“Kinders,” sê die ster, “ek wens ek kan kinders hê. Baie, baie kinders. Kinders om lief te hê. Kinders wat in die gras baljaar. Kinders wat sing, kinders wat lag, met stemme wat teen die berghange eggo. Kinders om te roep en te troetel, en as ek oud en hulpeloos is, kinders om vir my te sorg. Kinders om my sterkte te wees as ek swak en broos word van lank lewe. En as dit tyd word, kinders om my ter ruste te lê.”
Haar wens is vervul en daar was kinders. O, sy was omring van kinders! Links van haar en regs van haar. Voor haar en agter haar. Daar was seuns so lank en lenig en sterk dat hulle ure lank op een been kon staan. Daar was saggeaarde, vriendelike seuns wat warmte en deernis gedeel het selfs met dié wat nie baie vinnig kon hardloop of so lank kon staan nie. Daar was dogters, rank en sterk soos hulle broers, wat soos wildsbokke die hele dag lank kon dartel en spring sonder om die geringste moegheid te toon. Ook dogters lieflik soos blomme, liefderik soos moeders, vriendelik soos broers en vol deernis soos vaders. Hulle het almal om die son se dogter vergader en haar “Moeder” genoem.
En só het die ster, dogter van die son, wat eens in onbeskryflike heerlikheid in die hemelruim geregeer het, die Moeder van Alle Kinders geword wat op die blou-en-groen planeet gebore is.
Sy het almal liefgehad en vir elkeen gesorg. Die lang en die kort kinders, die vet kinders en die maeres, die donkeres, die blekes, die goudbruines. Sy het vir hulle almal gesorg, dag en nag.
Daar was kinders wat geloop maar nooit gehardloop het nie, en kinders wat gehardloop het en nooit geloop het nie. Daar was “myne”-kinders wat alles vir hulself wou hê. “Niks”-kinders wat nooit meer as een woord gesê het nie: niks. “Ek-kom-nou”-kinders wat altyd heen en weer geblits het. “Nie-ek-nie”-kinders wat nooit toegegee het dat hulle iets verkeerds gedoen het nie. “Ek-weet-nie”-kinders, “hy-het-eerste-begin”-kinders, “sy-wou-mos”-kinders, wat gemeen en onbedagsaam was, en baie, baie ander kinders.
Die Moeder het vir hulle gesorg wanneer hulle wakker was en wanneer hulle slaap. Sy het vir hulle reën en oorvloed gebring, en omdat sy die weë van die weer geken het, het sy ook sonskyn gegee. En toe dit tyd was vir die plante om te rus, het sy herfs en winter ingebring sodat die plante kon slaap.
Sy was altyd die eerste van almal op. Met ’n groot besem het sy die werf skoongevee en vroegmôre was sy al op die land met haar skoffel om kos te kweek vir haar kinders. Al was hulle ook hoe gulsig, daar was altyd genoeg kos vir hulle ná die gehardloop en gesing, die wegkruipertjiespelery en al die ander dinge wat kinders graag bedags doen.
Die Moeder van Alle Kinders was baie sterk, maar die jare het swaar op haar gedruk. En mettertyd het daar ’n verandering in die kinders van die aarde gekom. “Hulle is nou anders,” het sy teenoor die son gekla. “Ek beteken niks meer vir hulle nie. Ek twyfel of hulle my nog raaksien.”
“Onthou, hulle is jou kinders. Hulle het nie gevra om in die wêreld te wees nie,” het die son geantwoord. “Werk met hulle, jy sal ’n skat vind waar jy dit die minste verwag en wanneer jy dit die minste verwag.”
En so het sy haar kinders aanhou dien. Hulle het nou begin baklei oor dinge. Hulle het mekaar nie meer gehelp of enigiets self gedoen nie, net heeltyd geskree en die Moeder se teenwoordigheid en aandag opgeëis.
“O, ek is honger, o, ek is dors, o, ek wil dit hê, dra my, troetel my. Jy is die Moeder, jy het ons in die wêreld gebring, sorg vir ons.”
En die Moeder van Alle Kinders het die seerplekke gedokter en die hongerige monde gevoed en die dorstige kele water gegee en vir hulle gesorg tot hulle groot was. Toe het hulle weggedwaal na veraf plekke en net af en toe teruggekom en party nooit weer nie. Hulle was nou al so gemeen en verwilder dat hulle mekaar begin doodmaak het.
Hartseer het die Moeder se hart begin wegvreet. Sy wat eens regop en trots was, was nou krom van die pyn en vernedering wat haar kinders haar aangedoen het deur haar vir alles te blameer. Hulle het nie ’n enkele vriendelike woord vir haar gehad nie.
En so het sy maar gesing om haarself te troos. In die tierende wind wat bome ontwortel, in die koel bries wat die nuwe dag wakker soen en die slaperige voëls wek vir die oggendlied, het sy gesing. In die dreuning van die reën wat neerstort en ontboste land wegraap en see toe meesleur, in die sagte motreën wat soos donsvere op die toppe van die hoogste berge van die wêreld neersyg, het sy gesing. En in daardie plekke waar dit koud genoeg was vir die reën om in sneeu te verander en venynige haelstene op die aarde te laat val. Orals het sy gesing.
Singend het sy selfs in die helder daglig opgekyk na die hemel, asof daar iets was – ’n baan van sterre, miskien – wat haar kon help. En singend weer afgekyk op haar handewerk. Soms wanneer sy in die oerwoude of beboste vlaktes brandhout gesoek het, het sy gesing van die woude wat geplunder word deur haar dolende kinders. Haar kinders wat eeue oue boomstamme afkap. Haar kinders wat die aarde stelselmatig vernietig en sterwend in hul spore agterlaat.
Die Moeder van Alle Kinders het geweet dat hulle nie omgee vir die aarde nie. Hulle het gate gegrawe in hul soektog na kosbare metale en edelstene en die gapende wonde net so agtergelaat. Daarom het sy in haar omswerwinge op die aarde dié lied gesing – soms hardop, soms in ’n fluistering:
Julle ploeg en dolwe my om
om jul hartewens te oes,
tot ek nakend lê, en gewond.
Ongenadige droogtes maak my bar,
reënstorms sleur my vlees mee,
sodat almal my bespot en verag.
Tog verduur ek alles.
Ek, die Moeder wat gebore is om te gee,
hou niks terug vir myself nie.
Ek voed die wêreld, en my kinders kyk stom
hoe ek vergiftig lê deur hulle hand.
Omdat die kinders se ore nie ingestem was op die musiek van die aarde nie, het hulle nie gehoor wat sy sing nie. Net soms, wanneer sy teen skemer sing, het daar ’n onverklaarbare swaarte op die harte van die eens saggeaarde en deernisvolle kinders gedruk.
Soos die kinders al verder en verder oor die aarde versprei het, wou elkeen meer ruimte vir homself hê. Elke dag het hulle oor bome baklei. En oor glinsterende rotse. En elkeen het vir hom ’n stuk aarde uitgemeet. Hier: “Dié boom is myne.” Daar: “Nee, dis myne.” En oral: “Myne. Myne.”
Hulle het die voëls uit die woude versamel en hulle opgesluit in hokke sonder ruimte om te vlieg. Hulle het die visse uit die water geraap en hulle in houers gedruk met geen ruimte om te swem nie. Hulle het die diere net vir die pret geskiet en hulle horings en huide versamel. Soms het hulle wilde diere in strikke gevang en hulle dan gevange gehou. Die woude se bome het hulle afgekap en gestroop.
En toe die aarde moeg word en die Moeder van Alle Kinders oud en sieklik word en sterf, was die kinders te gevoelloos om om te gee.
By haar dood is haar tweede wens vervul: dat haar oorskot in swart geklee sou word en dat sy toegelaat sou word om haar kinders steeds tot die beste van haar vermoë te versorg. So het sy selfs ná haar dood dag en nag gewerk, geklee in ’n swart kleed en ’n swart mantelkap. Sy het, noudat sy nie meer hoef te slaap nie, nog harder as tevore gewerk. Maar die kinders het nog steeds nie omgegee nie. Hulle het net aanhou roep: “Gee vir my, gee vir my, gee vir my,” en sy het aangehou om hulle te dien.
Omdat sy nou net ’n gees was, het sy nooit meer gepraat nie. Haar liedere het nog slegs in die nag of teen dagbreek opgeklink, wanneer die wind hulle in die valleie opgespoor het, of in die heuwels waar hulle eggo’s nog lank getalm het.
Die Moeder het met besondere sorg na ’n kind omgesien wat vroeg in haar tyd gebore is, maar nie kon praat nie. Die kind het die mooiste oë gehad en sterk, donker hare wat in vlegsels met krale versier agter haar rug afgehang het. Soos haar hare gegroei het, het haar hart ook gegroei, so het haar arms en bene gegroei. Sy het ’n pragtige jong