die eerste jaar was dit net hy. Die volgende jaar het daar sewe nuwelinge bygekom. Toe het Anton gekom om te help. Die jaar daarna het daar ses nuwe­linge bygekom. Vanjaar verwag hulle nege nuwelinge. Daar is nou altesaam dertig leerlinge in vier verskillende standerds.

      Vanjaar het hy sy eerste matriekklas. Hulle gaan soveel ekstra aandag nodig hê. Dis absoluut noodsaaklik dat hy nog ’n onderwyser kry.

      Hy het alles so netjies beplan. Die nuwe outjies sal ’n groep vorm, en die standerdagts en -neges sal ’n groep vorm, sodat die matrieks alleen kan wees. En nou dit!

      As hy geweet het hulle beoog om vir hom ’n vroumens te stuur, sou hy self gedurende die vakansie ’n onderwyser gaan soek het. Hulle het hom egter net laat weet dat ene A.M. Delport die pos aanvaar het.

      Hy gryp skielik die telefoon en draai die slinger met

       mening.

      Ek sal my nie laat intimideer nie! Hulle sal eenvoudig vir my ’n ander onderwyser móét stuur. As hulle nie wil nie, sal ek en Anton maar weer alleen moet aansukkel. Die sewes en agts moet dan maar ’n groep vorm en die neges en tiens een.

      “Hallo, Bertus!” Martie gee kortasem antwoord.

      “Ja! Martie, ek wil –”

      “Bertus, neem tog net eers hierdie hooflynoproep, asse­blief.”

      “Goed.” Bertus wag dat die oproep moet deurkom. Ou Lindtveld het hom seker nou bedink en iemand anders gekry. HulIe sal darem ook moet leer hy laat nie met hom speel nie.

      “Meneer Kruger?” ’n Vrouestem klink in sy oor op.

      “Ja, dis hy wat praat.”

      “Meneer Kruger, dis mevrou Jordaan, Anton Fourie se suster.”

      “Môre, mevrou. Anton is nog nie hier nie. Ek verwag hom eers teen die namiddag se kant.”

      “Ek weet, meneer Kruger. Hy is nog hier by my. Hy . . .

       hy is siek. Ons weet nog nie wat makeer nie. Hy het die vakansie hier gekuier en die afgelope week is hy nie gesond nie. Hy wou vanoggend ry, maar hy is so siek dat ons hom in die bed gestop het. Die dokter was nou net hier en hy reken hy wil hom ’n paar dae in die hospitaal laat opneem. Hy wil ’n paar toetse doen.”

      Bertus staar geskok na die gehoorbuis in sy hand, asof dit ’n slang is wat hom gaan pik.

      “Maar, mevrou . . .”

      “Meneer, hy is vreeslik ontsteld. Hy weier koppig om hospitaal toe te gaan. Ek is baie bekommerd oor hom. Hy sê egter hy sal net gaan as die nuwe onderwyser wel daar aangekom het, want hy kan jou nie so alleen met die seuns los nie.”

      Stom staar Bertus voor hom uit.

      “Het hy dalk al gekom, meneer Kruger, sodat ek Anton die versekering kan gee?”

      “Ekskuus?”

      “Ek vra of hy al gekom het?”

      “Wie?”

      “Die ander onderwyser.” Die vrou se stem klink effens geamuseerd.

      “Ja . . . ja, sy is hier . . .”

      “O, maar dis wonderlik! Dan kan Anton eers hospitaal toe gaan vir die toetse. Baie dankie, meneer, ek sal jou weer later bel om te sê wat die uitslae van die toetse was.”

      “Ja . . . ja, dis goed so.” Verdwaas sit Bertus die gehoorbuis neer.

      Wat gaan hom nog alles vandag tref? Hy staar verwilderd voor hom uit. Die telefoon lui skril: twee langes en ’n korte, twee langes en ’n korte. Asof van ver af registreer dit eers ná die derde luitoon by Bertus dat dit sy lui is. “Ja?”

      Dis Martie se kortasem stemmetjie wat in sy oor opklink.

      “Watter