Klassiek reeks: Magersfontein, O Magersfontein!. Etienne Leroux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Etienne Leroux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798160025
Скачать книгу
word.

      Die projek-skoonheidskoninginne van die provinsies, in hoe­kies waar dit donker is en die minnaar onsigbaar, ontbloot hulle meisie-sieletjies; in die helder lig voor die leiers van die projek is hulle die gestileerde godinne wat bereid is om hulle onsterflike skoon­heid aan die heroïese sterwelinge te bied. Hulle doen ’n be­roep op teling; hulle maak die tiere binne hulle wakker met die hoop dat hulle liggame met behulp van genetika en geld na die kopulasie geboorte aan goue helde sal gee. Lord Seldom, lord Sud­den, Amicus Ach­tung, Hans Winterbach, L.U.K.’s en andere beskik oor die keuse van vyf provinsies. Maar nog is dit nie die einde van die seksuele aanslag nie. Oorlog is seks en romanse: vir elke soldaat wat wreed op die slag­veld sterf is daar ’n legende van ’n Café Mozart of ’n kafee in die Noord-Kaap waar ’n goue appel vir die heerlike teef gegee is.

      En só kom hulle. Só kom hulle om:

      – Die starlets sonder veel pretensie maar met ’n aweregse uitbundigheid wat die skoonheidskoninginne nie kan ewenaar nie.

      – Die moeders van die toneel wat met die laatnag grotesker word agter die maskers van hulle ewigdurende jeug.

      – Suster Nightingale met wiegende bekken.

      Sonder voorafbeplanning word ’n sekstafereel voor die Lords en hoogwaardigheidsbekleders gevorm. Dis magiese vingerskrif teen die muur, fresko’s van die viriele oorlogsgod.

      Terwyl die toekomstige parings begin vorm aanneem, en die seksuele tafereel met al sy komplekse patrone geweef word, aangedui deur die vinger van die dondergod, en flitse van wit narre en swart narre hulle spel van lig en skaduwee teen die mure gooi, stel Hans Winterbach die lense van sy kameras en plaas hy sy kameramanne op ’n gereedheidsgrondslag. Die gees van genl.-maj. Wau­chope, C.B., C.M.G., LL.B. vonk in Hans Winterbach. As sy eie karakter moet opgesom word, dan is dit dit: hy is die eindresultaat wat die gedissiplineerde filmbedryf kan bereik. Grootheid sal mis­kien nie sy bestemming wees nie. Maar hy het die potensiaal. Van hom kan ook gesê word: “No man can be great in spite of opportunity …” Op die gebied van die filmkuns het hy nog nie die ge­leentheid gehad om sy ware potensiaal te bewys nie. Dit is sy groot oomblik dié. Hy kan ’n tweede Bergman word. Toegegee: hy is nie ’n groot intellektueel nie. Maar hy het miskien iets edelers in hom, soos Wauchope: “the sense of duty, of self-abnegation, self-sacrifice …” Alles sal plaasvind binne die raamwerk van lords Seldom en Sudden, en die verskeie provinsiale owerhede. Hy durf nie vir hom­self die geslepenheid in sy samestelling erken as sy kameras in die verstoke hoeke van die siele loer nie. Dis ontrou aan die Pres­biteriaanse gees van Wauchope wat sy eie aweregsheid be­sweer het deur ’n Spartaanse eenvoud van lewe en toe hy selfs in die ska­duwee van Craigmillar Castle alle romantiese assosiasies met die mooi Katolieke Koningin van Skotland kon besweer deur sy asem uit te hardloop op die Portobello-sandduine ter wille van John Knox, die Kirk, fiksheid, die Swartland suidoos van Edinburg, en die Pax Britannica. Die vloek van avontuur rus ook in die siel van Hans Winterbach as hy sy N.G.-kameras op die tafereel van die dondergod rig.

      Die Lords besluit dat die konferensie tot die volgende môre uitge­stel sal word sodat die projekgangers ’n begrip kan kry van die angs wat gebore word uit die universele leemte. Hulle moet ’n begrip kry van die moderne tragies-revolusionêre held wat voor die fenomenale wit muur te staan kom waaragter die donker absolute lê en wag. Voor­dat hulle dit nie begryp nie, en hulle hierdie geestelike dilemma van vandag nie kan verstaan nie, sal hulle nooit die slagveld van Magers­fontein as ’n visioenêre figuurfries kan kerf wat sal lewe op die filmdoek en die bewende glas van TV nie. Hulle sal die angs van dui­sende Boere en Skotte en helde soos Wauchope, De la Rey, Cronjé, en Methuen moet versoen met ’n tragiese Griekse visie in terme van hulle eie negativisme.

      Lord Sudden noem dit aan lord Seldom en lord Seldom is verruk met lord Sudden se insig. Amicus Achtung is in ekstase omdat hy voel dat die Lords sy vier sleutelfigure ook betrek het as voorlopers van die hedendaagse anti-held, die Victoriaanse paradoks wat vandag meteens soveel geldigheid gekry het. Die L.U.K.’s is dit roe­rend eens alhoewel hulle die subtiliteite van hierdie tydverspillende argumente nie begryp nie. Die meisies wag! Terselfdertyd voel hulle ook ’n bietjie gegrief dat hulle self karikature in die opset word. Die digotomie wat hulle ken is die Christelike Nasionalisme en die humanisme, en hulle het hulle hele lewe lank hierdie eenvoudige tweestryd gevoer. Die Lords is besig om hulle te bedonder en te verkleineer …

      ’n L.U.K. wil derhalwe ook een van die Lords donder. Die warm rosé het hom rumoerig gemaak, maar Amicus Achtung keer hom betyds. Die twispunt is gevaarlik vaag en dit kan maklik aanleiding gee tot ’n soort Baskiese of Ierse of Afrika-moorddadige baldadig­heid. Dis alleen ingewydes wat die misteriese skisofrenie van die vormende fragmentariese mites van ons tyd kan begryp.

      “Môre werk ons,” sê lord Sudden ferm, en dan beduie hy met ’n koninginsgebaar dat vrye verlof vir die aand toegestaan is.

      Die projekfonds sal alle skade aan die Crown Hotel vergoed. In­dien hierdie verkenningstog in die beroemde hotel by Matjies­fontein plaasgevind het, sou die projek seker duisende rande moes opgedok het om vir seldsame Victoriaanse camp te betaal. By wyse van mistasting het Mr. Shipmaster tog ’n positiewe bydrae gelewer. Die geluksgodin van logistici was aan sy kant, want die troepe van die projek het kleingeld slegs van die Crown Hotel gemaak.

      Terwyl die gefuif aan die gang is en geringe ontploffings van baldadigheid die Crown Hotel skud, staan Gert Garries stilletjies op en met ’n brandende vuurhoutjie lig hy in die bediendekamer rond. Gert Garries slaap op die vloer, en sy gasheer op die bed – ’n pikswart man van Johannesburg met skuim om sy kiewe en glaserige oë onsiende na die plafon gerig. Gert Garries druk die ooglede toe en hulle flikker meteens terug. Goddank, dink Gert Garries. Hy het genoeg van lyke gehad. Fluistersag ondersoek hy die bagasie van sy herbergier en vind slegs ’n rand en ’n Philips-elektriese skeermes wat hom goed te pas sal kom op die swartmark. Dan sluip hy verby ’n venster waar ’n starlet in die arms van ’n man grond toe wegsterf, tot by die Cadillac. Hy haal die ge­hawende bondeltjie uit en dan ruk sy maag want daar is geen gesiggie meer te herken nie.

      Toe begin ’n woede in Gert Garries oplaai. Dis ’n woede gebore uit ’n wanhoop want hy kan die absurditeit van sy lotsbestemming nie begryp nie.

      Dit het fôkol te doen met kaffers of witmense – almal is in elk geval tog in hulle moer. Hy kyk na die maan wat vanaand bloed­rooi is en hy ruik die stink van sy sweet en die stink van sy vergane kind. Hy voel nie te goed nie en hy het ’n premonisie dat dood ook sý voorland is. Hy vind ’n bottel whisky in die bagasie­bak van die Cadillac, en met sy dooie baba onder sy een arm en die bottel whisky onder sy ander arm gaan hy oor die teerstraat tot by die private kerkhof waar lord Wauchope en ander lede van die Black Watch begrawe en verwyder is na beter plekke. Met ’n stuk yster grawe hy ’n vlak graf en plaas sy hoerkind daarin. Toe sluk hy whisky en kyk na die maan. Hy is nie ’n kapater nie. Hy kan kinders wek, al gaan hulle dood. Die euforie van drank slinger hom terug oor die teerpad tot waar hy in die Cadillac blomme­ruikers vir die vername gaste vind, en hy bring hulle terug na die vlak graffie. Hy vorm ’n hopie en versier dit met die mooiste blomme. Onder ’n peperboom kots hy gal en raak dan in die warm naglug aan die slaap. Dit maak nie saak wáár nie, maar hierdie wêreld is Gert Garries se tuiste. Hy is déél van die landskap.

      Marigold Rosemary maak die deur van Oxford G. von Waltzleben se slaapkamer saggies oop, maar al wat sy regkry is ’n skreeugeluid van skarniere as die outydse deur op droë hingsels oopswaai en dr. F. Laird openbaar word waar sy, glasie in die hand, in diep ge­sprek gewikkel is oor die lief en leed van genl.-maj. Andrew Wauchope.

      “Hy was ongelukbehep,” sê Fyella. “By Tel-el-Kebir het hy in 1881 sy swaard omhoog gehef en oor ’n loopgraaf gespring. Toe gly sy voet op die los sand en hy val. Hierdie keer het hy slegs ’n koeël deur sy helmet en deur die skede van sy swaard gekry!” Sy kyk op.

      “Hullo, Rosemary,” sê sy. Sy rig haar weer tot Oxford G. von Waltzleben wat slegs in sy onderbroek op die bed lê, die sweet pêrelend op sy bors. “En toe ontstaan die gerug dat Wauchope dood is. ‘I regret to say that that good fellow, Andy Wauchope, has been killed,’ was die Hertog van Connaught se woorde.”

      Marigold Rosemary leun teen die deur,