Die eerste slagoffer lê op sy rug, tussen twee rye wingerd – ’n bruin man, geklee in wat lyk na ’n donkerrooi uniform met silwer insetsels. Cupido en Griessel gaan staan op die soom van die grasperk, net vier meter van die liggaam af. Hulle kan die groot uitskietwond tussen die oë sien.
“Hy is van agter af geskiet. En gesleep tot dáár.” Griessel wys na die twee vae, uitgewaste slootjies wat tot by die man se skoenhakke strek. “En dié is die spore van die werker wat hom vanoggend sien lê het.”
“Dis ’n brother,” sê Cupido, en dan, beskuldigend: “In ’n slave outfit.”
“Hy werk by die gastehuis. Volgens die …”
“Dis ’n gastehuis dié? Ek dog dis ’n wine farm.”
“Dis ’n wynplaas mét ’n gastehuis …”
“As if they don’t make enough money. Jy seker jy’s orraait?”
“Ek is reg, Vaughn.”
“Was jy huis toe gisteraand?”
“Nee. Volgens die …”
“Was daar ’n case waarvan ek nie weet nie?”
“Vaughn, ek het laat gewerk. Jy weet hoe die admin ophoop. En toe raak ek aan die slaap.” Hy hoop dat Cupido dit nou sal los.
“In jou kantoor?” Skepties.
“Ja. Die stasie …”
“So dis hoe jy die call so vroeg gekry het?”
“Dis reg. Volgens die stasiespeurders moes hierdie werker gisteraand so negeuur se kant nog kaggelhout kom pak en seker maak al die gaste is tevrede. Toe hy nie huis toe is nie, het sy vrou gedink hy het gaan kuier op die dorp … Toe kry die oggendskof hom hier. En toe sien hulle die ander een in die portaal lê. Die probleem is, hulle sê daar was drie.”
“Now you’re losing me. Ek dog da’ is drie?”
“Daar was drie gaste. Binne.”
“So da’ moes vier victims gewees het?”
“Ja …”
“So where’s number four?”
“Dis die vraag. Die ding is … Ons het drie kopskote, Vaughn. Die ander een daar binne is deur sy pistoolhand én in die kop geskiet, die twee doppies lê só naby aan mekaar …”
Dit neem ’n oomblik voor Cupido snap. “Jissis, Benna. Double tap.”
“Op ’n bewegende teiken …”
Cupido skud net sy kop in verwondering. “Daai is fyn skiet, pappie …”
“Wat my die meeste pla: Die laaste slaapkamer wys daar was ’n gestoei. Nou hoekom sal ’n ou wat só kan skiet ’n man gaan stoei?”
Cupido kyk bekommerd na Griessel. “You thinking what I’m thinking?”
Bennie wil dit nie sê nie, want die implikasies is wyd. Hy knik net.
“Daar’s ’n koerantfotograaf by die hek, Benna.”
“Fok,” sê Griessel.
“Kidnapping. Wanneer laas het ons dít gesien?”
“Daar’s nog moeilikheid. Al twee die ouens daar binne lyk … As ek kyk na die bou, die haarstyle, die klere, al twee het Glock Sewentiens gedra. Ek dink hulle is wetstoepassing. Óf Weermag, óf Spoke …”
“You’re kidding me.”
“En ’n ou wat só skiet, foutloos … Hy’t opleiding gehad. Taakmag, spesmagte, Intelligensie … So iets. ’n Pro.”
Cupido draai om en staar na die huis. “Shit. Trouble, Benna. Big trouble.”
Griessel sug. “Dis reg.”
“Ons sal moet roer, pappie.”
“Ek sal Die Giraffe moet bel. Hulle sal die media moet bestuur.”
Hulle beweeg nie. Hulle staan langs mekaar, hoofde geboë – Cupido ’n kop langer as die bonkiger Griessel – besig om al die implikasies te deurdink, huiwerend voor die chaos wat hulle weet gaan kom.
Tot Cupido, met die pante van sy Hawk-in-Winter-jas wat uitbol in die koue wind, sy hand beskermend om Bennie se skouer sit.
“Benna, daar’s darem een silver lining.”
“Hoe bedoel jy?”
“Oor jy so sleg lyk vanmôre, toe dog ek jy het weer begin suip. Maar ’n dronkgat sal nie al daai kon uitgefigure het nie …”
Hy begin in die rigting van die gastehuis stap.
2
Tyrone Kleinbooi sien die auntie in die derdeklas-wa opklim, hier waar Metrorail-trein 3411 by Bellville-stasie se Platform 4 staan, net voor 08:50 op die Maandagoggend. Sy is duidelik in haar beste klere uitgevat, met ’n stemmige kopdoek, en ’n groot handsak is in al twee haar hande vasgeklem. Hy skuif so ’n bietjie om die oop sitplek langs hom aanlokliker te laat lyk.
Sy kyk na die sitplek, en na hom, en dan kom sy nader, soos hy geweet het sy sal. Oor hy ordentlik lyk. Even features, soos uncle Solly dit genoem het. Jy’t even features, Ty. Dis ’n boon in hierdie industry.
Industry. Asof hulle vir ’n maatskappy gewerk het.
Sy kom sit sugtend, laat die handsak op haar skoot rus.
“Môre, auntie,” sê hy.
“Môre.” Sy kyk sy lang, skraal lyf op en af, en sy vra: “Nou wa’ kom jy vana’?”
“Van die stad af, auntie,” sê hy.
“En wa’ gaan jy heen?”
“Stellenbosch, auntie.”
“Swot jy da’?”
“Nee, auntie?”
“Nou wat gaan jy da’ maak?”
“Ek ga’ my suster sien, auntie.”
“Nou wat maak sý?”
“Sy swot, auntie. B.Sc. Human Life. Eerstejaar.”
“Ma’ dis ’n grand kursus, nè. Wat doen mens daarmee?”
Die trein ruk, en vertrek.
“Da’s baie wat jy kan doen, ma’ sy wil ’n dokter word. Sy’t nie die selection gemaak laas jaar nie, nou try sy só inkom.”
“’n Medical doctor?”
“Ja, auntie. Sy’s ’n slim kind.”
“Ek sal so sê. Medical doctor nogal. En jy? Wat doen jý?”
“Ek’s ’n pickpocket, auntie.”
Sy vat haar handsak ’n oomblik lank stywer vas, maar dan lag sy. “Aag, jy,” sê sy en stamp hom met haar elmboog in die ribbes. “Wat doen jy rêrig?”
“Ek’s ’n painter. Ma’ nie pictures nie. Huise.”
“Ek het jou nogal nie gevat vir ’n manual labourer nie. Maar dis ’n goeie, eerlike werk,” sê sy, “vir ’n jong lat soos jy.”
“Nou wa’ gaan die auntie heen?”
“Ook Stellenbosch toe. Ook na my suster toe. Sy sukkel so met die gout lat sy moet gaan lê …” En Tyrone Kleinbooi, donker soos diepgeroosterde koffiepitte, en met sy even features, knik hoflik en luister aandagtig, want dit is vir hom baie lekker. Hy is net vaagweg daarvan bewus dat die reën gewyk het. En dis goed. Reën is sleg vir sy industry. Dit was tot dusver ’n baie skraal maand gewees.
* * *
La