Annie wens sy het die vrymoedigheid gehad om haar hand deur sy arm te steek. Sy giggel sag toe sy dink aan die verontwaardiging op sy gesig wat so iets sal uitlok.
“Wat is so snaaks?”
“Nee, niks nie.”
“Is dit vir my wat jy loop en lag?”
“Moenie verspot wees nie! Kyk, daar is ’n stalletjie.”
Hulle is nog besig om hul koffie te drink toe die aankondiging oor die luidsprekers kom dat al die atlete op die baan moet verskyn. Die spanne stap in gelid om die baan. Elkeen dra sy banier voor hom. Die Skurwekoppers lyk maar min en is slegs ’n ou handjie vol teen die atlete van die ander skole. Annie voel egter die trots in haar opstoot. Hulle is groot, sterk seuns met sonbruin arms en bene en lyk pragtig in hul spierwit atletiekklere.
Sy en Bertus juig en klap hande toe die tien seuns by die paviljoen verbykom.
Die seuns vaar verbasend goed in die verskillende items. In al die items wat die oggend afgehandel word, eindig ’n Skurwekopper onder die eerste drie. Hulle groot hoop lê egter by Kobus. Hy móét vandag sy beste lewer.
Kobus se tyd in die honderdmeter was al op Skurwekop tien komma sewe. Hy behoort vandag beter te vaar. Hul baan is nie so goed soos hierdie een nie en Annie is ook nie juis die beste tydhouer nie.
Hulle glo dat Kobus vandag hier ’n rekord kan opstel, maar hulle wil ook hê dat hy moet kwalifiseer om aan die Suid-Afrikaanse Junior Kampioenskap te kan deelneem.
Annie se hande is klam van die sweet toe Kobus begin opwarm. Bertus kyk na die spanning op die skraal gesiggie. Sou sy dalk ’n bietjie verlief wees op Kobus? Sy is nie soveel ouer as hy nie.
Sy kyk vinnig op, vas in die peinsende, grysblou oë en sy glimlag bewerig.
“Dit sal so baie vir Kobus beteken as hy vandag kan kwalifiseer vir die Junior Kampioenskap.”
“Ja! Maar hy sal!” Bertus klink so seker dat Annie dankbaar glimlag.
Die seuns sak in die wegspringblokke en skop-skop om gemaklik in die wegspringposisie te kom. Sy sien hoe die spiere op Kobus se arms bult. Die Skurwekoppers is doodstil. Almal se oë is vasgenael op elke beweging van hul geliefde hoofseun.
Die seuns se beenspiere span styf toe hulle in gereedheid kom, hul koppe lig en dan stip voor hulle uitstaar, die vingerpunte liggies op die grond.
Die afsetter neem vir Annie onnodig lank en die spanning laat ’n knop op haar maag vorm. Sy knyp haar oë toe en bid woordeloos.
Bertus glimlag sag. Hy weet Annie is nou te bang om te kyk, te bang dat Kobus swak gaan wegspring.
Die skoot klap! Annie spring regop en asof die ander net vir haar gewag het, staan hulle gelyktydig op en dan dreun die harde seunstemme hier agter haar.
Kobus is een bondel spiere! Dit lyk asof al die spiere van sy kakebeen tot by die punte van sy tone snaarstyf gespan is. Sy treë is lank en dit lyk asof hy ’n entjie bokant die aarde sweef.
“Kom . . . kom . . . kom, Kobus!” roep Annie.
Kobus en ’n atleet van Outjo hardloop die eerste vyftig meter kop aan kop.
Annie ruk soos sy skrik toe Bertus se harde stem skielik die kinders s’n oordonder.
“Komaan, Kobus, nóú!”
Kobus se treë rek en met elke neersit van sy voete kruip hy onder die ander atleet uit. Met ’n laaste kraginspanning sweef hy oor die aarde en breek die lint ’n goeie drie meter voor die volgende atleet.
Annie se hande klem styf om Bertus se arm en warm trane loop oor haar wange.
“O, Bertus, ek het hom nog nooit so gesien hardloop nie! Hy moet ’n fantastiese tyd opgestel het!”
Bertus kyk af in die opgewonde gesiggie. Alles in hom raak stil en dis asof hy wag . . . gespanne wag vir iets, en hy kan dit nie ’n naam gee nie.
Om hulle raak die seuns histeries en niemand is bewus van hulle nie. Hulle kon net sowel alleen op ’n eiland gewees het.
Hy sit sy hand op hare wat so styf om sy arm klou, en sy stem is vir hom vreemd toe hy praat. Dis sag en teer.
“Ek sal gaan vasstel. Jy sal dit tog nooit hou totdat hulle die aankondiging maak nie.”
Sy glimlag dankbaar en nou eers word sy bewus van sy groot hand wat so gerusstellend op hare rus. Sy bloos liggies en los sy arm. Sy soek sommer na ’n sakdoek in haar handsak om nie in sy tergende oë te kyk nie.
Sy sien die opgewondenheid in sy lenige liggaam toe hy met lang treë oor die baan na die beamptes toe stap. Hy klop Kobus, wat besig is om sy sweetpak aan te trek, joviaal op die skouer en stap verby na die tydopnemers toe.
Aan die breë glimlag op sy gesig en die spontane manier waarop hy vir Kobus gelukwens, kan sy sien dat die tyd baie goed moet wees. Hy slaan sy arm om Kobus se skouers en gee hom ’n druk.
’n Warm gevoel kom lê om Annie se hart. Hierdie belangstelling van Bertus se kant af beteken vir Kobus so oneindig baie. Die seuns wil tog so graag hê hy moet trots wees op hulle.
Annie kan nie wag nie en stap Bertus tegemoet toe hy vinnig oor die baan aangedraf kom.
“Hoeveel?” Sy is so opgewonde soos ’n kind.
“Tien komma vyf!”
“Sjoe! Regtig?”
“Ja, dis fantasties!” Die opgewondenheid maak Bertus se gesig jonk en vrolik en hy het lus en tel haar op en swaai haar in die lug.
Die seuns kom drom om hulle saam en dan bars ’n spontane gejuig los toe Bertus vir hulle die tyd sê.
Kobus glimlag trots van oorkant die baan af toe hy die rumoerigheid sien en hy wuif vir hulle.
Annie gryp haar kitaar en soos een van die kinders sing sy uitbundig en vol lewenslus. Dit dreun soos die seuns saamsing.
“O! Ons het ’n man, sy naam is Kobus . . .! Sy naam is Kobus . . .!”
Annie sing met oorgawe en toe sy Bertus se trotse glimlag sien, is daar ’n groot dankbaarheid in haar hart. Hy is vandag so anders, so heeltemal anders! Sy hoop sy sal die seuns hierdie jaar kan leer om vir hom al die liefde te gee wat hy nog al die jare moes ontbeer. Hy het dit so nodig!
Sy wens Kobus met ’n klapsoen geluk toe hy by die paviljoen kom. Bertus kyk ongemaklik weg en hy kan die vreemde gevoel in hom nie verklaar nie. As dit nie so vergesog was nie, sou hy kon sweer dis jaloesie.
“Jy hoef nie meer vir my ’n melkskommel te koop nie, ou Kobus. Dit was nou genoeg beloning.” Sy slaan haar arm om sy lyf en gee hom ’n drukkie.
“Nee, niks daarvan nie, belofte maak skuld!” laat Bertus onverwags hoor.
Die seuns en Annie kyk afwagtend na hom en sy sug verlig toe sy die ondeundheid in sy oë sien. ’n Oomblik lank was sy bekommerd.
“Jy het daardie melkskommel swaar verdien. Maar omdat ek net so bly is, sal ek ná die byeenkoms vir julle almal gaan melkskommels koop.”
“Jippie! Meneer is sommer ’n bak ou!”
Die seuns is skoon uitgelate en Bertus kan sy verbasing nie wegsteek nie. Nog nooit het hulle soveel vrymoedigheid teenoor hom gehad nie.
“Dankie, meneer, dit sal baie gaaf wees. Soos ek vir juffrou ken, sal sy die grootste een bestel en ek is maar platsak.” Kobus knipoog vir Annie en sy lag vrolik.
“Daarvan kan jy baie seker wees!”
Die vrolikheid bedaar gou toe een van Skurwekop se ander atlete gaan aantree vir die vierhonderdmeter.
Skurwekop doen goed! Bertus kan nie aan ’n ander dag in sy lewe dink wat hy meer geniet het as hierdie eenvoudige atletiekbyeenkoms nie. Die seuns behandel hom nog steeds met die nodige respek, maar meer