Anton Rupert
’n Lewensverhaal
Ebbe Dommisse
met die samewerking van
Willie Esterhuyse
TAFELBERG
Voorwoord
Hierdie biografie is die eerste boek wat ’n volledige oorsig van dr. Anton Rupert se hele loopbaan, van kindsbeen af, probeer gee. Hoewel daar voorheen boeke oor fasette van sy lewe en lewensbeskouing was, onder meer gebundelde toesprake en lesings, was hy lank onwillig dat ’n biografie geskryf moet word. Totdat Hannes van Zyl, destyds hoof van Tafelberg Uitgewers, wat lankal in sy lewensverhaal belang gestel het, met die eeuwisseling weer die idee genoem het. Dr. en mev. Huberte Rupert het toe daartoe ingestem.
Kort ná my aftrede in 2001 het die uitgewer my genader om die skryfwerk te onderneem, ’n opdrag wat tegelyk uitdagend en veeleisend was, maar deurentyd fassinerend. Anton Rupert is ondanks sy openbare profiel ’n uiters private mens, maar met wye belangstellingsvelde, terwyl sy verhaal ook deel uitmaak van die opkoms van die Afrikaner in die ekonomie.
Prof. Willie Esterhuyse van die Universiteit van Stellenbosch se Bestuurskool, wat vroeër ’n kort bundel oor Rupert as “pleitbesorger vir hoop” geskryf het, is gevra om saam te werk en het met die navorsing en kritiese beskouings gehelp. Saam is besluit dat dit beter sal wees dat net een skrywer die finale skryfwerk behartig.
Navorsing en boekstaaf het bykans vier jaar geduur en ’n groot verskeidenheid van mense en bronne, hier te lande sowel as in die buiteland, is geraadpleeg.
Hoewel lede van die Rupert-familie samewerking met die skryf van die manuskrip verleen het, was dit hul wens sowel as die skrywers s’n dat die boek nie ’n goedgekeurde biografie moet wees nie. In die geval van ’n biografie kan so ’n benadering soms geloofwaardigheids- en ander probleme oplewer, en vir ’n biograaf is dit sekerlik wenslik om ’n sekere afstand van die onderwerp te probeer handhaaf. Asook, vir sover na volstrekte objektiwiteit gestreef kan word, om ’n perspektief te probeer gee wat die toets van die tyd sal kan deurstaan.
In enkele gevalle waar besonderhede in vertroue meegedeel is, is die vertroulikheid gerespekteer.
’n Opregte woord van dank gaan aan almal wat met die navorsing behulpsaam was, in die besonder lede van die Rupert-familie sowel as hul groot aantal vriende, kennisse en kollegas wie se hulp onontbeerlik was. Van uitgewerskant is deurentyd waardevolle bystand ontvang. Ewe onderskragend was Willie Esterhuyse en sy eggenote, Annemarie, nie net vanweë sy gewaardeerde bydrae nie, maar ook om hul insig en ondersteuning. Drie gerespekteerde keurders wat die manu-
skrip gelees het, naamlik P.A. Joubert, Koos Human en Danie van Niekerk, het advies en wenke gelewer wat hoog op prys gestel word.
Laastens ’n besondere dankwoord aan my vrou, Daléne, vir haar liefde, geduld en toenemende begrip dat aftrede nie niksdoen of tuinwerk beteken nie.
Ebbe Dommisse
Kaapstad 2005
Die tweede uitgawe van hierdie biografie verskyn nadat die eerste uitgawe vier herdrukke beleef het. In die tweede uitgawe is gebeure bygewerk tot en ná dr. Rupert se dood op 18 Januarie 2006, drie maande nadat sy vrou, Huberte, gesterf het.
Ebbe Dommisse
Kaapstad 2008
DEEL I
KEERPUNT
Hoofstuk 1
Gesplete atome en parke vir vrede
Anton Rupert het net een keer in sy loopbaan willens en wetens ’n hele dag van sy kantoor weggebly.
Dit was toe hy van die eerste oorlogstydse kernontploffing gehoor het: die oggend toe die nuus Suid-Afrika bereik dat ’n atoombom op 6 Augustus 1945 verblindend bo Hirosjima gebars en die Japanse hawestad verwoes het. Die kort voorspel tot Japan se oorgawe en die beëindiging van die Tweede Wêreldoorlog het begin.
Die kernverskrikking, ’n regstreekse gevolg van die splyting van die atoom waardeur die mens die vermoë ontwikkel het om homself uit te wis, het die gang van die geskiedenis onherroeplik verander. En dit het die lewensuitkyk van Anton Rupert onherroeplik verander.
Die jong Afrikanernyweraar, opgelei in die natuurwetenskappe en bestem om sy land se innoverendste entrepreneur en die hoof van een van Afrika se twee rykste families te word, het onmiddellik aangevoel dat een van die bepalendste oomblikke in die geskiedenis aangebreek het; een van daardie seldsame gebeurtenisse wat voortaan as ’n keerpunt in die menslike bestaan aangeteken sou staan.
Hy was toe nog in Johannesburg, ’n onervare jong ondernemer met ’n fabriek wat pyptabak verwerk en in die knellende oorlogstoestande gesukkel het om kop bo water te hou. Toe hy die oggend verneem dat ’n atoombom Hirosjima verpletter het, bel hy sy kantoor om te sê dat hy die hele dag glad nie beskikbaar sal wees nie. Hy bly tuis om die vernietigende mag van die kernbom te oordink: “Ek het besef dat die mensdom soos skerpioene in ’n bottel geword het, met die mag om mekaar volkome te vernietig.”1
Iets soortgelyks gebeur met die Amerikaner Robert Lewis, medevlieënier van die Enola Gay, die B-29-bomwerper van die Amerikaanse lugmag waaruit die eerste atoombom in ’n oorlogsituasie op Hirosjima afgegooi is. “Kyk daar! Kyk daar! Kyk daar!” roep hy uit terwyl hy na die reusagtige sampioenvormige wolk oor die getroffe hawestad terugkyk. Toe skryf hy in sy joernaal: “My God, wat het ons gedoen?”
Daardie dag sterf 100 000 van die 245 000 inwoners van Hirosjima, platgevee deur die geweld van kernkrag, en nog 100 000 agterna. Drie dae daarna verpletter die tweede en laaste atoombom die skilderagtige hawestad Nagasaki, en nog 80 000 mense kom om.2
Die verwoestende kernbomme lui die slotepisode van Japan se deelname aan die oorlog in. Vyf dae daarna erken keiser Hirohito dat Japan vir die eerste keer in sy geskiedenis verslaan is. Hy het die oervrees vir Armageddon, die einde van die wêreld, uitgespreek. Die beelde van algehele vernietiging deur die twee atoombomme, Little Boy en Fat Boy, het nie net Japan se moed gebreek nie, maar die ganse mensdom geruk.
Anton Rupert, met sy kennis van chemie, waarvoor hy ’n meestersgraad verwerf het, begryp dat iets ontsettends gebeur het. By sy huis in Aucklandpark, Johannesburg, waarvandaan hy ’n paar maande later na Stellenbosch sou vertrek om ’n sakeryk op te bou wat uiteindelik dwarsoor die aardbol sou strek, sit hy en peins oor die implikasies van die atoomera.
Hy beskou die militêre gebruik van die kernbom as waarskynlik die belangrikste gebeurtenis wat hy in sy lewe sou beleef. Sy slotsom is dat daar voortaan nie meer groot oorloë sou wees nie, weens die gevaar van wedersydse vernietiging. Die noodwendige konsekwensie is dat daar voortdurend kleiner oorloë sou uitbreek, wat die moontlikheid inhou dat hy in sy leeftyd nooit weer standhoudende vrede sou beleef nie.
“Sedert die ontsluiting van die krag van die atoom – sedert Hirosjima – het alles verander, behalwe ons manier van denke. In hierdie atoomera is geen land meer so afgeleë dat dit ’n skuilplek geword het nie. Die Bybelse ‘Ek is my broeder se hoeder’ het ’n koue werklikheid geword; depressies is nou wêreldwyd; welsyn ook. In hierdie eeu waarin minstens twee volke oor genoeg bomme beskik om alles uit te wis, leef ons soos skerpioene in ’n bottel – en hy wat alles wil behou, sal alles verloor.”3
Voortaan, so tref die besef hom, sou slegs medebestaan die mensdom kon red. “Mense sal eenvoudig móét leer saamleef.”
Medebestaan, ’n oortuiging wat reeds in sy studentedae embrionies by hom begin posvat het, word hierna die kernbegrip wat Rupert die res van sy lewe sou aanvuur; ’n visie wat hy met oortuiging verkondig. ’n Blywende herinnering daaraan staan in sy kantoor: die beeldhouer Rodin se bekende Die Katedraal, ’n bronsbeeld van twee regterhande wat hy in die jare sestig aangekoop het. Dit is vir hom ’n beeld van medebestaan tussen mens en mens, die fondament waarop hy in die sakewêreld die filosofie van deelgenootskap ontwikkel het. Met deelgenootskap, ofte wel vennootskappe wat van land