Sarah du Pisanie Omnibus 8. Sarah du Pisanie. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Sarah du Pisanie
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624065746
Скачать книгу
haar soutwater te gee. Dit het haar lewe gered.”

      Kobus lyk skaam maar ook ’n tikkie trots omdat hy reg opgetree het.

      “Wat het meneer Kruger gesê?” Annie kyk bekommerd na Kobus. Sy hoop tog nie Bertus Kruger het weer alles kom omkrap met sy buffelagtigheid nie.

      “Hy het niks gesê nie, juffrou. Hy het net verlig gelyk toe die veearts sê dat ons haar kan deurhaal.”

      “Waar is Boef?”

      “Hy is hier agter, juffrou. Hy het net gou die emmers gaan skrop wat ons vanoggend gebruik het.”

      “Ek het vir julle kos in die lou-oond gebêre. Gaan eet julle gou, ek sal solank hier sit. Is daar iets waarna ek moet oplet?”

      “Nee wat, juffrou. Sy is nou rustig. Die dokter het haar ’n inspuiting gegee. Sy moet vanaand weer medisyne inkry. Ek wil haar net nie alleen los nie . . .”

      “Nou toe, weg is julle!”

      “Dankie, juffrou.” Kobus rek sy lang liggaam uit. “Juffrou is dierbaar! Ek weet nie wat ek vandag sonder juffrou sou gedoen het nie.”

      “Nou vergroot jy darem ’n bietjie, Kobus.”

      “Nee, dis waar, juffrou. Vanoggend het juffrou my eers kom help met die klas se skoonmaak en toe het juffrou vir meneer gaan sê van ou Bella.”

      “Ek het gewonder hoe jy die klas so vinnig skoongemaak het.”

      Verskrik swaai hulle om en sien Bertus in die deur staan.

      Annie kyk vinnig van hom na Kobus en sy sien hoe die seun se gesig verstrak.

      Bertus sien dit ook en ’n diep skaamte oorweldig hom. Is hy werklik so ’n ondier? Hy weet tog dat Kobus nie moedswillig die goed gebreek het nie. Hy was sommer vanoggend weer vol duiwels. Die seun het vandag soveel inisiatief aan die dag gelê deur die koei te dokter en die veearts te laat roep.

      “Ek dink juffrou Delport is besig om julle klomp ramme vreeslik te bederf. Een van die dae sal sy wil hê julle moet gaan piekniek hou en al sulke dinge.”

      Annie kyk wantrouig na hom. Sou hy iets agtergekom het? Bertus se gesig is egter die ene onskuld.

      Sy lig haar ken en kyk hom waterpas in die oë.

      “Dis ’n baie goeie plan, meneer Kruger. Die lewe bestaan nie net uit werk nie. Hierdie seuns het ontspanning meer nodig as dissipline. Dit sal ’n gees van samehorigheid skep.”

      Iets soos ’n glimlag trek om Bertus se mond en hy draai na Kobus.

      “Gaan eet nou eers. Jou kos word koud.”

      “Dankie, meneer, maar kan ek nie eers net met meneer praat nie.”

      “Alleen?”

      “Wel . . . ja, meneer. Ek sal graag die ou sakie van vanoggend afgehandel wil hê. Ek . . . e . . . ek hou nie daarvan dat straf so lank uitgestel word nie.”

      Bertus kyk verbaas na Kobus. Die kinders het grootgeword. Kobus is ’n man! Hy sal glad nie verbaas wees as hierdie klomp groot seuns deur die bank ’n bietjie verlief op die juffrou is nie.

      “Wel! Ek dink ons moet maar daarvan vergeet. Jy het mos vergoed daarvoor. Die klas was skoon toe die inspekteur daar ingekom het en verder het jou optrede vandag ou Bella se lewe gered.”

      Annie sien die verbasing en ongeloof op Kobus se gesig en sy sluk aan die knop in haar keel.

      Bertus kyk geamuseerd na hulle. Dan buk hy oor ou Bella, skielik skaam dat hulle moet weet dat hy ook toegeeflik en gaaf kan wees.

      Kobus laat hom ook nie verder nooi nie. Hy knipoog vir Annie voordat hy fluit-fluit koshuis toe draf.

      Annie gaan sak aan die ander kant van die koei neer.

      “Arme ou Bella! Sy is darem nou rustig.” Sy is nie eens bewus daarvan dat dit die eerste keer is dat sy spontaan met hom gesels nie.

      “Ja, dis die verdowende inspuiting. Maar sy lyk goed. Dankie.”

      Annie kyk verbaas op in die ernstige, grysblou oë hier naby haar. ’n Snaakse weekheid kom sit in haar knieë.

      “Dankie? Waarvoor?”

      “Dat jy vanoggend vir Kobus so bygestaan het.”

      “Ag . . . dit! Dis niks nie, ek doen dit graag.”

      “Is alle vroue so?”

      “Hoe?” Annie lag verleë en haar neusie verkreukel in drie fyn plooitjies wat Bertus ’n paar oomblikke lank spra­ke­loos laat.

      “So . . . jammer vir die seuns! Jy was tog bang ek foeter dalk vir Kobus.”

      “Jy kan hom tog nie nou meer lyfstraf gee nie. Hy is groot – die vernedering sal vir hom blywend wees. En buitendien sou hy mos nie die bottels moedswillig afgestamp het nie. Kobus is ’n dierbare kind.”

      “Jy het dan nou net gesê hy is groot.”

      Annie lag sag en vryf saggies oor die gladde, bruin vel van ou Bella se blad.

      “Nou het jy my netjies in ’n hoek.” Sy probeer nie eens om uit die situasie te kom nie en Bertus kry sommer nuwe waardering vir haar.

      Sy leun agteroor tot teenaan die lusernbaal en stoot haar bene lank voor haar uit.

      “Ek sal hier bly totdat die seuns klaar geëet het. Jy het seker nog baie om te doen.”

      “Nee, ek het niks om te doen nie. Die seuns kan maar die koshuis se dak en mure afbreek.”

      “Hulle sal nie dinge doen waaroor jy jou hoef te skaam nie. Hulle is vandag in elk geval almal so ontsteld oor ou Bella. ’n Mens sal sweer daar is dood in die huis. Hulle is regtig oulike seuns.”

      Bertus glimlag net en Annie dink dat hy seker nou weer dink sy is net jammer vir die seuns en soek ’n kans om hulle voor te praat.

      Sy kyk stil na die groot man hier by haar. Sy swart hare blink in die dowwe lig en terwyl hy so roerloos sit, is sy gesig sag en ontspanne en sonder die kenmerkende frons.

      Hy kyk skielik op in haar peinsende oë. Dit laat haar liggies bloos en vinnig wegkyk. Hy staan op en kyk af na die elfagtige gesiggie met die blink, bruin hare wat so sag op haar skouers krul.

      “Ek sal oom Gawie vra om ’n rukkie hier te kom sit. Die seuns moet gaan studeer. Kobus-hulle moet vanmiddag ook nog atletiek oefen, want daar is Saterdag ’n byeenkoms op Otjiwarongo.”

      Annie is dadelik die ene belangstelling.

      “Kan ons saamgaan?”

      Bertus kyk haar verbaas aan en dan trek sy mondhoek effens skeef vir die gretige gesiggie.

      “Wie is die ons, juffrou?”

      “Ons almal! Ons kan mos met die bus gaan! Ons kan die ouens ondersteun wat deelneem. Dit sal so baie vir hulle beteken.”

      Bertus frons en Annie staan vinnig op sodat sy hom nie hier van onder af hoef te sit en beloer nie.

      “Asseblief, meneer Kruger! Die seuns sal dit so geniet. Dalk . . . dalk kan ons sommer met die meisieskoshuis reël dat hulle die aand ’n bietjie gesellig saam verkeer, volk­spele speel of so iets.”

      “Hokaai! Waar val jy nou uit? Ek sien in elk geval nie kans om dertig van hulle heeldag op te pas nie.”

      “Ek sal dit doen! Hulle is tog groot en hoef nie meer heeldag opgepas te word nie.”

      “Ek dink net die atlete moet gaan.”

      Annie sug en lyk so teleurgesteld dat Bertus nie kans sien om sommer net uit te stap nie. Hy maak sy mond oop om iets te sê, maar die gedagtes wat in sy kop kom, is so onsamehangend dat hy sy lippe vinnig saampers en uitstap. ’n Rukkie later kom los oom Gawie haar af en dan stap sy ingedagte terug koshuis toe.

      Die seuns is stil en bedruk. Annie kan dit