“Vanjaar sal hier dertig wees, kindjie.”
“Hier is twee en dertig beddens, nè, oom?”
“Ja, kind, hoekom?” Oom Gawie frons.
“Wel, die hoofseun moet dan saam met die onderhoofseun in ’n kamer gaan. Ek dink in elk geval hy sal dit meer geniet. Dis seker aaklig om ’n kamer met ’n onderwyser te deel.”
Oom Gawie lag saggies.
“Ja, Kobus hou ook niks daarvan nie. Meneer Kruger voel egter dat die hoofseun nie saam met die ander seuns in ’n kamer moet slaap nie, want dan sal hy nie gesag oor hulle kan uitoefen nie.”
Annie keer die sarkastiese aanmerking op die punt van haar tong.
“Wel, ek is nou baie jammer vir meneer Kruger, maar die hoofseun kan ook nie by my slaap nie, want dan sal ek weer geen gesag kan uitoefen nie!”
Oom Gawie gooi sy kop agteroor en lag skaterend, om dan sy hand vinnig voor sy mond te druk.
“Hoor nou net hoe luidrugtig kan ek raak! En ek is ’n ou man!”
“Sal oom my asseblief help om my goedjies hier in te dra? Ek sal so bly wees.”
“Juffrou Annie, onthou net ek doen dit op jou instruksies.”
“Ja, oom.” Haar gesiggie is doodonskuldig, maar oom Gawie kan die duiweltjies in die groot, bruin oë sien dans.
“Wanneer kom die seuns dan, oom?”
“So namiddag se kant. Hulle kom maar so laat moontlik. Hulle is nooit haastig om hier te kom nie.”
Annie kyk hom vraend en ongelowig aan.
“Ag, hulle werk hard hier en . . . ’n kind is mos maar nie lief vir skool en veral vir ’n koshuis nie.”
“Haai, oom, dis dan die mooiste en rustigste plek wat ek nog ooit gesien het. Die kinders behoort gretig te wees om hiernatoe te kom. Ons was dan altyd behoorlik haastig om weer by die koshuis te kom ná so ’n lang vakansie. Daar was so baie om oor te gesels en te vertel!”
Oom Gawie sug net en stap voor haar uit. Hy tel die groot tas op sonder om verder kommentaar te lewer. Annie tel die twee kleiner tassies op en rek haar treë agter oom Gawie aan. Hy sit die tasse in die middel van die kamer neer. “Juffrou moet maar sê as daar nog iets is. Ek moet liewer nou gaan, netnou soek meneer Kruger my. Hy sal seker nou-nou kom kyk of ek al die struike klaar gesnoei het.”
Annie maak haar mond oop om iets te sê, maar bedink haar net betyds en klap dit vinnig toe.
By die deur draai oom Gawie om en aan die frons op sy voorkop kan Annie sien dat iets hom hinder.
“Juffrou Annie, watter badkamer gaan jy gebruik?”
“Dit, oom Gawie, was die twispunt vanoggend tussen meneer Kruger en meneer Lindtveld. Ek sal maar self iets moet prakseer. Ek dink nie meneer Kruger gaan sy vinger verroer om my te help nie.”
Sy stap saam met oom Gawie by die deur uit en saam gaan staan hulle in die badkamereenheid se deur. Hand in die sy bekyk sy die spulletjie. “Hier is twee ingange na hierdie eenheid toe, oom Gawie. As hulle dit net hier afskort, sommer met houtplanke of iets, dan kan ek hierdie ingang gebruik en die seuns die ander een. Dan is die badkamer en die een toilet aan hierdie kant mooi afsonderlik. Die seuns gebruik seker nooit die badkamer nie. Soos ek seuns ken, sal hulle net die storte gebruik.”
Annie loer onderlangs na oom Gawie en wag vir wat gaan kom. Haar pa en Kosie, haar een broer, sê altyd: “Alles lyk so maklik wanneer Annie begin werk uitdeel.”
“Al wat ons nodig het, oom Gawie, is ’n paar planke. Dit gaan nie vreeslik moeilik wees nie.”
“Hm!” Oom Gawie bekyk die spul op en af en meet dit dan met lang treë af.
“Ja-nee, wat! Dit kan maklik gedoen word. Dis net . . .”
Annie se gesiggie breek oop in ’n breë glimlag.
“Ai! Baie dankie, oom.”
“Wag! Wag, meisiekind! Ek het niks te sê hier nie. Ek is maar net die nutsman. Ek hou net alles in stand en kry my opdragte by meneer Kruger.”
“Net solank ek weet oom Gawie kan dit doen sonder dat ons eers toestemming van die president moet kry.”
Oom Gawie lag saggies.
“Ons sal in elk geval toestemming van meneer Kruger moet kry. Ek sal hom sommer nou gaan vra en dit dan gou kom doen voordat die seuns hier aankom.”
“Dankie, oom!”Annie glimlag breed en oom Gawie het lus en druk haar styf teen hom vas. Sy lyk nou net soos Estertjie, sy enigste kind. Waaroor die kind nou ook met ’n Duitser moes gaan staan en trou het en nou so ver van hom af is, weet hy nie.
Oom Gawie stap vinnig met sy kort beentjies terug skool toe. Annie pak al singend en heeltemal tevrede met die wêreld haar goed uit.
Sy sal netnou vir oom Gawie vra om die ander bed en die ekstra lessenaar uit te neem. Dan sal die kamer heerlik ruim wees.
Sy bekyk haar nuwe tuiste skewekop. Sy sal die boekrak tot teen daardie muur skuif waar die ander bed nou staan.Wanneer sy weer op die dorp kom, sal sy vir haar ’n mooi potplant en ’n staander koop vir die hoekie naby die venster.
Die gordyne wat voor die venster hang, is pragtig. Sy sal net vir haar ’n vrouliker beddeken en ’n ligroos matjie kry. Dit behoort die kamer baie geselliger en vroliker te laat lyk.
’n Ligte tikkie aan die deur laat haar vinnig opkyk. Oom Gawie staan bedremmeld voor haar en dit laat haar moed in haar skoene sak.
“Hy wil niks weet nie, juffrou Annie. Hy . . . e . . . hy sê jy gaan tog terug en dit sal nie nodig wees nie.”
“Sê hy! Gmf!”
Dié vreemde uitdrukking laat oom Gawie weer al sy frustrasie van so ewe vergeet en hy glimlag ondeund.
“Ons sal dan doodeenvoudig ’n ander plan moet maak, oom.”
Annie druk by hom verby en stap weer na die badkamer toe. Sy bekyk dit met ’n “Hm!” en ’n “A!”. Haar planne neem sommer gou weer vorm aan.
Oom Gawie beweeg soos ’n skadubeeld agter haar aan, heeltemal bereid om al die hulp aan te bied wat nodig mag wees.
“Oom Gawie, het oom vir my ’n stuk draad en ’n tang en . . . Ja, dit behoort eers al te wees.”
“Draad en ’n tang? Ja, natuurlik, kind. Hoe lank moet die draad wees?”
“Van daardie muur af tot by daardie een, oom Gawie.”
Oom Gawie vra nie verder nie. Hoe minder hy weet, hoe veiliger is dit. Hy sal hom net verontskuldig en sê dat hy net vir die juffrou die goed gegee het waarvoor sy gevra het. Hy is tog veronderstel om van enige onderwyser opdragte te kry.
Hy is sommer gou terug met die draad en ’n tang.
Annie sleep ’n stoel uit haar kamer nader en hou haar hand uit vir die tang en die draad. Met ’n behendigheid wat oom Gawie verstom, draai sy die draad om die venstertjie se knip vas. Sy sleep die stoel tot teen die teenoorgestelde muur en klim dan weer op. “Sal oom my asseblief help om die draad styf te trek? Ek is nie sterk genoeg nie.”
Oom Gawie vra nie vrae nie. Hy trek die draad styf en bind die punt aan die vensterknip vas. Hy het ’n baie goeie idee wat nou in daardie koppie broei. “Dankie, oom, nou sal ek self verder regkom.”
Oom Gawie vat die tang en die draad en verdwyn vinnig by die deur uit. Hy sal liewer