13 uur
Deon Meyer
Human & Rousseau
Vir my broers, Bertus en Francois
1
Om 05:36 hardloop sy teen die steilte van Leeukop uit, die voeteval van haar sportskoene dringend op die gruis van die breë voetpad.
Op dié oomblik, wanneer die vroeë strale van die son haar soos ’n soeklig teen die berg vind, is sy die toonbeeld van sorgelose grasie. Van agter gesien, wip haar donker vlegsel teen die klein rugsak; haar nek is ’n diep sonbruin teen die poeierblou van haar T-hemp. Daar is energie in die ritmiese tred van haar lang bene in die denimkortbroek. Sy skep die indruk van atletiese jeugdigheid – lewenslustig, gesond, gefokus.
Tot sy skielik gaan staan en oor haar linkerskouer terugkyk. Dan verbrokkel die illusie, want daar is angs in haar gelaatstrekke. En uitputting.
Sy sien nie die indrukwekkende skoonheid van die stad in die sagte lig van die opkomende son nie. Haar oë soek wild en bang na beweging in die hoë fynbos agter haar. Sy weet hulle is daar, maar nie hoe naby nie. Haar asem jaag – van inspanning, skok en vrees. Dit is adrenalien, die verskriklike drang om te leef, wat haar dwing om weer te begin hardloop, om aan te hou, ondanks haar lam ledemate, die brand in haar bors, die tamheid van ’n nag sonder slaap en die disoriëntasie van ’n onbekende stad, ’n vreemde land, ’n ongenaakbare kontinent.
Voor haar vurk die paadjie. Haar instink dwing haar regs, hoër op, nader aan die Leeukop-rotskoepel. Sy dink nie, sy het nie ’n strategie nie, sy hardloop blindelings, haar slanke arms is die stange van die masjien wat haar aandryf.
* * *
Speurder-inspekteur Bennie Griessel slaap.
Hy droom hy bestuur ’n groot tenkvragmotor teen die afdraande af op die N1 tussen Plattekloof en Parow, te vinnig, nie heeltemal onder beheer nie. Wanneer sy selfoon lui, is die eerste skril toon genoeg om hom met ’n vlietende gevoel van verligting na die werklikheid te laat opstyg. Hy maak sy oë oop en kyk na die radiowekker. Dit is 05:37.
Hy swaai sy voete van die enkelbed af, die droom vergete. Hy sit vir ’n oomblik op die rand, stil, soos ’n man voor ’n afgrond, en dan staan hy op en strompel deur toe, af met die houttrap na die leefvertrek onder, waar hy sy selfoon gisteraand laat lê het. Sy donker hare, te lanklaas gesny, is deurmekaar. Hy het net ’n verbleikte rugbybroek aan. Sy enigste gedagte is dat ’n oproep dié tyd van die oggend slegte nuus moet wees.
Hy herken nie die nommer op die foon se paneel nie.
“Griessel.” Sy stem verraai hom, hees vir die eerste woorde van die dag.
“Hei, Bennie, dis Vusi. Ek is jammer om jou wakker te bel.”
Hy sukkel om te fokus, sy kop wollerig. “Dis O.K.”
“Ons het ’n … liggaam.”
“Waar?”
“St. Martini, die Lutherse kerk bo in Langstraat.”
“In die kerk?”
“Nee. Sy lê buite.”
“Ek is nou daar.”
Hy beëindig die oproep en stoot ’n hand deur sy hare.
Sy, het inspekteur Vusumuzi Ndabeni gesê.
Seker ’n bergie. Wat te veel van die een of ander iets gedrink het.
Hy sit die selfoon neer langs sy nuwe, tweedehandse skootrekenaar.
Hy draai om, nog nie heeltemal wakker nie, en stamp sy skeen teen die voorwiel van die fiets wat aangeleun staan teen sy pandjieswinkel-rusbank. Hy gryp dit voor dit omval. Dan klim hy die houttrappe uit, boontoe. Die fiets is ’n vae herinnering aan sy finansiële verknorsing, maar hy wil nie nou daaraan dink nie.
In sy slaapkamer trek hy die kortbroek uit en die muskusreuk van seks styg van sy middellyf af op.
Fok.
Die kennis van goed en kwaad kom lê skielik swaar op hom. Saam met die gebeure van die vorige aand, pers dit die laaste lomerigheid uit sy kop.
Wat het hom besiel?
Hy gooi die broek met ’n beskuldigende boog na die bed toe en loop by die badkamer in.
Griessel lig die deksel van die toilet ergerlik, mik, en urineer.
* * *
Skielik is sy op die teer van Seinheuwelweg en sy sien die vrou en die hond, honderd meter links van haar af, en haar mond vorm ’n uitroep, twee woorde, maar haar stem is verlore in die jaag van haar asem.
Sy hardloop na die vrou en die dier toe. Die hond is groot, ’n rifrug. Die vrou is dalk sestig, wit, met ’n groot pienk sonhoed, ’n wandelstaf en ’n klein sakkie op haar rug.
Die hond is skielik onrustig. Dalk ruik hy haar vrees; miskien voel hy die paniek in haar aan. Haar sole klap op die teer wanneer sy vaart verminder. Sy gaan staan, drie meter van hulle af.
“Help me,” sê die meisie. Haar aksent is sterk.
“What’s wrong?” Kommer in die vrou se oë. Sy tree terug. Die hond grom en beur aan die leiband, nader na die meisie toe.
“They’re going to kill me.”
Die vrou kyk verskrik rond. “But there’s nobody.”
Sy kyk oor haar skouer. “They’re coming.”
Dan meet sy die vrou en die hond en sy weet dit gaan nie ’n verskil maak nie. Nie hier in die oopte teen die berg nie. Nie teen hulle nie. Sy gaan almal in gevaar stel.
“Call the police. Please. Just call the police,” sê sy en dan begin sy weer hardloop, eers traag, haar liggaam onwillig. Die hond ruk vorentoe en blaf een keer. Die vrou trek aan die band.
“But why?”
“Please,” sê sy en skuifel op die teerpad, in die rigting van Tafelberg. “Just call the police.”
Sy kyk een keer om, wanneer sy sewentig tree weg is. Die vrou staan steeds daar, vasgenael en effens verwese.
* * *
Bennie Griessel spoel die toilet en hy wonder hoekom hy dit nie gisteraand sien kom het nie. Hy’t dit nie gesoek nie, dit het net gebeur, jissis, hy hoef nie so skuldig te voel nie, hy’s net ’n mens.
Maar hy is getroud.
As jy dit ’n huwelik kan noem. Van tafel en bed en woning geskei. Nee, fok weet, Anna kan nie alles hê nie. Sy kan hom nie uit sy eie huis jaag en van hom verwag om finansieel twee huise aan die gang te hou en dan boonop wil hê hy moet vir ses fokken maande lank nugter én selibaat bly nie.
Ten minste is hy nugter. Eenhonderd-ses-en-vyftig dae al. Dit is meer as vyf maande van stry teen die bottel, dag vir dag, uur vir uur, tot hier.
Here, Anna mag nooit uitvind van gisteraand nie. Nie nóú nie. Minder as ’n maand oor voor sy ballingskap uitgedien is, sy straf vir sy gesuip. As Anna moet weet, is hy heeltemal in sy moer in, al die gesukkel en swaarkry verniet.
Hy sug en gaan staan voor die spieëlkassie om tande te borsel. Sien homself. Die grys by sy slape, die plooitjies langs sy swart oë, die Slawiese gelaatstrekke. Was nog nooit ’n oil painting nie.
Hy maak die kassie oop, haal borsel en tandepasta uit.
Wat het sy in hom gesien, die Bella-vroumens? Daar was ’n oomblik gisteraand toe hy gewonder het of sy by hom lê omdat sy hom jammer kry, maar toe was hy te lus, te fokken dankbaar vir haar sagte stem en haar groot borste en haar mond, Here, daardie mond, hy het ’n ding oor ’n mond, dis waar die moeilikheid begin het. Nee, dit het by Lize Beekman begin, maar gaan vertel dít vir Anna.
Jissis.
Bennie Griessel borsel sy tande haastig en dan klim hy onder die stort in en draai die krane wyd oop sodat hy die beskuldigende reuke van sy lyf kan afwas.
*